blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Vrypostige Afrikaan: Resensentekomplot onthul 2004-11-12
Kleinjan Schietekat

Deur Kleinjan Schietekat

“Non, je ne regrette rien,” sê Nikolaas van Warmelo * met 'n teatrale wuif van die pols. “Ek sal dit alles weer doen, en ek is van plan om so voort te gaan solank as wat dit vir my moontlik is.”

Van Warmelo is lid van 'n geheime klub Suid-Afrikaanse rolprentresensente waarvan die bestaan onlangs onder die aandag van Die Vrypostige Afrikaan gekom het, en waarby groot name betrokke is. Die klub is in die laat 1980’s gestig deur resensente wat 'n plegtige belofte aan mekaar gedoen het om hulle te wy aan “twyfelagtige crits”.

Maar hoekom “twyfelagtig”? Van Warmelo skuif vorentoe op sy stoel en vertel self: “Kyk, jy moet besef dit was die jare toe dinge in hierdie land op sy donkerste was. Sommige van ons het toe al 'n halwe loopbaan daaraan gewy om die publiek oor goeie flieks in te lig, maar wat het ons daarvoor gekry? Koos Odendaal is van intellektuele pretensie beskuldig. Joan Stephens is deur die baas van die Sensuurraad van losse sedes beskuldig. Faai Knoetze is verdink dat hy deur Ster-Kinekor betaal is om vrot flieks op te skryf. Anna Ellis het 'n moeilike kindertyd gehad. Ons het een aand ná 'n vrystelling dronkgeword – ek dink dit was nog van The Unbearable Lightness of Being – en besef ons ly almal onder verskillende mense in die bedryf, van die publiek tot die filmverspreiders tot koerantredakteurs. Ons het besluit om aksie te neem, maar dis toe wat ons amper aan die baklei raak oor presies wat ons moet doen. Ons besef toe elkeen het ander redes vir wraak, en dis hoe ons besluit het om ons tot twyfelagtige resensies te verbind. Basies kon elkeen sy griewe wreek na eie smaak.”

Knoetze, deesdae 'n hoenderboer wat nog net op vryskutbasis resensies skryf, wou eers nie met ons praat nie, maar na heelwat drank het die trane vrylik gevloei. Hy vertel: “Hel, Kleinjan, weet jy hoe voel 'n ou as jou baas jou beskuldig dat jy in Ster-Kinekor se gatsak is? Ek bedoel, man, ek het op 'n plaas grootgeword. My pa het my geneuk as ek een skaap verkeerd tel. Dis waar ek vandaan kom, man. Ek het na die baas gekyk en gedink, ‘Jou moer, jou Fliekskaal gaan ek opneuk.’ En die res is geskiedenis: The Fast and the Furious 'n 10 (‘vet pret vir die hele gesin’), The Big Lebowski 'n 3 (‘die Coen-broers is liberale s mouse wat ons almal se intelligensie onderskat’), Mad Max 'n 2 (‘lees liewer Vrye Weekblad vir die ware Jakob’) en al Julia Roberts se goed 9. Sy kan nie speel nie, maar my ma hou van haar. Oor dié een voel ek 'n bietjie sleg.”

Dit blyk dat die klub jare lank naamloos was, maar onlangs na hulself as die Blah-blah-Bond begin verwys het. Anna Ellis erken dat die Ya-Ya Sisterhood haar geïnspireer het toe sy die naam voorgestel het, maar dis nie al nie. Sy gooi haar rooi kuif parmantig agteroor en vertel: “My pa was die vreeslikste nasionalis en my ma so vroom jy kon kots daarvan. Van kleinsaf moes ek stilbly en tog niks doen wat ‘liewe Jesus se hartjie seermaak nie’. Die ou man was 'n grootkop in die Broederbond, en later het ons hom uitgevang met sy sekretaresse. My ma het hom natuurlik teruggevat, en daarna was hy nog 'n erger patriarg. I wasn’t having it, en toe ek by die koerant begin, en FW laat Mandela vry, het ek geweet daai spul gaan my nooit weer stilmaak nie. Nou hemel ek al die seksflieks op, net om hulle oor en oor te skok. Ou ooms met grys skoene maak my siek.”

Joan Stephens, wat eers nie bereid was om aangehaal te word nie, doen dit blykbaar omdat sy die “mediakapitaliste” haat. Maar toe sy daarop gewys word dat sy haar brood verdien uit dieselfde bedryf wat sy ondermyn, het die damwal gebars. “Ek weet, ek weet. Ek weet ek is 'n swak kommunis. Ek weet ek drink die kapitaliste se cocktails. Ek wens ek kon iewers bieg. Jy weet nie wat se hel dit is om met my skuldgevoelens saam te leef nie. Ek kan 'n poem daaroor skryf, jy weet.” Hierna was sy onhoorbaar tussen haar snikke deur.

Lede van die publiek met wie Die Vrypostige Afrikaan gepraat het, was verstom dat daar so iets in die bedryf bestaan. Professor Vic Ramasoge, dosent in filmwese en ywerige koerantleser, sê hy verstaan nou soveel beter waarom hy al die jare nie rolprentresensies in Suid-Afrika kon uitstaan nie. Hy sê hy het altyd gedink dat ons uitgelewer is aan 'n klomp “ongeletterde prulskrywers”, maar dat hierdie “skokkende onthulling” vir hom “baie dinge verklaar”. Ramasoge sê die jongste vlaag negatiewe resensies wat hy glad nie kon begryp nie, was teen M. Night Shyamalan se The Village, (elders in hierdie uitgawe ontleed – Redakteur) “’n fassinerende besinning oor gemeenskap en gebied, wat vir ons in Suid-Afrika soveel betekenis het. Ek het net een oggend gehoor hoe 'n resensent op SAFM in snedige Queen’s English vertel hoe die film hom verveel het.”

Mary Cohen, 'n huisvrou van Seepunt, wat sê, “I never miss a movie, doll,” is minder geskok. “I always knew there was something fishy with these critics. I’ve stopped reading their stuff years ago. I mean, everybody could see that they were just trying to show how clever they are. Good on you for this investigation!”

Maar miskien kom die beste reaksie van Joe Peterson, 'n ketelmaker van Kraaifontein: “Man, check, na daai ander fool op rsg so aangegaan het oor Al modovar se nuwe een, het ek vir my vrou gesê: ‘Sit af die blerrie draadloos. Dié ou ken nie sy Kika van sy Pillow Book nie.”

* Nie sy regte naam nie. Uit vrees vir die publiek het almal wat in hierdie berig aangehaal word, dit gedoen op voorwaarde dat hul identiteit geheim gehou word.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=67
Artikel nagegaan:
    -