blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


“Eerbare optrede in eerlose omstandighede” 2007-02-15
Vasti Roodt

*Lektor in filosofie, Universiteit van Stellenbosch

 

Gesprek sonder grense. Huldigingsbundel ter ere van Johan Degenaar. Saamgestel Deur Dirk Hertzog, Etienne Britz, Alastair Henderson. Stellenbosch: H&B Uitgewers, 2007.

“’n Profeet is nie in sy eie land geëerd nie”. Hierdie is die openingswoorde van die versamelbundel ter herdenking van die Stellenbosse filosoof, Johan Degenaar, se tagtigste verjaarsdag. Die doel van hierdie bundel, so lui die inleiding, is dan juis om die aangehaalde spreekwoord verkeerd te bewys.

 

Die versameling persoonlike herinneringe, gedigte, aforistiese oordenkings, akademiese opstelle, prosastukke en koerantartikels wat die boek uitmaak, kan dan juis gelees word as illustrasie van die mate waarin Degenaar as mens en denker wél in sy tyd gewaardeer is en steeds gewaardeer word. 

Niemand wat in die afgelope vyf dekades filosofie aan Stellenbosch gestudeer het, kon onbewus wees van die figuur van Johan Degenaar nie. Selfs lank na sy aftrede in 1991 bly hy steeds ’n eksponent van die Sokratiese ingesteldheid vir nuwe generasies dosente en studente. Die stukke in die bundel getuig egter ook van sy invloed op mense van buite die Universiteit − akademici van ander instellings, maar ook skrywers, digters, teoloë en joernaliste.

Die bundel bestaan uit 38 bydraes van wisselende aard en lengte. Die wye verskeidenheid bydraes getuig in die eerste plek van Degenaar se verbintenis tot “die oop gesprek”. Laasgenoemde is die titel van ’n 1966-opstel deur Degenaar, wat uiteindelik as inspirasie dien vir die uiteenlopende bydraes in die bundel. Die opstel deur Nico Smith bied een van die meer uitvoerige analises van die aard van so ’n gesprek. Smith identifiseer die aanloop tot hierdie soort gesprek met die vraag wat juis sy eie eerste ontmoeting met Degenaar ingelei het, naamlik “Wat bedoel jy as jy sê…?” Hierdie is ook die vraag wat Sokrates aan sy medeburgers gevra het in ’n poging om hulle te help om, eerstens, hul eie opinies te verstaan en, tweedens, daardie opinies krities in oënskou te neem. Wat Sokrates en Degenaar verder gemeen het, is die oortuiging dat insig in en kritiese omgang met ’n mens se eie oortuigings slegs moontlik is in onbevange gesprek met ander, veral in soverre hulle ook anders dink as jyself.

’n Aantal van die bydraes in die bundel lê veral klem op die waarde van die gereelde gespreksgroep by die Degenaars aan huis, wat oor die jare soveel mense van verskillende agtergronde en oortuigings byeengebring het in so ’n onbegrensde gesprek. Die “Degenaar-magie” wat die gespreksgroep saamgebind het, so skryf Etienne Britz, “het onder meer daaruit bestaan dat hy oënskynlik maklik was om te beïndruk, maar buitengewoon moeilik om volledig te oortuig” (p. 43).

Naas die impak wat Degenaar se verbintenis tot vraagstelling en oop gesprek gehad het op die deelnemers aan die gesprek het hierdie lewenshouding ook sy eie akademiese loopbaan en politieke uitkyk grondig beïnvloed. Sy jare as dosent en later hoogleraar aan Stellenbosch − 1948-1991 − val saam met die opkoms, bloeitydperk en taning van apartheid. Dit is dan ook onvermydelik dat hy as onbevange vraesteller en gesprekvoerder in botsing sou kom met die predikers en navolgers van die apartheidsideologie. In soverre hierdie ideologie ook deur verskeie gesagsfigure aan die universiteit ondersteun is, het Degenaar homself die kritiek en aktiewe teenkanting van die akademiese en politieke establishment op die hals gehaal.

Een van die berugte oorde van kritiek was vanuit die NG Kerk, via die Kweekskool. Dit is teen die agtergrond van hierdie kritiek dat die berugte splitsing van die Departement Filosofie in twee departemente − Filosofie en Staatsfilosofie − gebeur het, met Degenaar as hoof van laasgenoemde eenmandepartement. Hierdie skuif was ’n poging om Admissie-studente te beveilig teen die invloed van Degenaar se ongemaklike vraestelling. Sodanig, soos André du Toit in sy bydrae aantoon, was die universiteit se hantering van Degenaar niks minder nie as onderdanigheid aan die blatante inmenging van die NG Kerk − en die verskanste politieke ideologie wat deur die kerk gepredik is − in die akademiese vryheid van die universiteit.

Ironies genoeg het die doelbewuste poging om Degenaar tot die politiek as spesialisterrein te beperk die gevolg gehad dat dit ’n politieke bewussyn by hom help aanwakker het. In die jare na 1958, toe hy beperk is tot Staatsfilosofie, het Degenaar hom geleidelik tot ’n kritiese bevraagtekening van die politieke orde gewend. ’n Aantal van die bydraes in die boek bespreek sy politieke denke − veral sy hantering van gedagtes soos pluralisme, liberalisme, sekularisasie, demokrasie en sy kritiek op nasionalisme − in meer of mindere detail (bv. André du Toit: “Sokratiese vryheid aan ’n volksuniversiteit”; Andrew Nash: “Power and ethics in a global age. A reflection on our debt to Johan Degenaar”).

Dit is egter Kosie Abrahams se persoonlike verhaal van sy eerste bywoning van die kongres van die Wysgerige Vereniging van Suid-Afrika op Stellenbosch wat Degenaar se politieke ingesteldheid die beste tuisbring. Abrahams vertel van sy huiwering as swart persoon om die kongres, wat allerweë ’n wit aangeleentheid was, by te woon. Met Degenaar se aanmoediging het hy egter wel deelgeneem, en homself uiteindelik, heel teësinnig, in die voorportaal van ’n plaaslike hotel bevind waar die kongresdinee sou plaasvind. Terwyl die wit ontvangspersoon hom vir ’n bode aansien en verneem wat hy wil kom aflewer, antwoord Degenaar: “Net soos al die ander van ons, kom lewer, luister en bespreek hy referate en eet ons almal saam. As hý nie hier mag eet nie, mag niemand van ons nie” (p. 6). Die uiteinde van hierdie konfrontasie was dat die ete wel voortgegaan het, in ’n hotel “slegs vir blankes” in die hart van Stellenbosch in 1975. Abrahams se verhaal maak duidelik hoe Degenaar se politieke denke onlosmaaklik verbind was aan sy lewenspraktyk; hoe sy houding voortgevloei het vanuit ’n outentieke Sokratiese ingesteldheid. Meer nog: die verhaal illustreer ’n spesifieke vorm van politieke verset wat nie met fanfare of selfgenoegsaamheid gevoer is nie, maar wat bloot bestaan het uit volgehoue eerbare optrede in eerlose omstandighede.

Benewens die politieke dimensie van Degenaar se nalatenskap is daar ’n hele aantal bydraes tot die bundel wat fokus op sy verruklike omgang met verhale, sprokies en films. So byvoorbeeld herroep Kerneels Breytenbach die legendariese analise van The Unbearable Lightness of Being, wat einde 1988 in Die Burger verskyn het. Hierin kan ’n mens reeds verskeie van die temas identifiseer wat in later jare telkemale opduik in Degenaar se openbare rolprentanalises op Stellenbosch: die meerduidige taal van beelde; die liggaam − in hierdie geval die liggame van Sabina, Tomas en Tereza − as teks; die rol van die onderbewussyn in menseverhoudinge; die ontginning van die konkrete en partikuliere ten einde ook iets meer te laat sien oor die grotere bewegings van kultuur en politiek wat daarin vergestalt word.

Ander bydraes is self oefeninge in die interpretasie van verhale of films, met eksplisiete erkenning aan Degenaar se invloed. Een van die bydraes in hierdie verband is Murray Hofmeyr se “Verhale uit Soutpansberg”, waarin hy met verwysing na Degenaar se spesiale manier van luister na stories die mondelinge verhaaltradisie van die Venda ondersoek. Hofmeyr bespreek die ngano-verhale wat deur vroue vertel word, en wys hoe hierdie hartseer, mitologiese verhale ook gelees kan word as ’n vorm van verset teen ’n patriargale bestel, en meer nog, as ’n manier om te besin oor die geskiedenis en oor die mate waarin die alledaagse bestaan tekortskiet.

’n Tweede bydrae in dieselfde gees is Paul Cilliers se analise van Wim Wenders se film, Wings of Desire. Die analise fokus op die hoofkarakter, die engel Damien, se keuse vir liefde, menslikheid en dus ook sterflikheid, waarmee hy noodgedwonge sy goddelikheid, alwetendheid en onsterflikheid prysgee. Vir Cilliers is dit juis hierdie keuse vir die menslike, aardse, kontingente werklikheid wat die lewe en denke van Johan Degenaar informeer: “Vir hom was filosofie as besinning oor die lewe nooit ’n vlug in die abstrakte nie, dit was ’n verbintenis tot ’n deurleefde werklikheid” (p. 53).

Verder is daar ook ’n aantal meer intiem persoonlike bydraes in die bundel. So byvoorbeeld skryf André Brink ’n “ketterse brief aan Johan”, waarin hy aan hom die rol toedig van daardie “vuurtorings wat die mens op sy lang en soms droewige pad deur die donker op koers gehou en nuwe rigtings aangedui het” (p. 36). Verskeie bydraers bied dan ook persoonlike verhale van die wyse waarop hul ontmoeting met Degenaar die rigtings wat hul eie lewens ingeslaan het, ten diepste beïnvloed het.

Benewens hierdie vertellings spreek George Louw, Fanie Olivier, Wilhelm Jordaan, Johann Rossouw en Lina Spies Degenaar direk aan in fragmente of gedigte, terwyl daar ook gedigte van Hans Enzenberger, Antjie Krog en M.M. Walters in die bundel opgeneem is.

Naas die opstelle wat fokus op Degenaar se filosofiese en politieke nalatenskap en persoonlike herinneringe en bydraes wat op temas voortborduur wat Degenaar self na aan die hart gelê het, bevat die boek ’n aantal formele, akademiese artikels wat in die meeste gevalle reeds elders verskyn het. Alhoewel sommige van die artikels wel na Degenaar verwys, is ’n aantal net so oorgeneem uit hul oorspronklike bronne sonder om die verbintenis tussen outeur en Degenaar − of dan die relevansie van juis hierdie artikel vir ’n bundel opgedra aan Degenaar − duidelik te maak. Hierdie inligting, asook biografiese inligting omtrent die samestellers en bydraers, sou veel kon doen om ’n meer betekenisvolle leeservaring te bewerkstellig.

Hierdie kritiese opmerking ten spyt, bied Gesprek Sonder Grense steeds ’n waardevolle blik op die lewe en denke van ’n merkwaardige mens wat ’n enorme invloed gehad het op meer as een generasie Suid-Afrikaners. Uiteindelik moet ’n mens ook onthou dat die bundel opstelle nie in die eerste plek oor Johan Degenaar handel nie, maar juis vir hom geskryf is. Die leser sou dus moet aanvaar dat, waar sommige verbindings tussen opstelle en die persoon wat daarmee gehuldig word nie onmiddellik duidelik is nie, Degenaar self wel daardie verbindings sal raaksien en die bydraes om daardie rede waardeer.

Ten slotte sou daar gesê kon word dat die beeld van Degenaar as denker en as mens wat in hierdie boek uitgebeeld word, nie soseer dié is van ’n profeet op soek na eer nie, maar eerder van ’n soort anti-profeet − iemand wat juis nie ’n finale boodskap het om te predik nie, maar wat as onblusbare vraesteller dwarsdeur sy lewe ander aangespoor het, en steeds aanspoor, om vir hulleself te dink. So verwys Andrew Nash juis na “the liberating character of his influence, which enabled those who fell under it to follow their own, often disparate paths” (p. 225).

As die filosofie ’n reis is, ’n soeke na wysheid eerder as die besit daarvan, dan bied Gesprek Sonder Grense ’n blik op die uiteenlopende gedagtereise wat voortgevloei het uit ’n verskeidenheid ontmoetings met Johan Degenaar. In hierdie opsig is die bundel ’n gepaste huldiging ter viering van sy tagtigste jaar.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=822
Artikel nagegaan:
    -