blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Paranoïese Pole 2007-04-18
Ignacio Ramonet

*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]

 

Hulle noem dit die wet van “reiniging”. Dit wil sê, volgens die woordeboek, “rituele suiwering”. Dít is nie sonder ’n sterk betekenis van berou en boetedoening in hierdie land deur die geskiedenis vasgeskarnier aan die Katolisisme nie. Volgens hierdie wet, wat in Oktober 2006 aanvaar is en op 15 Maart 2007 van krag geword het, moet 700 000 Pole dit dus bely as hulle tussen 1945 en 1989 met die Kommuniste saamgespan het. Alle hoogwaardigheidsbekleërs, dosente, advokate, skoolhoofde en joernaliste gebore voor 1972 het tot 15 Mei 2007 tyd om hulle “fout” te erken.

      Almal moet ’n vorm invul en antwoord op die vraag: “Het u in die geheim en bewustelik saamgewerk met die voormalige Kommunistiese veiligheidsdienste?”. Die vorm moet dan aan hulle lynhoofde gegee word, wat dit dan weer moet stuur aan die Instituut van Herinnering in Warskou. Laasgenoemde sal dit in sy argief verifieer en ’n sertifikaat van “politieke suiwerheid” lewer. In geval van bewese samespanning sal joernaliste wat in die staatsdiens werk, outomaties afgedank word. Diegene wat weier om te antwoord, of van wie bewys kan word dat hulle gejok het, loop die risiko dat hulle hul beroep vir tien jaar nie mag beoefen nie.

      Hierdie bisarre wet, wat ’n skandaal in die Europese Unie ontketen, laat die Amerikaanse Mccarthysime van die 1950’s na amateur anti-Kommunisme lyk. Dit vorm die belangrikste werktuig van ’n verbete heksejag wat in Oktober 2005 aangebreek het met die bewindsaanvaarding van die konserwatiewe president, Lech Kaczynski, en sy tweelingbroer, die premier Jaroslaw.

      Talle Pole beskou hierdie wet as strydig met die Grondwet, want dit dwing burgers om “te bewys dat hulle nie gedoen het wat hulle nie gedoen het nie”. Dit kan uitgegooi word deur die Konstitusionele Hof, wat sy uitspraak begin Mei lewer.

      Die regse koalisie – Katoliek en nasionalisties – wat Pole regeer, bestaan uit drie partye: Reg en Geregtigheid (van die Kaczynski-broers); Selfverdediging (uit die landboumilieu); en die Liga van Poolse Gesinne. Hulle het ’n kommerwekkende beleid van gespierde terugkeer na die “morele orde”. In hierdie gees het mnr. Roman Giertych, adjunkpremier, Minister van Onderwys en leier van die Liga van Poolse Gesinne ’n homofobiese wetsontwerp ingedien wat ’n verdere internasionale storm en protes van menseregte-organisasies ontketen het. Volgens hierdie wetsontwerp, wat binne ’n maand gefinaliseer kan word, kan enigiemand in ’n skool of universiteit wat sy homoseksualiteit “of enige ander afwyking van seksuele aard” (1) onthul, sigself blootstel aan ’n boete, afdanking of gevangenisstraf.

      Dié minister se vader, mnr. Maciej Giertych, Europese parlementslid van die Gesinsliga, het reeds in Februarie ’n stortvloed veroordelings veroorsaak nadat hy op die koste en onder die logo van die Europese parlement ’n anti-Semitiese pamflet gepubliseer het. Daarin het hy byvoorbeeld verklaar dat “die Jode self hulle ghetto’s skep” en dat “anti-Semitisme nie rassisme is nie” (2).

      Hierdie besluite van anti-Kommunistiese suiwering en pogings om na ’n outoritêre morele orde terug te keer, versteek in Pole net soos in ’n mindere mate in Oekraïene, Lituanië en ander voormalige Oosbloklande ’n soort walglike nostalgie vir die periode voor die Tweede Wêreldoorlog toe rassisme openlik was. Gewen deur die alomteenwoordige revisionisme, huiwer sommiges selfs nie meer om die samewerking met Hitler se Derde Ryk teen die tans gehoonde Sowjet-Unie te verheerlik nie.

      Dit is ongetwyfeld in hierdie gees dat Warskou, terwyl hy soos groot dele van die media oordeel dat mnr. Wladimir Poetin se Rusland bloot die vermomde voortsetting van die USSR is, verklaar het dat hy instem tot die installering van anti-missiel-batterye van die Pentagon op sy grondgebied om die VSA te beskerm. Sonder om dit nodig te ag om sy vennote van die Europese Unie te raadpleeg, nóg dié van NAVO.

Wat bewys dat paranoia in die politiek nie net tot geestelike verval kan lei nie, maar ook tot ’n sekere vorm van verraad.

 

_________

(1) El País, Madrid, 20 Maart 2007.

(2) Le Figaro, Parys, 17 Februarie 2007.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=846
Artikel nagegaan:
    -