blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Hoofartikel: Afrikaanse eenheid? 2007-04-18

Pas verlede Saterdag, 14 April, sou ’n gesprek oor die stigting van ’n moontlike Afrikaanse taalraad op Stellenbosch plaasvind. Dit sou dien as opvolggesprek van die nasionale Afrikaanse taalberaad wat op 23 en 24 Februarie in Pretoria deur die Nasionale Forum vir Afrikaans gehou is.

      Ofskoon die uitslag van verlede Saterdag se gesprek met die ter perse gaan van hierdie uitgawe nog nie bekend was nie, kan ’n mens met veiligheid raai dat gegewe die komplekse geskiedenis van Afrikaans en die ou verdelingslyne onder ons dié gesprek beslis nie die laaste woord oor Afrikaanse eenheid sou wees nie.

      Die Vrye Afrikaan is volkome verbind tot ’n selfstandige Afrikaanse wêreld anderkant die ou verdelingslyne – veral tussen die verskillende Afrikaanse gemeenskappe – maar om dié ideaal te verwesenlik, is makliker gesê as gedoen. Tewens, wie dié ideaal nastreef, behoort dit te doen met ’n deeglike oordeel wat nie net op die apartheidsgeskiedenis berus nie, maar ook op talle ander sake.

      Die ideaal van ’n ander Afrikaanse wêreld word vandag bykans so geredelik deur Afrikaanse meningsvormers voorgestaan – wat op sigself al ’n teken van vordering is – dat daar dalk nie genoeg gepraat word oor wáárom so ’n ideaal nastrewenswaardig is nie.

      Een van die redes wat natuurlik amper vanselfsprekend is, is om reg te maak wat tydens apartheid verkeerd gegaan het, veral tussen Afrikaners en ander Afrikaanse gemeenskappe. Maar om blóót hierdie motivering te aanvaar, is om gevaar te loop om die komplekse geskiedenis van Afrikaans tot apartheid te verskraal, om nie eens te praat van die moralisme waarin verval kan word nie.

      Wat Die Vrye Afrikaan betref, is die huidige en veral die toekomstige Suid-Afrika van nog veel groter belang as wat in die verlede gebeur het. Daar is geen beter manier om hierdie verlede te erken, as om in die hede en die toekoms anders te handel nie.

      So beskou, is waarskynlik die grootste bedreiging wat Suid-Afrika vandag in die gesig staar, die feit dat ons land in die naam van die meerderheid deur ’n klein minderheid geregeer word. Ofskoon talle demokratiese gebare gemaak word – en dit is ’n stap voorwaarts – word die bepalende besluite in die land vandag geneem deur ’n klein elite van politieke en sakeleiers. Elders in hierdie uitgawe lig Patrick Bond die gevolge hiervan toe.

      Die skandalige armoede waarin die meeste Suid-Afrikaners dertien jaar na 1994 gedompel is, die tyd wat met die bekamping van Vigs verspeel is, die diplomatieke wanhantering van Zimbabwe en die ineenstorting van dienslewering en goeie administrasie is die prys wat Suid-Afrika vandag betaal vir die obsessiewe najaag van obsene korporatiewe winste, politieke sentralisering en die bou van ’n verbruikende swart middelklas.

      Die antwoord op hierdie toedrag van sake lê in Suid-Afrika se gemeenskappe – etnies, talig, religieus en plaaslik. As die gemeenskappe in die land nie kan saamstaan om ’n Suid-Afrika van selfrespekterende gemeenskappe geskoei op deelnemende demokrasie en ekonomiese selfstandigheid tot stand te bring nie, is dit Ikabod.

      Dit is teen hierdie agtergrond dat die ideaal van ’n ander Afrikaanse wêreld nagestreef behoort te word. Afrikaans omvat waarskynlik die bes opgeleide gemeenskap buite die Westerse wêreld – die Afrikaners – maar het ook die potensiaal om via die gemeenskaplike taal Afrikaans uiteenlopende gemeenskappe vir dieselfde saak te mobiliseer. In Afrikaans met haar diversiteit – Afrikaners, Griekwas, Moslems, afstammelinge van die Khoi-san en die slawe, en vele meer – lê ’n ontsaglike bron van energie vir ’n ander wêreld. Maar wat verhoed Afrikaans vandag om hierdie bron te ontsluit?

      Sonder twyfel die gebrek aan harmonie tussen die verskillende gemeenskappe van Afrikaans. En hier – laat dit nou maar reguit gesê word – is die verhouding tussen Afrikaners en die ander gemeenskappe ’n maak-of-breek kwessie vir ’n ander Afrikaanse wêreld.

      ´n Dekade of twee gelede sou rassisme onder Afrikaners moontlik nog ’n bepalende hindernis onderweg na ’n ander Afrikaanse wêreld wees, maar vandag is die belangrikste hindernis waarskynlik die “gewigsvoordeel” wat Afrikaners as kundige, histories selfbewuste gemeenskap teenoor die ander Afrikaanse gemeenskappe geniet.

      Dit is gedemonstreer tydens die slotsessie van Februarie se beraad: terwyl verskeie Afrikaners gepleit het vir die spoedige stigting van ’n taalraad, het veral sprekers uit ander gemeenskappe gemaan teen ’n onderverteenwoordiging uit daardie gemeenskappe indien so ’n raad nou gestig word. Soos Neville Alexander gewaarsku het, moet oorhaastigheid nie veroorsaak dat “die volk die volkies lei” nie.

      Indertyd het daar ook toenemende ongelukkigheid onder meningsvormers van ander Afrikaanse gemeenskappe, maar ook van enkele Afrikaners, oor die moontlikheid van ’n verteenwoordigende Afrikanerraad begin blyk. So ’n raad, word gesê, sal net “nuwe verdeling” in Afrikaans bring.

      So ’n redenasie is om verskeie redes problematies. Eerstens loop dit die gevaar om Afrikaans op te idealistiese wyse tot bindmiddel tussen haar verskillende gemeenskappe te verhef, en selfs ’n moralistiese dwangbuis na eenheid te word. Die feit is dat geen enkele taalbeweging geslaag het sonder minstens een bykomende identifikasie-element nie, soos etnisiteit (asseblief nie op slorsig Suid-Afrikaanse wyse met ras te verwar nie) of religie – dit is nie om dowe neute dat Afrikaanse Moslems en Afrikaners, onder andere, ’n baie sterk historiese verbintenis tot die taal handhaaf nie.

      Tweedens wil dit ’n idealistiese geheel op die verskillende dele van die Afrikaanse wêreld oplê, terwyl dit veel realistieser is om so ’n geheel organies, van onder af en met gesamentlike aksies op te bou.

      Derdens hou dit nie rekening met die spesifieke historiese ervaring van Afrikaners nie: hoe hulle as nakomelinge van die apartheidsbedeling handel met hulle historiese las, hoe regstellende aksie hulle raak, hoe grondhervorming of plaasmoorde hulle raak, waar hulle oor erfenis en monumente staan, is gewis nie dinge wat hulle sonder meer met ander historiese gemeenskappe deel nie. Dit is die soort sake wat binne die konteks van ’n demokratiese, verteenwoordigende Afrikanerraad hanteer moet word – en nie in die minste nie omdat Afrikaans nie gyselaar gehou behoort te word van die sterk verskille onder Afrikaners nie soos byvoorbeeld in ’n mate met die Stellenbosse taaldebat gebeur het.

      Maar afgesien van hierdie dinge is daar ook nog ’n ander kritieke vraag aan daardie sprekers van Afrikaans wat hulleself nie primêr as Afrikaners, Griekwas, Moslems, Namas, of Khoi-San sien nie, naamlik: kan hulle hulself oplaas as ’n histories selfbewuste gemeenskap konstitueer? Want as dít nie gebeur nie, is dit moeilik om te sien hoe harmonie tussen die verskillende gemeenskappe in Afrikaans sal vorder solank een van die gemeenskappe steeds onder ’n historiese identiteitskrisis gebuk gaan. Vir hierdie krisis kan die verlede – of die Afrikaners – nie vir altyd geblameer word nie.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=836
Artikel nagegaan:
    -