|
|||
Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans
*Hierdie artikel was die voorlegging van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans aan die massavergadering van Hoërskool Ermelo op 27 Februarie 2007.
Die mees fundamentele reg van elke kultuurgemeenskap, soos van elke individu, is die reg op voortbestaan. Dit geld ook vir Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap in die breë. Hierdie reg is inherent en bestaan ongeag of ’n wet of grondwet daarvoor voorsiening maak. Miskenning daarvan deur ’n regering, organe van die staat of wie ook al, is ongeregtig en onverdedigbaar. ’n Kultuurgemeenskap se lewensduur is langer as dié van die individu. ’n Individu word binne ’n gemeenskap gebore, en die gemeenskap oorleef sy lede. Die kultuurgemeenskap verskaf die lewensruimte waarbinne individue ’n sinvolle lewe kan lei. Die mees basiese manier waarop ’n kultuurgemeenskap sy eie voortgang verseker, is deur onderwys in die taal en aan die hand van die kultuur van daardie gemeenskap. Wanneer ’n regering of wie ook al hieraan torring en onderwys in die taal en kultuur van ’n bepaalde gemeenskap ondermyn of bemoeilik, bemoeilik dit dus ’n gemeenskap se vermoë tot ongestoorde voortbestaan. Dit is juis die plig van die regering om toestande vir onbelemmerde taal- en kultuuroordrag te vergemaklik en te bevorder in plaas daarvan om dit te bemoeilik. Die regering het ’n bykomende verpligting, naamlik om die inheemse tale van die land in belang van die mense teen die dominansie van Engels te rugsteun. Die staat kan nie onverskillig hierteenoor staan nie en moet juis konstruktiewe stappe doen om sy plig na te kom. Met sy geforseerde afdwing van Engels naas Afrikaans op die Hoërskool Ermelo het die regering en die onderwysowerhede in albei opsigte gefaal. ’n Las word op ’n Afrikaanse skool geplaas wat gemaklike oordrag in medium Afrikaans kortwiek, en die dominante taal word tot die nadeel van die inheemse tale bevorder. Die optrede van die onderwysowerhede jeens die Hoërskool Ermelo is nie geïsoleerd nie. Daar is nou alreeds ’n gevestigde patroon waardeur dié owerhede oor die afgelope jare aan die begin van elke skooljaar Afrikaanse skole en hulle beheerliggame afknou en tot parallel- of dubbelmediumskole en uiteindelike verengelsing dwing. Weens die brutaliteit en onbillikheid wat hierdie optrede kenmerk, kan die onderwysowerhede beswaarlik daarop aanspraak maak dat dit in goeie trou optree. Tewens verraai die onderwysowerhede se optrede eerder ’n aversie in die idee van ’n Afrikaanse skool as ’n besorgdheid oor toegang tot onderwys. Die inligting tot die Vereniging van Regslui vir Afrikaans se beskikking dui daarop dat dit die moeite werd is om die huidige hofbevel waardeur die Hoërskool Ermelo tot parallelmedium-onderrig verplig word, teen te staan en daarteen te appelleer. Dit toon dat die optrede van die onderwysowerhede juridies aanvegbaar is en klaarblyklik nie die toets van billike administratiewe optrede kan deurstaan nie. Ons ondersteun gevolglik die besluit om teen die huidige bevel van die hof te appelleer. Ofskoon die vereniging nie ’n donateur-organisasie is nie en oor beperkte finansiële vermoëns beskik, is ’n donasie van R10 000 so pas reeds vir hierdie doel gemaak. Ons versoek dat alle belanghebbendes en in die besonder Afrikaanse kultuurorganisasies, stigtings, fondse en sakelui dieselfde doen. Benewens die huidige geskil is dit egter noodsaaklik om ook na die posisie van Afrikaanse onderwys in die breë te kyk. Met die oog hierop wys ons op die volgende: Eerstens is dit duidelik dat die regsbeskerming soos onder meer vervat in die Grondwet, klaarblyklik ontoereikend is. Dit word onderstreep deur die feit dat ondanks gunstige hofuitsprake (téén die owerhede) die onderwysowerhede in soortgelyke mate as wat in die uitsprake onder die loep was, steeds voortgaan om hulle aan dieselfde regsvergrype skuldig te maak. Bowendien heers daar in sekere kringe ook kommer oor die vraag of ’n getransformeerde regbank met vertroue om regshulp genader kan word. In die lig hiervan is dit noodsaaklik dat daar ’n verbeterde skikking met die regering oor die kwessie van Afrikaanse onderwys, insluitende Afrikaanse skole en Afrikaanse tersiêre onderwys, bereik moet word. Dit moet daarop gerig wees om die posisie van Afrikaanse onderwys te stabiliseer en die groeiende vertrouensbreuk tussen die regering en die Afrikaanse gemeenskap te herstel. Dit is tweedens belangrik om uit te lig dat die verpligting om aan die behoefte van toegang tot onderwys te voldoen op die nasionale en provinsiale onderwysowerhede rus en gewis nie op ’n handjievol Afrikaanse skole en ’n beperkte korps van Afrikaanse onderwysers nie. Die owerhede moet sorg dat daar genoeg skole, klaskamers en onderwysers is en kan nie daardie verpligting op Afrikaanse skole en op Afrikaanse onderwysers afwentel nie, wat as gevolg daarvan dikwels veel harder moet werk as hulle Engelssprekende eweknieë. Derdens moet Afrikaners en ander lede van die Afrikaanse gemeenskap self primêr die verantwoordelikheid vir ons kulturele heil en ons taalbelange aanvaar. Kollektief en dus in noue samewerking met mekaar beskik ons oor aansienlike ondernemingsgees, inisiatief, intellektuele vermoë en finansiële middele om veel doeltreffender na onsself en ons belange om te sien as wat baie van ons geneig mag wees om te glo. Hoewel die owerheid bepaalde verpligtinge jeens ons het, en hoewel ons daardie verpligtinge soos in die geval van Hoërskool Ermelo via die howe moet probeer afdwing, is verreweg die belangrikste middel tot ons beskikking ons eie inisiatief en vermoë. Dit het betrekking op alle terreine van die samelewing waar ons belange op die spel is, ingesluit die sakewêreld, fisieke beveiliging en die terrein van onderwys. Spesifiek op die gebied van die onderwys moet alle Afrikaanse mense saam eienaarskap van elke oorblywende Afrikaanse skool neem. ’n Afrikaanse skool moet nie verbeur word deur ’n werklike of beweerde gebrek aan genoeg Afrikaanse leerlinge nie. Weens demografiese patrone, sowel op die platteland as in die stad, is dit dikwels nie moontlik om alle skole wat eens Afrikaans was, steeds as Afrikaansmediumskole te behou nie. In plaas daarvan om alle Afrikaanse skole te verloor, moet gemeenskappe in verskeie gebiede op die platteland en verskeie voorstedelike gebiede in die stede bepaal welke skole die beste in staat is om op die lang termyn Afrikaans te bly en sorg dat daardie skole ten volle deur Afrikaanse leerlinge gevul word, terwyl ander skole toegelaat moet word om hulle gang te gaan en desnoods te verengels. Maniere moet gevind word om Afrikaanse skoliere wat weens so ’n strategie verder – moontlik selfs na ’n naburige dorp – moet reis om ’n Afrikaanse skool by te woon, by te staan ten einde die nodige reis- en verblyfreëlings te tref. Die Afrikaanse gemeenskap in die breë behoort finansieel hiertoe by te dra. Daar rus ’n verpligting op elke Afrikaner in hierdie verband en in die besonder op kapitaalkragtige Afrikaanse sakelui, trustfondse, organisasies en sakeondernemings. Die punt is dat gemeenskappe nie elkeen op hul eie moet voortsukkel met nielewensvatbare Afrikaanse skole, of anders vir lief moet neem met die ongesonde situasie van ’n parallel- of dubbelmediumskool op pad na verengelsing nie. Selekteer dié wat wel lewensvatbaar is, vul hulle met Afrikaanse leerlinge en verseker die skool se blywende Afrikaanse status en karakter. Dit geld ook die Hoërskool Ermelo. Dié skool, anders as naburige skole wat ook nog tot ’n mate in Afrikaans onderrig, kan blywend as Afrikaanse skool in stand gehou word. Dáárvoor moet Afrikaners in die hele streek verantwoordelikheid aanvaar en Afrikaanse leerlinge gevolglik na dié skool gestuur word. Dieselfde beginsel moet orals toegepas word. Ons moet egter nie al ons vertroue op openbare skole (staatskole) plaas nie. Goeie en ewewigtige onderrig in dié skole is nie ’n noodwendig ’n gegewe waarop blywend peilgetrek kan word nie. Bowendien is die soort strategie wat so pas uitgespel is, ook nie oral haalbaar nie. Daarom is dit voorsienbaar, weliswaar waarskynlik nie in die geval van die probleme rondom Hoërskool Ermelo nie, maar gewis in baie ander gevalle, dat onafhanklike (private) Afrikaanse skole gestig sal moet word. Erkenning moet trouens gegee word aan die werk wat reeds in hierdie verband gedoen is. Ook wanneer die roete van onafhanklike skole gevolg word, is dit van groot belang om te beklemtoon dat gemeenskappe in verskeie dorpe en in verskeie buurte in stede nou hierin moet saamwerk. Terselfdertyd is dit weereens van belang om te wys op die finansiële belegging wat Afrikaanse sakelui, trustfondse, organisasies en maatskappye hierin behoort te maak. Vierdens moet dit vir elke Afrikaanse ouer op die hart gedruk word dat ’n Afrikaanse kind in Afrikaans onderrig moet word. Afrikaanse skole en Afrikaanse onderrig word skade berokken deur Afrikaanse leerlinge wat in Engels onderrig word. Daar is ouers wat hulle kinders in Engels laat skoolgaan op grond van die siening dat hulle hul kinders op dié wyse vir die Engelstalige ekonomiese wêreld toerus. Hierdie argument is dikwels daarop gebaseer dat ouers wat in ’n vroeëre era grootgeword het, hulle eie gebrekkige taalvaardigheid in Engels op hul kinders projekteer. Hierdie projeksie is ongegrond. Kinders word tans veral weens die elektroniese media in ’n oorweldigend Engelse milieu groot, selfs al is hulle van huis uit Afrikaans, en is om hierdie rede van ’n baie jong ouderdom af reeds Engels baie goed magtig. Anders as wat moontlik met hulle ouers die geval was, het hulle dus nie die bykomende blootstelling aan Engels wat deur Engelse onderrig meegebring word, nodig nie. Inteendeel, weens die oormaat van Engels in die huidige tydsgewrig is daar juis ’n verskerpte noodsaak – meer as tevore – aan onderrig in Afrikaans. Bowendien is Afrikaanse skole bekend vir hulle toewyding en vir hulle vermoë om Afrikaanse kinders ook vir die oorwegend Engelse kommersiële wêreld voor te berei. Presies honderd jaar gelede was generaal J B M Hertzog in ’n hewige stryd gewikkel met Britse imperialiste oor hulle beleid van verengelsing in die onderwys. Destyds was daar ’n beleid van verengelsing en die pynigende verskynsel van selfopgelegde verengelsing van Afrikaanse kinders in Engelse skole. Maar destyds was daar ook die kollektiewe wil onder genoeg Afrikaners, gesamentlike optrede, vindingrykheid, offervaardigheid en daadkrag wat Afrikaanse onderwys beveilig het en wat ons uiteindelik vir bykans ’n eeu gedra het. Die rolspelers het intussen verander, maar die verskynsels bly dieselfde: die drang na en beleid van verengelsing is opnuut met ons, die verskynsel van Afrikaanse kinders in Engelse skole ook. En net soos honderd jaar gelede is onderwys nog steeds van dieselfde wesenlike belang. Laat ons put uit ons wortels, uit ons verlede, uit ons ervaring en ook uit ons vindingrykheid, vermoëns en inisiatief om soos onder meer hierin voorgestel, weer verantwoordelikheid vir onsself te aanvaar en ruimte vir ons bestaan en die gesonde funksionering van die Afrikanergemeenskap te verseker. |