blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Gemeenskapsopheffing 2007-04-18

Ek wil kommentaar lewer op prof. Sampie Terreblanche se hoofpunte (“Mag en onverdiende rykdom in SA”, DVA, 2007/02/16). Dit is ’n onbestrebare feit dat daar wel talle Afrikaners was wat onregverdige bevoordeling ontvang het tydens die vorige bedeling. Heelwat wrewel bestaan, ook by Afrikaners, teenoor diegene wat hul betrokkenheid by ondergrondse belangegroepe kon gebruik het om poste te ontvang en te beklee waarvoor hulle uiteraard nie op meriete die mees geskikte kandidaat was nie. Tog het hierdie tipe organisasies nooit meer as ’n klompie duisend lede gehad om so onregverdig te bevoordeel nie.

Die opheffing van die res van Afrikaners is bewerkstellig deur die gemeenskap wat self verantwoordelikheid vir sy welvaart opgeneem het. Inisiatiewe soos Sanlam, Santam en Federale Volksbeleggings is deur Afrikanerleiers van stapel gestuur om hulself en die armes in hul geledere op te hef.

Omdat Terreblanche nie bevestigbare bewyse voorhou vir die stelling dat die ANC se maatskaplike program deur geheime VSA-gedrewe onderhandelinge aan bande gelê is nie, moet ek die regering meet aan eksterne standaarde sodat die mate waartoe die VSA-geïnspireerde beleid hulle aan bande lê, bepaal kan word. Gedurende 2006 het die ANC-regering begroot om 411 miljard rand in inkomste te ontvang. Dit is 65% meer per jaar (in hedendaagse terme) as wat deur die VSA aan 16 verskillende Europese lande toegestaan is met die uitvoering van die Marshall-plan na die Tweede Wêreldoorlog.

Die ANC-regering beskik oor die alleenreg om die regeringsinkomste aan te wend soos wat hulle goed dink. Die onvermoë van die regering om dieselfde resultate as die Marshall-plan te behaal, het egter baie minder met VSA ekonomiese beleid en “geheime onderhandelings” te doen as met regeringsonbevoegdheid. Om vir die regering meer mag te gee, sal nie ’n doel dien nie. Indien ’n kind nie ’n driewielfiets kan ry nie, gaan sy beslis nie beter vaar met ’n tweewielfiets nie.

Die arm burgery vorm die meerderheid van die land en verkies die regering. Indien hulle tevrede is met ’n onderpresterende regering, bied dit beslis nie ’n morele grondslag waarop die rykes en die besighede van hul bates onteien, of van hul magte gestroop, kan word nie.

Die arm burgery moet self verantwoordelikheid neem vir hul welvaart, want niemand anders gaan nie. Dit is egter onbesonne om die arm burgery te belas met hul eie opheffing terwyl hulle nie oor die nodige middele beskik om hierdie taak mee uit te voer nie. Dit is daarom duidelik dat daar juis minder mag en ruimte aan die sentrale ANC-regering gegee moet word, terwyl daar meer aan plaaslike gemeenskappe en hul sakebedrywe gegee moet word. Plaaslike ontwikkeling deur die stimulering van die plaaslike ekonomie is die enigste werkbare oplossing waarvolgens die armoedesiklus gebreek kan word. Prakties beteken dit dat mag van die sentrale regering afgewentel moet word na die gemeenskappe.

- Ebert Terblanche, Pretoria

(Brief aansienlik verkort – Red.)

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=837
Artikel nagegaan:
    -