blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
SA staatsvermoë en demokrasie: Misdaad en die staat 2007-04-18
Johan Burger

*Navorser aan die Instituut vir Sekuriteitstudies en skrywer van Strategic Perspectives on Crime and Policing in South Africa, Pretoria: Van Schaik, 2007.

 

Die staat (en meer bepaald die regering, as uitvoerende owerheid daarvan) word dikwels daarvan beskuldig dat dit nie verantwoordelikheid aanvaar vir die ernstige misdaadsituasie in Suid-Afrika nie, en soms selfs dat dit in ’n toestand van ontkenning is. Die waarheid is dat geen mate van werk, geld en getalle (personeel) in die polisie of die kriminele regstelsel op sigself ons misdaadprobleem sal oplos nie. Dit moet aangevul word deur ’n massiewe poging deur die staat om ook ons sosio-ekonomiese probleme op te los. Die kwessie is hier natuurlik langtermyn resultate, en in die tussentyd moet ons op ons veiligheidsdienste staatmaak. Maar iewers moet ons begin.

Die misdaadsituasie in Suid-Afrika is ernstig en oorheers die huishoudelike agendas van beide die regering en die burgerlike samelewing en, natuurlik, daaglikse mediaverslae. Daar is ook geregverdigde kommer dat die vlakke van geweld wat in ons land met misdaad saamhang, aan die toeneem is. Die gevolg is ’n toename in die vrees vir misdaad en groeiende wantroue in die polisie en die regering in die algemeen om doeltreffend teenoor misdaad op te tree. In ’n slagofferopname deur die Instituut vir Sekerheidstudies in 2003 het 58 % van die respondente byvoorbeeld aangedui dat hulle bang is om na donker in hul eie omgewing te loop, vergeleke met 25 % in ’n vorige opname in 1998. Tabel I gee ’n opsomming van ernstige en geweldsmisdaad wat ons grootste rede tot kommer is. Vergelykende syfers van drie finansiële jare sedert 1994/95 word verskaf in ’n poging om moontlike tendense te bepaal. Ongelukkig is die syfers vir motorkapings slegs vanaf 2001/02 (tabel 2) beskikbaar, soos ook die geval is met kontant-in-transito rooftogte. Vir laasgenoemde word die werklike syfers gegee, omdat die getalle ofskoon ernstig, te klein is om ’n betekenisvolle verhouding per 100 000 van die bevolking te kan bepaal.

 

 

Tabel 1: Vergelykende syfers vir ernstige en geweldsmisdade

 (Gemeet per 100 000 van die bevolking)

 

 

1994/95

1999/2000

2005/06

Moord

66,9

52,5

39,5

Poging tot moord

69,1

65,4

43,9

Verkragting

115,3

122,8

117,1

Roof (verswarend)

218,5

229,5

255,3

Roof (gewoon)

84,2

173,5

159,4

 

 

Tabel 2: Motorkapings en kontant-in-transito rooftogte

 

 

2001/02

2002/03

2003/04

2004/05

2005/06

Motorkapings (per 100,000)

35,4

32,3

29,7

26,7

27,4

Kontant-in-transito rooftogte (werklike syfers)

238

374

192

220

383

 

Volgens die Jaarverslag van die Suid-Afrikaanse Polisiediens 2005/06 (pp 50 – 59) is daar belowende tekens oor die afgelope vyf jaar dat misdaad aan die afneem is. Tussen 2004/05 en 2005/06 het die aangetekende ernstige en geweldsmisdade soos volg afgeneem:

·     Moord: 2,0%;

·     Poging tot moord: 16,6%;

·     Verkragting: 1%;

·     Roof met verswarende omstandighede: 6,2%;

·     Gewone roof (met ’n element van geweld, maar sonder die gebruik van wapens): 18,3%.

 

Aan die ander kant het motorkapings, wat in die voorafgaande finansiële boekjaar met 10,1 % afgeneem het, die afgelope finansiële boekjaar (2005/06) met 2,6 % toegeneem. Kontant-in-transito rooftogte het met 74,1 % toegeneem, en rooftogte in winkelsentrums (nie in die tabelle nie) met 32 %.

Hierdie afnames is inderdaad bemoedigend, maar daar moet onthou word dat dit afnames vanaf uiters hoë vlakke verteenwoordig, en dat dit ’n lang tyd sal duur voordat dit die soort vlakke bereik wat ’n positiewe uitwerking op die openbare gevoel van veiligheid sal hê. Die moordsyfer het byvoorbeeld van 66,9 per 100 000 in 1994/95 na 39,5 in 2005/06 afgeneem, maar dis nog steeds agt maal die wêreldgemiddeld van 5,5, en twintig maal die Britse koers van net onder twee per 100 000. Met ander woorde, as ons die huidige koers van afname in moord handhaaf, sal dit ons ongeveer nog vyftien jaar neem om die internasionale norm te bereik. Die Suid-Afrikaanse syfer word selfs ontstellender as ’n mens kyk na die werklike getal van 18 528 mense wat in een jaar vermoor is, wat neerkom op 50 moorde per dag.

Verkragting het oor die afgelope elf jaar op dieselfde hoë vlak gebly en toon geen teken van afname tot die mate wat by sommige van die ander ernstige misdade voorgekom het nie. In reële terme verteenwoordig die syfer van 117,1 per 100 000 in 2005/06 byna 55 000 verkragtings, d.w.s. 150 vroue word elke dag in ons land verkrag. Dit is ’n ontstellende toestand, veral gedagtig aan die uitslag van onafhanklike navorsing wat toon dat tussen 33-66 % van verkragtings nooit aan die polisie gerapporteer word nie. Verkragting is ook nie ’n baie polisieerbare misdaad nie, en vind meestal in geboue plaas, in areas buite die normale bereik van polisiebedrywighede. Onlangse navorsing het getoon dat die slagoffer en die verkragter in 75 % van die gevalle aan mekaar bekend is.

Dit is egter roof en die geweld waarmee dit gepaard gaan wat die grootste sielkundige impak op die gewone mens het. In hierdie geval is dit roof in ’n mens se eie huis (wat ook huisbraak of huisaanvalle genoem word), roof van jou motor (motorkaping) en roof op vermaaklikheidsplekke (byvoorbeeld winkelsentrums, restourante, ens.), wat mense bangmaak. As hierdie situasie toegelaat word om voort te gaan en, erger nog, verder te versleg, skep dit ’n psigose van vrees wat op sy beurt tot irrasionele en selfs onwettige gedrag deur individue en groepe kan lei.

Anders as moord en poging tot moord vertoon roof (sowel gewoon as met verswarende omstandighede) ’n ander tendens. Terwyl moord sedert 1994/95 bestendig afgeneem het (met ongeveer 40 % oor die afgelope elf jaar), het roof met verswarende omstandighede van 218,5 per 100 000 in 1994/95 tot 288,1 gestyg in 2003/04 voordat dit weer tot 255,3 teruggesak het in 2005/06. Die laaste syfer is steeds 17% hoër as in 1994/95. Gewone roof het vinnig van 84,2 per 100 000 in 1994/95 gestyg tot 223,4 in 2003/04 voordat dit na 159,4 gedaal het in 2005/06. Dit beteken dat gewone roof in weerwil van afnames oor die afgelope drie jaar nog steeds 90 % hoër is as elf jaar gelede.

Soos vroeër aangedui is, is daar skynbaar in regeringskringe die oortuiging dat as ons aanhou om die kriminele regstelsel en veral die polisie te versterk, die probleem (misdaad) uiteindelik sal weggaan. Natuurlik is daar veelvuldige probleme binne die polisie en die kriminele regstelsel wat reggestel moet word, maar dis duidelik dat die oplossing vir ’n diepgewortelde en komplekse maatskaplike probleem ’n veel omvattender benadering verg as bloot die wetstoepassingsinstansies. Ons teenswoordige polisie/publiek-verhouding van 1:373 (uitgesonder die Metropolisiedienste) is reeds vergelykbaar met die beste in die wêreld, en gaan volgens beplanning oor die volgende drie jaar nog verder verbeter. Daar kan dus geredeneer word dat ons reeds genoeg polisie het, maar word polisiehulpbronne so goed bestuur as wat dit behoort te gebeur? Met ander woorde, as die bestuur van hulpbronne in die polisiemag verbeter kan word, sal daar meer hulpbronne vir ander terreine beskikbaar wees, veral ten opsigte van maatskaplike ontwikkeling.

In ’n verslag deur die Afrika- Eweknie-oorsigmeganisme (AEOM) aan die Suid-Afrikaanse regering teen die einde van 2006 het hulle aansienlik verskil van Suid-Afrika se selfskatting in Junie van dieselfde jaar. Die AEOM het ’n lys gemaak van wat hulle as die vyftien sleutelbedreigings vir die stabiliteit van Suid-Afrika se demokrasie beskou. Hieronder is die hoë vlakke van geweldsmisdaad en misdaad teen vroue en kinders, maar ook werkloosheid, armoede en die ontsaglike gaping tussen ryk en arm. Ten slotte het die AEOM-verslag by die Suid-Afrikaanse regering aangedring om die stryd teen misdaad sy “topprioriteit” te maak.

Die ironie is dat Suid-Afrika alreeds, so ver terug as 1994 in die Witskrif op Intelligensie, misdaad tesaam met kwessies soos ekonomiese ineenstorting, oorbevolking, massamigrasie, ens. geïdentifiseer het as die grootste bedreiging vir sy nasionale sekuriteit. Hierdie toestand is in 1996 bevestig met die aanvaarding van die Witskrif op Verdediging, en weer in 1999 met die voorlegging van die Witskrif op Suid-Afrikaanse Deelname aan Internasionale Vredesendings. Die Witskrif op Verdediging stel dit byvoorbeeld duidelik dat die grootste bedreiging vir die Suid-Afrikaanse nasie die volgende is:

“… sosio-ekonomiese probleme soos armoede, werkloosheid, swak onderwys, die gebrek aan behuising en die afwesigheid van voldoende maatskaplike dienste, asook die hoë vlak van misdaad en geweld”.

 

Die ooglopende kwessie is dat as ons alreeds meer as ’n dekade weet dat misdaad en sosio-ekonomiese toestande, alte dikwels presies die soort toestande wat misdaad en geweld veroorsaak of daartoe bydra, ons “topprioriteite” is, wat het ons daaromtrent gedoen? Die waarheid is dat daar inderdaad ’n aantal noemenswaardige pogings aangewend is om die bostaande kwessies aan te pak, maar feitlik almal daarvan het opgedroog.

      Gelyktydig met die aanvanklike implementering van die Nasionale Misdaadvoorkomingstrategie in 1996 het die druk van misdaad en geweld iets geverg wat ’n meer onmiddellike en sigbare merk sou maak. Dit het gelei tot ’n aantal hoëdigtheids- misdaadbekampingsaksies van die polisie en uiteindelik tot die nasionale misdaadvoorkomingstrategie (NMVS) in 2000 en Operasie Toeslaan (Operation Crackdown). Hierdie aksies was indrukwekkend van skaal en ten opsigte van funksionele resultate, en het ’n tydlank baie mense tevrede gestel wat daarop aangedring het dat iets omtrent misdaad gedoen moet word. Maar inherent in hierdie oënskynlike sukses lê tegelyk ook die mislukking daarvan, want polisiëring bereik altyd ’n punt waar dit geen verdere betekenisvolle indruk op misdaad kan maak nie. ’n Duidelike rede hiervoor is dat, hoewel toegewyde polisiewerk en hoëdigtheidsoperasies die ruimte vir georganiseerde misdaad kan beperk en as afskrikmiddel vir party misdade kan dien, dit geen uitwerking het op die sosio-ekonomiese en ander toestande wat aan die wortel van misdaad lê nie.

Die aanvanklike suksesse van die benadering van polisie-optrede het sedertdien die oormatige vertroue op die krimineleregsektor as die oplossing van ons misdaadprobleem versterk. Daar is egter aanduidings van ’n groeiende besef dat veel meer nodig is. ’n Mens hoef maar net die welbekende “stukkende-venster-teorie” teen die agtergrond van algemene wetteloosheid, wanorde, stedelike verwaarlosing en agteruitgang en morele verval, met al die ander sosio-ekonomiese faktore wat reeds genoem is, op te weeg om te begryp hoe enorm en kompleks ons misdaadprobleem werklik is.

Die goeie nuus is dat “stukkende vensters” herstel kan word, maar ons het ’n ewe komplekse hoewel goed gekoördineerde benadering daarvan nodig. Wat ons op die oomblik het, is ’n onsamehangende poging deur talle groepe en organisasies, hoe welwillend ook al, saam met die regering se kriminele regsdepartemente. Groepe soos byvoorbeeld Besigheid teen Misdaad (Business Against Crime (BAC)), die godsdiensleiers, die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR), die Menseregtekommissie en selfs mediagroepe probeer op die een of ander manier om ’n bydrae te maak tot die oorlog teen misdaad.

 

Wat ons werklik nodig het om mee te begin, is dat die regering aan ons die volgende verskaf:

 

·     ’n nasionale misdaadbekampingsbeleid om ons te vertel wat om te doen;

·     ’n nasionale strategie wat ons vertel hoe om dit te doen;

·      subdepartementele of departementele strategieë wat elke regeringsdepartement lei ingevolge sy verantwoordelikhede, toegedeel deur die nasionale beleid en strategie (dit sluit letterlik alle staatsdepartemente in en nie slegs die polisie en ander departemente van kriminele justisie nie);

·     ’n koördinerende struktuur (Nasionale Misdaadbekampingsentrum?) met die wetlike gesag om staatsdepartemente te lei, met inbegrip van ministers en direkteurs-generaal, ingevolge hul onderskeie substrategieë, en om hulle aanspreeklik te hou; en

·     die integrasie van nieregeringsinisiatiewe met die bogenoemde koördinerende struktuur.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=844
Artikel nagegaan:
    -