|
|||
Herman van Niekerk
Ons spring dié jaar weg met onder meer inligting vir Pase en die doodherdenkings van Grieg en Sibelius – onderskeidelik 100 en 50 jaar gelede – waaraan ons die hele jaar sal herkou.
Pase Die belangrikste herdenking in die Christelike geloof – naamlik die opstanding van Christus - vind vanjaar op Sondag, 8 April 2007 plaas. (Paassondae is jaarliks die eerste Sondag na die eerste herfs-volmaan vir die Christendom in die Weste - dit word weer op 23 Maart in 2008 herdenk. Vir Christene in die Ooste is Pase jaarliks tussen April tot vroeg in Mei.) Verskeie komponiste het musiek vir Pase gekomponeer. Dis nou die geleentheid om na musiek vir die Pase te luister en klankopnames aan te skaf – maar die beste is om ’n Paasuitvoering by te woon. Ons maak ’n paar voorstelle:
Opnames vir die Pase
Bach: Johannes Passie en Mis in B-mineur; Paas Oratorium en die Hemelvaart Oratorium deur David Evan Thomas. David Thomas (bas), Peter Kooy, Simon Grant en Stephen Charlesworth (2002)
Johann Pachelbel: Paas Kantates van Pachelbel, Wilson Capella Ducale en Musica Fiata (2004). Uitvoerings vir die Pase Om die kruisiging en opstanding van Christus te gedenk, is daar ’n uitvoering van JS Bach se Johannes Passie op Goeie Vrydag, 6 April 2007 om 18:00 in die Linder-ouditorium in Parktown, Johannesburg. Richard Cock dirigeer die Johannesburgse Feesorkes en Simfoniekoor. Die soliste is Marion Roberts, Tina Tsupane, Nicholas Nicolaidis (Evangelis), Lionel Mkhwanazi, André Howard en Hendré van Zyl (Jesus). Kaartjies is beskikbaar by Computicket. As deel van die Vastyd (Lent) in aanloop tot Pase, is daar ’n uitvoering van Stations of the Cross op Vrydag 16 Maart om 18:00 in die Holy Trinity-kerk op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand waar Korale uitgevoer sal word deur die Chanticleer Sangers en orrelvoorspele van koraalpreludes uit die Orgelbüchlein. Die orrelis is Cameron Upchurch. Op Maandag 19 Maart om 19:30 is daar ’n uitvoering van Bach se Magnificat in die Holy Trinity-kerk, deur die Chanticleer Sangers en die Johannesburgse Feesorkes. Die ander deel van die program is Bach se Fluit Suite in B-mineur met Helen Vosloo die solis. Besprekings vir laasgenoemde twee uitvoerings kan gedoen word by die kantoor van Apollo Musiek 011-4479264.
Die dryfveer agter hierdie aanbiedings is die Apollo-musiektrust se Richard Cock.
Edvard Grieg (1843-1907) Edvard Grieg se dood ’n 100 jaar gelede, word vanjaar wêreldwyd herdenk. Uitgebreide feesvieringe vind in sy geboorteland, Noorweë, plaas. In die amptelike hoofprogram van die fees word Grieg vereer as humanis, komponis en as “sampler”. Die Grieg-fees in Noorweë het amptelike afgeskop op Saterdag, 27 Januarie 2007 met ’n uitvoering in Tromsø tydens die jaarlikse Noorderligfees - wat ook deur die Koningin van Noorweë, koningin Sonja, bygewoon was. Dié weeklange Noorderligfees is afgesluit met Grieg se Klavierkonsert in A-mineur. Die kunstenaars was die Simfonieorkeste van Kristiansand en Tromsø. Die dirigent was Rolf Gupta en die pianis, Sigurd Slåttebrekk. Om verder luister aan die Grieg-feesvierings te verleen, vind ’n konferensie met die titel, Musiek en Identiteit gedurende September plaas by die Universiteit van Bergen. Die hoofgedagte word inter-dissiplinêr uitgebou rondom die tema van “musiek as ’n instrument in die ontwikkeling van identiteit van die individue, groepe en volkere.”
Jean Sibelius (1865-1957) Vanjaar is ook die herdenking van Jean Sibelius se dood 50 jaar gelede – iets meer oor sy jeugjare: Sibelius is in Finland gebore in die tyd toe die land nog deel was van die Russiese Ryk. Sy pa was ’n mediese dokter en sy ma se nooiensvan was Borg. Sy ouers het besluit om hom die noemnaam, Janne, te gee. Jean (Janne) het later jare die gewoonte gehad (tot vele se ergenis) om met sy naam se spelling te speel, en so het die naam Jean eindelik sy bekende gevestigde naam geword. Maar sy doopname is Johan Christian Julius Sibelius! Sy pa se dood in 1868 het die familie pennieloos gelaat en die familie het intrek geneem by sy ouma Borg. Sy vertel dat Janne se verbeelding gereeld met hom op loop gegaan het en is hy op skool beskryf as ’n “leerling afwesig van gees wat verkies om musieknote in die kantlyne van sy oefeningboeke te skryf”. Andersins word hy ook beskryf as ’n boekwurm en ’n groot aanhanger van die digter, Johan Ludvig Runeberg (1804-1877). Sibelius se respek vir Runeberg was só groot dat hy glo dat Runeberg se gees oor en in hom gespoel tydens die eerste besoek aan sy graf… (word vervolg)
Om u Sibelius-versameling hierdie jaar aan te vul kan u gerus begin by Serious SIBELIUS (uitgereik deur BIS: BISCD1485). Hierdie opnames is gemaak deur die Lahti Simfonieorkes met Osmo Vänskä as dirigent. Daar is onder meer ’n wêreldpremière-opname van sy begrafnismusiek vir groot orkes getiteld: In memorium, Two Serious Melodies vir tjello en orkes en Sibelius se Presto vir strykers. Die CD kan direk bestel word by die invoerders: Amaranth Digital, Posbus 827, Howard Place, Pinelands 7450. [email protected] of skakel 012-4528715 en 021-9131072. www.amaranthdigital.com
Die laaste note…
· Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers hou hul konferensie vanjaar by die Musiekdepartement van Rhodes-universiteit in Grahamstad vanaf 2 tot 4 April. Die tema van die konferensie is Improvisation Re-visited. Navrae oor die konferensie kan gerig word aan: Tim Radloff, Departement van Musiek, Rhodes-universiteit, Posbus 94, Grahamstad 6140. ([email protected]). · Die besprekings het reeds geopen vir die langverwagte Towerfluit van Mozart soos aangebied deur William Kentridge. Dit vind plaas in Kaapstad vanaf 8-19 September en in Johannesburg vanaf 29 September tot 21 Oktober 2007. Besprekings by Computicket en meer inligting beskikbaar by www.magicflute.co.za.
Inligting vir hierdie rubriek word hoofsaaklik voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasiesentrum van Suider-Afrika). Die samesteller is Herman van Niekerk – [email protected] en Posbus 1010, Aucklandpark, 2006, SUID-AFRIKA. Die hoofdoel van die krubriek is om musiekinligting te kommunikeer wat nie noodwendig algemeen en gereeld ons (oor-)drempels bereik nie – of waaraan mens nie aldag blootgestel word nie. Die doel van die inhoud is hoofsaaklik inligtinggewend, soms aanbevelend en partykeer vertolkend. Ons wil veral fokus op nuwe en moontlik minder toeganklike musiekinligting. |