|
||||
Amanda du Preez
* Senior lektor in visuele kultuur, Universiteit van Pretoria en mederedakteur van South African Visual Culture (Pretoria: Van Schaik, 2004)
Op ’n keer het Pop-kunstenaar Andy Warhol opgemerk dat hy vrees hy gaan eendag in die spieël kyk en daar sal niemand wees wat terugkyk nie. Warhol het inderdaad probeer om deur sy kuns en lewe, wat meestal moeilik onderskeibaar was, gesigloosheid en identiteitloosheid tot ’n nuwe religie te verhef.
So het het Warhol die heilige van gesigloses geword wat agter die maskers van openbare roem verdwyn het. Die openbare gesigte van die Jackie Kennedy’s en die Marilyn Monroe’s het hy met meganiese reëlmaat in reekse uitgebeeld om die onmenslikheid van openbare roem te verheerlik. Warhol het daarna gestreef om die private self te negeer en geheel en al deur ’n openbare masker te vervang. Sy eksperimente met egoloosheid is opgeteken veral in sy private verhoudings, wat ten beste as eienaardig en wanaangepas beskryf kan word. Hier dink ek veral aan die enigmatiese verhouding wat hy met Edie Sedgwick gehad het en die vernietigende uitwerking wat dit op Edie se lewe gehad het. Edie was die slagoffer van ’n man wat geglo het hy het geen private self nie, maar bloot ’n openbare persona. Dit was natuurlik onmoontlik om ’n verhouding met so-iemand aan te knoop, want met wie knoop jy die verhouding aan as daar “niemand” tuis is nie? In pas met Warhol vermoed ek dat Paris Hilton wél gereeld in die spieël kyk en dat niemand terugkyk nie … behalwe moontlik ’n gesiglose handelsmerk of ’n Barbie-pop. Dit is immers wat Paris geword het, naamlik een van die magtigste handelsmerke van ons tyd. Daarom dat juffrou Hilton selfvoldaan na haarself verwys: “I am a brand, a model, an artiste, an actress, a designer” en, moet ons vinnig byvoeg, sedert die vrystelling van haar nuwe album nou ook ’n popster. Alles wat Warhol slegs kon voorspel oor die openbare persona en bloot oor roem kon droom, het Paris Hilton geword. Met sy befaamde woorde “In die toekoms sal almal vir vyftien minute beroemd wees”, berei Warhol die terrein voor vir die Paris Hilton-fenomeen. Sy is die verpersoonliking van roem, nie op grond van verdienstelikheid nie, maar bloot op grond van haar roem. Faam en beroemdheid word tans losweg gedefinieer as hoedanigheid van diegene wat beroemd is bloot omdat hulle beroemd is. Die Amerikaanse historikus Daniel Boorstin merk op: “’n Teken van sterstatus (celebrity) is dikwels dat iemand se naam meer as sy dienste werd is”. Roem het dus verskuif vanaf die klassieke ideaal waar dit op die held se dade (praxis) gebaseer is, na roem wat op sigself inkeer en slegs na ditself verwys (argetipe/imago). Iemand word tans beroemd omdat hy of sy beroemd is. Roem is toegesluit in ’n selfverwysende kringloop. Paris Hilton as ’n roemryke fenomeen pas perfek in hierdie kringloop, want as ons sou vra waarom sy beroemd is, is die antwoord eenvoudig omdat sy beroemd is. Hilton het haar roem dus met geen verdienstelike dade of noemenswaardige talente verwerf nie. Sy is nie soos die helde van ouds getoets of gelouter nie. Soos Boorstin dit stel: “Bekende-verering en heldeverering moenie met mekaar verwar word nie. Tog verwar ons hulle daagliks en daardeur kom ons gevaarlik naby daaraan om onsself van alle werklike modelle te ontneem. Ons verloor sig van die mans en vroue wat nie bloot groot lyk omdat hulle beroemd is nie, maar beroemd is omdat hulle groot is. Ons kom al hoe nader daaraan om alle roem tot berugtheid te degradeer.” Die somtotaal van Paris se bydrae tot haar faam is dat sy skatryk gebore is en dat sy die leë spel van roem verstaan het, wat moontlik as ’n briljante stuk opportunisme vertolk kan word. Paris Hilton se naam is ’n duidelike aanduider: sy is vernoem na ’n Hilton-hotel in Parys. Sy is nie Sofia (wysheid) of Irene (vrede) genoem nie, maar vernoem na ’n hotel in die Hilton-empire. Paris het egter gekapitaliseer op die feit dat roem tans slegs op beelde steun. Daar hoef geen betekenis buite-om die openbare beeld te wees nie. So het Paris die godin van selfverwysende roem geword, roem gegrond op roem, openbare beeld wat na openbare beeld verwys in ’n eindelose kring van vervlakking. Paris se openbare beeld gooi geen skaduwee meer nie; inteendeel, soos vroeër gesuggereer, is geen “egte” spieëlbeeld meer moontlik nie, want wat gebeur as een spieël in ’n ander spieël kyk? Vergelyk ’n mens Paris Hilton as gesiglose handelsmerk met ’n ander roemryke fenomeen, naamlik Marilyn Monroe, kom die verskil tussen die openbare en die private persona moontlik die sterkste na vore. Alhoewel ewe beroemd, kan Marilyn moeilik as ’n blote voorloper van Paris Hilton vertolk word. In Monroe kry ons die inkarnaat van die pynlike stryd tussen die private en die openbare sfere. Aan die einde het Monroe se private self geswig voor die oorweldigende aanspraak van die openbare persona. Die private Marilyn is verswelg deur die verwagtinge wat deur die openbare beeld geskep is: “’n Sekssimbool word ’n ding. Ek haat dit om ’n ding te wees.” In Marilyn se geval het haar private gesig nie volkome verdwyn agter die openbare masker nie. Inteendeel, my vermoede is dat wanneer Marilyn in die spieël gekyk het, sy begroet is deur ’n gefolterde gesig in skadu’s gehul. John Updike beskryf dié brose verskynsel: “Bekendheid is ’n masker wat in die gesig invreet. Sodra ’n mens bewus is daarvan dat jy ‘iemand’ is waarna met ekstra belangstelling gekyk en geluister moet word, staak inset (input) en word die speler (performer) blind en doof in sy ooranimasie. ’n Mens kan óf sien, óf gesien word.” In Marilyn se geval wil dit voorkom of sy nie die onmag waarin haar private self gedompel is, kon hanteer nie. Anders as in die geval van Paris Hilton was roem vir haar ondraaglik: “Roem is wispelturig. Dit het sy kompensasie, maar dit het ook sy skadukant, en ek het albei beleef.” Marilyn het té swaar aan haar openbare beeld gedra en wou skynbaar eerder verdwyn as om aanhoudend te verskyn. Monroe druk haarself dan ook by vele geleenthede uit teenoor die verontmenslikende aard van roem. Sy het ook die leë beelde waarop die stelsel van roem gebou word, verstaan, asook die wyse waarop dit die private self van die openbare self wegskeur in ’n skisofreniese waan: “Dit hits afguns aan, dis wat roem doen. Mense voel roem gee aan hulle die een of ander reg om na jou te stap en enigiets vir jou te sê, dat dit nie jou gevoelens sal seermaak nie, asof dit met jou klere gebeur.” Dit wil dus voorkom dat waar Andy Warhol die gesigloosheid van roem in estetiese terme wou uitdruk, Monroe daarenteen vernietig is deur die aansprake van gesigloosheid … terwyl Paris Hilton soos ’n vis in die water van die gesiglose eter swem.
|