|
||||
Joy Gordon
*Professor in filosofie, Fairfield-universiteit (VSA). Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
“Verlede jaar het Falloejah na ’n slopingsterrein gelyk. [Vandag] sien ek oral verbeterings. Mens kan goed hier lewe.” “Dis ’n groot dag vir my dorp, die koalisiemagte doen groot dinge hier.” “Ons is hier om die volk van Irak te help”, juig die aflaaibare video’s waaruit dié verklarings gehaal is, met beelde van soldate wat ’n kragopwekker aan ’n mediese sentrum skenk of skoene onder Irakkese kinders uitdeel. Die agentskap US-AID publiseer gereeld ’n bulletin by name Iraq Reconstruction Weekly Update. Reporting progress and good news, wat die heropbou van Irak sien as ’n eindelose reeks van ongelooflike projekte, wonderwerke wat die lewens ophef van die inwoners wat klaarblyklik oorstelp is van bewondering en dankbaarheid. Die Amerikaanse Ministerie van Verdediging en verwante liggame laat verslae vol lofprysinge die lig sien oor die ontsaglike vordering wat al gemaak is. ’n Onlangse persverklaring spog oor die 10,5 miljard dollar wat bestee is aan 3 500 projekte, wat so te sê almal reeds van stapel gestuur is en waarvan bykans 80 % na bewering reeds afgehandel is (1). Talle onafhanklike verslae skets ’n gans ander prentjie en beklemtoon dat amptelike verslae dikwels oordrewe of onwaar is. So beweer die Departement van Buitelandse Sake byvoorbeeld dat 64 projekte vir water- en rioolaanlegte reeds voltooi is en dat nog 185 aan die gang is, terwyl die Government Accountability Office (GAO) – die Kongresliggaam wat regeringsprogramme oudit – opmerk dat dié syfers ’n growwe oorskatting is. Buitelandse Sake skyn nie in staat te wees om aan die ondersoekers ’n lys van die voltooide projekte te gee nie, wat korrekte berekenings onmoontlik maak (2). Amerikaanse heropbou-instansies is herhaaldelik gekritiseer vir hulle volslae onvermoë om die programme te bestuur. Die bou van 150 mediese sentra, waaraan daar ’n nypende tekort was, was ’n totale misoes. Twee jaar en 186 miljoen dollar later is slegs ses van hulle voltooi – en die Amerikaanse instansie belas met die projek verminder die kontrakteur se totale verpligting na ... 20 sentra (3). Die mediese toerusting wat gelewer is, is nie by ontvangs ondersoek óf gelys nie. Toe die deskundiges belas met die oudit dié ware kontroleer, het hulle gemerk dat byna die helfte daarvan beskadig was of probleme gee. En die einste toerusting het in ’n pakhuis gelê, sonder dat óf die Irakkese, óf die Amerikaanse organisasies sover kon kom om dit by die gebruikers uit te bring (4). Die bou van ’n opleidingsinstituut vir die polisie in Bagdad, teen ’n kontrak van 72 miljoen dollar, het weer in so ’n mate tekortgeskiet dat die kontroleurs tot die slotsom gekom het: “Die regeringsprogram wat die gehalte van bouwerk moet waarborg, is totaal onbevoeg om die bouaannemer se werk te kontroleer” (5). Die mislukte heropbou is een van die onderskatte oorsake van die Amerikaanse mislukking in Irak. Toe die VSA Saddam Hoessein se regime in die lente van 2003 omvergewerp het, was talle Irakiërs dankbaar en optimisties in die hoop dat die besetting van korte duur sou wees en dat Washington hulle gou sou toelaat om na hulle eie sake om te sien. Maar die donkerste voorspooksels het waar geword: die besetting het voortgeduur, en die heropbou van die land het gefaal. Gedurende die somer, met sy groot hittegolwe, ken die besettingsmagte vet kontrakte aan Amerikaanse maatskappye toe, sonder dat enigiets op die terrein uitgerig word: elektrisiteit ontbreek gedurig vir sowel privaat inwoners as watersuiweringsaanlegte en koelkamers waar noodsaaklike medisyne geberg word. Die humanitêre situasie versleg vinnig. By gebrek aan voldoende watersuiwering, breek disenterie en ander epidemies uit. Die teleurstelling is des te groter omdat die Irakiërs in die almag van die VSA geglo het. Hulle kon ook die Amerikaanse pogings vergelyk met dié van Sadam Hoessein se regime nadat die massiewe bombardemente in die oorlog van 1991 alle infrastruktuur in die land verwoes het – brûe, paaie, kragsentrales, telekommunikasienetwerke, fabrieke, raffinaderye. Verrinneweerde installasies is inderhaas weer aanmekaargeslaan, een fabriek is gestroop om ’n ander te laat werk, en die kragtoevoer is binne enkele weke weer herstel. Die hele land se ingenieurs, selfs kernfisici, is gestuur om brûe te herbou (6). Binne drie maande was die telefoonnetwerk weer in werking. In Augustus 2003, met die groot kragonderbreking in New York, het die grappie in Bagdad die rondte gedoen: “Ons hoop nie hulle verwag die Amerikaners moet dit regmaak nie!” VSA-amptenare was lief daarvoor om Saddam Hoessein se regering vir ’n “kleptokratiese regime” uit te kryt. Dié beskrywing is ewe goed van toepassing op die heropbou wat nou onder hulle toesig plaasvind. Die eerste pogings is van stapel gestuur deur die bemiddeling van die Ontwikkelingsfonds vir Irak (Development Fund of Iraq), gefinansier deur olie-uitvoere en die oorblyfsels van die “olie-vir-voedsel”-program (7). Die Fonds is aanvanklik bestuur deur die besettingsmagte, wat Irakkese geld aangewend het vir vet kontrakte met Amerikaanse ondernemers (asook met maatskappye in bondgenootlande): tydens die veertien maande van amptelike besetting, voordat die mag aan ’n Irakkese regering oorhandig is, het 21 miljard dollar deur hierdie fonds beweeg, waarvan 18 miljard bestee is. Die swak bestuur van dié geld is alom berug. Op 29 Junie 2003 dra Washington die beheer van die heropbouingsfonds aan die Irakkese interimregering oor. Maar in die twee weke wat dié oorgang voorafgegaan het, word 5 miljard dollar in bondeltjies klein note, toegedraai in kleefplastiek, per lugvrag gestuur en soos lekkergoed uitgedeel. ’n Mens sien foto’s van kleinsakelui wat met sakke opdaag; die Amerikaanse amptenare het nie eens die geld getel voor hulle dit uitgedeel het nie. 1,4 miljard dollar word oorgedra sonder die geringste verduideliking of enige ander rekord as die lakoniese beskrywing “oordrag van fondse”. Die grootste som wat so sonder verklaring van hande verwissel het, was die 8,8 miljard dollar wat die Tussentydse Koalisie-owerheid (TKO) aan Irakkese ministeries oorhandig het. Die ontwikkelingsfonds se boeke is eers deur die firma Klynfeld, Peat, Marwick en Goerdeler (KPMG) gefynkam, daarna deur Ernst & Young, in opdrag van die VN se internasionale moniterende adviesraad (International Advisory Monitoring Board, IAMB). Laasgenoemde se verslag, wat in Desember 2004 verskyn, meld “honderde onreëlmatighede” met die kontraktuele prosedures wat deur die TKO in werking gestel is, onder meer ontbrekende gegewens en betalings wat gemaak is sonder dat daar vasgestel is of die kontrak nagekom is. Een so ’n oudit deur KPMG vir die eerste helfte van 2004 meld 37 kontrakte ter waarde van 185 miljoen dollar waarvan die lêers skoonveld is; in 111 gevalle bestaan daar geen dokumentering van die prestasies wat in terme van die kontrak gelewer is nie (8). Nog ’n oudit wat deur ’n amptelike Amerikaanse agentskap gedoen is, bevind dat Kellogg, Brown & Root, ’n filiaal van die maatskappy Halliburton, “op beduidende en herhaalde wyse” federale wette rakende die opstel van kontrakte oortree het deur vals gegewens oor die bedryfskoste te verskaf (9). Maar ten spyte van die kritiek word kontrakte met dié maatskappy telkens weer hernu en uitgebrei. Namate die heropbouprojekte afgehandel word, getuig ’n nuwe vlaag onthullings van skrikwekkende onbevoegdheid en nalatigheid. Soos met die kontrak wat die VSA vir die opknap van die Al-Hillah hospitaal (suid van Bagdad) toegeken het. Dit maak voorsiening vir die installering van vier nuwe hysers. Die Amerikaanse amptenaar belas met die projek onderteken die sertifikaat dat die taak afgehandel is, en gee toestemming vir die onmiddellike oorbetaling van die volle bedrag, hoewel die werk nog nie klaar is nie. Drie maande later val een van die drie “nuwe” hysers hom te pletter op die grond, en drie mense sterf: die kontrakteur het nie nuwes geïnstalleer nie, maar slegs die oues opgeknap – en redelik onbeholpe daarby (10). In nog ’n geval het die kontrakteur wat verantwoordelik was vir die bou van ’n wateraanleg in Al-Soemelat sulke swak werk verrig dat die maatskappy nie in staat was om hoegenaamd drinkwater te lewer nie: die pype was verdeel in drie onbruikbare segmente waarvan nie een aan die hooftoevoer gekoppel was nie (11). Tientalle voorbeelde is aangeteken van knoeiwerk, onafgelewerde goedere en toerusting wat nie werk nie. Die Amerikaanse instansies het probeer om die stadige heropbou te regverdig aan die hand van die powere toestand waarin Irak ten tyde van die “bevryding” in 2003 reeds verkeer het: “Amerikaanse projekte het Irak gehelp om sy olieproduksie te stabiliseer en om te herstel ná dekades van verwaarlosing onder vorige regime” (12). “Voor April 2003 was talle wateraanlegte óf totaal buite werking, óf ernstig defek, terwyl watersuiweringsaanlegte sleg gefunksioneer het of glad nie” (13). “Die Irakkese gesondheidstelsel is vir minstens twee dekades voor die bevryding nie gefinansier óf op volhoubare, sistematiese wyse bestuur nie” (14). In werklikheid was Irak se haglike toestand nie soseer die gevolg van die regime se nalatigheid nie, maar eerder van die VSA en sy bondgenote se bombardemente wat die land se infrastruktuur gans en al verwoes het tydens die Golfoorloog in 1991. Vir dertien jaar daarna het Washington telkens sy vetoreg in die VN-Veiligheidsraad gebruik om te verhoed dat Irak die noodsaaklike toerusting invoer vir die herstel van sy nywerhede, landbou, kragopwekking en alles wat ’n industriële samelewing nodig het om te fungeer. Die redenasie agter hierdie brutale sanksies was dat hulle Saddam Hoessein se openbare beeld in Irak wou aftakel: die ontberings moes tot so ’n vlak van wanhoop lei dat die volk sou opstaan en die regering omver sou werp. Hoewel dit nie in Saddam Hoessein se tyd daartoe gekom het nie, is dit presies wat nou onder die Amerikaanse besetting gebeur ... Die VSA se jammerlike onvermoë om water en elektrisiteit te voorsien en die ekonomie weer op die been te bring, die skaamtelose plundering van die land en die buitensporige bedrae wat aan Amerikaanse maatskappye betaal word vir hulle powere heropbouwerk het bygedra tot ’n oproer en eise dat die buitelandse troepe hulle ry kry.
__________ (1) Iraq Reconstruction Report, Washington, 6 Februarie 2007 (2) GAO (Government Accountability Office) Report, verslag 05-876, Washington. (3) Getuienis van Stuart W. Bowen Jr., Spesiale algemene inspekteur vir die heropbou van Irak, 28 September 2006. (4) Review of the medical equipment purchased for the primary healthcare centers associated with Parsons Global Services, Spesiale inspekteur vir die heropbou van Irak (SIGIR), verslag 06-025, 28 Julie 2006, Arlington (Virginië). (5) Getuienis van Stuart W. Bowen Jr., 18 Januarie 2007. (6) Eric Rouleau, “Le peuple irakien première victime de l’ordre américain”, Le Monde diplomatique, November 1994. (7) In 1995 deur die VN-Veiligheidsraad se resolusie 986 ingestel, en in 1996 goedgekeur deur Irak, bepaal die “olie-vir-voedsel”-program dat Bagdad elke ses maande olie mag uitvoer ter waarde van 2 miljard dollar – ’n bedrag wat in 1998 hersien is na 5,2 miljard. Dié bedrae is in ’n spesiale rekening gestort waarvan 53 % aan die koop van kos en medisyne bestee moes word, en die res aan vergoeding vir slagoffers van die 1991-oorlog, en om die bestuur van die embargo te finansier. In die lente van 2004 beskuldig die Amerikaanse regsgesindes die Verenigde Nasies van korrupsie in die implementering van dié program. (8) Development Fund for Iraq: Report of Factual findings in connection with Disbursement for the Period 1 January 2004 through 28 June 2004, KPMG, Bahrein, September 2004. (9) Verkose lid Henry A. Waxman, “New Information about Halliburton contracts”, verslag gelewer aan Demokratiese parlementslede in die House Government Reform Committee, 10 Maart 2004, Washington, DC. (10) SIGIR, verslag 05-023, Management of RRRP contracts in south-central Iraq. (11) SIGIR, verslag aan die Amerikaanse Kongres, Julie 2005. (12) Quarterly update to Congress — verslag 2207, Oktober 2006, p. 12. (13) Quarterly update to Congress — verslag 2207, Oktober 2006, p. 13. (14) Quarterly update to Congress — verslag 2207, Oktober 2006, p. 15 |