blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Plekname: Boesman-groep tree toe; Minister onverhoeds betrap 2007-04-18
Kleinjan Schietekat

“Nee, die Minister het nog nie besluit of hy Xkam gaan leer praat nie. Hy oorweeg dit wel en het die saak na ’n komitee van taalkundiges verwys.”

      Dít was die benoude reaksie van ’n raadgewer van die Minister van Kuns en Kultuur, wat verkies om naamloos te bly (die raadgewer, nie die Minister nie), nadat Die Vrypostige Afrikaan hom gepols het oor ’n opspraakwekkende voorstel rakende die pleknaamkwessie wat deur die Besorgde Boesmans gemaak is.

      Die Besorgde Boesmans, wat oor orale getuienis beskik dat hulle afstammelinge van die eerste inwoners van Suid-Afrika is, het onlangs toegetree tot die voortslepende debat oor die pleknaamkwessie. Volgens mnr. Ghaib //Rxain, woordvoerder van die groep, het hulle kennis geneem van die onderhoud wat Hanlie Retief van Rapport met die Minister gevoer het.

      //Rxain sê dat toe hulle lees hoe die Minister aanhoudend sweet van sy voorkop afgevee het en ook soms met ’n histeriese stemtoon gepraat het, het hulle besef dinge kan nie so aangaan nie. “´n Mens kan sweet nie so mors nie. Ons in die woestyn weet dat jy sweet bêre vir ’n droë dag, en jy sing net as jy feesvier. Dit lyk of die Minister besig is om sy kultuur te verloor.”

      //Rxain vertel dat hy en ander oudstes van die Besorgde Boesmans toe besluit het om die Minister in Pretoria te gaan sien met ’n voorstel. Hy sê hulle voorstel is gebaseer op die feit dat van al die nasionale simbole wat verander is, die land se nuwe leuse – “wat die meeste mense nie kan uitspreek of verstaan nie” – in ’n taal verwant aan Xkam die minste moeilikheid veroorsaak het. “Ons Boesmans het gevoel ons het nou ook ’n plek en die mense hou op om te baklei.”

      Dit is in die lig hiervan wat die Besorgde Boesmans tydens ’n oudiënsie met die Minister voorgestel het dat al Suid-Afrika se plekname na Xkam-name verander word. “So sal die jonger name waaroor almal so baklei verdwyn, en almal sal ewe veel verloor. Ons Boesmans sal dan ook weer weet waar in die land ons is, en dit mag selfs gebeur dat almal in die land basiese Xkam leer. Die kans is goed dat meer mense mekaar dan sal verstaan as in Engels.”

      //Rxain sê die Minister was ietwat uit die veld geslaan, maar dat hy minstens nie weer sweet gemors of gegil het nie. As ou jagters was hulle voorbereid op sy verrassing, en daarom het hulle hom met ’n “tsamma gevang”, oftewel ’n voorstel vir ’n proefneming om net eers die groot stede se name te verander.

      Die Besorgde Boesmans stel die volgende veranderinge voor: Pretoria word Xkjalm (Plek van die Jakkalskonings); Johannesburg Xkjolm (Plek van die Vet Hiënas); Kaapstad word //Xcged (Plek van die Bergslapers); en Port Elizabeth word //Xdain (Plek van die Skelm Koninginne).

      Terwyl die Minister volgens ons inligting nog geen duidelikheid het oor wat om met die Besorgde Boesmans te maak nie, is hy blykbaar kort daarna ook deur ’n afvaardiging van die Dixung-Boesmans besoek. Dit blyk dat hulle van die Besorgde Boesmans – in wese ’n ander stam – se voorstel gehoor het, en woedend daaroor is, omdat die Besorgde Boesmans nie ’n mandaat het om namens hulle te praat nie. Bowendien verstaan die twee mekaar se tale ook nie.

      Alles is egter nie vir die Minister verlore nie. ’n Pretoriase ingenieur wat die afgelope jare in Londen woon, mnr. Pieter “Planne” Bezuidenhout, het blykbaar die Departement van Kuns en Kultuur genooi om mede-patenthouer van sy jongste uitvindsel te word, naamlik elektroniese straatnaamborde en padtekens. Bezuidenhout sê hy het met behulp van ’n model tot die slotsom gekom dat die kanse statisties goed is dat Suid-Afrika se plek- en straatname ongeveer elke 16,3 jaar teen ’n verminderende kurwe gaan verander.

“Dit kos die land elke keer miljoene rande om die name te verander. My voorstel is dus dat die Departement eenmalig ’n honderd miljoen bestee aan vandaalbestande elektroniese straatnaamborde en padtekens aangedryf deur sonkrag. As die name dan verander, programmeer jy eenvoudig die nuwe naam in, wat natuurlik in flikkerende elektroniese letters aangedui word. Dit spaar jou dus die koste om elke keer nuwe tekens op te rig.”

      Ook dié voorstel geniet tans oorweging, hoewel ’n regsaak deur die Suid-Afrikaanse Vereniging van Straat- en Padtekenvervaardigers dreig.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=833
Artikel nagegaan:
    -