|
||||
Ignatius Cronje skryf oor ons openingsmanifes van 3/9/2004: Ek dink dit is 'n baie goeie ideaal, maar ek dink dat dit baie moeilik is om te behaal. Die probleem is dat die voorstel 'n vermenging van de mokrasie en kapitalisme is, wat elk uiteenlopende ideale is. Geen staat het vandag werklik ‘n kapitalistiese bestel nie. Die regering speel 'n baie groot rol in die ekonomie in die naam van de mokrasie. Onder 'n suiwer kapitalistiese stelsel word individue toegelaat om interaksie met mekaar te hê. Die geld wat uit so 'n bestel gemaak word, is 'n sekondêre uitvloeisel van hierdie interaksie. In so 'n bestel speel die regering slegs 'n ondersteunende rol sover dit staatsadministrasie en die oplos van dispute betref. Dit het dan ook die voordeel dat integrasie in gemeenskappe totaal op 'n vrywillige basis geskied en dit ondersteun die ontwikkeling van inisiatief. Om aan te dring op groepsdeelname oftewel kollektiwiteit, grens aan 'n sosialistiese benadering wat kan ly tot groot drukgoeperinge, en as dit volgehou word, kan dit lei tot vorms van outokrasie. Dit is in kort soos ek dit sien, 'n ideaal. Hoe om daar te kom, is 'n ander vraag, maar ek glo aangesien Suid-Afrika op die voorfront wil wees met ons politieke en ekonomiese bestel, is dit iets wat na gekyk moet word. Ons redakteur antwoord: 1. Dit is nie duidelik waarom mnr. Cronje de mokrasie en kapitalisme in spanning met mekaar sien nie: in beginsel berus beide op vrye keuse. 2. Ons het nêrens “aangedring” op groepsdeelname nie – aandrang of dwang is ‘n styl wat eerder by die staat pas. Ons vertrek vanuit die standpunt dat die gemeenskap die basis van ‘n betekenisvolle politieke lewe is, en dat ‘n gesonde gemeenskap sowel die individu as die groep voorafgaan en bepaal hoe selfstandig hulle is of nie. Allermins gaan dit hier om sosialisme, aangesien ons nóg ‘n Groot Ideologie wil bou, nog die staat as voertuig van vryheid sien (soos die sosialisme keer op keer doen). Die outokrasie waarvoor u vrees vloei juis voort uit die staat se miskenning van gemeenskappe, of vanuit ‘n misbruik van die gemeenskap vir eiebelang. Op 8/11/2004 skryf Louis Louwrens na aanleiding van Vic Webb se artikel oor Afrikatale in die onderwys: In die Departement Afrikatale waaraan ek hier by Unisa verbonde is, het ons veral die afgelope vyf tot ses jaar 'n dramatiese daling in studentegetalle ervaar. Waar daar, byvoorbeeld, teen die middel negentigerjare ongeveer 1 500 eerstejaars vir Noord-Sotho geregistreer het, het die registrasiesyfer vir Noord-Sotho vanjaar op 23 gestaan. Ons studente wat vir graadkursusse registreer, is almal moedertaalsprekers van Noord-Sotho. Interessant genoeg, het die aantal registrasies vir nie- moedertaalsprekers (d.w.s. Afrikaans- en Engelssprekendes wat 'n Afrikataal wil leer) die afgelope twee tot drie jaar merkbaar toegeneem. Wat hierdie dramtiese daling in studentegetalle nog meer kommerwekkend maak, is die volgende: Voorheen is Afrikataalkursusse aan Unisa deur medium van Engels aangebied. Sedert 1999 het ons van onderrig deur medium van Engels oorgeskakel na moedertaalonderrig. Alle studiegidse, studiebriewe, werkopdragtre, eksamens, besprekingsklasse, geskied dus deur medium van die betrokke Afrikataal. Ten spyte hiervan, het die studentegetalle sedertdien drasties bly daal. Dit is myns insiens 'n duidelike bewys dat sprekers van Afrikatale Engels bo hulle eie taal verkies, en daarvoor is daar baie redes waarop ek nie nou wil ingaan nie. Ek glo nie reklameveldtogte en ander eksterne aksies soos wat Webb voorstel gaan die situasie red nie. Ons het as departement, in die lig van die prentjie wat hierbo geskets is (en dit geld nie net Noord-Sotho waarby ek betrokke is nie, maar al nege die Afrikatale wat die Departement aanbied), met aksieplanne en goedgeorganiseerde reklameveldtogte begin, maar dit het, helaas, geen vrugte afgewerp nie. Afrikataalsprekers moet eers self 'n dwingende behoefte begin ervaar om hulle eie tale te bevorder. Daar moet 'n nuwe taaltrots, as't ware 'n nuwe taalnasionalisme met 'n gepaardgaande nuwe en sterk groepsidentiteit ontwaak voor die huidige situasie sal verander. Eer dit gebeur, sal ingrepe van buite deur, byvoorbeeld, druk- en aksiegroepe nie hond haaraf maak nie. Ons redakteur antwoord: Dr. Louwrens raak hier aan ‘n wesenlike probleem, naamlik die mindere simboliese gewig wat inheemse tale (veral danksy die koloniale erfenis, maar ook vandag die tegnologiese mag van Engels) dra. Denkers soos Régis Debray en Benedict Anderson het aangetoon dat ‘n taalbewussyn slegs daar vaardig is waar enkele literêre en politieke leiersfigure die taal help om die gedrukte woord te betree. In feite is ons inheemse tale, buiten Afrikaans, almal hoofsaaklik gesproke tale, en sal hulle altyd ‘n mindere simboliese status teenoor Afrikaans en Engels geniet tot hulle die geslaagde oorgang na die gedrukte woord maak. Dit beteken nie dat daar nie al talle pogings in dié verband was nie: Xhosa-koerante het byvoorbeeld min of meer saam met die eerste Afrikaans-Nederlandse koerant, De Zuid-Afrikaan, verskyn, net soos daar vandag enkele koerante in ander inheemse tale bestaan. Die kruks van die probleem bly egter die geslaagde institusionalisering van hierdie tale, beginnende daarby om van hulle tale van onderrig in die skool te maak. Op sy beurt vooronderstel dit die nodige politieke wil: presies dit wat tans by ons neo-koloniale regering ontbreek. |