blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Hoe word mense 'n gemeenskap? M. Night Shyamalan se The Village 2004-11-12
Johann Rossouw

Deur Johann Rossouw

M. Night Shyamalan se rolprent, The Village is 'n boeiende verkenning van gemeenskap, gebied en transendensie. Enige gemeenskap kan slegs bestaan rondom 'n transendente, een of ander ideaal wat die lede van die gemeenskap saambind. Religieuse gemeenskappe is miskien die algemeenste voorbeeld hiervan: almal wat hulle aan die Weg van die Boeddha verbind, word “Boeddhiste” genoem; soos almal wat hulle aan die Christelike Evangelie verbind, “Christene” genoem word. Rondom hierdie ideale kry bepaalde praktyke dan gestalte, wat uiteindelik deel word van die identiteit waarmee die gemeenskap onderskei word: Boeddhiste wat zazen (sittende meditasie) beoefen, of Christene wat die mis of die erediens bywoon en bid.

In sy Imagined Communities: Reflections on the Origin and Spread of Nationalism verduidelik Benedict Anderson hoe die politiek vanaf die einde van die Middeleeue die religie vervang as die belangrikste basis van gemeenskap. Hoewel Anderson dit nou oor die nasionalisme in die besonder het (die ideaal vir elke gemeenskap is sy eie gebied met praktyke soos eetgewoontes, verkiesings, feesdae en dies meer aan die hand waarvan die nasionale gemeenskap dan onderskei word), geld dit natuurlik die verskillende moderne ideologieë in die algemeen: liberaliste verenig rondom die ideaal van individuele vryheid, soos kommuniste rondom die ideaal van klassevryheid, en so aan.

Kenmerkend van sowel die religieuse as die politieke gemeenskap is egter dat beide dikwels 'n rekord van geweld opbou – soos alombekend vloei bloed vir ideale, vanaf die religie tot die politiek, om maar te swyg van wat gebeur wanneer dié twee vermeng word. Die droom om van hierdie geweld weg te breek en 'n vreedsame, onskuldige gemeenskap te stig, is so oud soos die mensdom self, en dit is ook die ideaal waar rondom die hermeties, letterlik afgeseëlde gemeenskap van The Village beslag kry.

In 'n sekere sin is die hoofkarakter van die rolprent die inwoners van die dorpie (village) self – wat so ver as moontlik van die “dorpe” (towns) wegbly. Die rolprent open met die begrafnis van 'n seun, Nicholas, en word gevolg deur 'n ete aan 'n langtafel waar al die inwoners van die dorpie aansit. Dit word gou duidelik dat die dorpie deur sy ruimtelike afsondering ook in tyd stilgestaan het (hoe nader mense danksy tegniese ontwikkeling aan mekaar is, hoe vinniger versnel die tyd wat hulle deel): daar is geen geld nie, hulle lei 'n voor moderne landboubestaan, huise is van klip en hout, lig is met lampe, vervoer is te voet…

Ewe vroeg is dit duidelik dat die dorpie in sy onskuld ook in vrees leef, vrees wat versinnebeeld word deur die feit dat hulle 'n ooreenkoms het met “Those of whom we do not speak” om nie die omringende woud – die domein van “Those of whom we do not speak” – te betree nie, in ruil waarvoor die Ongenoemdes hulle ook met rus sal laat. Baie treffend is hoe duidelik die dorpie se grens reg rondom aangedui is met geel vlae, presies daar waar die woud begin. Hierdie grens word saans bewaak met 'n reeks hoë fakkels en 'n wagtoring waarin die heelnag deur wag gehou word.

Wat die Ongenoemdes betref, word die kleur rooi met hulle verbind, en is dit 'n verbode kleur in die dorpie: wanneer rooi blomme of bessies gesien word, moet dit begrawe of verwyder word.

Teen die agtergrond van sluimerende onheil word die kyker algaande ingelei in die geheime wat die dorpie onderlê. Sonder om die intrige hier te onthul, kom dit daarop neer dat die dorpie sy ontstaan aan gedeelde trauma te danke het, waarop die stigters hulle aan 'n lewe van onskuld verbind het, oftewel 'n voor moderne, geweldlose bestaan. (Reeds vanaf Troje, Jerusalem en Mekka word gemeenskappe uit trauma gebore.) Minstens sedert Jean-Jacques Rousseau met sy droom van 'n terugkeer na die “natuurstaat” tot met hedendaagse hippiekolonies, kwasi-spirituele afsonderingsgroepies en wat nog is hierdie miskien dié droom van die moderne apolitieke gemeenskap, oftewel daardie gemeenskap wat die politieke ter wille van die geestelike of die suiwere wil uitweer. (Die geglobaliseerde jeugdanskultuur met musiek- en (soms) dwelmgeïnduseerde beswyming is nog 'n inkarnasie hiervan.)

Maar kan 'n gemeenskap sonder politiek of geweld bestaan? Om hierdie vraag te beantwoord, en om ook die intriges in The Village te verstaan, is 'n onderskeid wat Michel Serres in sy voorlaaste groot werk tussen die heilige en die sakrale tref baie handig. In L’Incandescent (Parys: Le Pommier, 2003) voer hy aan dat die oorgang vanaf die politeïsme na die monoteïsme onder meer saamgaan met die monoteïsme se verbanning van die menslike offer as deel van die religieuse praktyk. Maar dit bring allesbehalwe minder geweld teweeg, want, met verwysing na menslike offers:

“…hierdie soort moorde oorheers vandag ons samelewing wat elke uur van die dag moorde en kadawers vir miljoene televisiekykers uitbeeld. Ons sal miskien sê ons media beeld geweld uit; nee, geweld is die wesenlike van die beeld en die mediaboodskap. Sonder die vlam van verskrikking en jammerte, sal niemand daardeur aangetrek word nie. Hierdie skouspele herhaal die rites van die argaïese religieë met merkwaardige noukeurigheid, en dit des te makliker in soverre moderne religieë terugdeins van geweld en nog meer van 'n gehoor verloor soos wat hulle hierdie offers veroordeel. Dis waar dat die religieë, en in besonder die Christendom, mediasie bevorder en veralgemeen het, maar wanneer ons burgerlike samelewings op hul beurt die doeltreffende masjiene en instellings van hierdie mediasie uitvind, neem die media die religieuse oor, maar deur agteruit te tree na sakrale argaïsme… Verplaas, is die religieuse nie meer te vinde op die verwagte plekke soos geloofsgenootskappe of tempels nie, maar, opwellend uit die media oorstroom dit die burgerlike samelewing wat daagliks die prooi is van die uitbeelding van geweld en moord, in die besonder van 'n menslike soort… Ja, die religieuse verwissel van kamp: die groot priesters vier hulle rites op die kassie waarvoor ons daagliks telkemale buig om ons salwing – gebaai in pieksels – sakrale geweld te ontvang…

Ek buig nederig voor heiligheid, maar dring die donker, argaïese tempels van die sakrale te perd binne om sy idole om te gooi…” (pp. 30 – 32)

Die belangrikheid van die onderskeid wat Serres hier tref tussen die heilige en die sakrale kan kwalik onderskat word: die heilige hang saam met die geweldlose, terwyl die sakrale saamhang met die gewelddadige.

In The Village het ons te make met 'n gemeenskap wat homself rondom die heilige tot stand wil bring, en waarin onskuld sentraal staan. Maar algaande word dit duidelik dat dié ideaal nie volhoubaar is nie. Van die Onnoembares betree die dorpie en verskeie insidente van geweld teen diere vind plaas. Uiteindelik lei 'n reeks gebeure daartoe dat die manlike hoofkarakter, Lucius Hunt, op wie die vroulike hoofkarakter, die blinde Ivy Walker verlief is, op sterwe na dood is ná 'n gewelddadige insident, waarop die blinde Ivy haar pad deur die woud moet vind om sy lewe te red. (Die spel tussen lig en donker – Lucius vernoem na lig, Ivy wat in donker leef, maar verder as almal om haar kan sien – in op sigself 'n boeiende tema in die prent.)

Wanneer die moderne buitewêreld inderdaad deel van die verhaal word, is dit 'n versinnebeelding van die sakraal gewelddadige samelewing waarvan Serres hierbo praat: op 'n koerantbladsy vol geweldsberigte fokus die kamera.

Die finale ontknoping kom daarop neer dat 'n lewe wel gewelddadig verlore gaan, waarop dit blyk dat dié dood inderdaad 'n offer vir die voortbestaan van die gemeenskap en die herstel van sy onskuld is. En soos wat die geweldlose heilige in vandag se gewelddeurdrenkte samelewing tot die marges verban is, hurk die gewelddadige sakrale ook altyd op die marge van wat na 'n geweldlose, idilliese gemeenskap lyk.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=68
Artikel nagegaan:
    -