blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Regering wat sy burgers vrees 2007-04-18
Hermann Giliomee

*Historikus en skrywer van Nog Altyd Hier Gewees: Die Storie van ’n Stellenbosse Gemeenskap (Kaapstad: Tafelberg, 2007)

 

Twee oënskynlik onverwante gebeurtenisse het die buiteparlementêre politiek die afgelope maande oorheers: Daar was Eerste Nasionale Bank se geaborteerde advertensieveldtog oor die ernstige krisis van geweldmisdaad, gevolg deur die gesamentlike pogings deur wit en swart kommentators om die geesdriftige reaksie op Bok van Blerk se Afrikaanse liedjie, wat hom op ’n heroïese figuur soos die Boeregeneraal Koos de la Rey beroep om die Afrikaners uit hul teenswoordige staat van politieke wanorde en impotensie te lei, te diskrediteer.

En tog is die twee gebeurtenisse ten nouste verwant. Albei het te make met die regering se verbete vasberadenheid om sy wil op die burgerlike samelewing af te dwing en alle nuus en aksies wat vir hom ongewens is, dood te trap. Die ANC-regering se beste bondgenote is die selfaangestelde “wakers teen ongewenste nuus en aksies”. Dit was juis as die koning se lojale vasale en as “wakers teen ongewenste nuusberigte” dat die sakeleiers Derick Cooper en Michael Spicer die fluitjie geblaas het op ENB se inisiatief. Hulle het vir die regering die geleentheid geskep om sy inisiatief dood te druk en enige verdere besigheidsaktivisme teen misdaad in die kiem te smoor. En in die geval van die De la Rey-liedjie het Afrikaanse kommentators mekaar uit die pad geskouer om die ANC te verseker dat hulle as lojale vasale die massageesdrif afkeur wat dit ontketen het.

      Een van Eerste Nasionale Bank se senior Raadslede het my vertel dat die frase wat in regeringskringe die grootste ontsteltenis veroorsaak het, die verwysing na die “mobilisering van die bevolking” was. By die eerste vergadering met Paul Harris en sy span het die Minister van Polisie geëis om meegedeel te word wat dit beteken. Klaarblyklik het hy visioene gekoester van die massademonstrasies in die laat 1980’s van die Oos-Europese samelewings. Die ENB-amptenare het onthuts verduidelik dat hulle met mobilisering van die bevolking bloot bedoel het om die publiek sover te kry om die polisie meer daadwerklik en doelgerig by te staan.

Volgens verslae is die De la Rey-liedjie teen die afloop van ’n uiters gemoedelike aand in ’n kroeg gebore. Die oogmerk van die skeppers van die liedjie was om hulde te bring aan ’n heroïese figuur uit Afrikaners se vroeë verlede. Generaal Koos de la Rey is waarskynlik bo Christiaan de Wet verkies hoofsaaklik omdat sy naam rym met die refrein: “om weer die Boere te kom lei”.

Soos die toeval dit wou hê, kon geen paneel van historici ’n figuur uit die Anglo-Boereoorlog gekies het wat luider tot ons huidige situasie spreek nie. In die Anglo-Boereoorlog (1899-l902) het Koos de la Rey saam met Louis Botha, Jan Smuts en ander Transvaalse Bittereinders, en saam met hul Vrystaatse eweknieë, ’n heroïese stryd gevoer teen die mag van die Britse leër.

 Dit was die onverskrokkenheid van die Bittereinders en hul leeuemoed gedurende die meedoënlose maar oplaas glorieryke laaste twee jaar van die oorlog wat Smuts beweeg het om te skryf dat “elke kind wat in Suid-Afrika gebore word ’n trotse selfrespek moet hê en kersregop voor die nasies van die wêreld kan staan.”

 As boer in die Wes-Transvaal is De la Rey verkies tot die eerste Unieparlement as lid van Louis Botha se Suid-Afrikaanse Party. Die Unie van Suid-Afrika was nog jonk, en die wit euforie wat die stigting van die nuwe staat meegebring het, het gou verdamp. Die Afrikaners het dit moeilik gevind om hulle met baie van die nuwe staat se instellings te vereenselwig, byvoorbeeld die militêre diens en die staatsdiens.

Die sneller van die gewapende rebellie wat in September uitgebreek het, was die besluit van die Botha-regering om in te stem tot die versoek van die Britse regering om Duitswes-Afrika in te neem. De la Rey het hierop die gewapende burgers van die Wes-Transvaal byeengeroep tot ’n vergadering. Sy reputasie was van so ’n aard dat duisende burgers op sy oproep sou byeenkom, veral as dit deel was van ’n poging om die onafhanklikheid van die republieke te herwin. Voordat hy egter die vergadering kon toespreek, is hy per ongeluk doodgeskiet in ’n polisieblokkade. Daar was wydverspreide gerugte dat hy in opdrag van die regering gedood is, maar ’n geregtelike ondersoek het later bevind dat dit ’n ongeluk was.



In Augustus 2006, by Aardklop in Potchefstroom, het Bok van Blerk die eerste keer sy liedjie gesing wat hom op De la Rey beroep om weer die Boere uit hulle staat van wanorde te kom lei. Dit het agterna tot die ongehoorde verkoopsyfer van meer as 150 000 CDs gelei.

 Daar is redes waarom die liedjie so verstommend suksesvol is, veral onder die Afrikanerjeug. Soos Martiens van Bart, ’n kultuurkritikus op die redaksie van Die Burger (kyk elders in hierdie uitgawe), geskryf het: dit bevredig die jeug se smagting na leiers met integriteit. (Jan Smuts het De la Rey “een van die witste siele wat ooit geleef het” genoem oor sy bereidheid om die hoogste offer te bring in die strewe na geregtigheid en outonomie, vir groot waagmoed onder geweervuur en bowenal daarvoor dat hy ideale hoër gestel het as die veragtelike geskarrel na materiële wins en openbare aansien.)

 Bo alles word dit op prys gestel omdat dit jong Afrikaners se strewe na politieke niekorrektheid bevredig. Hoe kan Afrikaners in hul middeljare, wat neig om polities op hul knieë te leef, beter aan die kaak gestel word as deur die sing van ’n liedjie oor ’n onverskrokke leier uit hul verlede wat deur sy oortuigings gedrewe en bereid was om die prys vir ongewildheid te betaal?

 In die ware sin van die woord erken diegene wat die De la Rey-liedjie sing die groot waarheid wat deur die groot Franse denker, Alexis de Tocqueville, meer as 150 jaar gelede uitgespreek is: dat minderhede naamlik die eis in die gesig staar om deel te word van die meerderheid. “Hulle kan dit egter slegs doen as hulle dié dinge prysgee wat vir hulle werklik belangrik is en wat konflik tussen hulle en die meerderheid veroorsaak.”

Die De la Rey-generasie verwerp hierdie eis. Daarenteen dring die wakers teen ongewenste nuus daarop aan dat die voorwaardes van die meerderheid aanvaar moet word. Hulle maak dit af as louter onsin dat enige van die volgende dinge gronde vir ernstige griewe is: die suiwering van die staatsdiens van Afrikanermans, die meedoënlose opmars van regstellende aksie, die toenemende marginalisering van Afrikaans as taal van onderrig, besigheid en regering, die byna-uitwissing van Afrikanergeskiedenis in die nuwe skoolhandboeke. In alle ander verdeelde samelewings sou verstandige kritici waarsku dat hierdie soort beleide ’n resep uitmaak vir die ernstige vervreemding van ’n minderheid.

In die aanvaarding van hulle rol en die afwysing van die moontlikheid van wat die Afrikaanse digter, NP van Wyk Louw, lojale verset genoem het, speel die wakers reg in die hande van die wanpresterende regering, soos Johann Rupert van Rembrandt en Jannie Mouton van PSG uitgewys het. Die griewe is wesenlik, en as die ANC nie vir homself groot moeilikheid in die toekoms wil opstapel nie, moet hy kennis hiervan neem.

Maar die ANC is verwen deur sy sukses met die skepping van ’n gefragmenteerde samelewing. Die insiggewendste van die skrywers oor totalitarisme en tirannie het ingesien dat hierdie soort regime nooit totale beheer oor die individu verkry nie. Hulle het dit wel reggekry om die samelewing te fragmenteer. Individue of ondernemings soos ENB is tot morele eensaamheid of isolasie gereduseer om hulle die steun te ontsê van wat Emile Durkheim “intermediêre gemeenskappe” genoem het. “[In totalitêre regimes] … word isolasie van die individu teweeggebring met die hulp van die party wat gebruik is om bykans alle instellings van die samelewing te infiltreer en skadeloos te stel.”

Die ANC was nogal suksesvol deur dit binne die konteks van ’n liberale demokratiese raamwerk te vermag. ’n Heropwelling van Afrikanerpatriotisme, of ’n belangrike maatskappy wat uit die kraal breek en die regering kritiseer, sou as intense uittarting ervaar word.

Hierdie response bring ons by die kern van die krisis in ons demokrasie. Ons regering is nie ’n regering deur die mense nie, maar ’n regering oor die mense. Dit durf vir geen oomblik toelaat dat ENB die inisiatief met misdaad neem nie, want slegs die regering kan die belangrikste mobiliseerder van die samelewing wees. Soos ’n openbare ANC-beleidsdokument in 2003 verklaar het: “Die regering moet gebruik maak van die maatskaplike netwerke en daaraan deelneem, maar nie as gelyke vennoot nie. Die regering moet, deurdat hy die kollektiewe wil van ’n nasie verteenwoordig, die leiding neem in sulke interaksies.”

Belangrike elemente in die burgerlike samelewing tree alreeds op asof Suid-Afrika nie meer ’n demokrasie is nie. Groot besighede sal honderdduisende rande bestee aan die vermaak van die regerende elite, maar weier om die opposisie te ondersteun. Die aanname van Spicer, Cooper et al. was dat die presidensie vergeldend en irrasioneel sou reageer (dit wil sê, soos ’n despotiese regering) as ENB sou voortgaan. Kommentators tree op as wakers teen ongewenste nuus – en het die regerende elite trouens meegedeel dat daar geen nodigheid is om na die pleidooie van die uitgeslotenes te luister nie. Die ironie hieraan is dat dit alles gebeur in ’n tyd waarin die ANC uiters verdeeld en swak is en nie by magte om sy hegemonie op die samelewing af te dwing nie.

En nogtans dui al die getuienis op die feit dat die regering slegs reageer wanneer dit deur die gemobiliseerde pogings van segmente van die burgerlike samelewing gekonfronteer word wat buite sy beheer val. Zachie Achmat se Treatment Action Campaign is hiervan ’n perfekte voorbeeld. Waarom dan die koorsagtige pogings deur die wakers teen ongewenste nuus? Waarom hulle teenstand teen onafhanklike en selfgeldende mobilisering wat die regering uitdaag om op te tree – iets wat die ENB-veldtog beoog het om te bereik?

Ek dink die antwoord lê daarin dat hulle glo die ruimte vir opposisie is ten strengste beperk tot die ritualistiese rol wat opposisiepartye en koerante speel. Dit is die morbiede vrese van ’n selfaangestelde elite – die besigheidsleiers wat gewaarsku het teen die plan van ENB en die kommentators wat die De la Rey-lied afgeskiet het. In wese beweer hulle dat Suid-Afrikaners te onvolwasse is om aan ’n volbloed-demokrasie deel te neem. Wat hulle egter moet weet, is dat hulle ’n selfaangestelde elite vorm wat slegs namens hulleself praat. As daar een ding is wat die wit en swart publiek gemeen het, is dit die eis dat die opposisie van ’n wanregerende en afsydige regering taai, toegewyd en moedig moet wees, en bereid om die demokratiese grense te toets.

Soos wat generaal De la Rey gedoen het.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=827
Artikel nagegaan:
    -