|
||||
Shiloh Noone
*Rock-historikus en skrywer van die rock-ensiklopedie Seeker’s Guide to the Rhythms of Yesteryear, [email protected]
Die tweedrag en verlies van die Amerikaanse Burgeroorlog (1861 – 1865) het sy smeulende woede geslag na geslag sonder vergiffenis of versoening volgehou. Selfs die twee wêreloorloë, die Koreaanse konflik, die Koue Oorlog en Viëtnam het min eensgesindheid en standvastigheid aangewakker by ’n geslag Suiderlinge wat vasgehou het aan die wit ster op blou-en-rooi. Teen die middel 1960’s het van daardie rateltaaie Suidelike pit na die oppervlak begin kom met ’n reeks pistooldraende rock-families, by name Marshall Tucker Band met “Never Trust A Stranger”, Allman Brothers Band met “It’s Not My Cross To Bear” en Lynyrd Skynyrd met “Sweet Home Alabama”: “I Hope Mr Young will remember there are good people in Alabama”. Die Suide had min hoop om terug te trek van sy geselpaalverlede, terwyl die Noorde gewis die pap van sy Suidelike slawemeesters geskep het. Nietemin het daardie breëbors Stetson-cowboys dapper, hardekwas en sonder verskoning vir hulle suikerrietverlede teen alles in gestaan. Heelwat van daardie Ariese lering, ingegee deur ’n legalistiese Christelike benadering, het sy duiwelse gees laat vloei deur die are van die Suidelike hippies, by name die vioolspeler Charlie E. Daniels, ’n bebaarde rooinek wat jy nogal in jou plaaslike kroeg sal mis. Charlie het sy loopbaan in 1956 begin met ’n bluegrass-orkes genaamd The Misty Mountain Boys tot met sy vestiging in die Jaguars, ’n soort jazzerige Louis Prima-skoffel wat gesis het deur snitte soos Brecht & Weil se “Mack the Knife”, en oplaas punte behaal met the instrumentele nommer “Jaguar”. Teen 1964 het Charlie ’n meneer van ’n viool gespeel en sy liedjiesmidtalente het die kruin bereik, by name met die skryf van 1964 se “It Hurts Me”, wat Elvis & the Jordanaires opgeneem het. ’n Groot blues-kitaarspeler van die Dale Hawkins Band genaamd Roy Buchanan het etlike opnamesessies gemaak saam met Charlie Daniels, spesifiek op ’n tentatiewe album getiteld The Prophet, wat aan die spits gestaan het van Leonard Cohen se “The Story of Isaac” en die somber “Black Autumn”, ’n lick later bekend as “The Messiah Will Come Again”. Charlie het ook opgeneem op Dylan se country-geskakeerde Nashville Skyline, New Morning en Self Portrait vanaf 1969. (Charlie se wenviool het grieselrig gesny deur Dylan se “Lay Lady Lay” saam met Peter Drake.) Charlie se buitedorpse sessies was volop, maar het oënskynlik onopgemerk geblyk, op dieselfde manier as die violis Dave Bromberg. Gedurende die veranderinge van 1969 vervaardig Charlie Daniels The Youngbloods se Elephant Mountain en hulle lewende Ride the Wind. (Dit was Kaleidoscope se David Lindley wat die viool bespeel het op hulle seminale “Darkness, Darkness”, ofskoon Charlie anoniem gehelp het.) Nou baie gesog, het Charlie as ateljeemusikant opgetree vir Ringo Starr, Marty Robbins, Al Kooper se We Stand Alone en Leonard Cohen se Live Songs.
Die Suide sal weer opstaan
Teen 1970 het Charlie gestaan vir totale Amerikaanse wit opperheerskappy met volkome lojaliteit en anti-Kommunisme op sy solowerk, Charlie Daniels. Die nuutgevormde Charlie Daniels Band het toe aangesluit by Kama Sutra Records en The John, Grease and Wolfman, vernoem na groeplede, opgeneem. Daarna het die Charlie Daniels Band hulle 1972-album Honey in the Rock vrygestel, wat die treffer “Uneasy Rider” ingesluit het, ’n bluegrass-prater waarin hy sy anti-Kommie-sentimente uitgespel het. Dieselfde het met sy anti-gay-sentimente gebeur op sy “Uneasy Rider 88”. Jip, dit was Charlie getrou aan sy geloof en Suidelike-styl-in-jou-gesig op 1974 se boogie-rige “The South’s Gonna Do It Again”, wat sy epiese Way Down Yonder gesout het, later weer vrygestel in 1977 as Fire on the Mountain. Charlie het dit alles gesê op sy lojalistiese “In America”:
Well the eagle’s been flyin’ slow And the flag’s been flyin’ low And a lotta people sayin’ that America’s fixin’ to fall Well speakin’ just for me And some people from Tennessee We’ve got a thing or two to tell you all This lady may have stumbled But she ain’t never failed And if the Russians don’t believe that They can all go straight to hell
Teen 1976 het Charlie sy steun gegee aan die grondboontjieboer- presidentskandidaat, Jimmy Carter, en albums vrygestel soos High Lonesome en die Duane Allman-opdrag Midnight Wind waarmee hy gesny het deur ’n uitstaande weergawe van Clapton se “Layla”. The Charlie Daniels Band het daarna verskyn op die klankbaan van Urban Cowboy en ook uitgevaar teen die Iranese gyselaarneming van Amerikaners: “Damn we’re America man, how dare they do that …” Langs die kant het Charlie die tradisie ook sterk gehou met “The Legend of Wooley Swamp”, ’n liedjie wat hy geskryf het toe hy tien was. Daardie “ware en trotse” Ariese karakter het weerklink in sy kopknik aan Viëtnam-veterane op ’n weergawe van Dan Daley se “Still in Saigon”, in antwoord op Billy Joel se “Goodbye Saigon”. Charlie het Frederick Douglas se woorde vergeet: “Once let the black man get upon his person the brass letters, U.S., let him get an eagle on his button, and a musket on his shoulder and bullets in his pockets, and there is no power on earth which can deny that he has earned the right to citizenship in the United States.” Die jaar 1979 het oopgegaan vir Charlie danksy sy swaaiende vioolgeveg tussen ’n plaasseun en Lucifer op die epiese “The Devil Went Down To Georgia”, wat miljoene se verbeelding aangegryp het. Maar hierdie keer is die duiwel geklop en gedwing om daardie goue boog neer te lê. Laat in 1979 het “The Devil Went Down To Georgia” die treffersparades betree. Dit het uiteindelik goue status bereik, wat gelei het tot dubbele platinumstatus vir die album Million Mile Reflections – dié het nie net ’n Grammy-toekenning verower nie, maar ook trofeë vir treffer, groep en instrumentalis van die jaar. Die Duiwel het hom na kaarte gewend op Chris De Burgh se Spanish Train, en dié keer die tafel skoongemaak. Daardie selfde jaar het die groep ook Reflections vrygestel, ’n huldeblyk aan Janis Joplin, Elvis, en Duane Allman (waar hy Ronnie Van Zant hoor sing het van die “Free Bird” wat geval het). Jare later het Charlie se deur Tony Joe White beïnvloede “Simple Man” ’n pseudo-Bybelse vigilantisme voorgestaan soos in “Just take them [rapists, killers, child abusers] out in the swamp / Put 'em on their knees and tie 'em to a stump / Let the rattlers and the bugs and the alligators do the rest,” – vanselfsprekend het dié hom heelwat aandag van die media op die hals gehaal. Dit het nie saak gemaak of Charlie links of regs was nie. Wat saak gemaak het, was dat hy eerlik was en dit “vir die mense” gedoen het. Hy het die boer, die werker, die neergeslane verstaan, en ’n stem aan dié in die stryd gegee. Hy het nooit die waarde van eenvoud uit die oog verloor nie, en sy ballades het daardie Carolina-sonsondergange weerspieël wat hy met digterlike heldersiendheid weergee. Charlie het uiteindelik ’n wedergebore Christen geword en met ’n ander snykant geëvangeliseer. President Gerald Ford het gesê: “Vir bykans vyf dekades het hy van kus na kus deur hierdie land gereis en gesing oor die dinge wat vir die Amerikaanse volk belangrik is. Vanaand word die Akademie van Country-musiek se Pionierstoekenning oorhandig aan ’n buitengewoon talentvolle, erbarmingsvolle en trotse Amerikaner – en ’n goed tot gemiddelde gholfspeler ook!” |