blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die “Nuwe Hervorming”: Voorwaarts na die verlede! 2007-02-15
Auke Compaan

*Predikant, NG-gemeente Sonstraal, Durbanville, Wes-Kaap

In sy grootliks geïgnoreerde boek, Dooploopstrate van die geloof (Stellenbosch: African SUN media, 2006, 110 bladsye) maak Jaap Durand erns met die groeiende twyfel onder mense binne én buite die kerk oor die kerk se vermoë om bevredigend op die intellektuele twyfelvrae van die moderne mens te reageer. Dit is op dié kritiek, hierdie vrae, maar ook die (dikwels) kritieklose voorveronderstellings van die kritici dat Durand homself toespits.

 

Dit is so dat vele predikante, pastore en ander kerkleiers se enigste antwoord op die gesagskrisis wat kerke beleef, meestal is om groot megakerke in die VSA te besoek en op ’n pragmatiese wyse programme wat sogenaamd “suksesvol” is, in te voer en hulleself origens met ligte liturgiese eksperimentering besig te hou. In die lig hiervan is hierdie boek ’n wonderlike bydrae om denkende mense te help om die kritiek teen die kerk en die veranderings in die kerk binne ’n breër moderne en premoderne kulturele raamwerk te verstaan.

 

Induktief en kreatief

 

Een van die groot bydraes van die boek lê dan in die induktiewe benadering wat Durand volg. Hy is nie besig om op ’n abstrakte, deduktiewe wyse een of twee dogmas te kies van waaruit hy met sy lesers in gesprek tree nie. Hy volg duidelik nie ’n afwaartse benadering nie, maar konstrueer die kritiek konkreet vanuit veral twee bronne. Hy vind sy toegang tot die meer populêre, intellektuele reaksie op die verbrokkeling van die gevestigde en bekende teologiese wêreld van gewone Afrikaners in die onstuimige debat wat op Litnet gevoer en in die boek, Die omstrede God (p.10), gepubliseer is. Hierin word kernleerstukke van die Christelike geloof nie alleen bevraagteken nie, maar selfs belaglik gemaak. Tweedens spits hy hom toe op die Nuwe Hervorming (pp.13-22) wat deur ’n groep teoloë en Bybelwetenskaplikes gelei word.

Met die eerste oogopslag wil dit lyk of die twee breë reaksies niks met mekaar te make het nie. Die een groep, oorwegend jonk, hulle kritiek intuïtief, emosioneel, onaf, gefragmenteerd, herhalend en neerhalend, selfs oppervlakkig; die ander groep ouer, teologies onderlê en hulle kritiek deurdag, gesistematiseerd en teologies beredeneerd. Op ’n kreatiewe en meelewende, maar ook saaklike wyse bring Durand die twee groepe met mekaar in verband en toon oortuigend aan dat beide groepe deur die verstaanshorison en die geslote wêreldbeeld van die modernisme onderlê word. Wie die boek fyn lees, sal ontdek dat presies dieselfde Christelike leerstukke, by name die historiese openbaring van God in Christus, die idee van ’n persoonlike God en daarmee saam die soteriologie (verlossingsleer) en Christologie basies al die leerstukke van die Apostoliese Geloofsbelydenis by albei groepe in die spel is. In sy bekendstelling van die Nuwe Hervorming vra Durand tereg of die weg wat die Nuwe Hervorming bewandel, enersyds die naam “nuwe hervorming” regverdig en, andersyds, of hulle nuwe hoop en ’n tuiste kan bied vir die geestelik ontheemdes wat in die kerk ontnugter is (p.23). Die slotsom waartoe hy uiteindelik kom, is negatief.

 

Opkoms van ’n geslote wêreldbeeld

 

Om sy standpunt tuis te bring, vertel Durand die geskiedenis van die modernisme en die sogenaamde postmodernisme op bedrieglik eenvoudige wyse (pp.25-37, 47-64, 65-75). Hy neem sy lesers op ’n reis vanaf die laat-Middeleeuse rasionalisme (12de eeu) met die vroeë skeiding tussen natuur en genade, tussen die natuurlike en die bo-natuurlike, tussen rede en geloof, asook die opkoms van ’n nuwe wetenskapsideaal by Oxford in die 16de eeu, wat sou uitloop op die Verligtingsideaal van die 18de eeu, wat die menslike rede as die enigste bron van waarheid wou bevestig. Die 19de eeu was volgens Durand bloot die afronding van hierdie wêreldbeeld waarin die natuurwetenskaplike metode en begripapparaat finaal tot die enigste kriteria vir waarheid verhef is. Uit die vertel van die verhaal word dit duidelik dat die verstaanshorison van die modernisme op ’n wetenskaplike rasionaliteit en ’n geslote wêreldbeeld berus wat oënskynlik geen ruimte laat vir enige vorm van transendensie, van iets wat ons te buite gaan nie.

 

Afwys van die modernisme

 

In sy ontleding van die Nuwe Hervorming maak Durand ’n goeie saak daarvoor uit dat dié beweging die uitkomste van die modernisme volledig aanvaar en met ’n geslote wêreldbeeld werk (p.34). Wat strydig is met die natuurwetenskaplik gestempelde wêreld, is volgens die Nuwe Hervorming onaanvaarbaar as bousteen vir religie en spiritualiteit. Dogmas soos die maagdelike geboorte, die historiese Jesus, die opstanding, ensovoorts, is gewoon onwaar en die Bybelse boodskap moet vir die moderne wêreld hervertolk word (p.39-46).

Uit Durand se navorsing word dit duidelik dat die Nuwe Hervormers hulleself nie as moderniste wil verstaan nie. Die moderne wêreldbeeld het ’n donker kant wat hulle ten sterkste afwys. Die rasionaliteit van die modernisme maak aanspraak op universele geldigheid, dit wil sê, dat die wetenskaplike wêreldbeeld van die moderne mens vir alle mense te alle tye geldig moet wees. Met hierdie moment van die moderne wêreldbeskouing wil die Nuwe Hervorming breek en hulle eerder deur die beginsel van relatiwiteit wat kenmerkend is van die post-modernisme laat begelei (pp.39-45). Daar moet aanvaar word dat waarheid relatief is tot maatskaplik-kulturele sisteme en dat dit wat in een sisteem as werklikheid ervaar word, nie as waar of werklik vir alle ander sisteme geld nie. Kontingensie, partikulariteit, diskontinuïteit en diversiteit is vir Nuwe Hervormers ’n gegewe en kan nie deur die rasionele strewe na universaliteit uitgewis word nie. Die voorlopigheid van kennis en die verskille tussen kulture en mense moet eerder gevier word as bron van kulturele kreatiwiteit en groter keusevryheid.

Die vraag is natuurlik hoe die Nuwe Hervorming die suksesse van die moderne wetenskaplike wêreldbeeld en die relatiwiteit van die postmodernisme met mekaar versoen. Is dit hoegenaamd moontlik? Hier wys Durand op ’n fundamentele inkonsekwentheid in die denke van die Nuwe Hervormers, wat ironies genoeg nie hulle eie toets van rasionaliteit kan deurstaan nie. Die Nuwe Hervorming wil nie as modernisties uitgemaak word nie, maar weier om die relatiwiteit van die postmoderne paradigma konsekwent deur te trek wanneer hulle oor die Bybelse wêreldbeeld besin. Die modernisme glip dus weer by die agterdeur in nadat dit die voordeur gewys is!

 

Geslotenheid van die postmodernisme

 

Een van die hoogtepunte in die boek is Durand se ondermyning van die konsep “postmodernisme” wat deesdae tussen predikante en selfs praktiese teoloë as modewoord gebruik word om veranderende tendense binne die kerk en reaksies daarop te verklaar en selfs te regverdig. Durand maak duidelik dat die Nuwe Hervorming se klem op postmodernistiese vertrekpunte vir geen oomblik die geslote wêreldbeeld wat tipies van die modernisme is, deurbreek nie. Hoekom nie? Want die postmodernisme is volgens hom bloot ’n kritiese reaksie op die mislukte ideale van die modernisme. Die postmodernisme is volgens hom al in die modernisme gegee (p.74). Postmoderniteit en moderniteit volg dus nie chronologies op mekaar nie, maar is ’n inherente spanning in die Westerse denke wat deur die modernisme opgeroep word. Die postmodenisme kan hom nie losmaak van die modernisme as sy ontstaansbron nie. Die twee bewegings is histories gekoppel binne dieselfde grondmotief, naamlik die mens se drang na beheersing enersyds, en sy drang na vryheid andersyds. Die reaksie van die postmodernisme teen die modernisme is volgens Durand gerig teen die arrogansie en buitensporige aansprake op universele geldigheid, maar nie teen die basiese geslotenheid van sy wêreldbeeld nie. In dié sin is ook die dekonstruksie van Jaques Derrida, wat vandag die mees ingrypende kritiek teen die modernisme verteenwoordig, vir Durand ook nie in staat om sigself los te maak van die geslote, transendensielose wêreldbeeld van die modernisme nie (p.73).

 

Godsbeeld van die Nuwe Hervormers

 

Volgens Durand kies die Nuwe Hervorming doelbewus vir ’n transendensielose wêreldbeskouing, maar weier hulle om die konsekwensie daarvan deur te trek, naamlik dat God die wêreld geskep en aan sy lot oorgelaat het. In die beroep op postmodernisme wil hulle eerder op soek gaan na ’n nuwe spiritualiteit vir postmoderne mense. In lyn met die na-oorlogse denkwêreld in Europa met die opkoms van die eksistensiefilosofie, is hulle antwoord min of meer dat as die moderne mens die sin van die lewe nie iewers buite homself kan vind nie, hy dit iewers binne homself moet vind. Durand wys duidelik dat die Nuwe Hervormers kies vir ’n panenteïstiese godsgeloof (God is alles in almal en alles en almal is in God) (pp.78-79) en selfs grens aan panteïsme (God en die geskape wêreld is een en dieselfde), wat beteken dat daar in hulle denke geen ruimte vir enige vorm van transendensie is nie.

Volgens die Nuwe Hervoming het mense wat binne ’n moderne wêreldbeeld nog met spiritualiteit wil erns maak, geen ander keuse as om die kerk met sy aanbidding van ’n transendente God te verlaat en eerder religieuse selfvervulling te soek in ’n mistieke eenwording met die wêreld-immanente dieptedimensie wat hulle ’n onpersoonlike “lewensmisterie” noem.

 

Terug by die ou gnostiek!

 

Die vraag is, hoe sou die spiritualiteit dan lyk wat die Nuwe Hervormers voorstaan? Durand vind die rasionalisme en intellektualisme wat deur die eeue deel is van die gnostiek en sekere tradisies in die mistiek, beslissend in hul denke terug (p.79). Volgens hom eindig die Nuwe Hervormers wat op soek is na ’n nuwe vorm van spiritualiteit vir postmoderne mense op ’n baie eienaardige punt, want die gnostiek is immers die geestesrigting wat al reeds in die Nuwe Testament na vore tree en volledig deel uitmaak van ’n premoderne wêreldbeeld! Durand gaan dan verder en gee ’n kort oorsig van die stryd in die vroeë kerk en die voortdurende worsteling om ontslae te raak van die elemente van die Griekse filosofie en wêreldbeskouing wat telkens in die vroeë kerk kop uitsteek. Hy maak dit duidelik dat die Christelike geloof oor ’n tydperk van 2 000 jaar nooit in staat was om aan die kenmerkende intellektualisme van die Griekse erfenis in die Weste te ontsnap nie (pp.82-93). Hierdie wêreldbeeld bereik dan sy hoogtepunt in die Verligting en sou uiteindelik oorgaan in ’n geslote wêreldbeskouing en positiwistiese wetenskapsbeoefening (slegs ervaring as basis van kennis) waaraan die Nuwe Hervormers nie kan ontkom nie.

’n Mens sou kon sê dat die Nuwe Hervorming volgens Durand in ’n dubbele sin van die woord ’n doodloopstraat is vir mense wat hedendaags nadink oor God. Dit bied nie alleen geen tuiste vir ontnugterde intellektuele mense wat hulself as ateïsties verstaan, en geensins op soek is na ’n binnewêreldse immanente spiritualiteit waarin jy in meditasie alleen met jouself kan besig wees nie. Dit is boonop ’n rasionalistiese doodloopstraat wat reeds van die eerste eeue van die kerk se bestaan as onvolhoubaar ontmasker is.

 

Verstaansuitdaging

 

Dooploopstrate van die geloof, is inderdaad ’n goeie boek om te lees vir elke gelowige en ongelowige wat wil verstaan wat die dieper kulturele strominge is wat die geweldige kritiek onderlê wat die afgelope jare in populêre en intellektuele kringe teen Afrikanerkerke ontvlam het. Die boek maak dit baie duidelik dat die kerk in moeilike debatte soos homoseksualiteit en evolusie nooit moet wegskram daarvan om lidmate te begelei op die moeisame pad om verantwoordelik – ook as lesers met die Skrif om te gaan nie. Die versoeking om die Bybel as ’n bo-natuurlike geskrif te beskou waarin goddelike diktate as’t ware tydloos afgelees kan word, en waarin elke Bybelse uitspraak dieselfde openbaringswaarde en geloofsbetekenis het, lei enersyds daartoe dat elke teologiese en morele kwessie (vrou in die amp, evolusie, homoseksualiteit) deur gelowiges as ’n krisis en aanslag op hul geloof ervaar word. By meer denkende Bybellesers en kerkgangers lei so ’n omgang met die Skrif andersyds tot verwarring en geloofstwyfel en gee dit dikwels ook aanleiding tot ’n breuk met die kerk.

Durand stel aan predikante en geestelike leiers die uitdaging om in aansluiting by die weg van die Hervormers van die 16 de eeu nie die gesag van die Skrif abstrak en formeel vers vir vers met die Lewende Woord van God te identifiseer nie, maar die Bybel eerder vanuit ’n skopus, ’n bepaalde sinsamehang, en sentrale bedoeling te lees.

 

Verantwoorbare kosmologie

 

Die hele debat met die Nuwe Hervorming vra verder dat die kerk ’n geloofwaardige kosmologie op die tafel moet sit, wat impliseer dat die dialoog tussen die teologie en die natuurwetenskappe in Suid-Afrika al belangriker moet word. Hoe krities hoofstroomkerke ook al op die Nuwe Hervorming reageer, moet erken word dat gelowiges moderne mense is wat hul lewens onder meer op die bevindinge van die wetenskap bou. Teoloë sal die insigte van wetenskaplikes uit verskillende dissiplines (soos die astrofisika, geologie, evolusionêre biologie, paleontologie en argeologie) moet bly verreken.

Die debat met die Nuwe Hervorming plaas die kerk voor die groot intellektuele uitdaging om in dialoog met die wetenskappe aan te toon hoe die radikale eindigheid van die werklikheid, wat vandag deur die meeste wetenskaplikes aanvaar word, versoenbaar is met die Christelike geloof oor skepping, voorsienigheid, verlossing en voleinding. Die kerk sal haar moet afvra hoe sy byvoorbeeld lidmate gaan begelei in die lig van wetenskaplike bevindings dat die son oor ongeveer nog 5 miljard jaar uitgebrand sal wees, dat die uitdying van die kosmos sedert die Oerknal onbepaald sal voortduur, dat die heelal stelstelmatig sal afkoel namate die verbrandingsprosesse afgehandel is en lewe nie meer moontlik sal wees nie.

Inderdaad ’n groot opgawe!

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=821
Artikel nagegaan:
    -