| ||||
Erika Gibson
* Militêre spesialisverslaggewer, Beeld
Die weermag se vermoë en soms sy onvermoë om sy werk te doen, is gereeld ter sprake in die parlement, in opposisiepartye en veral waar oudstryders saamkuier. “Die weermag is nie meer wat dit was nie,” is waarskynlik die naaste aan ’n gemeenskaplike waarheid waartoe al die partye sal kan kom, want die weermag ís inderdaad nie meer wat dit twintig, dertig jaar gelede was nie. Tóé was dit ’n geoliede oorlogsmasjien met meer as 100 000 soldate, wat met die beste weermagte ter wêreld vergelyk is. Trouens, sekere groeperings soos die Spesiale Magte is beskou as een van die top drie van hul soort. Dit was jare van isolasie en sanksies, en Suid-Afrika se wapenbedryf het te midde daarvan vooruitgegaan met plaaslik vervaardigde produkte soos mynbestande voertuie, wat vandag nog as die beste ter wêreld beskou word. Dit was ’n bloeitydperk; dit was die tyd van P.W. Botha, maar dit was ook die tyd van onaanvaarbare apartheid en groeiende verset. Sedert 1990 het alles verander. Daar was vrede ná die oorlog, en Suid-Afrika se demokratiese bestel het pynlike veranderings meegebring. Een van die eerste aspekte van die weermag wat gesneuwel het, was die verdedigingsbegroting. Tydens die militêre bloeityd in 1988 het dié begroting 4,3 % van die bruto binnelandse produk beloop. In 2000 was dit 1,5 % en die afgelope paar jaar konstant sowat 1,6 % met die onlangse verdedigingsbegroting van sowat R25,9 miljard. Daarmee saam moes Umkhonto we’ Sizwe en Apla se gewapende vleuels saam met die weermagte van die ou tuislande, KwaZulu-Natal se selfverdedigingseenhede en die “ou” weermag in een nuwe nasionale weermag saamgesnoer word – iets wat nog nooit in enige land suksesvol uitgevoer is nie. Integrasie en heropleiding was aan die orde van die dag terwyl die weermag ook sy uitgawes moes rasionaliseer. Kenners het gewaarsku dat dit vir minstens ’n dekade beroerd sal gaan voor daar weer enige sprake van ’n opwaartse kurwe sou wees. Die integrasie het met bloedsweet en tandekners gepaardgegaan terwyl soldate wat tot onlangs geswore vyande was, in vriendelike makkers moes verander. Vir honderde kundiges was die gedagte onaanvaarbaar en onversoenbaar met hul oortuigings. Hulle het die pad na groener weivelde gevat, met die gepaardgaande leemtes wat hulle gelaat het in ’n tyd toe hul kundigheid broodnodig was. Die nuwe Suid-Afrika se nuwe weermag het boonop beswaarlik sy voete begin vind toe ’n nuwe uitdaging aangedurf moes word: vrede vir die vasteland. En wie sou dit beter kon doen as Suid-Afrika met sy gedugte weermag? Vredesoperasies, met al die nuwe leerstellings en hersienings van opleidingsriglyne, was binne enkele jare in Burundi, die Demokratiese Republiek van die Kongo (voor dit demokraties geword het), Soedan en selfs die Ivoorkus onderweg. Daarmee saam het die wapentransaksies van multimiljarde rande gevolg. Wéér moes die opleiding – dié keer op nuwe toerusting – aangepas word en wéér is die skrapse kundigheid nog dunner gerek. Regstellende aksie en verteenwoordiging op alle vlakke het die wagwoord geword: ou kundiges moes toekyk hoe nuwe onkundiges in senior poste aangestel word. Politiek het sy neus oral ingesteek en veroorsaak dat nóg kundiges gekapituleer het. Nou, bykans dertien jaar sedert demokrasiewording, funksioneer die weermag steeds al het die doemprofete ook voorspel dat die wiele lánkal sou afval. In 2000 tydens Mosambiek se groot vloede het die lugmag gehelp om 14 000 mense van ’n gewisse waterdood te red. In 2001 het die weermag met minder as twee weke kennisgewing ’n bataljonsterk mag in Burundi ontplooi. Laat verlede jaar het die weermag binne 72 uur nog ’n bataljon, bestaande uit soldate van Kimberley tot in Kaapstad, Durban en Hoedspruit, na die Comores gestuur om die vrede tydens dié eilandgroep se verkiesings te bewaar. Internasionale militêre kenners stem saam dat dié soort reaksietyd beswaarlik deur die wêreld se voorste weermagte nagedoen kan word. Is die weermag dan so sleg as wat sommiges dit maak? Helmoed-Römer Heitman, een van Suid-Afrika se voorste militêre kenners, meen die weermag kan “vir die oomblik” nog presteer met die klem op “oomblik”. “Die weermag staar geweldige probleme in die gesig, wat katastrofiese gevolge gaan hê as dit nie gou raakgevat word nie. Sou die probleme nié opgelos word nie, gaan Suid-Afrika sit met ’n ‘hol’ weermag onder ’n dun buitelagie van kundigheid wat beswaarlik die leë eggo daarbinne sal kan verberg.” Hy stem saam dat personeelprobleme die grootste uitdaging is: die gebrek aan ’n kundige topstruktuur en te min opleiding – dít terwyl MIV-vigs en misdaad net soos elders in die land ook sy tol eis. Volgens Heitman is die kritieke probleme die verlies aan personeel wat gewoonlik in vredestye ervaar word; operasionele ooreising; erge begrotingstekorte; swak dissipline en politieke druk om verteenwoordiging ten alle koste te bereik. Trouens, met Suid-Afrika se toenemende rol in vredesoperasies, die feit dat sekere troepe soms selfs drie keer in twee jaar vir ses maande oorsee ontplooi is en die gepaardgaande agterstand in die opleidingsiklus van sommige eenhede stel Heitman voor dat die leër van dié betrokke eenhede heeltemal van buitelandse ontplooiing onttrek om eers weer tot ’n aanvaarbare peil van opleiding gebring te word. Tydens die weermag se jaarlikse groot militêre oefening by die SA Leër Gevegopleidingsentrum te Lohatlha verlede jaar was dit hoofsaaklik diensvrywilligers (wat slegs vir twee jaar vrywillig by die weermag aansluit) wat deelgeneem het. Dít terwyl dit die enigste gesamentlike gevegsgereedheidsoefening is wat nog op die weermagkalender oorgebly het! Die ander operasionele eenhede was eenvoudig te besig in die buiteland. Kort ná 1994 het kenners voorspel dat dit met die weermag eers weer goed sal gaan wanneer die geslag soldate wat sedert daardie tyd sonder enige politieke affiliasie deur die range beweeg het, die senior bestuursvlak bereik het. Daar is reeds ’n briesie van verandering te bespeur, veral sedert ’n jonger stel generaals die afgelope jaar of twee as weermagsdeelhoofde (oor die leër, die lugmag, die vloot en die geneeskundige dienste) aangestel is. Ja, verteenwoordiging moet nog steeds plaasvind, maar dié nuwe generasie in die topstruktuur besef ook die nadele van politieke inmenging in die suksesvolle funksionering van enige weermag. Waar kritiek binne die post-1994-bedeling vanuit die bevelvoerdersgarde – veral in die openbaar – ongehoord was, begin daar al meer kritiese stemme opgaan. Tydens ’n onderhoud verlede jaar met die bevelvoerder van 2 SA Infanteriebataljon (2 SAI) by Zeerust, luitenant-kolonel Peter Sereko, kort nadat dié eenheid reuse-suksesse in die afdwing van vrede in die Demokratiese Republiek van die Kongo behaal het, het hy prontuit en met die goedkeuring van luitenant-generaal Solly Shoke, hoof van die leër, sy keel skoongemaak: “Ons het tydens dié twee operasies alle moontlike vorige negatiewe persepsies oor die Suid-Afrikaanse soldate omgekeer. Maar dit beteken nie dat daar nie kritieke tekortkominge in veral ons logistieke ondersteuning was nie,” het Sereko gesê. Hy noem die probleme een vir een op: * Die logistieke toevoerlyne was lomp en versterkings het onnodig lank geneem om by hulle uit te kom. Desondanks kon 2 SAI daarin slaag om die 20 % diensbaarheid van hul voertuie op te stoot tot 80 % – al was die beskikbare voertuie nie geskik vir die soort operasies wat in die DRK aan die orde van die dag is nie. * Nog ’n probleem wat Suid-Afrikaanse magte daar ondervind, is dat dokters en mediese ordonnanse se ontplooiingstermyn nie ooreenstem met dié van die res van die magte nie. Dit lei daartoe dat hulle midde-in ’n operasie moet wissel. * “Die Indiese en Pakistanse magte het ’n uitstekende beeld in die buiteland weens hul toegewyde mediapersoneel. Ons mag daarenteen nie eens met die media praat nie, en boonop sit ons woordvoerders in Pretoria. * “Ons elektroniese kommunikasietoerusting het ’n reikwydte van slegs 13 km, vergeleke met die Kongolese magte se gevorderde toerusting wat ’n afstand van 50 km kan dek. * “Daarbenewens word mense in poste soos logistiek en intelligensie-vertolking aangestel sonder dat hulle daarvoor opgelei is. * “Ons ontplooi kwantiteit- pleks van kwaliteitsoldate, wat strydig is met die einddoel wat ons en die VN in ’n operasie wil bereik. * “Een van die grootste probleme is die gebrek aan toewyding onder die Suid-Afrikaanse soldate in die algemeen. Die meeste stel net belang in die buitelandse toelae wat hulle verdien en stel die res van ons in die verleentheid. * “Soms dink ’n mens besluite wat die lewens van ons soldate raak, word deur mense in kantore in Pretoria geneem wat geen benul het van die werklike omstandighede nie.” * Sereko het ook baie sterk gevoel dat vrouesoldate nie aan die spits van operasies soos dié hoort nie. Hulle is net nie fisiek sterk genoeg of emosioneel goed genoeg voorberei om kilometers ver met mortiere op hul skouers te loop nie. In ondersteuningsrolle weg van die gevegsfront is hulle ideaal, meen hy – beslis en wel wetend dat dit indruis teen die politieke riglyne binne die weermag. Oudgeneraal-majoor Len le Roux van die Instituut vir Sekuriteitstudies meen meer strategies gesproke is die doel en funksies van die weermag soos bepaal deur die Witskrif op Verdediging (1996) lankal ietwat uitgedien. Dáárvolgens is die primêre rol van die weermag steeds om die land en sy mense te beskerm teen ’n buitelandse aggressor. In die alledaagse werklikheid is die weermag egter hoofsaaklik in die buiteland by vredesoperasies en humanitêre hulpverlening betrokke, terwyl selfs die hulp aan die polisie in misdaadvoorkoming opgeskort is. Volgens Le Roux moet die weermag ook aangewend word om byvoorbeeld in die maritieme omgewing te help met ’n wye reeks kleinskaalse gebeurlikhede soos die beskerming van maritieme hulpbronne, besoedelingsbeheer, misdaad ter see langs ons kuslyn en waar seerowery veral aan die Ooskus van Afrika plaasvind. Die lugmag beskik egter nie meer oor ’n noemenswaardige maritieme lugverkenningsvermoë nie, al het die vloot nuwe fregatte gekry. Laasgenoemde kan ook nie so vinnig soos behoorlike patrolliebote ontplooi word om op kort kennisgewing te reageer nie. Die lugmag het weliswaar nuwe helikopters en vegvliegtuie gekry, maar moet steeds vliegtuie huur om sy troepering na die buiteland sowel as sy logistieke ondersteuning te doen. Die Verdedigingsoorsig van 1998, wat die magsontwerp van die weermag van die toekoms uitgespel het, het vir sowat 1 000 soldate in vredesoperasies voorsiening gemaak. Tans is daar tussen 3 000 en 4 000 soldate in die buiteland. Daarmee saam het die gereedheidstand van veral die leër se soldate weens die toenemende ouderdomsprofiel, die invloed van MIV-vigs en dus algemene fiksheid dramaties gedaal. Die weermag se territoriale reserwemag, die kommando’s, is feitlik almal gesluit, wat ’n leemte gelaat het in die weermag se steun aan burgerlike instansies vir noodleniging en misdaadondersteuningsoperasies. Volgens Le Roux is die weermag se paraatheid skeefgetrek weens die groei in die salarisbegroting met die integrasie van duisende bykomende oud-vryheidsvegters; die uitwerking wat die aankoop van nuwe toerusting op die kapitaalbegroting het, en die gevolglik geringe bedrag wat oorbly in die bedryfsbegroting. Laasgenoemde moet ook vir sowel opleiding as instandhouding, uniforms, rantsoene, ammunisie en binnelandse ontplooiingsoperasies voorsiening maak. “Daar is dus ’n algemene verwaarlosing van die weermag se infrastruktuur, uitrusting en opleiding,” sê hy. Dan noem hy ook rang-inflasie, soos die onaanvaarbaar hoë persentasie van generaals en senior offisiere teenoor soldate (die hoogste in die wêreld). Die Suid-Afrikaanse weermag het 220 generaals vir 70 000 soldate. In Kanada is daar 80 generaals teenoor dieselfde hoeveelheid soldate. Kenners stem saam dat dit hoog tyd is dat die politici nou hul hande van die weermag moet afhaal en dit aan die generaals moet oorlaat om weer volgens behoorlike internasionale standaarde aan die mag te bou. Daar is steeds goeie junior en senior offisiere en onderoffisiere wat glo in die roeping van soldaatwees. Húlle moet nou ’n kans gegun word sonder dat die weermag verder deur die politici “misbruik” word. Laastens moet die regering besef hy kan net sóveel bloed uit ’n klip tap: die weermag kan nie meer byhou by die regering se groeiende buitelandse betrokkenheid terwyl hy aan die agterspeen suig wat betref die begroting nie. Die weermag het nog elke keer as hy opgekommandeer is, sy kant gebring – op die een of ander manier. Die dag gaan egter aanbreek dat die weermag eenvoudig sal moet sê: “Ek kan nie meer nie, korporaal ...” Hopelik sal dit nie met lewensverlies gepaardgaan nie. |