|
||||
Johann Rossouw Die heftige debat oor die toekenning van 'n eredoktorsgraad in die wysbegeerte postuum aan advokaat Bram Fischer deur die Universiteit Stellenbosch handel op die oog af oor hoe Fischer en veral sy aanhang van die kommunisme gesien moet word, maar in feite is dit 'n debat oor die volgende vraag: Is die universiteit 'n staatsbate of 'n gemeenskapsbate? Dat die debat eintlik oor hierdie kwessie gaan, skemer telkens deur wanneer veral voorstanders van die toekenning die teenstanders daarvan beskuldig dat hulle teen versoening en transformasie is of, nog erger, die universiteit as net een groep se bate wil beskou. 'n Ander illustrasie daarvan dat die debat eintlik oor hierdie kwessie gaan, word gegee in 'n brief in Die Burger (2004/11/10) onderteken deur die huidige voorsitter, Edwin Hertzog en ondervoorsitter, Gerhard van Niekerk, asook die voormalige voorsitter van die US-raad, Des mond Smith, in reaksie op 'n mosie voor die konvokasie van gisteraand waarvolgens die US versoek word om die toekenning in heroorweging te neem. Hulle skryf: “Uit skrywes van sommige van die voorstellers [van die mosie] blyk dit egter ook dat hierdie mosie aansluiting vind by verdere aspekte van die Universiteit van Stellenbosch se posisionering in die nuwe, de mokratiese Suid-Afrika waarteenoor hulle krities staan – soos byvoorbeeld die taalbeleid en die transformasieproses. In die breë belang van die universiteit wil ons dit graag stel dat indien die mosie aanvaar sou word, dit 'n terugwaartse stap vir die universiteit gaan wees in sy strewe om die toekoms so voordelig en doeltreffend moontlik te benader.” Met ander woorde: as die Universiteit weet wat goed is vir hom, sal hy nie die staatsorde teëgaan nie. Dié brief kom ook teen die agtergrond van die feit dat US se staatsubsidie aan die begin van vanjaar skielik gesny is, asook 'n verslag van 'n interne taakspan van die US waarvolgens “verskeie hooggeplaaste ANC-ministers erg ongelukkig is oor wat hulle verstaan as 'n teenstand teen transformasie, soos gestaaf word deur die huidige taalbeleid [van US]” (Die Burger, 2004/11/9). Dit is skrikwekkende feite vir die bestuur van enige universiteit. Die spanning tussen die staat en die universiteit is, histories, nie nuut nie. Vanaf die opkoms van die nasiestaat in die 18e eeu is Europese universiteite oorwegend ingebind by die eise, oogmerke en waardes van die staat. In Suid-Afrika het spanning tussen die staat en die universiteit ook nog altyd voorgekom, byvoorbeeld tussen die US en die staat oor die US-taalbeleid kort na 1910, of tussen sommige wit, Engelse universiteite en die staat na 1948. Kenmerkend van die hoëronderwyssektor na 1948 was dan ook dat die Afrikaner-nasionaliste openbare instellings gesentraliseer en aan hul oogmerke dienstig gemaak het. In hierdie jare was die verhouding tussen die staat en die Afrikaanse universiteite oor die algemeen baie gunstig, aangesien die Afrikaner-nasionalistiese staat en die Afrikaanse universiteite breedweg dieselfde ideologiese posisie gedeel het (staat en gemeenskap het oorvleuel). Dit was veral egter aan swart universiteite wat die spanning tussen staat en universiteit hoog geloop het, soos byvoorbeeld op kampusse soos Turfloop en Fort Hare (staat en gemeenskap het uiteengeloop). Hoewel Suid-Afrika se Grondwet ruim voorsiening maak vir liberale waardes, word dit al hoe duideliker dat die gebrekkige ruimte vir gemeenskapswaardes, maar veral die staatsorde wat deur die huidige Afro-nasionalistiese regering gevestig word, ook vir Afrikaanse universiteite al hoe groter probleme gaan inhou. Op klassieke nasionalistiese wyse is die huidige regering toenemend afgestem op die sentralisering van mag, soveel beheer as moontlik en die inbinding van die openbare sfeer by sy eie magsoogmerke. In die proses slaag die staat toenemend daarin om sy eie vertolking aan waardes soos nie-rassigheid, de mokrasie, transformasie, versoening en diversiteit te gee. In die proses, soos dit maar met nasionalismes gaan, verduur die staat ook al hoe minder kritiek, en word kritici van die staatsorde dikwels daarvan beskuldig dat hulle teen nie-rassigheid, de mokrasie, transformasie, versoening en diversiteit is – soos sommige voorstanders van die Fischergraad ook met teenstanders van die graad doen. Dit is 'n klassieke ideologiese truuk: universele waardes word deur een belangegroep ge monopoliseer en hierdie belangegroep se agenda word as die versinnebeelding van die universele waardes uitgebeeld. Dit is natuurlik so dat daar tans nog baie meer ruimte vir openbare kritiek in Suid-Afrika is as wat die geval was teen veral die latere fases van die vorige bedeling, maar dit is soos om appels met pere te vergelyk: die vorige bedeling het eers werklik die staat begin misbruik om kritici die mond te snoer nadat dit werklik uitgedaag is, en in Suid-Afrika is ons nog nie daar nie. Soos sake nou staan, is daar geen ernstige partypolitieke mededinger vir die ANC nie, net soos wat die burgerlike samelewing nog nie naby daaraan is om die staats- en korporatiewe hege monie uit te daag nie. Maar soos Moeletsi Mbeki vroeër in Die Vrye Afrikaan geskryf het: “Hierdie is nog vroeë dae.” Een van die groot mites wat die huidige staats- en korporatiewe orde by elke moontlike geleentheid verkondig, is dat hul agenda op die uitsondering van enkele “reaksionêre” en “minderheidsgroepe” na deur almal in die land gedeel word. In feite bestaan daar by miljoene Suid-Afrikaners, veral armes, groot ongelukkigheid oor werkloosheid, Vigs, misdaad en dies meer, maar is hierdie mense dikwels stemloos. (Onthou dat minder as 5% Suid-Afrikaners koerante lees, dat die TV-sektor volledig onder staats- of korporatiewe beheer is, en dat ruim 70% van ons mense nie vaardig genoeg in ons elite se lingua franca, Engels, is om hulself te laat hoor nie.) Die een groep wat egter wel 'n uitsondering op hierdie reël is, is die Afrikaners, wat nie net goed opgelei en baie blootgestel aan die media is nie, maar wat ook, voorspelbaar, die eerste sou wees om op die nuwe nasionalisme te reageer. Dit is algemene kennis dat Afro-nasionalisme 'n reaksie op (die verstaatliking van) Afrikaner-nasionalisme was, en slegs peïtistiese dromers (waarvan daar nogal 'n paar is) glo dat die nuwe elite volkome sonder bitterheid, pyn, en vergeldingsgedagtes is – per slot van rekening is swart Suid-Afrikaners se menswaardigheid en selfrespek vir baie lank deur Afrikaner-nasionalisme via die koloniale staat vernietig. Afrikaners met hulle eie geskiedenis van lyding en later nasionalisme behoort die grootste begrip hiervoor te hê, anders as liberale kommentators wat met hul angsvallige miskenning van identiteit en gemeenskap toenemend ontnugter en by onver moë is om met Suid-Afrika na 1994 in die reine te kom. R. W Johnson, liberale kommentator van formaat, skryf byvoorbeeld in sy pasverskene South Africa: The First Man, The Last Nation (Jonathan Ball): “…the ANC over decades of exile became a movement which preached de mocracy but was authoritarian, claimed to stand for human rights but abused them, and which espoused non-racialism but was racked by tribalism and referred to its enemy in straightforwardly ethnic terms as ‘die Boere’. Moreover it began to take on many features of the hated Afrikaner nationalists: there was the same paranoia, the same inferiority complex, the same reliance on a secret inner core (the SACP instead of the Broederbond) and the same laager mentality.” (p.174) Dat Johnson gewis 'n element van waarheid beet het, is seker, maar sy begrip vir die twee kante se optrede is maar skraps. En tog is dit hierdie spanning wat vandag tussen Afrikaner en Afrikaan lê, en wat veral in die Afrikaanse universiteite manifesteer. Want dit is hier waar denkende, kritiese burgers in Afrikaans reeds krities op die nuwe nasionale projek (en sy onverdraagsaamheid teenoor inheemse taalverskeidenheid, sy groeiende obsessie met rassekwotas en sy manipulering van subsidies) begin word het. Opvallend van die US-debat, is dat van dieselfde dissidente wat in die verlede hulle met groot dapperheid teen nasionalisme aan US verset het, dit nou weer doen. Dit is nogal ironies, indien nie lagwekkend nie, dat diesulkes tans deur van hulle teenstanders as handperde van die ou establishment uitgebeeld word, en verdien nie verdere kommentaar nie. As alternatief tot die siening van die universiteit as staatsbate, is daar die siening van die universiteit as gemeenskapsbate. Volgens hierdie siening is die universiteit 'n instelling wat binne 'n bepaalde gemeenskap ontstaan en gedy, en wat hierdie gemeenskap in staat stel om sy bydrae tot die breër samelewing te lewer. Ongelukkig is hierdie siening tydens die apartheidsbedeling slegs halfpad toegepas, en is die aspek van 'n bepaalde gemeenskap vooropgestel ten koste van die bydrae tot die breër samelewing (waarmee ons nie kan sê dat US niks tot die breër samelewing bygedra het nie, want dit sou geldigheid aan eietydse, ahistoriese versinsels gee). Feit van die saak is dat Afrikaners en die breër Afrikaanse wêreld die volste reg het om as gemeenskap in 'n spesifieke universiteit tereg te kom, met dien verstande dat die breër samelewing ook deur hierdie gemeenskap gedien sal word. Die afgelope jare het die US inderdaad reeds ver gevorder met so 'n proses, veral ten opsigte van die verruiming van die begrip Afrikaans om swart en bruin Afrikaanse studente ook aktief te betrek. Ewe waar is egter dat die debat oor die staat teenoor die gemeenskap aan die US (en die ander Afrikaanse universiteite) nog nie werklik begin het nie, en dit sal moet. Teen sowel staatsvergrype as gemeenskapsbeheptheid sal gewaak moet word, en daar sal op politieke vlak deur 'n breë Afrikaanse front met die regering onderhandel moet word om die probleem te skik. Gegewe die toenemende skerpheid van die Afro-nasionalistiese projek sal die Afrikaanse wêreld egter ook vanuit die staanspoor voorsiening moet maak vir die wesenlike moontlikheid dat die staatsorde inderdaad nie bereid is die universiteit ook as gemeenskapsbate te erken nie, met die gevolg dat 'n alternatiewe instelling uiteindelik al opsie sal wees. Die Vrye Afrikaan hoop van harte dat die saak nie tot sodanige uiterstes sal gaan nie, maar intussen bly die feit dat beroepe op mooiklinkende waardes, markkragte en 'n liberale ontkenning van die onderliggende spanning tussen Afrikaner en Afrikaan rondom die universiteitswese nie die volle verhaal vertel nie. Naas die stroomversnelling waarin die inligtingsamelewing en globalisering die universiteit as instelling plaas, het ons hier veral met 'n politieke probleem te doen. Mag al die betrokke rolspelers die soberheid en durf hê om dit as sodanig te erken en te hanteer. Intussen kan partypolitici en universiteitsbesture gerus kennis neem dat denkende Afrikaners nie hulle pogings tot verdoeseling van die politieke werklikhede ernstig opneem nie: hulle is te lank deur hul eie leiers mislei om weer vir dieselfde truuks te val. |