blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Etniese konflik in Sri Lanka 2007-04-18
Éric Meyer

*Ondervoorsitter van die Franse Nasionale Instituut vir Oosterse Tale en Beskawings (Inalco), Parys en skrywer van Sri Lanka, Biography of an Island, Negombo (Sri Lanka): Viator publications, 2006. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Die afgelope maande het nuwe gevegte tussen die regering en Tamil-separatiste tienduisende angsbevange burgerlikes op die paaie van Sri Lanka laat vlug. Die klaarblyklik onoplosbare aard van ’n dertigjarige konflik wat beswaarlik die groot magte se belange in gedrang bring en wat nie aangevuur word deur die belangrikste ideologiese strominge van die vroeë 21ste eeu nie, word grootliks verklaar deur sy transnasionale eerder as internasionale karakter.

Die Tamil-separatistebeweging het byna dertig jaar van stryd agter die rug. As sleutelfaktor in die geskiedenis van Sri Lanka (1), is dit terselfdertyd die uitdrukking van ’n spontane mobilisering van ’n plaaslike minderheid se taal- en politieke eise en die vrug van ’n grootskaalse polities-militêre onderneming gebou op ’n magtige, transnasionale organisasie, die Bevrydingstiere van Tamil Eelam (BTTE), oftewel “Tiere” (2).

Volgens die separatiste bied die institusionele demokratiese raamwerk geen waarborg vir die regte van taal- en godsdiensminderhede nie, en kan slegs die skep van ’n afsonderlike staat (indien nodig geassosieer met die res van die eiland) aan hierdie verwagting voldoen. Hulle eis ’n aaneenlopende grondgebied, genaamd Tamil Eelam, wat bestaan uit die noordoostelike provinsie, insluitend die hawe van Trincomalee en die suidoostelike gebiede van die eiland waar daar meer Moslems as ander bevolkingsgroepe is.

Die spanning tussen regerings waarin die Singaleestalige meerderheid (74 % van die inwoners) die Tamil-minderheid (ongeveer 15 %) domineer (3), strek terug na 1956 – toe Sri Lanka nog Ceylon was – met die bewindsoorname van die Vryheidsparty (Sri Lanka Freedom Party, SLFP) gestig deur Salomon Bandaranaïke. Die afdwing van Singalees as enigste amptelike taal en die voorrang wat aan Boeddhisme, die oorheersende religie van die Singalese, gegee word, lei tot die eerste konfrontasies in gebiede waar Singalese en Tamils met mekaar in aanraking is. Dit bedaar vir ’n tyd lank voordat dit weer in die 1970’s kop uitsteek, om ’n hoogtepunt te bereik met die geweldpleging in Julie 1983.

Dié geweld, georkestreer deur regeringsverbonde Singalese groepe teen die Tamil-minderheid in die hoofstad, kom uit weerwraak vir die aanvalle wat teen die regering se weermag in Tamil-gebiede geloods is. Sedertdien voer separatistebewegings openlik oorlog teen die owerhede van Colombo (4). Aanvanklik doen hulle dit met die onopvallende steun van die regering van Madras (sedertdien herdoop tot Chennai, hoofstad van Tamil Nadu in die suide van Indië), maar vanaf 1990 steun hulle uitsluitlik op die hulp van ’n diaspora wat hulle in die Weste gevestig het om te weg te kom van die heersende onveiligheid in die eiland. Hierdie konflik het meer as 50 000 militêre en burgerlike slagoffers agtergelaat. Nogtans was die verhouding tussen burgerlikes uit verskillende gemeenskappe nooit een van alomteenwoordige inter-etniese geweld nie, behalwe in die oostelike dele van die land.

Die separatisme se krag lê in sy vermoë om ’n jeug te mobiliseer wat poste in die openbare diens ontneem is deur ’n kwotabeleid (5) en ’n vryery na stemme ten gunste van die Singalese meerderheid. Daarby het bykans dertig jaar van konflik die streke met ’n Tamil-meerderheid in die noorde en ooste afgesny van die ekonomiese groeikrag wat in die res van die eiland werksaam was. Al oorblywende vooruitsig was emigrasie of ’n gewapende stryd. Die Tiere het dit ook reggekry om die einste jeug se patriotiese sentimente en heroïese ideale militêr te kanaliseer en polities uit te buit, die leierkultus aan die brand te hou, onderdrukkingswerktuie en intimidasiemetodes in te span, fondsinsamelingsnetwerke te organiseer selfs in die diaspora en aansienlike wins te maak uit diverse internasionale smokkelbedrywighede (veral met wapens). Die Tiere se metodes word gekenmerk deur die werwing van minderjariges, veral jong meisies, en die indiensname van strydlustiges wat bereid is om selfmoord te pleeg met ’n sianiedtablet wat hulle soos ’n medalje dra, eerder as om in die vyand se hande te beland.

Om dié organisasie die hoof te bied, werf die regering ’n weermag wat groot in getal (meer as 100 000 man) maar onervare en ongedissiplineerd is, en deur grootskaalse drostery geteister word. Hierdie weermag het die grootste bron van werksgeleenthede vir mans in die land geword, waar die groeiende sektore – vroeër teeplantasies, vandag klerefabrieke – en geörganiseerde emigrasie na lande in die Persiese Golf hoofsaaklik vroue werf.

Op ideologiese vlak bly die beskerming van die Boeddhistiese Singalese identiteit en die eenheid van die eiland die oorheersende temas in die politieke diskoers van die SLFP en sy leier, president Mahinda Rajapakse. Maar hierdie retoriek is oorgeneem deur radikaler bewegings soos die Nasionale Singalese Erfenisparty (Jathika Hela Urumaya, JHU) aangevoer deur polities betrokke Boeddhistiese monnike; en die Volksbevrydingsfront (Janata Vimukthi Peramuna, JVP), ’n revolusionêre beweging wat in die 1960’s deur bewonderaars van Ernesto Che Guevara op tou gesit is, maar ná die mislukking van die 1971-opstand in ’n ultra-nasionalistiese rigting ontwikkel het.

Indië se ingrypingspogings, eers deur onopvallende steun aan separatistegroepe en vervolgens met die stuur van ’n vredeshandhawingsmag tussen 1987 en 1990 (6), asook die uiteindelike mislukking daarvan, het bygedra om die BTTE se posisie te versterk. Die Tiere elimineer in der waarheid die ander Tamil separatiste-groepe wat die ingryping gesteun het. Hulle handhaaf hulle as ’n diktatoriale organisasie wat die uitspreek van enige afvallige menings met geweld onderdruk, eers in die noordelike streke en daarna aan die oostekant van die eiland waar hulle ’n parallelle regering vestig. Hierdie ingryping van buite versterk ook die posisie van die JVP, wat teen die Indiese imperialisme gekant is en wat vanaf 1995 wegbreek van die wrede onderdrukking waarvan hulle die teiken was.

Nadat sy in 1994 tot president verkies is, probeer Chandrika Kumaratunga, dogter van die SLFP se stigter, weer die onderhandelings aan die gang sit. Tevergeefs. Die Tiere loods grootskaalse offensiewe teen die regeringstroepe se pogings om die noorde te herwin, voer gereelde aanvalle uit op dorpe met ’n meerderheid Singalese en gebruik gereeld selfmoordkommando’s, dikwels met vroulike lede, volgens ’n metode wat reeds beproef is met die moord in 1991 op die voormalige Indiese premier Rajiv Gandhi, en in 1993 op die Sri Lankaanse president Ranasinghe Premadasa.

Ná ’n wapenstilstand wat aan die begin van 2002 onder die beskerming van Noorweë gesluit is, hervat onderhandelings tussen die BTTE en ’n koalisieregering aangevoer deur Ranil Wickremesinghe, leier van die Verenigde Nasionale Party (UNP) en teenstander van president Kumaratunga, in September 2002. Hulle bots in die loop van die daaropvolgende jaar: die separatiste-organisasie vind die buitelandse druk wat op hom geplaas word om menseregte te respekteer, onaanvaarbaar en eis om op gelyke voet met die regering behandel te word, terwyl laasgenoemde weier om ingrypende toegewings te oorweeg om magte aan plaaslike owerhede af te wentel.

Kort daarna ontbind die President die koalisieregering, wat daartoe bydra om die proses te verswak: sy roep ’n minderheidsregering byeen met die steun van die JVP, wat die stryd teen separatisme sy hoofteiken gemaak het, en reël ’n vervroegde verkiesing in April 2004. Dit versterk die JFP se posisie op die politieke skaakbord verder, en gee verteenwoordiging aan die BTTE met die verkiesing in Tamil-streke van kandidate uit die Tamil Nasionale Alliansie (Illankai Tamil Arasu Kachchi) wat hulle ondersteun (7).

’n Maand tevore het die militêre hoof van die BTTE in die westelike provinsie, Vinayagamoorthy Muralitharan alias Karuna, weggebreek van die organisasie se historiese leier, Velupillai Prabhakaran, wat hy daarvan beskuldig dat hy sy persoonlike mag versterk met soldate wat toenemend in die ooste van die eiland gewerf word. Hierdie afsplitsing wat spoedig deur die regering uitgebuit word, noop Prabhakaran daartoe om sy troepe op ’n militêre grondslag te hergroepeer.

Die BTTE maak gereed om vyandighede voor die einde van daardie jaar te hervat. Die tsoenami in Desember 2004 laat hulle daarvan afsien, daar dit ook die vlootmiddele wat onontbeerlik vir die separatiste se wapenvoorsiening en strategie is, ernstig affekteer. Die ramp, wat lei tot ’n opwelling van solidariteit in die binneland en ’n dikwels onsamehangende toevloei van buitelandse hulp, bring spanning in die voormalige strydlustiges se onderlinge standpunte jeens die heropbou van die verwoeste streke. Die regering was huiwerig om die separatiste as werklike gesag in die gebiede met ’n Tamil-meerderheid te erken en om te aanvaar dat hulle regstreeks met finansieringsliggame onderhandel. Die BTTE, gerugsteun deur hulle ervaring op die terrein en aansienlike skenkings deur die Sri Lankaanse diaspora, dring daarop aan dat die hulp deur middel van die Tamil Organisasie vir Rehabilisasie, ’n humanitêre vereniging wat onder hulle beheer is, aangewend word (8).

Die beslissende keerpunt kom op 15 Augustus 2005, toe die BTTE op ’n spanningstrategie besluit en Lakshman Kadirgamar, die Minister van Buitelandse Sake (van Tamil-oorsprong), laat vermoor. Die verkiesing van die SLFP-leier Mahinda Rajapakse tot president, wat ’n ooreenkoms met die JVP gesluit het, verander ook die klimaat. Rajapakse was sterk krities teenoor die Noorweegse bemiddeling en heelwat ongenaakbaarder jeens die separatistiese eise van sy teenstander. Die BTTE se aanbeveling om nie te gaan stem nie, gepaard met dreigemente, is deur die meerderheid van die Tamil-bevolking gehoorsaam, wat lei tot Wickremesinghe se neerlaag daar waar baie Tamils vir hom sou gestem het uit dankbaarheid vir die tydelike vrede wat hy bewerkstellig het. Die sending wat moes toesig hou oor die wapenstilstand wat die regering en die Tiere op 22 April 2002 onderteken het en wat aan ’n konsortium van Skandinawiese lande toevertrou is, word daardeur lamgelê.

Die hervatting van selfmoordaanvalle in Colombo en in die mees suidelike dele (9), asook die nuwe toename in aanvalle in die gebiede rondom die hawe van Trinomalee vanaf Julie 2006, is daarop gemik om die owerheid daaraan te herinner dat die Tiere op enige plek kan toeslaan. Terselfdertyd eis hulle die onttrekking van waarnemers uit Europese Unielande nadat hulle organisasie op die Europese lys van terroristegroepe ingesluit word. Dit is die spyker in die kis van die vredesproses, ondanks pogings van Noorweë en ander lande wat medevoorsitters van die hulpkonsortium in Sri Lanka is (VSA, Europese Unie en Japan) om in Februarie en in Oktober 2006 twee konferensies in Switserland byeen te roep.

In iedere geval is daar sedert die begin van 2007 verskeie faktore wat die toedrag van sake kan verander: die BTTE se onvermoë om beheer oor die kusgebiede suid van Trincomalee te behou, en die afsterwe van Anton Balasingham, hulle hoofonderhandelaar wat in Londen gestasioneer was. Aan regeringskant is president Rajapakse se posisie versterk deur die wegbreek van ’n fraksie van die Verenigde Nasionale Party (UNP), ’n opposisiegroepering bestaande uit politici wat ’n sleutelrol in die tussentydse vredesonderhandeling van 2002 gespeel het en wat ministeriële poste bekom het na ’n herskommeling. Hy beskik nou oor ’n parlementêre meerderheid onafhanklik van die JVP en die JHU, wat vyandig staan teenoor enige onderhandelingsproses. Derhalwe kan hy by geleentheid van die nasionale dag op 4 Februarie 2007 aan die BTTE voorstel om gesprekke te hervat.

Maar hierdie terloopse ontwikkelinge verdoesel nie die algemene agteruitgang van die politieke, ekonomiese en maatskaplike toestand in die land nie. Lewensomstandighede in streke met ’n Tamil-meerderheid in die noorde en weste het vinnig versleg: hernude gevegte lei tot die sluiting van toevoerroetes in die omsingelde gebiede (veral roete A9 wat Jaffna met die res van die eiland verbind en wat in 2002 heropen is), en regeringstroepe hervat hulle bombardemente van burgerlike geboue. Die verdwyning van verdagtes wat deur geheime informante uitgewys word, en die toename in moorde wat deur ongeïdentifiseerde groepe gepleeg word, herinner aan die donkerste episodes in die dekade tussen 1980 en 1990.

Daarby wys ’n verslag deur die VN se spesiale afgevaardigde, Allan Rock, wat belas is met ’n ondersoek na die werwing van kindersoldate, op die grootskaalse hervatting van hierdie praktyke deur die BTTE, maar ook deur Karuna se afvallige faksie, met die medepligtigheid van regeringsmagte wat hom beskerm en van sy dienste gebruik maak – aantygings wat natuurlik deur die regeringsowerhede ontken word (10). Toenemende verdwynings raak alle samelewingsvlakke en streke, soos blyk uit die ontvoering - helder oordag in die middel van Colombo en onder die neuse van die polisie - van die visekanselier van die Universiteit van die ooste van die eiland, in Desember 2006: twee maande later het die owerhede nog geen lig gewerp op sy lot nie.

Die herhaalde mislukking van onderhandelingspogings spruit uit wat ’n politoloog bestempel as “Grisham se wet van konflikte” (11): ekstremiste is geneig om gematigdes uit die politieke spel te verdryf. In 2002 doen die separatiste slegs van hulle eis om totale onafhanklikheid afstand ten einde hulle reg op selfbeskikking te herbevestig. Die blokkasie blyk uit die protagoniste se onvermoë om die vraagstuk oor die status van provinsies met ’n Tamil-meerderheid op konstruktiewe wyse aan te roer. Aan planne om regeringsgesag af te wentel was daar nie ’n tekort die afgelope twintig jaar nie, maar nooit het dit gekom tot by ’n onomwonde voorstel dat ’n algemene federale status op die Indiese lees geskoei, aanvaar word, of dat outonome streke na die Spaanse model geskep word nie.

In 1987, met die ingryping van Nieu-Delhi, word die noordelike provinsies geamalgameer: die Tamils bevind hulle in ’n absolute meerderheid in die nuwe samestelling, terwyl hulle slegs ’n beperkte meerderheid in die oostelike provinsie vorm waar Singalese en Moslems sterk verteenwoordig is. Die Hooggeregshof, gedagvaar deur die JVP, verklaar op 16 Oktober 2006 hierdie samesmelting ongrondwetlik, wat die vooruitsigte nog verder inperk, aangesien die separatiste nog altyd die vereniging van die twee provinsies as ’n voorvereiste tot enige onderhandeling gestel het.

Die rampspoedige pogings tot bemiddeling kan ook aan die hand van strukturele redes verklaar word. Soos die Indiërs vyftien jaar tevore, word die Noorweërs, hoewel hulle op beide kampe se versoek opgetree het, spoedig van partydigheid beskuldig. Hulle is nie in staat om te verhoed dat derdepartylande betrokke raak nie: politieke inisiatiewe wat sedert Julie 2003 deur die konsortium van skenkerlande en internasionale verenigings geneem word, word van imperialistiese motiewe verdink. Die nasionalistiese liggeraaktheid van beide die BTTE en die JVP (beslis hulle enigste raakpunt) word gevoed deur ’n lang geskiedenis van koloniale oorheersing, inmenging van internasionale ontwikkelingsinstansies – die Wêreldbank en die Asiatiese Ontwikkelingsbank – en buitelandse humanitêre aanwesigheid.

Intervensionistiese projekte het telkens hierdie gegewe onderskat, wat by die Singalese gepaard gaan met ’n besliste neiging tot insulêre bekrompenheid, terwyl die Tamils deurgaans die konflik in die internasionale arena probeer stoot. Deur die diaspora is hulle in groot getalle teenwoordig in Westerse lande, wat hulle ’n mate van invloed gee en tot hier toe die transnasionale aktiwiteit van die BTTE vergemaklik het (12). Nietemin het die hernude toename in fondsinsameling by die diaspora ten bate van die oorlogspoging, asook die waarskynlike wanbesteding van geld wat ingesamel is ná die tsoenami, die aandag van die owerhede in gasheerlande getrek, selfs al sou dit moeilik gaan om praktyke wat so lank reeds geduld word, te onderdruk.

 

_________

(1) Die land staan amptelik bekend as die Demokraties-Sosialistiese Republiek van Sri Lanka.

(2) Lees Cedric Gouverneur, “Un Etat de facto pour les Tigres Tamils”, Le Monde diplomatique, Februarie 2004.

(3) Die eiland se 8 % Moslems het ook Tamil as moedertaal, maar het hulle nooit met die separatistesaak vereenselwig nie, en ook nie die 4 % Tamils wat in die 19de eeu uit Indië gekom het en nog in die plantasiestreke woon nie.

(4) Die amptelike hoofstad is Sri Jayawardenapura, maar Colombo is die belangrikste stad en die setel van talle amptelike liggame.

(5) Streekskwotas wat daarop gemik was om persentasiegewys werksgeleenthede aan die Singalese meerderheid te verskaf op demografiese gronde, waar minderhede (veral die Tamil-minderheid) tot op daardie tydstip oorverteenwoordig was.

(6) ’n Besluit wat geneem is na aanleiding van die vredesooreenkoms tussen Indië en Sri Lanka in 1987.

(7) Eric Meyer & Eleanor Pavey, “Bons offices, surveillance, médiation: les ratés du processus de paix à Sri Lanka”, Critique internationale 22, Parys, Januarie 2004, pp. 35-46.

(8) Éric Meyer, “Sri Lanka : l’impact politique du tsunami de 2004”, Annuaire Asie 2005-2006 (o.l.v. S. Boisseau du Rocher), Parys: La Documentation française, 2005, pp. 175-186.

(9) Eleanor Pavey, “Les kamikazes sri lankais”, Cultures et conflits,  63, Saint-Ouen, Herfs 2006, pp. 135-154.

(10) Verslag gepubliseer op 16 November 2006: http://www.un.org/children/conflict/pr/2006-11-13statementfromthe127.html.

(11) R. Rothstein et al., The Israeli-Palestinian Peace Process: Oslo and the Lessons of a Failure, Brighton: Sussex Academic Press, 2002.

(12) Éric Meyer, Sri Lanka, entre particularismes et mondialisation. La Documentation Française, Parys, 2001, en Sri Lanka, Biography of an Island. Colombo, Viator publications, 2 de uitgawe, 2006. Nira Wickramasinghe, Sri Lanka in the Modern Age: A History of Contested Identities, Londen: Hurst, 2006.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=828
Artikel nagegaan:
    -