|
||||
Bert Olivier
*Professor in filosofie, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth. Olivier bedank Andrea Hurst vir haar insiggewende bydraes in gesprekke oor die onderwerp.
Geweld en misdaad is vandag alomteenwoordig in Suid-Afrika, en op almal se lippe. Desnietemin slaag weinig van die vele besprekingsprogramme of gereelde mediakommentaar daarin om bo die blote verbale herhaling van gewelddadige gebeurtenisse – moord, roof, verkragting, motorkaping – uit te styg en ’n verhelderende perspektief daarop te bied.
Sodanige verhelderende begrip word gewoonlik eers moontlik gemaak deur ’n sekere afstand, byvoorbeeld vanuit teoretiese perspektiewe. Om hierdie rede is Johann Rossouw se onlangse bespreking van geweld in Suid-Afrika (Die Vrye Afrikaan, 17 November 2006) ’n welkome en verfrissende bydrae tot die groeiende kommentaar en ontleding van die geweldsverskynsel, omdat hy ’n begripperaamwerk ontwerp aan die hand waarvan die “oorsake” van geweld geïdentifiseer kan word. Ek meen dat Rossouw se benutting van die drie sfere – die religieuse, die politiese en die ekonomiese – wat deurgaans in elke samelewing ’n strukturerende rol speel, maar van tyd tot tyd in verskillende rangordes van dominansie en ondergeskiktheid geplaas word, uiters verhelderend is wanneer hy daarop wys dat die religieuse sfeer in die voormoderne Middeleeue dominant was, die politiese in die moderne era, en die ekonomiese vandag in die postmoderne era. Mense se lewens, wat ook nog op die politieke en religieuse vlakke geartikuleer is, word dus vandag in albei hierdie sfere ondergeskik gemaak aan ekonomiese imperatiewe. Wat die sentrum van mag betref, so dui Rossouw akkuraat aan, voer die ekonomiese in die vorm van neoliberale ekonomiese beginsels vandag ongetwyfeld die botoon. Rossouw se verhelderende analise ten spyt, meen ek tog dat ’n psigoanalitiese denkraamwerk nie alleen die geweldige omvang van geweld in Suid-Afrika sedert 1994 nie, maar ook die ontsettende, haas onbegrypbaar-gewelddadige aard daarvan – waarna hy as “geweldmisdaad” verwys – kan help verklaar. Hiervoor is Lacan se voorstelling van die mens as ’n wese wat op drie verskillende vlakke geartikuleer is, uiters geskik. Wat is hierdie drie vlakke? Eerstens het elke persoon ’n imaginêre kant aan haar of sy subjekposisie: jy beskik oor ’n ego, ’n “beeld-voorkoms” asook ’n selfbeeld. Tweedens het jy ’n simboliese subjekposisie: jy het ’n identiteitsposisie op die vlak van taal, wat jy met ander mense deel. Derdens het jy ’n reële kant aan jou subjektiwiteit: die onuitspreekbare “ding” in elke mens, wat nie gesimboliseer of gesê kan word nie, maar wat nogtans ’n konkrete uitwerking het op die simboliese vlak, oftewel taal. Die “ding” is daardie deel van jou bestaan wat nooit volkome verwoord kan word nie, maar wat altyd vra om verwoord te word. Die drie samelewingsfere waarvan Rossouw praat, kan al drie aan die hand van Lacan se drie registers begryp word. Met ander woorde, daar is sowel ’n imaginêre as ’n simboliese en ’n reële kant aan die religieuse, die politieke en die ekonomiese sfere. Kom ons pas dit op die religieuse toe: Christus is tradisioneel ’n ikoniese (imaginêre) gestalte gegee in die kuns, met bepaalde simboliese uitinge geassosieer, en sy kruisdood vul mense dikwels met ’n onuitspreekbare angs, wat nie verwoord kan word nie (die reële of die “ding”). Dieselfde geld die politieke en die ekonomiese. Veral in die geval van laasgenoemde is dit interessant dat, afgesien van die imaginêre en simboliese betekenis daarvan (die prentjie van, sê, onder meer ’n suksesvolle sakeman soos voorgehou deur die neoliberale teorie), dit ook ’n reële kant het wat simbolisering te bowe gaan, byvoorbeeld die onvoorstelbare aard van kapitaal as ’n nimmereindigende, allesverorberende proses wat, in Marx se woorde, “alles wat solied is, in lug laat versmelt”. Wat het dit met geweld in die huidige Suid-Afrika te make? Hier moet nog ’n psigoanalitiese begrip betrek word, naamlik trauma, in die dissipline-spesifieke betekenis van die verbrokkeling van die simboliese en imaginêre horison of raamwerk aan die hand waarvan ’n persoon, ’n gemeenskap of ’n samelewing hulle wêreld verstaan. ’n Ouer wat ’n kind in ’n motorongeluk of in ’n motorkaping verloor, ervaar die volle impak van trauma, wat gemanifesteer word in ’n aanvanklik verlammende skoktoestand, gevolg deur (of gepaardgaande met) ’n beseflose, blinde soort ‘herhaling’ (weer-beleef) van die gebeurtenis as ’n tipe wanhopige poging om jou op dit waarop jy totaal onvoorbereid was, terugskouend voor te berei. Dié blinde herhalingsfase het die funksie om die weg voor te berei op die integrasie van die traumatiese gebeure in ’n mens se lewe – hoe moeilik dit ook al mag wees. Dit geskied op die vlak van ’n sintese van die imaginêre en die simboliese. Met ander woorde, trauma – hetsy persoonlik of kollektief – dwing die mens om deur middel van taal en verbeelding sin te vind in die totaal sinlose, en dit kan in die sfeer van die religieuse, die politiese of die ekonomiese plaasvind. In die VSA het ’n mens byvoorbeeld na die gebeurtenis van 9/11 ’n sodanige, volgehoue poging gesien om op persoonlike en kollektiewe vlak sin te maak van die katastrofe – nie alleen is die hipnotiserende beelde van die tweelingtorings se ineenstorting oor en oor op televisie herhaal nie (ikoniese uitdrukking van die doodsdrif), maar eindelose besprekings en koerantkolomme, asook uiteindelik boeke is aan die onderwerp gewy – wat neerkom op ’n volgehoue poging om op ikoniese en simboliese vlak met die trauma in die reine te kom. Hierby moet genoem word dat ’n trauma die impak van Lacan se reële op die simboliese en die imaginêre verteenwoordig – dit maak nie deel uit van laasgenoemde twee sfere nie, maar tog het ’n mens net een opsie, naamlik om dit moeitevol in hierdie registers “in te skryf”; om ’n storie te skep wat daarvan sin maak. In Suid-Afrika was mense getuie van twee opeenvolgende kollektiewe traumas in hierdie psigoanalitiese sin: eerstens die oplegging van apartheid op veral swartmense wat oor dekades heen in ’n simboliese raamwerk van sy eie, hoe onaanvaarbaar ook al, gemanifesteer is. Toe, in 1994, die nuwe kollektiewe “trauma” van die oorskakeling na ’n radikale nuwe simboliese orde, minstens in die vorm van die Grondwet, wat van mense vereis het dat hulle die ou simboliese “orde” van apartheid agterlaat en in terme van die nuwe begin dink en handel. Dit is hier waar die uitwerking van kollektiewe trauma (die manifestasie van die reële) op die simboliese en imaginêre vlakke, in samehang met die sfere van die religieuse, politieke en ekonomiese, waargeneem kan word, onder meer in uitgebreide simboliese aktiwiteit in kuns en literatuur. Die ontploffing in Suid-Afrikaanse kuns en letterkunde na 1994 is ’n poging om die skok van die trauma van die oorgang van die oue na die nuwe imaginêr en simbolies te integreer. ’n Vergelyking met ’n soortgelyke traumatiese oorgang van een simboliese orde na ’n radikaal nuwe een sou miskien hier verhelderend wees. In hul werk oor die gruwelike wyse waarop ’n Franse tienderjarige in 1835 sy ma, broer en suster vermoor het, het die filosoof Michel Foucault en sy navorsingspan die opmerking gemaak dat, in die oorgang van ’n voorheen onderdrukkende monargistiese bestel na ’n nuwe, konstitusionele demokrasie in Frankryk, die een vorm van hiërargiese geweld plek gemaak het vir ’n nuwe soort. In laasgenoemde het die “abstrakte geweld van geld” die konstitusioneel nuutbevryde werkers effektief verhoed om materieel die vryheid te verwerf wat skynbaar in die Grondwet gewaarborg is. Daar moet bygevoeg word dat die mees onuitspreeklike misdade gedurende hierdie tyd in Frankryk gepleeg is – moeders wat hulle kinders doodmaak en hul bloed drink, en soortgelyke dade wat die skuldiges self, onder kruisverhoor, gewoonlik nie kon verklaar nie. Foucault verbind hierdie dade aan die radikale gebrek aan psigiese sekuriteit wat bestaan wanneer daar van een maatskaplike orde, waarin elkeen ’n “plek” gehad – weliswaar hier een van onreg, net soos apartheid – en geweet het waar sy of hy “inpas”, oorgegaan word na ’n nuwe waarin mense nog nie ’n “plek” het nie, maar waar dit nog in die praktyk verower moet word op simboliese en imaginêre vlak. Klink dit nie bekend nie? Die leidraad lê in die frase “die abstrakte geweld van geld”. Nie dat daar van eenvoudige, reglynige oorsaaklikheid sprake is nie. Inteendeel: ’n komplekse stel verhoudinge is hier in die spel, wat met die huidige prioriteit van die ekonomiese sfeer te make het. Met die aanvaarding van globale, neoliberale ekonomiese beginsels in Suid-Afrika, beteken dit dat die mense wat oor die minste kommunikatief-informasionele produktiewe vaardighede beskik, ook die kwesbaarste is. Dit kom hierop neer: in die herskepping van die simboliese orde – wat die orde van die Ander, of die samelewing, is – word daar, vanweë die prioriteit van die ekonomiese sfeer, hoofsaaklik in ekonomiese terme op die konstruksie van ’n nuwe simboliese orde gekonsentreer, in weerwil van gepaardgaande geluide van “reënboognasie”, Afrika-nasionalisme, ensovoorts, wat natuurlik op die vlak van die (gedegradeerde) sosio-politiese lê. Nodeloos om te beklemtoon, word slegs ’n relatief klein persentasie van die bevolking aktief by die globaliseerbare deel van die ekonomie betrek – die res (hoofsaaklik ongeskooldes) val buite hierdie produksienet. Hier lê die kruks van die saak: “normaalweg” is die simboliese, die imaginêre en die reële persoonlik en kollektief struktureel onderskeibaar, “verskillend” maar interafhanklik of noodsaaklik verbind, en is hierdie struktuur ’n voorvereiste vir “normale” intermenslike verhoudings. Onder huidige sosio-ekonomiese toestande vind daar ’n kortsluiting tussen die drie registers plaas, vir sover die simboliese sfeer – die ekonomiese wat die politieke en die religieuse oorheers – nie die onmisbare funksie kan vervul om naamlik op omvattende, universaliserende, gemeenskapskeppende wyse tussen die imaginêre en die reële te bemiddel nie. Wat beteken dit? Die simboliese verwys na die “universele” domein van taal en begripmatigheid, wat ook die sfeer van normatiwiteit en die morele “wet” is, en ten nouste met opvoeding en die onderwysstelsel saamhang. Sonder laasgenoemde is geen sin vir gemeenskap of samelewing moontlik nie – dit is hierdeur dat elke kind die simboliese sfeer betree en hulle sodoende aan die “wet” onderwerp. In Suid-Afrika is hierdie sfeer (in samehang met die ander twee) onmisbaar vir die vorming van ’n nuwe gemeenskapsin; daarsonder vind ’n kortsluiting tussen die sfeer van die ego (imaginêr) en die “ding” (reële) plaas: in plaas van om die ander as “ander ego” te kan sien wat, net soos ek (imaginêr), aan die morele wet (simbolies) onderworpe is, (waardeur die “ding” effektief op simboliese vlak in toom gehou word), verdwyn die simboliese morele bemiddeling en word die “ander ego” bloot as “ding” (on-mens) gesien. Dít verduidelik waarom misdade hier, soos in 19de-eeuse Frankryk, verstommend, onmenslik gruwelik is – waarom ouers hul eie kinders, of mekaar, verbrand of vermink, waarom rowers of kapers hul slagoffers (nodeloos) vermoor of vermink. Solank as wat die uiters beperkende, eksklusiewe ekonomiese sfeer waarbinne wat Rossouw “versteurde begeerte” by rykes, en “gefrustreerde begeerte” by armes noem, funksioneer, die orde is wat by uitstek benut word om die simboliese in Suid-Afrika te vestig, sal hierdie slagting voortduur. Daar word wel op ander vlakke ook daaraan gewerk (die politieke en die estetiese, byvoorbeeld), maar vanweë die fragmenterende aard van die neoliberale ekonomie werk dit eintlik teen die moontlike gemeenskapsvorming wat hieruit kan voortspruit. Die konstruksie van ’n inklusiewe simboliese sfeer is die enigste moontlike oplossing. |