| ||||
Patrick Bond
*Direkteur van die Sentrum vir die Burgerlike Samelewing, Universiteit van Kwazulu-Natal en skrywer van onder meer Looting Africa: The Economics of Exploitation, Londen: Zed Books, 2006.
Is Suid-Afrika se oorgang noodlottig gekompromitteer deur ekonomiese “versoening” wat armoede, ongelykheid, werkloosheid, ekologiese onvolhoubaarheid, rasse-, gender- en sosio-ekonomiese verskille verdiep het? Dít is die siening van ’n stel van “onafhanklike linkse” ontleders wat veral sedert 2000 werk om die verraad van die bevrydingstryd te dokumenteer. Teenoor voorgenoemde redeneer “verligtes”, wat Suid-Afrika se elite-oorgang verdedig as tot voordeel van die ganse samelewing, op dieselfde trant as Afro-nasionalistiese aansprake dat die “nasionale demokratiese rewolusie” ons na sosiale demokrasie voer. Byvoorbeeld, ’n sentrale aanspraak van Servaas van der Berg is dat ’n groeiende maatskaplike loon (social wage) – oftewel staatsbesteding op mense met ’n lae inkomste – armoede dramaties bekamp (meer as drie miljoen mense die afgelope jare) en ongelykheid verminder het (met 41 % tussen 1994 en 2003, en sedertdien nog meer). Laat ons, voor ons na die detail kyk, begin met die ernstigste (en tewens eerste) boeklange verdediging van die ANC se heerskappy, Alan Hirsch se 2006-oorsig oor die ANC se “konsekwente ekonomiese filosofie”: “[I]n die sentrum is ’n sosiaal-demokratiese benadering tot maatskaplike hervorming – dit is die staat se werk om die verbetering in die lewensgehalte van die armes te onderskryf en ongelykhede te verminder, dog met ’n deeglik verskanste vrees vir die risiko’s van persoonlike afhanklikheid van die staat en die opkoms van gesindhede van toe-eiening … “Die ANC se benadering word soms opgesom as elemente van ’n Noord-Europese benadering tot maatskaplike ontwikkeling gekombineer met elemente van Asiatiese benaderings tot ekonomiese groei binne ’n konserwatiewe makro-ekonomiese raam. Dit bly die intellektuele paradigma waarbinne die ANC funksioneer … “[O]mdat die ANC vertroue in verkiesingsukses vir minstens 10 tot 15 jaar met die inoes van die politieke bevrydingsdividend had, het dit nie verplig gevoel om riskante populistiese ekonomiese of fiskale beleide van stapel te stuur om kiesersteun te behou nie. Langtermyn groeivooruitsigte is vandag in Suid-Afrika rooskleuriger as te enige ander tyd in sy onlangse geskiedenis. Die makro-ekonomie is in goeie vorm en word goed bestuur; nuwe staats- en burgerlike instellings se gesag en bevoegdheid groei; ontwikkelingstrategieë is getoets en aangepas en maak nou vordering. Die land is stabiel en die regering het nuwe vlakke van vertroue bewerkstellig … “Die regering en besigheid in Suid-Afrika het geleer hoe om die hefbome van groei te hanteer, en herverspreidingsbeleide versterk die positiewe groeitrajek. Waar die plafon is, weet niemand regtig nie.” (1) Dit is moeilik om te weet wat om te glo van Hirsch se weergawe, gegewe sy rol as voormalige linksgesinde en later presidensiële beleidsraadgewer. Selfdienend verklaar hy “die politieke wonderwerk was nóg ’n wonderwerk, nóg maklik, maar eerder die gevolg van buitengewone leierskap”. Enersyds beklemtoon hy dat vir die periode 1994 tot 2002 “langtermyn en regstreekse buitelandse beleggings Suid-Afrika in betekenisvolle volumes binnegekom het”. Andersyds verskaf Hirsch ook data wat presies die teenoorgestelde wys, naamlik dat tot met 2001 daar slegs in 1997 meer as ’n onbeduidende invloei van buitelandse beleggings ter waarde van 1,4 miljard dollar was (die jaar van die staatstelefoonmaatskappy se gedeeltelike en uiteindelik onsuksesvolle privatisering), in vergelyking met ’n gemiddelde 4 miljard dollar se finansiële in- en uitvloeie. Wat betref die 8 miljard dollar wat gedurende 2001 ingevloei het, gee Hirsch in ’n verduidelikende nota toe: “Die hoë syfers in die regstreekse beleggingskolomme vir 2001 is die gevolg van ’n transaksie tussen Anglo American en De Beers, wat daartoe gelei het dat Anglo American sy hoofkantoor na Londen verskuif het (vanaf 1999)” (2). Met ander woorde, dit is slegs deur Anglo American as “buitelandse” kapitaal te beskou dat buitelandse beleggings toegeneem het. Buiten die uitbreiding van tydelike motoronderdele en die daaropvolgende aanskaffing van bestaande ondernemings deur Barclays (van ABSA) en Vodafone (van Vodacom), was die syfer van regstreekse buitelandse beleggings in Suid-Afrika niksbeduidend. Op sy beurt weerspieël dit die oorskot ongebruikte kapasiteit in die meeste Suid-Afrikaanse vervaardigingsbedrywe weens plaaslike oligopolisasie, produktiewe onmededingendheid en vroeëre periodes van oorbelegging. Die regerende party se verdedigers sluit nie slegs diegene in soos Hirsch wat in die Presidensie, die kabinet, die parlement en die ANC gebaseer is nie. ’n Paar jaar gelede het ’n gerespekteerde links-liberale regter, Dennis Davis, ’n aanval geloods op ’n nuwe intelligentsia van hoër inkomste wit regeringsondersteuners wat “ten beste redeneer oor die noodsaak vir verandering eerder as transformasie; die imperatief van deursyferingsekonomie; die irrelevansie van klas en die noodsaak vir die oprigting van ’n magtige swart bourgeoisie en, in sommige gevalle, selfs Vigsontkenning.” By hierdie “rasieleiers”, soos hy hulle noem, voeg Davis ’n groep “beroepsondersteuners”, “waarvan talle die heel beste van ons stryd vir ’n nierassige demokrasie verteenwoordig het en nou konsultante van ons regering en buitelandse regerings geword het … Geen verdere betrokkenheid by die intellektuele lewe van die land vir hierdie groep nie” (3). Laasgenoemde mag ’n onbillike aantyging wees – soos veral Hirsch se poging getuig – omdat daar onder die vaandels van “nuanse” en “balans” in die middel-2000’s ’n kritieke massa van staatsamptenare en konsultante, ondersteun deur simpatieke akademici en joernaliste, na vore getree het, wat die elite-oorgang openlik verdedig het deur in geen geringe mate die linkse kritiek te verdraai nie. Byvoorbeeld, bydraers tot ’n wydgelese 2003-uitgawe van die tydskrif Development Update het daarna gestreef om hulself te plaas “iewers tussen die ‘wonderwerk’ en die ‘uitverkoop-’” perspektiewe op postapartheid Suid-Afrika, soos David Everatt en Vincent Maphai dit gestel het. Die twee gasredakteurs van die tydskrif – die een ’n produktiewe skrywer en konsultant van die Departement van Openbare Werke, die ander skakelhoof van Suid-Afrikaanse Brouerye – verklaar hulleself en hul bydraers angstig om die “dramatiese dog intellektueel slordige” perspektiewe na bewering toege-eien deur linkse kritici van die ANC, te vermy (4). In dieselfde tydskrif kla nog ’n gereelde staatskonsultant, Edgar Pieterse, dat die onafhanklike linksgesindes aanvaar “die primêre oorsaaklike faktor van sistemiese armoede in Suid-Afrika is die regering se neoliberale makro-ekonomiese beleid – volgens die linkervleuel feitelik die nasionale ontwikkelingstrategie – wat self ingebed is in die neoliberale globaliseringsagenda van die Weste.” Terwyl dit ’n gebrek aan geloof weerspieël in die ANC se vermoë om homself te kan hervorm, dring die linkses daarop aan (in Pieterse se woorde) dat “verenigingsformasies (associational formations) die hoeksteen moet word van militante maatskaplike bewegings wat die hegemonie en tegnologieë van die regering se agenda uitdaag.” Dit is alles waar, ofskoon Pieterse dan linkse ontleders aanval omdat hulle na bewering die “alledaagse lewe afplat” deur “die implisiete essensialisme van [klas]identiteit.” Hierdie valse lesing van ’n ryk, gevarieerde literatuur oor die Suid-Afrikaanse oorgang mag moontlik beter verduidelik word deur Pieterse se selferkende mislukking om “empiriese data en stelselmatige ontleding” van talle onafhanklike, linkse maatskaplike bewegings (5) te gee (of hom selfs die moeite te loon om andere se data en ontledings te vermeld). Die linkse bewegings verbyster talle wat hulle beskou as die onbeskaafde (uncivilized) samelewing wat terugdateer na die vorige opwelling van die laat 1980’s en vroeë 1990’s. Slegs enkele van die talle oorsigte van burgerlike weerstand gedurende laat-apartheid het die hoop ingehou dat óf die bestaande óf ’n nuwe geslag van, sê, stedelike burgerlike bewegings sou voortgaan om neoliberale behuisings- of infrastruktuurbeleide te beveg. Sommige waarnemers het natuurlik die stelselmatige demobilisasie van die gemeenskapsgroepe wat so ’n belangrike rol in die vroeë 1990’s gespeel het, opgeteken. Leidende hoofstroomwaarnemers was egter uiters skepties dat die intense teenhegemoniese rol wat vroeër in die dekade verwerf is in toestande van staatslegitimiteit en demokrasie herstel kon (of inderdaad moes) word. Sentristiese en sentrum-linkse kommentators het die voortgaande voorspraakwerk (advocacy work) – insluitend proteste – van die voormalige United Democratic Front-rolspelers tussen 1994 en 1999, of die opwelling van onafhanklike, linksgesinde maatskaplike bewegings sedertdien, meesal eenvoudig geïgnoreer. Soos Sean Jacobs uitwys, was ’n deel van die probleem die wyse waarop die massamedia argumente geïgnoreer het van die staat se makro-ekonomiese kritici, voetsool-teenstanders van privatisering, of van John Pilger, vervaardiger van die seminale 1998-rolprent, Apartheid did not die (6). Daarbenewens het die elite se kader van lojale intellektuele, insluitend dié wat in Everatt en Maphai se uitgawe van Development Update geskryf het, die gedetailleerde kritieke van onafhanklike linkses wat in sektor na sektor aangevoer is, weggelaat of eenvoudig verknoei. Oorweeg byvoorbeeld ’n lang 2003-studie van Suid-Afrikaanse ongelykheid deur die welbekende Suid-Afrikaanse ekonoom, Stephen Gelb, wat in 1996 sowel as 2000-01 medeskrywer was van Pretoria se vernaamste neoliberale makro-ekonomiese strategieë. Terwyl hy namens Brittanje se staatshulpagentskap skryf, wat self namens Londense kapitaal ’n gereelde voorstander van privatisering is, beskuldig Gelb onafhanklike linkse kritici van “simplistiese en dikwels moralistiese vertolkings van politieke leiers se optrede en belange” en dat hulle “strukturele kenmerke van die samelewing ignoreer, in besonder die aard en verspreiding van ekonomiese en politieke mag in Suid-Afrika op die punt van oorgang, asook die strukturele probleme – krisis – wat die ekonomie vir die twee dekades voor die oorgang beleër het” (7). Hierdie is volkome ongeregverdigde aantygings, wat selfs ’n vinnige oorsig van die strukturalistiese tekste waarmee Gelb fout vind, bewys (8). Vir Gelb is die optimale strategie ’n miopiese sosiaal-demokratiese korporatisme wat loonbeperking insluit: “Konsensus word moontlik wanneer die leierskap die krisis identifiseer, dit vir sy bevolking ‘benoem’, oftewel die erns van die situasie beklemtoon, en op geloofwaardige wyse ’n strategiese pad vorentoe aantoon wat groepe in staat stel om seksionele verskille opsy te skuif en te verenig. Geloofwaardigheid impliseer hier om aan individue en groepe die vertroue te gee dat hulle nie gedwing sal word om ’n onbillike deel van die las te dra nie, om elke groep die geloof te gee dat die beleide gehandhaaf sal word.” Meer spesifiek, vervolg Gelb: “´n Maatskaplike verdrag of sosiale kontrak wat die verpligtinge van sake, arbeid en die regering jeens groei en stabilisering formaliseer” sal “lasverdeling moontlik maak”. Dít is ’n belangrike vertakking van politieke ontleding, vyandig teenoor klassekonflik, dog ook akuut bewus van die grense van hedendaagse kapitalisme, veral wanneer dit kom by die herverspreiding van inkomste of die verskaffing van basiese sosio-ekonomiese geleenthede. Nadere beskouing van Gelb se ontleding wys dat daar ’n pynlike eerlikheid skuil anderkant die normatiewe posisie wat die heersende korporatistiese politiek verdedig. Want in plekke wat strek vanaf plaaslike fora tot die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (ook bekend as NEDLAC) het hierdie benadering ooglopend misluk, soos Gelb self erken: “Een aanduider van die dalende resonansie van tripartisme (oftewel die verbintenis tot die Drieparty-alliansie van die ANC, Cosatu en die SAKP) was die wykende geloof dat ’n formele ‘kruinverbintenis’ daarin sal slaag om die beleggings-werkskeppingsknoop te ontrafel. In 1998 is ’n ‘Werkskeppingsberaad’gehou, en in 2003 ’n ‘Groei- en Ontwikkelingsberaad’, maar die gesamentlike openbare aankondiging van ‘sukses’ by die ontmoeting self is nie deur implementering en resultate daarna geëwenaar nie.” (9) Nadat hy die post-apartheid-getuienis in oënskou geneem het, kan Gelb bloot “die onvermoë (of onwilligheid) erken van die regering om die breër konteks van ongelykheid aan te spreek”, en moet hy tot die slotsom kom dat “Suid-Afrika stagneer terwyl dit stadig vrot.” (10) Dit is breedweg ook die betoog van die onafhanklike linkervleuel, naamlik dat onhoudbare korporatisme en die regerende party se pro-kapitalistiese vooroordeel die verdieping van die sosio-ekonomiese krisis verseker. Kortom, ’n politieke oorgang gebaseer op elite- eerder as populêre massaversoening kan nie die goedere lewer nie. Dit spreek uit die oorweging van die hoofterrein van verdediging, ’n groeiende “maatskaplike loon” wat na bewering vergoed vir die land se ekonomiese probleme. Terwyl statistiek beskikbaar in amptelike verslae vanaf 1994 tot 2000 sterk verdoemenis aanbied van post-apartheidse sosio-ekonomiese neigings, word dié beskikbaar vir die eerste helfte van die daaropvolgende dekade meer ingewikkeld. Dit is so dat die amptelike werkloosheidskoers in 2001 sy hoogtepunt bereik het op 32 % en 42 % indien ontmoedigde werksoekers (diegene wat opgehou het om aan opnemers te rapporteer dat hulle werk soek weens die onwaarskynlikheid dat hulle werk sal kry) ingereken word. Daarna het die regering se Arbeidsmagoorsig van September 2006 getoon dat werkloosheid tot 25,6 % afgeneem het, met ’n bykomstige 12,3 % van die potensiële arbeidsmag “ontmoedig” om hoegenaamd werk te soek – oftewel ’n effektiewe werkloosheidskoers van 38 % (11). Dit verteenwoordig ’n weglaatbare 4 % verbetering oor vyf jaar vir die totale arbeidsmag. Soos Business Day gekla het, blyk “bewerings van groot vordering in die stryd teen armoede grootliks opgeblase te wees”. En so, gedurende die voorafgaande jaar onder oorsig, “was meer as ’n kwart van die nuutgeskepte poste … die resultaat van ’n staatsbefondsde landbouhervormingsprogram” wat sy bevoordeeldes verghetto het in ’n soort informele kleinboer-modus. Business Day se verslaggewer het voortgegaan: “Die soort poste wat ingesluit is, opper ernstige vrae oor beweerde vooruitgang in die verwesenliking van die regering se oogmerk om werkloosheid en armoede teen 2014 te halveer.” (12) Benewens twiste oor werkloosheid debatteer Suid-Afrikaners ook die aard van die staat se maatskaplikeloon-verbintenis en die impak daarvan. Terwyl hy regeringsbeleid verdedig het, het professor Servaas van der Berg van die Universiteit van Stellenbosch die Gini-koëffisiënt (die hoofmaatstaf van inkomste- of verbruiksongelykheid) herbereken deur die impak van staatsbesteding aan die maatskaplike loon te bereken.
Voor hierdie oefening het die Gini-koëffisiënt volgens die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram tussen 1994 en 2000 gestyg van 0,59 tot 0,64. 0 is volmaakte gelykheid waar almal dieselfde inkomste het, en 1 is ’n situasie van volkome ongelykheid waar een persoon ’n samelewing se ganse inkomste beheer. Die laaste regeringstudie van die onderwerp wat ons kan vertrou, is in Oktober 2002 deur Statistiek Suid-Afrika gepubliseer. Dit toon dat die inkomste van die gemiddelde “Afrikaan”-huishouding in reële terme met 19 % gedaal het tussen 1995 en 2000, terwyl blanke huishoudelike inkomste met 15 % gestyg het. Dat huishoudings met ’n maandelikse inkomste van minder as 100 dollar – hoofsaaklik van swart, bruin of Asiatiese afkoms – gestyg het van 20 % van die bevolking in 1995 tot 28 % in 2000. Die armste helfte van alle Suid-Afrikaners had ’n blote 9,7 % van die nasionale inkomste, ’n val vanaf 11,4 % in 1995, terwyl die rykste vyfde 65 % ingepalm het (13). In teenstelling hiermee het Van der Berg bepaal dat tussen 1993 en 1997 die volle omvang van maatskaplike besteding – nie bloot inkomsteoordragte deur pensioene en kindertoelae nie, maar ook onderwys, gesondheidsorg en ander staatsprogramme – dramaties toegeneem het vir die armste 60 % van huishoudings, vernaamlik die armste 20 % en landelike armes, en daarenteen afgeneem het vir die 40 % wat die beste daaraan toe was. Volgens Van der Berg het daardie proses ’n 35 % verbetering in die Gini-koëffisiënt meegebring. Merrifield het die metodologie bygewerk en uitgekom by ’n 41 % verbetering in die Gini vir 2000 vanaf die 1994 basisjaar (14). Onder die talle probleme wat met hierdie benadering saamhang, het Van der Berg en Merrifield nagelaat om die impak van niemaatskaplike bestedingspatrone van die staat te meet. Baie hiervan was gerig op “korporatiewe welsyn” soos inkomste opgegee danksy vrygewige belastingkortings vir die rykes en korporasies, ’n nuwe geslag duur uitvoerinsentiewe en subsidieskemas (veral vir die motorbedryf) en reuse beleggings in megaprojekte soos Coega en die Lesotho Hoogland- waterprojek, waarvan die impak op arm mense meer negatief as positief is (15). Hierdie soort beleggings verhoog nie net korporatiewe inkomstevlakke nie, wat weer as dividende na ryk aandeelhouers aangegee word, maar verhoog ook die implisiete inkomste van genoemde aandeelhouers omdat dit groot toenames in kapitaalwaarde verteenwoordig (selfs al word dit eers gerealiseer by verkoop van die bate of van korporatiewe aandele). Om staatsbesteding te ignoreer is dus ’n groot metingsvooroordeel ten gunste van ryker, aandeelryk huishoudings. Tewens, as ’n gedeelte van totale staatskapitaalbesteding het die kategorieë van ekonomiese infrastruktuur (paaie, brûe, elektrisiteits- en watervoorsiening) en ekonomiese dienste (sakeondernemings nie by voorgenoemde ingesluit nie) gedurende 1995 tot 2002 gestyg vanaf 61,3 % tot 67,6 % (bykans 2,2 miljard dollar in 2002), terwyl maatskaplike infrastruktuur (skole, hospitale en administratiewe dienste) gedaal het vanaf 38,7 % na 33,4 % (1,1 miljard dollar) (16). Die implisiete toename in die rykdom (en nie net inkomste nie) van die aandeelhouersklas danksy korporatiewe aandeelwaardevermeerdering, gekombineer met staatsbesteding aan ekonomiese infrastruktuur, sal sekerlik ’n groot deel van die 35 % of 41 % verbetering in die Gini-koëffisiënt uitwis. Afgesien van data-integriteit en metingsvooroordele ontstaan ’n selfs groter metodologiese vraag oor die verdienstelikheid daarvan om die inkomste-ongelykheidsindeks met maatskaplike staatsubsidies aan te pas. Soos die ekonoom Neva Makgetla dit gestel het: “[V]eronderstel ’n huishouding se maandelikse inkomste is R1000, of R12 000 vir die jaar. As die gesin vier kinders op skool het, kry hulle ’n ekstra R12 000 van die staat [die bedrag van die per capita onderwysbegroting maal vier], wat hulle inkomste verdubbel. Maar help dit ons om die ekonomiese moeilikhede wat hulle op die kort termyn in die gesig staar, te verstaan? Per slot van rekening sal dit nie kos op die tafel sit nie.” (17) Afgesien daarvan of die Van der Berg/Merrifield-aanpassing appels met pere kombineer, soos Makgetla aanvoer, het die aantal ontvangers van maatskaplike toelae tussen 1994 en 2002 gestyg van 2,6 miljoen tot 6,8 miljoen, met ’n gevolglike toename in staatsbesteding vanaf 1,4 miljard dollar tot 5 miljard dollar. Die syfers is indrukwekkend, maar deurspek van moeilikhede as ons eers die praktiese aspekte van staatsleweringstelsels in oënskou neem, soos uitgewys deur die Kommissie van Ondersoek na ’n Omvattende Maatskaplike veiligheidstelsel onder voorsitterskap van Viviene Taylor. En so, volgens navorsers van die Universiteit van Kwazulu-Natal, Nina Hunter, Julian May en Vishnu Padayachee, “word die opname van sommige van die toelae belemmer deur ingewikkelde administratiewe prosesse wat talle mense wat daarvoor kwalifiseer, van toegang tot die toelae mag weerhou. Ten einde toegang tot die toelae te kry in die geval van kinders word identiteitsdokumente en geboortesertifikate van die dokumente deur distrikswelsynskantore vereis. Maar talle van diegene in landelike gebiede het nie hierdie dokumente nie.” (18) ´n Onbeproefde projek sal wees om elk van die lynitems van maatskaplike besteding te dissekteer en die vooroordele in samehang met staatsbeleid en -begroting te bepaal. Byvoorbeeld, volgens Hunter, May en Padayachee is Pretoria se besteding aan openbare onderwys beslis nié “pro-arm nie, aangesien die deel wat na die armes en die ultra-armes gaan, substansieel minder is as hulle (pro rata) deel van die bevolking. In Suid-Afrika moet onderwys gratis wees, maar in die praktyk vereis skole skoolgelde en ander uitgawes (soos uniforms, skoolboeke en skryfbehoeftes) wat toegang tot onderwys vir die armstes al hoe moeiliker maak. ’n Duidelike strategie van die regering is hier nodig, aangesien dit uit die lewering van ander dienste, in besonder gesondheidsorg, al hoe duideliker word dat gebruikerstariewe en vervoerkoste die toegang van die mees behoeftiges tot hierdie dienste belemmer.” (19) As die probleem van gebruikerstariewe in onderwys en gesondheidsorg die voordele van staatsbesteding vir die heel armstes verminder, geld dit regstreekse verbruikbares soos water-, elektrisiteit- en telefoontoegang des te meer. Teen die vroeë 2000’s het stygende water- en elektrisiteitstariewe gesamentlik meer as 30 % van die inkomste ingesluk van diegene wat onder 75 dollar per maand verdien. Om Suid-Afrika se mees opvallende voorbeeld in oorweging te neem – Durban, SA se rykste munisipaliteit: in 1997 was die maandelikse verbruik deur die derde van die stad se inwoners met die laagste inkomste 22 kiloliter per huishouding per maand (kl/hh/md). Kort daarna is ’n “gratis basiese waterstrategie” vir die eerste 6 kl/hh/md ingestel, maar so ook skerp prysverhogings vir die volgende blokke water. Teen 2003 het die prys van die gemiddelde liter water verbruik deur die derde van gerekende inwoners met die laagste inkomste verdubbel, afgesien van die klein aanvanklike watertoekenning. Volgens ’n Durbanse sleutelamptenaar, Reg Bailey, het daardie prysverhoging daartoe gelei dat die gemiddelde waterverbruik deur lae-inkomste-gebruikers in dieselfde periode met meer as ’n derde gedaal het tot 15 kl/hh/md. Vir middel- en hoë inkomste-verbruikers daarenteen, was die prys effens hoër, maar die ooreenstemmende afname in watergebruik baie minder. Kortom, ofskoon hulle die loodsprojek van gratis basiese water verskaf het, het Bailey en sy kollegas in die laat 1990’s en vroeë 2000’s ’n stelsel gevestig wat tot veel groter ongelykheid gelei het. Massa-afsnydings vir diegene wat nie kon betaal nie, het ook die Durbanse waterstelsel gekenmerk. Op nasionale vlak in een onlangse jaar (2003) het 275 000 huishoudings afsnydings van hulle watertoevoer as gevolg van wanbetaling beleef, soos die regering se leidende waterburokraat erken het (20). Maar om nou eers terug te keer na Van der Berg se navorsing: seker die felste kritiek het gekom van Charles Meth, wat die Van der Berg-span se neiging tot stelselmatige oor-telling (overcount) van diegene wat deur verhoogde maatskaplike toelae uit armoede gelig is (veral die R100 maandelikse pensioen), gedokumenteer het (21). Van der Berg het ’n jaarlikse huishoudelike opname van die Suid-Afrikaanse Advertensie-navorsingstigting gebruik en ’n afname in armoede vanaf 18,5 miljoen tot 15,4 miljoen mense vanaf 2000 tot 2004 geskat. Maar volgens die feite, soos Meth aanvoer, was die armoedetelling (gemeet teen 45 dollar maandelikse inkomste per persoon) in werklikheid gedurende 2004 tussen 18 en 20 miljoen mense (´n deel van die probleem synde ’n eenvoudige rekenkundige fout deur Van der Berg). Hierdie is die soort debatte wat die vraag kenmerk: word Suid-Afrika ’n “ontwikkelingstaat”? Ek dink nie so nie. Die getuienis dui op die heerskappy van die mark, vanaf makro-ekonomie tot die prys van ’n druppel water. Die ANC het neoliberalisme deurgevoer tot ’n uiterste waarvan die groep rondom FW de Klerk, Chris Stals en Barend du Plessis – die “ekonokrate” wat die “sekurokrate” vervang het – slegs kon droom. En dít is waarom die samelewing met die hoogste proteskoers per persoon ter wêreld - volgens die polisie in 2004-05 ’n gemiddeld van 16 per dag – Suid-Afrika is (22).
__________ (1) Season of Hope, Pietermaritzburg: University of Kwazulu-Natal Press, 2006, p.6 – 7. (Alle aanhalings in hierdie artikel is ons vertalings – Red.) (2) Ibid., p.87. (3) “Beyond Cheering and Pie-Throwing”, Mail & Guardian, 30 Januarie 2004. (4) “Introduction”, Development Update 3 (2), 2003. (5) “Rhythms, Patterning and Articulations of Social Formations in South Africa”, Development Update 3(2), 2003, p. 103, 104, 114. (6) Sean Jacobs, “Public Sphere, Power and Democratic Politics: Media and Policy Debates in Post-Apartheid South Africa”, proefskrif, Borkbeck College, Universiteit van Londen, 2004. (7) “Inequality in South Africa: Nature, Causes and Responses”, DfID Policy Initiative on Addressing Inequality in Middle-income Countries, Johannesburg, Die EDGE-Instituut, November 2003; sitate hieronder is vanaf p.29, 57, 65, 72-73. (8) Patrick Bond, Elite Transition: From Apartheid to Neoliberalism in South Africa, Pietermaritzburg: University of Kwazulu-Natal Press, 2005; Sampie Terreblanche, A History of Inequality in South Africa, 1652 – 2002, Pietermaritzburg: University of Kwazulu-Natal Press, 2003. (9) Gelb, ibid. (10) Gelb, ibid., p.54, 73. (11) Carol Hills, “Unemployment rate down – Stats SA”, Business Report, 26 September 2006. (12) Kevin O’Grady, “Debate rages, but at least SA is asking better questions on jobs”, Business Day, 10 Oktober 2006. (13) Statistiek Suid-Afrika (2002), Earning and Spending in South Africa, Pretoria; Business Day, 22 November 2002. (14) Regeringskommunikasie- en Inligtingsdiens (2003), Towards a Ten-Year Review, p.90. (15) Vir gedetailleerde gevallestudies van hoe lae inkomste-mense negatief geraak word deu die twee enkele grootste kapitaalprojekte in post-apartheid Suid-Afrika (Coega en die Lesotho-damme), kyk Patrick Bond, Unsustainable South Africa, Londen: Merlin Press, 2002, hoofstukke twee en drie. (16) Soos aangehaal in United Nations Development Programme, South African Human Development Report 2003, tabel 2.5, p.18. Bowendien het die nasionale inkomsterekening- kategorieë “elektrisiteit, water en gas” uitset snel gedaal as ’n gedeelte van nasionale uitset gedurende hierdie tydperk, wat aandui dat die hooftoenames in “ekonomiese infrastruktuur” gebaseer is op beleggings in megaprojekte, en nie op die uitbreiding van die water- en elektrisiteitnetwerk na die miljoene sonder dienste nie. (17) “Our Gini Remains Large”, ThisDay, 6 November 2003. (18) “Lessons for PRSP from Poverty Reduction Strategies in South Africa”, p.20. Referaat gelewer by die derde vergadering van die Afrika-studiegroep van Armoedeverminderingstrategie van die Ekonomiese Kommissie vir Afrika, Addis Abeba, 3 tot 5 Desember 2003. (19) Ibid. (20) Mike Muller, “Turning on the Taps”, Mail & Guardian, 20 Junie 2003. (21) “Income Poverty in 2004: A Second Engagement with the Recent Van der Berg et al Figures”, ongepubliseerde sketsreferaat, Universiteit van Kwazulu-Natal Skool van Ontwikkelingstudies en Kaapstad, Suider-Afrikaanse Arbeid- en Ontwikkelingsnavorsingseenheid, Durban, 2006. (22) B. Madlala, “Frustration Boils over in Protests: Community Angered at Snail Pace Service Delivery”, The Mercury, 14 Oktober 2005. |