blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekonomierubriek: Armoede: Watter oplossing? 2007-04-18
Margaret Legum

*Gemeenskapsekonoom en skrywer van It doesn’t have to be like this (Kaapstad: Ampersand Press, 2003)

 

In weerwil van die feitlik eenstemmige akklamasie vir vanjaar se Begroting bly daar ’n hardnekkige, lelike donker gat. Dit is ons ou vriend, armoede. Hoewel dit klaarblyklik die regering se hoogste prioriteit is, bly die manier waarop armoede uitgewis gaan word, ’n raaisel.

Die regering se siening, soos dit in talle onlangse beleidstoesprake uiteengesit is, is in beginsel duidelik. In die eerste plek glo hulle nie dat armoede regstreeks verlig moet word deur geld aan mense te gee nie. Hulle reken dat bejaardes, gestremde volwassenes en kinders wel toelaes behoort te ontvang, maar nie welgeskape werklose volwassenes nie. Hulle beskou dit as onwaardig vir mense om aalmoese te ontvang terwyl hulle in staat is om te werk.

Dit beteken dat die regering beoog om armoede slegs te bekamp met beleide wat dit vir mense sal moontlik maak om geld te verdien deur te werk. En dit is wat ons moet bevraagteken.

Produktiewe indiensneming kan op een van drie maniere plaasvind. Mense kan van bestaansboerdery leef, mits hulle grond het. Vir die meeste arm Suid-Afrikaners is dit nie ’n opsie nie, omdat slegs enkeles toegang het tot ’n lewensvatbare bestaan uit grond. Grondverdeling is trouens in die Begrotingstoespraak verwaarloos. Tweedens kan hulle werk kry – deur iemand in diens geneem word. Derdens kan hulle ’n eie besigheid begin in die vorm van ’n kleinsake- of maatskaplike onderneming.

Ons, die publiek, moet weet presies hoe die regering redeneer dat armoede inderdaad op een van hierdie maniere verlig kan word. Wat reken hulle eintlik sal genoeg ordentlike werkgeleenthede verskaf teen lone of salarisse wat mense in staat sal stel om ’n gesonde lewe te lei?

Hierdie strategieë is nie nuut nie. Dis die einste middele waarop die regering vir die afgelope dekade staatgemaak het om armoede te verlig. Tot nog toe het hierdie beleide geen noemenswaardige duik in armoede gemaak nie. Dit het trouens sowat 40 % van ons mense gelaat sonder gereelde inkomste uit ’n vaste werk, en aangesien die grootste persentasie werkloosheid onder swart Suid-Afrikaners voorkom, beteken dit dat heelwat meer as 60 % swart mans en vroue nie werk het nie.

Buitendien is miljoene volwassenes wat as “in diens” geklassifiseer word, bloot oorlewingspesialiste is wat van die hand na die mond leef uit ruilhandel, of opportuniste wat raap en skraap om ’n bestaan. En talle ander “werkende” mense het formele werke wat hulle benede die broodlyn betaal – ’n mens dink aan sekuriteitswagte, huiswerkers en spysenieringsassistente. Dit kan onmoontlik nie beskou word as maniere om mense uit hul armoede te lig nie.

Hoe jy die statistiek ook al lees, kan niemand hetsy in die regering of daarbuite – die strakke ellende, die daaglikse verskrikking, die lyding van kinders ontken wat die daaglikse lot van seker die helfte van alle Suid-Afrikaners is nie. Die regering het vir hom die teiken gestel om dit teen 2014 met die helfte te verminder. Maar hulle het niks nuuts gesê oor hoe dit gedoen gaan word nie.

Die probleem is dat die opposisie in die Parlement nie sy werk doen om die regering ernstig te bevraagteken oor die doeltreffendheid al dan nie van sy beleide oor armoedeverligting nie. Die DA ondersteun die regering se ekonomiese beleide omdat sy kieserskorps, wat hoofsaaklik welgesteld is, uit die huidige beleide voordeel trek. Ander opposisiepartye is te swak om notisie van te neem as verteenwoordigers van die armes.

Hier is dus die vrae wat ons, die publiek, aan die regering moet stel aangaande sy beloftes oor armoede.

·     Die regering sê dat werkverskaffing sal toeneem na gelang die ekonomie groei – bereken volgens die bruto binnelandse produk (BBP). Maar “groei” kan nie op dié wyse oor dieselfde kam geskeer word nie. Sommige soorte groei sit gewoon meer geld in die sakke van ryk mense. Opswaaie in die pryse van hulpbronne soos goud, platinum en olie sal wel die BBP en die groeikoers laat styg, maar sal feitlik geen positiewe uitwerking op werkverskaffing of armoede hê nie. Vraag: Sê ons asseblief watter soort groei die regering verwag, as gevolg van watter beleide, wys ons hoe dit na die armes gekanaliseer sal word, en vertel ons van watter veronderstellings daar uitgegaan word om hierdie antwoorde te verskaf?

·     Ons weet dat groei volgens die heersende toestande onvolhoubaar is: dalende olievoorrade en die uitwerking van besoedeling op klimaatsverandering gaan ons verplig om die rigting van ons groei te verander. Vraag: Word daar met langtermyn volhoubaarheid rekening gehou in die regering se berekening van groei en die uitwerking daarvan op armoede?

·     Die regering sê Suid-Afrikaners spaar en belê te min en leen te veel, daarom is ’n beperkte, gebalanseerde begroting nodig om as’t ware namens ons te spaar. Weereens moet daar onderskei word tussen die kwessies van besparing, skuld en belegging. Vraag: Vanselfsprekend kan besparing nie verwag word van mense wat beswaarlik kop bo water hou nie. Waarom word daar dan nie hoër belastings gehef op mense wat wel oor die inkomste beskik, maar nie spaar nie?

·     Ons ope handelsbeleide lok mededinging van lande wat goedkoper arbeid het as ons. Tot dusver het hulle ’n netto verlies aan Suid-Afrikaanse werksgeleenthede veroorsaak. Vraag: Hoe sien die regering die uitwerking van die handel in die toekoms? Hoe goed verwag hulle sal ons ondernemings vaar te midde van groeiende invoer uit lande soos China, Indië en elders?

 

Laastens, selfs as die antwoorde daarop dui dat ons inderdaad die werkloosheid teen 2014 met die helfte sal verminder, wat van die ander helfte? Wat van daardie miljoene arm mense wie se omstandighede onveranderd gebly het ondanks die mees optimistiese aannames? Moet hulle nou maar hul spysverteringstelsels afskakel tot tyd en wyl die regering ’n ekonomie kan bewerkstellig waarin ook húlle dit sal kan bekostig om te eet?

By gebrek aan ’n opposisieparty om hierdie werk te doen, moet ons die moeilike vrae vra. Moet arm mense aanhou om die koste te dra van die regering se puntenerigheid (morele besware) oor aalmoese en waardigheid? Wat is waardig daaraan om van ’n kindertoelaag te leef, of van ’n pensioenaris s’n? Waarom is dit minder vernederend om by die verkeersligte te bedel, of op ’n vullishoop te gaan skarrel vir kos, of van ander arm mense te gaan steel? Het iemand al ooit mense met geen inkomste nie gevra of ’n hulptoelae vir hulle ’n verleentheid sal wees?

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=847
Artikel nagegaan:
    -