|
|||
Thérèse-Marie Deffontaines
*Joernalis. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Met die sukkelende plaaslike uitgewersbedryf en die prys van ingevoerde publikasies as afskrikmiddel, is ’n boek ’n skaars artikel in Afrika. Dit perk die vasteland se toegang tot literatuur geweldig in, en veral tot dié van sy eie skrywers wie se werk in die buiteland uitgegee word van wie daar gepraat word, maar wat op eie bodem min gelees word, omdat hulle boeke duur, peperduur is. Dit is die geval met Alain Mabanckou, byvoorbeeld. Met ses boeke agter sy naam, almal in Frankryk gepubliseer, ontvang hierdie Kongolees wat Franstalige letterkunde aan die Universiteit van Los Angeles doseer, in 2006 die Renaudot-prys vir Mémoires de porc-épic, wat verlede Augustus by Seuil verskyn het. Dié skelmroman vertel die verhaal van ’n 42-jarige ystervark en sy menslike alter-ego – ’n boek wat groot byval by die Afrika-leser sou kon vind, maar in Bamako is hy slegs te koop in twee enkele boekwinkels in die voorportaal van luukse hotelle. By die een kos hy 13 500 CFA frank (sowat R160), en by die ander, 16 500 (sowat R200) – ’n derde boekhandelaar het hom teen 12 000 (sowat R144) aangebied, maar is nie van plan om nog voorraad aan te skaf nie. Oral dus duurder as in Frankryk, waar dit sowat 13 euro kos. En vergelyk ’n mens dit met die minimum salaris in Mali – 28 460 CFA (sowat R350) in Januarie 2007 – begin jy ’n begrip kry van die waarde van ’n biblioteek (1). Die plan om ’n internasionale boekefees binne so ’n opset te hou, het in 1999 posgevat met ’n ontmoeting tussen die Malinese skrywer en uitgewer Moussa Konaté, en Michel Le Bris, die brein agter die Etonnants Voyageurs-boekefees in Saint-Malo, Frankryk. So deur die gesels begin die twee visioene kry van ’n Afrika-weergawe van dié Bretonse fees en spring aan die werk. Die droom word ’n projek, en hulle pak die uitdaging om dit in Mali te doen. Terwyl Michel Le Bris sy netwerke pols om vennote en finansiering te kry, maak Moussa Konaté werk onder skrywers. Hy spook om die gedagte te laat posvat dat ’n saamtrek van skrywers, selfs in ’n brandarm land met ’n mondelinge tradisie, net so belangrik en legitiem is as ’n byeenkoms van sakelui, politieke leiers of finansiers. In Februarie 2001, tien jaar na die val van die militêre diktatuur, sien Etonnants Voyageurs die lig in Mali. Die projek se twee inisieerders is medebestuurders van die nuwe fees. Moussa Konaté se doelwit kan in enkele woorde opgesom word: “Om die boek deel van ons kultuur te maak”. Ontmoetings met skrywers en gesprekvoering rondom hulle boeke vorm die kern van ’n drieledige program: die ontdekking van literêre werke, die bevordering van lees en boeke en die skepping van ’n ruimte vir die teenstrydige woord. Die dryfveer is sowel literêr as opvoedkundig. Van meet af aan maak die fees hom in verskeie gebiede tuis. Aan die een kant, ’n vaste adres wat maklik gekry kan word, waar debatte en literêre kafees gereël word vir dié wat reeds lees: die Franse kultuursentrum (Centre culturel français, oftewel CCF) speel hier die rol van toonvenster. Aan die ander kant, verspreide kolle in die hoofstad en daar rondom skole, biblioteke, kulturele aktiwiteitsentrums waarheen skrywers genooi word om ’n publiek te ontmoet wat nog nooit van hulle gehoor het nie. Aanvanklik, ondanks die teenwoordigheid van talle Afrika-skrywers, voel die Malinese nie geraak deur wat hulle beskou as ’n “Witmens-besigheid”, of “Toubabou ka fèn” in Bambara nie. Hierdie beeld van ’n geleentheid wat van buite af ingevoer en befonds is, vervaag met die toetrede van plaaslike deelnemers en borge. In 2002 stem die Mali-regering in tot ’n skenking, en die betrokkenheid van die Frans-Malinese projek Appui à la filière du livre au Mali (AFLAM) laat ook die biblioteke betrokke raak (2). Dieselfde jaar brei die fees uit na drie dorpe in die binneland (oor die volgende drie jaar versprei dit na die sentra van al agt streke in die land). In 2003 word die vereniging Etonnants Voyageurs Bamako gestig. Dié word die plaaslike organiseerder van die fees, en terselfdertyd kry die fees ’n vaste tuiste in die tuine van die Palais de la culture (nasionale kultuursentrum), op die regteroewer van die Niger. Simbolies is dit ’n belangrike skuif, van ’n “Franse” lokaal, die CCF, na een in volksbesit, naby die hoofroetes en omring van skole en amfiteaters – wat ’n duidelike invloed op die bywoningsyfer het. Daarmee saam ontwikkel daar al hoe meer aktiwiteite wat op die jeug gemik is. Elke jaar word daar meer “gesprekke” by skole en universiteite gehou: vir twee uur staan die skrywer voor honderde skoliere en studente wat hom of haar met vrae peper. Vir hierdie jongmense wat “die lesers, maar ook die skrywers van môre” is (Moussa Konaté), is die ontmoeting en gesprek met ’n skrywer ’n openbaring. ’n Skrywer is dus nie net Victor Hugo of Amadou Hampaté Ba nie. Dis ’n lewende wese, nie noodwendig oud nie, iemand met wie ’n mens kan praat. En dis dikwels op skool dat hy of sy lus gekry het om te skryf. Hierdie ontdekking breek die inhibisies af; dit maak die tonge los en die begeerte wakker – begeerte tot uitdrukking, begeerte na kennis, begeerte na die wêreld. In ruil hoor die skrywers in onverdunde dosis die gedagtes van hierdie lesers, wat baie van die ontmoeting verwag (3). Want die jongmense leef hulle in die boeke in, drink dit in en praat met agting daaroor. Hulle vra die skrywers uit oor die inhoud sowel as die vorm of die skryftaak self, die bedoeling of betekenis wat hulle daarin gesit het, en die lewe van ’n skrywer. Dan maak hulle hulle los van die teks, hou net die hoofdraad daaruit en gebruik dit as riglyn om die wêreld te verken. Die gesprek met die skrywer draai eers om die boek self, en dan, op grond van die tema waaroor gepraat is, word die raamwerk wyer oopgemaak na die wêreld, voordat dit na Afrika terugkom en uiteindelik eindig met die hier en nou – wat dit beteken om ’n jongmens vandag in Mali te wees, hoe jy jou plek vind in die samelewing en in die wêreld ... Die skrywers wat ons by die sesde fees – van 20 tot 26 November 2006 – raakgeloop het, beklemtoon die jong lesers se vermoë om dít uit ’n boek te haal wat hulle laat nadink oor ’n probleem wat hulle regstreeks raak, of ’n werklikheid waaroor hulle tob. Mamadou Mahmoud N’Dongo, wie se roman Bridge Road (Le Serpent à Plumes/Le Rocher) vertel van ’n joernalis wat ondersoek instel na ’n rassistiese moord wat in die 1920’s in die Suide van Amerika gepleeg is, word eers uitgevra oor rassehaat in die VSA en daarna oor sy lewe in Frankryk en die oproer in Paryse voorstede in November 1995. Vir die jongmense van Bamako lyk dit na ’n groot kans vir ’n kind van Dakar, soos die skrywer van Bridge Road, om na Frankryk te gaan om by sy immigrant-werker pa te gaan bly en in ’n voorstedelike buurt soos Seine-Saint-Denis (noord van Parys) te gaan woon. Waarom dan hierdie opstande? Daardie oggend ontrafel die skoolkinders saam met Mamadou Mahmoud N’Dongo die kwessie van identiteit, van swartwees in die VSA, van swartwees in Frankryk, en eindig met die vraag: is ’n toekoms moontlik vir jong Afrikane in hulle eie land? Roland Colin sien hoe “al die politieke, maatskaplike en kulturele vrae wat aan hulle land gestel word”, na vore kom in die opmerkings van hoërskoolleerlinge met wie gesels is by geleentheid van die herverskyning van Contes noirs de l’Ouest africain (“Swart stories van Wes-Afrika”, Présence africaine), ’n werk oor mondelinge literatuur wat die eerste keer gepubliseer is in 1957. Met die afskaling van primêre literatuur tot die rang van folklore as vertrekpunt, kom hulle by die vraag uit van waar hulle staan teenoor die wêreld – moet daar altyd elders na status en bevoegdheid gesoek gaan word? Die Franse romansier van Algerynse afkoms, Jean-Noël Pancrazi, antwoord weer op lesers van Dollars de sables (Gallimard) se vraag na inligting oor onwettige immigrasie en die dodelike vaarte op lendelam skuitjies tussen die Dominikaanse Republiek en Puerto Rico. Daarenteen lyk die Amerika wat die swart Amerikaanse skrywer Eddy Harris, tans woonagtig in Frankryk, in Jupiter et moi (Liana Levi) beskryf, nie soos die een wat die Malinese studente geglo het hulle ken nie. Hulle is uit die veld geslaan deur hierdie binneblik op hoe swart Amerikaners toegesluit word in ’n beeld, ’n model wat deur wit mense afgedwing word. Die vraag is onderliggend aan die werk van Eddy Harris, en sy antwoord is ondubbelsinnig: “In die VSA is jy nie net ’n mens nie, jy is altyd ’n swart mens. Voor jy ’n skrywer is, is jy ’n swart skrywer, en daar word verwag dat jy oor sekere temas sal skryf. Selfs al skryf jy oor ’n onderwerp wat niks met ras te make het nie, bly jy ’n swart skrywer.” Die Sondagoggend, laaste dag van die fees, wys ’n onverwagse episode hoe hardnekkig die “Amerikaanse droom” nog voortduur, en veral in watter toestand van verwarring en hulpeloosheid die jeug verkeer. Die insident vind plaas in die Nasionale Biblioteek waar die openbare debatte van die sesde fees gehou word. ’n Literêre kafee met die titel “Tussen Afrika en Amerika” is aan die gang met Alain Mabanckou, Eddy Harris en die Senegalese Mamadou Mahmoud N’Dongo as gaste. Laasgenoemde praat oor sy volgende boek wat handel oor die geskiedenis van Liberië en die genealogie van die burgeroorlog, en kom terug na die geskiedenis van Afro-Amerikaners en hulle terugkeer na Afrika in 1822. ’n Tiener staan op en begin praat oor sy onbegrip vir swart Amerikaners se begeerte na Afrika terwyl “ons hier spyt is dat ons grootouers nie gedeporteer is nie” – hy sê nie die woord “slawe” nie, maar dis duidelik waarvan hy praat. Vir hom lyk dit voor die hand liggend, en ’n mens voel aan dat hy ’n behoefte het om dit te sê: vandag is die lot van swart Amerikaners oneindig meer benydenswaardig as dié van Afrikane. Eddy Harris vind dat die tiener se gevoel “juis” is, al is dit “nie korrek” om dit te sê nie. “Nêrens in die wêreld sal jy jong swartmense kry wat vir jou sal sê dat, as hulle kon kies waar hulle gebore wou wees, dit nie Amerika sou wees nie. Ek self, as ek vandag ’n jong Afrikaan was, sou hierdie begeerte na Amerika gehad het.” “Die droom is nog sterk,” is die Ivoriaanse romansier Koffi Kwahulé (Babyface, Gallimard, Continents noirs-reeks) se opmerking nà hierdie brutale bevestiging van die fantaserende visie van ’n Amerika as droom-alternatief vir die wanhopige beeld van ’n Afrika wat vir sy kinders geen kans bied nie. “Swart Amerikaners is mense wat in die Weste leef, en Malinese wat in Frankryk woon, word beny wat ook al hulle lewensomstandighede mag wees, omdat hulle in die Weste is. Dit is dieselfde wanhoop, dit verklaar die bootjies wat na die Weste toe vaar. Onafhanklikheid het nie ’n utopie geskep nie, die droom is steeds elders as in Afrika.” Waar is ons plek dan? Dieselfde vraag lê op die jongmense se lippe, oral en elke keer, ongeag die onderwerp van die debat of die boek. ’n Mens hoor dit in die vrae wat gereeld aan Alain Mabanckou, Koffi Kwahulé of Mamadou Mahmoud N’Dongo gestel word. “Sou jy kon skryf wat jy skryf as jy in Afrika gewoon het?” “Wat is die kenmerk van ’n Afrika-roman (of toneelstuk), wat maak dit anders as ’n nie-Afrika roman?” “Sou jy dieselfde ding geskryf het as jy hier gewoon het?” Want selfs in literatuur is die kanse nie gelyk nie. Die toenemend duidelike verskil – wat betref die inhoud, styl, en nie net die prys nie – en die werklike rangorde tussen boeke wat in Afrika geskryf en gepubliseer word, en dié in die buiteland, ontgaan nie die jeug van Mali nie. Met verwysing na hierdie interne hiërargie gebruik ’n hoërskoolmeisie die uitdrukking “die mooi en die nuttige”. Die “mooi” is boeke wat elders uitgegee word, wat vir literêre pryse in aanmerking kom, die “nuttige” is boeke wat te lande gemaak word, wat uit noodsaak voorgeskryf word aan ’n skrywer wat hom nie uit die werklikheid kan onttrek nie. Dit is ongetwyfeld waarom, gesien uit Mali, die plek van Franstaligheid in die letterkunde en die gespook om regverdiger erkenning vir Franstalige literatuur nie ’n saak van prioriteit is nie. Die stryd wat Michel Le Bris, Alain Mabanckou, Abdourahman Waberi van Djibouti (Aux Etats-Unis d’Afrique, Jean-Claude Lattès) voer met die steun van die Franse skrywer Jean Rouaud (L’Imitation du bonheur, Gallimard), wat aan die debat “Vir ’n wêreldletterkunde in Frans” by die CCF kom deelneem het, wek beleefde belangstelling, maar sommiges vrees dat dit mag lei tot nog verdere marginalisering van primêre literatuur, erfgename van die orale tradisie en van plaaslike uitgewerye en tale. Daar was ook twee nuwe verwikkelinge in 2006 (4): ’n opleidingseminaar vir uitgewers, wat al die beroepslui van die bedryf byeengebring het rondom ’n daadwerklike projek om ’n slapbandreeks te skep; Ethnologues Voyageurs, ’n reeks van debatlesings wat ’n uiters aktuele benadering tot die Dogon-vraagstuk bied: moet dié paradys vir etnoloë en toeriste, wat deur die VN se Organisasie vir Opvoeding, Wetenskap en Kultuur (UNESCO) tot erfenis van die mensdom verklaar is, sterf sodat sy beeld van ’n samelewing wat tot in der ewigheid onveranderd sal bly, bewaar kan word?
__________ (1) Daar is tans veertien boekwinkels in Bamako, en feitlik geen in die res van die land nie. Omtrent die helfte van hulle verkoop slegs skoolboeke en skryfbehoeftes. (2) AFLAM, ’n Frans-Malinese projek wat op 30 September ten einde loop, maak deel uit van Opération Lecture Publique, wat pionierswerk op die gebied van samewerking ter wille van boeke verrig het, met die doel om ’n biblioteeknetwerk (vir skole en die publiek) in al die streke van Mali tot stand te bring. Van stapel gestuur in 1977, bereik OLP sy doelwit in 2001. (3) Elke keer wanneer ’n skrywer by ’n skool of universiteit ontvang word, kry hulle biblioteek vyf eksemplare van sy jongste boek. Hierdie jaar, vir die eerste keer, het die boeke agt tot tien dae voor die fees opgedaag, en kon baie van die jongmense hulle dus lees voor hulle die skrywer ontmoet het – met dank aan die fotostaatmasjien!
(4) En ’n webwerf vir die onafhanklike uitgewersalliansie – www.alliance-editeurs.org – met inligting oor inisiatiewe vir die solidêre medepublikasie van boeke teen bekostigbare pryse vir lesers in Suidelike lande. So is L’Ombre d’Imana, Voyages jusqu’au bout du Rwanda, deur Véronique Tadjo, in agt Afrikalande verkrygbaar teen die prys van 1500 CFA frank (sowat R20). |