blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Van Mikro tot moedertaalonderrig 2007-04-18
Cameron Dugmore

*LUR vir Onderwys, Wes-Kaap

 

Jy hoef vir niemand in hierdie land te vertel van taal en stryd nie. Daar is trouens min dinge wat ’n gemeenskap so kan polariseer as ’n gesprek oor taalregte en identiteit. Reeds vroeg in my ampstermyn het die botsing plaasgevind tussen sommige kinders se regte op onderwys (die eenvoudige behoefte aan toegang tot onderwys) en die taal- en onderwysregte van die kinders wat reeds by Mikro ingeskryf was. Die insident het baie publisiteit ontlok. Ek het van my kant af probeer om te luister, om werklik te hoor wat mense te sê het, onderwyl ek my weg probeer baan het deur ’n mynveld van teenstrydige menings en mededingende regte.

Hoe meer ek na die onderskeie argumente geluister en die uitslae van ons leerders bestudeer het, hoe duideliker het die prentjie vir my geword. Dit is eintlik heel eenvoudig: internasionale navorsing het die voordele verbonde aan die gebruik van moedertaal as onderrigmedium vir so lank as moontlik onomstootlik bewys. Navorsers is van mening dat ’n leerder minstens 6 of 7 jaar se moedertaalonderrig nodig het om werklik akademiese bevoegdheid in ’n tweede taal te verwerf.

Maar Suid-Afrika se taalkaart, soos al sy ander kaarte, is ’n produk van sy verlede, ’n produk van apartheid. Ons het te doen met mense wat van hulle taalregte beroof is en met ’n skoolstelsel wat grotendeels antagonisties was teenoor die moedertale van die meeste van sy kinders. In hierdie provinsie is dit egter vir die oorgrote meerderheid van ons kinders nie die geval nie. Om die waarheid te sê, een van die redes waarom die Wes-Kaap besonder goed presteer in nasionale toetse en eksamens is juis dat die meerderheid kinders in hulle moedertaal onderrig en getoets word. 55,3 % van die bevolking van die Wes-Kaap is Afrikaanssprekend, 23,7 % is Xhosasprekend en 19,3 % is Engelssprekend. Net die Noord-Kaap, waar 68 % van die bevolking Afrikaanssprekend is, vergelyk met die verspreiding in die Wes-Kaap. En die Oos-Kaap, waar 83,4 % van die bevolking Xhosasprekend is, is die enigste ander provinsie waar meer as 10 % van die bevolking Xhosa praat.

      “As jy nie jou eie taal ken nie, is dit net so goed jy weet nie wie jy is nie!” het ’n wyse 13-jarige Xhosaspreker gesê. ’n Studie wat deur my voorganger, LUR André Gaum, onderneem is, het twee vrae gestel: “Is ses jaar se moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys ’n goeie ding?” en “Behoort alle leerders in die Wes-Kaap minstens kommunikasiebevoegdheid (’n minimum van 3 jaar se studie voor die einde van die AOO-band) in al drie tale van die provinsie te hê?” ’n Provinsiale kollokwium wat agtien maande gelede gehou is, het “ja” geantwoord op albei hierdie vrae. Na baie noukeurige beplanning en oorlegpleging, waartydens ons ook die ondersteuning van ’n nasionale kollokwium gekry het, het ons verlede maand stappe gedoen om ons skole formeel op ’n koers te plaas vir die bereiking van bogenoemde twee teikens (verwys na Omsendbrief 04/2007 in hierdie verband; die volledige teks kan verkry word by http://wced.wcape.gov.za).

      Die eerste teiken – minstens ses jaar onderrig in die moedertaal – hou tot ’n beduidende mate verband met “akademiese prestasie”. Om dit heel eenvoudig te stel: indien kinders in ’n taal onderrig word wat hulle verstaan, het hulle ’n beter kans op akademiese sukses. Op ’n ander baie belangrike vlak het dit te make met selfaktualisering. Indien skole ses jaar se moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig bied, bou hulle vervulde individue.

Die tweede teiken – minstens drie jaar onderrig in al die amptelike tale van die provisie – handel meer oor nasiebou. Drietaligheid in ’n drietalige provinsie is heeltemal ’n haalbare en geldige oogmerk. Gemaklike kommunikasie maak sosiale interaksie gemakliker. Dit is ’n voldonge feit dat Xhosa-sprekers tot dusver Engels of Afrikaans moes aanleer om sosiaal te kon funksioneer. Slegs ’n klein aantal nie-moedertaalsprekers het ooit probeer om Xhosa aan te leer.

Eers wanneer die dag aanbreek dat almal van ons in hierdie provinsie mekaar se tale goed genoeg kan praat om behoorlik met mekaar te kan kommunikeer, sal ons ophou om ons eie ekonomiese vooruitgang te belemmer. As Xhosas ’n lae aansien in die ekonomiese mark het, sal Xhosasprekers aanhou om hulle moedertaal op te offer ter wille van die oënskynlike voordele wat ander tale bied. Ons moet taal laat groei om mense te laat groei.

Ek wil dit beklemtoon dat ons vir 2007 verskeie teikens moet stel. Skole moet teikens stel – vir endossemente in die Senior Sertifikaat (wat onderskryf moet word deur die voorsitter van die Skoolbeheerliggaam (SBL), die prinsipaal en die voorsitter van die VRL), vir vroeëgeletterheid- en syfervaardigheidsteikens en vir die drastiese verlaging van die uitvalsyfer. Prestasie-ooreenkomste van amptenare sal aangepas word sodat ons seker kan maak dat hulle voldoende ondersteuning aan skole en onderwysers lewer.

Wat hou ons sogenaamde Taaltransformasieplan dan in? Noudat ons vir ons twee makroteikens gestel het en skole daaroor georiënteer het, verwag ons van al ons skole om behoorlike taalplanne teen die einde van Julie aan ons voor te lê. Hierdie taalplanne moet die nuwe taaltransformasieteikens in berekening bring.

Besluite oor die taal van onderrig berus by skoolbeheerliggame. Ten einde skole te help om korrekte besluite te neem, is dit ons rol om seker te maak dat alle belangegroepe, veral die ouers, al die kwessies wat hier ’n rol speel, ten volle begryp. Teen die einde van die eerste kwartaal sal meer as 5 200 mense in onderwysbestuursposisies behoorlike inligting ontvang het oor al hierdie kwessies. Ons lei amptenare op sodat ons ’n groot groep vaardige mense het om ondersteuning te verleen wanneer skole begin om hul taalbeleid te hersien. Vyfhonderdduisend pamflette is vir Xhosa-ouers laat druk, en ’n video is gemaak waarin die aangeleenthede duidelik uiteengesit word.

Een van die dinge wat verblydend is, is die sterk en verteenwoordigende span wat aan hierdie plan gewerk het. Ons weet dat ons die uitdruklike en entoesiastiese ondersteuning vir die plan het van die belangrikste beheerliggaamverenigings en ons onderwyservakbonde. Ek gee met dankbaarheid erkenning aan dr Neville Alexander en dr Kathleen Heugh se bydraes toe ons hierdie plan deurdink het. Ek erken ook die werk van die Provinsiale Taalkomitee en my kollega in die kabinet, LUR Jacobs. PANSAT en toegewyde akademici van ons tersiêre inrigtings is ook nou betrokke by die beplanning- en uitvoeringsproses.

As ’n skoolstelsel beide teikens kan bereik, is ons waarlik onderweg na ’n land waarin mense in staat sal wees om saam te werk aan ’n ontwikkelende ekonomie. Solank as wat mense ervaar dat hulle hul moedertaal moet minag, onderskat of onderdruk, word hul eie identiteit ook onderdruk. Terselfdertyd kry die moedertaalsprekers van die tale met ’n hoër aansien ’n onregverdige maatskaplike en ekonomiese hupstoot.

Wat ons in werklikheid met ons Taaltransformasieplan aan die gang gesit het, is ’n verandering in taalstatus. Wanneer die status van ’n taal verander, verander die status van die sprekers van daardie taal. Die skuif na drietaligheid as norm behoort ’n interessante normaliseringsuitwerking te hê: wanneer dié township-skole wat opgehou het om Afrikaans aan te bied weer ’n kommunikatiewe Afrikaans-program aanbied, en ons ander skole begin om Xhosa aan te bied, is daar ’n goeie kans dat beduidende struikelblokke in die weg van maatskaplike samewerking uit die weg geruim sal kan word.

Die kulturele historikus, Raymond Williams, merk op dat die ewewig van kragte en geleenthede begin verander slegs indien die opvatting gedeel word dat daar praktiese alternatiewe bestaan en indien daar op sulke praktiese alternatiewe aangedring word. Sodra die onvermydelike uitgedaag word, sê hy, begin ons om ons hulpbronne bymekaar te maak vir ’n journey of hope/ reis van hoop / uhambo lwethemba.

In Augustus 2005 het ons die bostaande voorneme in die pers bekendgestel, slégs in die vorm van ’n voorneme. Hoewel ons geen advertensies geplaas het nie, het ons binne ’n paar weke CV’s van amper 200 werklose Xhosa-onderwysers ontvang. Dit was die begin van ’n reis van hoop. Die kragte-ewewig het verskuif. Die opsygestotes neem nou hulle regmatige plekke in. Ek glo dat ons geskiedenis maak.

Wat beteken die Taaltransformasieplan vir Afrikaanssprekendes? Aangesien ek ’n Engels moedertaalspreker is (hoewel ek ’n dubbelmedium primêre skool bygewoon het en Xhosa as matriekvak geneem het) kan ek net hieroor bespiegel. Na my mening behoort die beginsel dat moedertaalonderrig noodsaaklik is, ’n bevrydende uitwerking op Afrikaanssprekendes te hê. Om dit in omgangstaal te stel – indien die moedertaal cool is, is die Afrikaanssprekende wat moedertaalonderrig wil hê nie ’n laertrekker nie, maar iemand wat die regte besluite neem.

Ek wil dit egter onomwonde stel: ’n taal mag onder geen omstandighede misbruik word as ’n dekmantel vir uitsluiting op grond van ras, geloof of klas nie. Op die oomblik is tweetaligheid verpligtend in Suid-Afrikaanse onderwys. Ons wil met hierdie plan drietaligheid vestig sodat dit uiteindelik die norm kan word. Ingevolge die Taal-in-onderwysbeleid van 1997 moet alle skole aandui hoe hulle beplan om veeltaligheid te bevorder. Dit is waarin ons geïnteresseerd is – nie in talige territorialisme of talige kolonisasie nie, maar in talige uitbreiding. Each One Teach One: Together Building A Learning Home For All / Elkeen Leer Iemand: Saam Bou Ons ’n Leertuiste Vir Almal / Omnye Ufundisa Omnye: Sakha Kunye Ikhaya Lokufunda Lomntu Wonke.

Teen hierdie agtergrond wil ek aan die FAK ’n spesifieke uitdaging stel om met isiQama sikaPhalo te skakel (en met ander inheemsetaal-aktivistegroepe waarvan ek dalk nie bewus is nie) om die lesse wat almal van hulle geleer het in verband met die bevordering van taalregte, uit te ruil.

In my visie vir ’n taalvriendelike Wes-Kaap sal die kind in Mitchell’s Plain wat tans Engels en Afrikaans leer, Xhosa tot sy of haar arsenaal toevoeg; die kind van Beaufort-Wes, wat dalk al drie tale aangeleer het, sal bemagtig wees; die kind van Khayelitsha, wat vlot Xhosa- en goed Engels magtig is, sal nou ook gespreksafrikaans kan besig.

In ons nuwe model het die moedertaalspreker die mag in die hande. Geen opoffering word gevra nie. Wanneer ons leerders begin om mekaar en by mekaar te leer; en om uit te reik na almal in hulle gemeenskappe, moet ons allerhande soorte groei daaruit sien voortvloei. Ons sal almal leer soos ons vorder. Ek hoor dat nie net die oë van die land nie, maar die oë van die hele vasteland op ons rus. Die uitdagings met betrekking tot armoede en werkloosheid vereis ’n groeiende ekonomie wat werk skep. Ek glo dat die kurrikulum, en ons vermoë om seker te maak dat dit op alle vlakke omvattend en met groot passie en toewyding in werking gestel word, ons hierin sal bystaan. Ons sal sukses behaal; veranderde en verbeterde gesindhede, kennis, waardes en vaardighede sal verseker dat ons ekonomie nie net groei nie, maar ook volhoubare werksgeleenthede sal skep.

Dit is nie ’n naïewe visie nie: ons besef dat daar konflik bestaan in die harte van ons mense wanneer dit by taalkwessies kom. Dit kan ook nie oornag verander nie; dit moet oor geslagte heen plaasvind. Maar die reis is aangepak en ons durf nie omdraai nie.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=835
Artikel nagegaan:
    -