|
||||
Hermann Scheer
*SPD-lid van die Duitse Bundestag, president van die Wêreldraad vir hernubare energie (WCRE) en van die Europese vereniging Eurosolar. In 1999 is hy met die alternatiewe Nobelprys vir sy geskrifte en inisiatiewe bekroon. Uit die Frans vertaal deur Martine Steyn, [email protected]
Wat die wêreld se energievoorraad betref, is daar goeie en slegte nuus. Die slegte nuus? Olie is beperk. Die goeie nuus? Olie is beperk. En nie slegs olie nie: kort voor lank sal alle fossielenergie dieselfde lot te beurt val, selfs die uraan wat kernkragsentrales aanvul.
Olie, in vloeistofvorm beskikbaar en gebruikersvriendelik, het die mees algemene bron van energie geword, die “swart goud” van die twintigste eeu. Dit was egter nog altyd duidelik dat dit eendag uitgeput sou raak. Aangesien niemand regtig geweet het wanneer nie, is hierdie probleem opsy geskuif. Die alarmistiese stemming wat vandag onder staatshoofde heers, dui daarop dat die kwessie stiksienig gehanteer is terwyl ons afhanklikheid van die kwynende bron voortdurend toeneem. Trouens, die vraagstuk rondom die oorblywende leeftyd van hierdie reserwes word as minder belangrik behandel aangesien die “beskaafde” wêreld reeds ’n ondraaglike vlak van omgewingskade sal ondergaan nog vóór die beskikbare bronne uitgeput is. Volgens die navorsingsresultate van die Span van Interregeringsdeskundiges oor Klimaatveranderings (IPCC) (1), sal ons teen 2050 ons kweekhuisgasvrystellings met minstens 60% moet inkort om ’n ekonomiese en ekologiese ineenstorting te verhoed. Die tweede vraagstuk is toegespits op die gevolge wat die styging in energiepryse op sowel wêreld- as nasionale vlak vir die ekonomie mag inhou. Die oorsprong van hierdie bestendige prysstyging kan teruggevoer word na verskeie faktore. Eerstens is die tyd van maklik ontginbare olie (konvensionele olie) finaal verby, wat verklaar waarom ons ons op die potensiaal van onkonvensionele fossielenergie rig. Tweedens – byvoorbeeld as gevolg van die ontwikkeling van China asook die toename in migrasie in die wêreld – groei die vraag na energie vinniger as wat nuwe tegnologieë die bykomende voorraad kan verskaf. Laastens word die nodige infrastruktuur al hoe duurder na gelang die wêreld se fossielenergiegedrewe energiestelsel al hoe afhankliker word van die ontginning van die laaste oorblywende energiebronne. Politieke onsekerheid stel ’n vierde faktor daar. In ’n wêreld wat voortdurend wankelriger word op politieke, ekonomiese, kulturele en maatskaplike vlak, onder meer weens dogmatiese liberalisering, is dit hoogs waarskynlik dat hierdie toestand sal vererger. Die grootste logistieke uitdaging is die voortgesette verskaffing van olie, gas en uraan vanaf bepaalde ontginningsgebiede en -lande aan die hele wêreld, en dít deur middel van uitgebreide vervoernetwerke. Hierdie kwesbaarheid gaan hand aan hand met die verhoging van politieke en militêre uitgawes vir sekuriteit, byvoorbeeld om die verskaffingsmiddele en -sentrums teen terreuraanvalle te beskerm. Prysstygings maak die energiestrik al hoe knellender. Ontwikkelende lande wat verplig is om die pryse op die wêreldmark te betaal, word die ergste geknou. In sommige van hierdie lande oorskry die invoerprys van energieprodukte reeds hulle hele uitvoerwins. In 2005 het die olieprys vir hulle met 100 miljard dollar gestyg ’n bedrag wat veel meer verteenwoordig as die som van die ontwikkelingshulp wat deur al die geïndustrialiseerde lande aan hulle verskaf is. Gedurende hierdie tyd het die winste van groot groepe wat in die sektor werk, astronomies toegeneem: in 2005 het Exxon ’n wins van 35 miljard dollar, Shell van 24 miljard dollar en British Petroleum (BP) van 22 miljard dollar gemaak (2). Om hierdie rede en lank voor werklike bronuitputting bevind die wêreld se stelsel van primêre energieverskaffing hom reeds in ’n onsekere en rampspoedige toestand. Daarom is inisiatiewe in Julie 2006 by die G-8-konferensie in St. Petersburg geneem. ’n Misleidende veronderstelling: die herlewing van kernkrag in die wêreld en die propagering van “skoon steenkool” vir die vervaardiging van elektrisiteit veronderstel dat die wêreld se energiestelsel onveranderd sou kon bly as dit nie ’n negatiewe impak op kweekhuisgasvrystellings en klimaatsveranderings had nie. Daarom is dringende versoeke aan verskafferlande gerig om hulle kwotas te verhoog en die internasionale verskaffingsnetwerke te versterk, selfs al sou dit teenstrydig met die doelwitte van klimaatsbeskerming wees. Hernubare energie, uitgebeeld asof dit nog ontwikkeling benodig, speel niks meer as ’n marginale rol in sulke soort inisiatiewe nie. Dit moes lankal ’n volwaardige strategiese prioriteit geword het. Daar is betoog dat die potensiaal van hernubare energie nie voldoende is om fossiel- en kernenergie te vervang nie en dat dit te duur is om grootskaals te ontwikkel. Dit kom daarop neer dat dit ’n onaanvaarbare ekonomiese en maatskaplike las uitmaak. Daar word verder aangevoer dat so ’n volskaalse oorgang te veel tyd in beslag sou neem, wat beteken dat die klem vir die volgende paar dekades op die gewone kragsentrales gehou sal word. Die volgende argument moet egter nie misgekyk word nie: die probleem rakende die opgaring van hernubare energie is nog steeds nie opgelos nie. Van nader beskou, blyk nie een van die vermelde argumente oortuigend nie. Regstreekse of onregstreekse verbruik van son-, wind-, hidro-, biomassa- en golfenergie verskaf elke jaar in die vorm van ongebergde wind, ongebergde sonhitte ensovoorts aan ons planeet 15 000 keer die hoeveelheid energie wat die mensdom verbruik. ’n Windlaaier kan in een week opgerig word, terwyl die oprigting van ’n klassieke termiese kragsentrale tussen vyf en vyftien jaar duur. Daar bestaan reeds oplossings om die onderbrekings in energie-opsies soos die windlaaier en sonkrag te oorkom (3). Die moontlikhede om spoedig die saak van hernubare energie onder die diverse energie-opsies te ontwikkel ten einde ’n stelsel te skep wat uitsluitlik daarop gebaseer is, is by verskeie geleenthede met nadruk uitgespreek. Die Bellevue-groep (4) het sedert 1978 so ’n scenario vir Frankryk geskep, en ’n jaar later het die Vereniging van Besorgde Wetenskaplikes hulle voorbeeld gevolg vir die Verenigde State (5). Die enigste uitgawes wat regstreeks uit die produksie van hernubare energie voortkom, is dié wat deur tegnologiese ontwikkeling meegebring word. Brandstofuitgawes hoef dus nie aangegaan te word nie; biomassa vorm hier die enigste uitsondering, aangesien bos- en landboukundige arbeid vergoed moet word. Uitgawes wat deur die gereedskap meegebring word, sal afneem namate massaproduksie ontwikkel en die tegnologieë verbeter word, terwyl konvensionele energie voortdurend sal toeneem. Terselfdertyd bied hernubare energie belangrike politieke en ekonomiese voordele: waar die invoer van fossielenergie nou vervang word deur onbeperkte plaaslike energiebronne, word energiesekuriteit hierdeur versterk terwyl dit ’n positiewe uitwerking op die betalingsbalans het. Dit is genoegsame rede om nuwe steun te bied aan ekonomiese landbou- en handelsgedrewe streekstrukture. Infrastrukturele behoeftes sal sterk afneem, om nie te praat van ernstige omgewings- en gesondheidskade wat aldus verhoed word nie. Met ander woorde, hoe minder aanspraak daar op konvensionele energie gemaak is, hoe meer betekenisvol sal die gevolge wees. Utopies? Onrealisties? Die Duitse wet op hernubare energie wat in April 2000 uitgevaardig is, bewys die teendeel. Sedert 2000 het geïmplementeerde aansporings ’n jaarlikse verhoging van 3 000 megawatt (MW) in die kapasiteit van elektrisiteit, opgewek deur hernubare energie, teweeggebring. Dit oorskry die teenswoordige 18 000 MW. Die vernaamste element in hierdie wetgewende raamwerk is die gewaarborgde toegang wat dit aan elke verskaffer van hernubare elektrisiteit tot die netwerk bied, en dít teen ’n vaste prys oor 20 jaar, wat die winsgewendheid van die investerings verseker. Die ekstra onkostes word verdeel tussen al die verbruikers en styg met R40 per persoon per jaar. Hierdie nuwe industriële sektor het alreeds 170 000 werksgeleenthede geskep (6). Geen ander politieke program ter ondersteuning van die bedryf het nog so min gekos en soveel resultate in so ’n kort tydperk behaal nie! As die publiek die ekstra uitgawes aanvaar, beteken dit dat hulle instem tot die nagestrewe doelwit. In ses jaar het die investeringskoste met 40% gedaal as gevolg van grootskaalse konstruksie. Hierdie energie-ommeswaai het CO 2-vrystellings met ’n bykomende 7 miljoen ton per jaar verminder. Tegelyk het die wet as instrument vir klimaatspolitiek ’n veel groter impak gehad as die handel in kwotas vir CO 2-vrystellings ooreenkomstig die toepassing van die Kioto-protokol. Dit alles is bereik sonder die bemiddeling van ’n oorywerige regering. As hierdie ontwikkeling teen dieselfde tempo voortgaan, sal elektrisiteitstoevoer vanaf kern- en fossielenergiebronne binne ongeveer veertig jaar heeltemal vervang word. Bykomende uitgawes sal afneem na gelang die prys van konvensionele energie styg. Dit beteken dat die prys van hernubare elektrisiteit selfs voor 2020 laer sal wees as die prys van elektrisiteit gegenereer deur die nuwe kern- en termiese kragsentrales, wat die energie-oorgang nog verder sal bespoedig. ’n Potensieel soortgelyke vervanging kan ook bewerkstellig word in die verhitting- en brandstofsektore. Daar bestaan reeds losstaande huise, en binnekort wolkekrabbers, wat in hulle eie behoeftes kan voorsien danksy hernubare energie (7). Die volle bedrag aan oorbelegging sal binne tien of twintig jaar geabsorbeer word deur die besparing op brandstof wat dit meebring. Die ontwikkeling van hibriede motors sal ook die vervanging van fossielbrandstof met biobrandstof en elektriese motorisering wat van nuwe batterytegnologieë gebruik maak, ten uitvoer bring. Die moontlikheid van ’n oorgang na ’n post-kern- en -fossielbrandstofwêreld word nie altyd as sodanig beskou nie; die blote feit dat so ’n geleentheid bestaan, word trouens altyd ontken. Ons verouderde stelsel met sy assosiaatmaatskappye word beskou asof in marmer gegiet. Ons aanvaar as vanselfsprekend dat die stelsel tegnologies neutraal staan teenoor ander energiebronne, waarvan die uitgawes afsonderlik bereken word, terwyl die energiestelsels eerder in hulle geheel vergelyk behoort te word. Hierdie sienswyse verraai die algehele onkunde oor elementêre aspekte van tegnologie en sosiologie soos dit in verhouding tot energie staan. Die keuse van die primêre bron van energie bepaal die politieke, ekonomiese en tegnologiese inspanning wat vereis word vir die ontginning, transformasie, vervoer en verspreiding daarvan, om nie te praat van die verbruikstegnologieë nie. Die feit is eenvoudig dat die oorgang na hernubare energie, en dus na heeltemal verskillende energiestrome, alles verander. Dit behels dat daar van primêre kommersiële energie na niekommersiële bronne oorgegaan moet word, van enkele groot kragstasies en raffinaderye na ’n groter aantal klein en mediumgrootte eenhede, van internasionale infrastrukture na streekstrukture, en van besoedelende energie na skoon energie wat nie kweekhuisgasse vrystel nie. Uiteindelik, die laaste maar nie die minste nie, sal dit nodig wees om die oorgang van maatskappy- en eiendomsgedrewe strukture na ’n meer gevarieerde soort organisasie deur te voer. Die sistemiese transformasie van energievoorsiening verteenwoordig ’n paradigmaverandering in tegnologiese, ekonomiese en politieke terme. Dit is trouens waar die kern van die saak lê.
(1) http://www.ipcc.ch/about/about.htm (2) In 2005 het die vyf grootste oliemaatskappye in die wêreld – Exxon Mobil, Chevron Corp, Total, British Petroleum (BP) en Royal Dutch Shell – ’n wins van 106,8 miljard dollar verdien. (Le Figaro Economie, 9 September 2005). (3) Dit behels energiebergingsfasiliteite soos pompe of turbines in hidroëlektriese bedrywe, of stelsels gebaseer op saamgeperste lug in ondergrondse tenks, asook hibriede stelsels wat ’n addisionele instrument vir hidroëlektrisiteit of biomassa by hierdie elektriese prosesse insluit om algehele doeltreffendheid te verhoog. (4) Die Bellevue-groep was saamgestel uit navorsers van uiteenlopende agtergronde: die Nasionale Sentrum vir Wetenskaplike Navorsing, Collège de France, Electricité de France, Nasionale Instituut vir Agronomiese Navorsing. Hulle was professioneel betrokke by navorsing in hernubare energie. Hierdie groep is later ontbind. http://resosol.org/Gazette/1978/1516p32.html (5) Kyk ook die scenario’s vir 100% hernubare energie wat meer onlangs ontwikkel is vir lande en streke soos Duitsland, Beiere en Japan by www.isusi.de ; die webtuiste is in Duits en Engels. (6) Duitse Ministerie van Omgewingsake (BMU); www.gruene-fraktion-bayern.de/cms/natur_und_umwelt/dok/161/161895.umweltpolitik_ist_mehr_als_sonntagsreden.htm (7) Betreffende onafhanklike energietorings, kyk die prent van die tweelingtorings met windmeule by http://www.eurosolar.de/de/index.php?option=com_content&task=view&id=236&Itemid=19. Die Flower Tower-projek deur die argitek Bill Dunster is by: www.zedfactory.com of: http://www.wbcsd.org/DocRoot/5pMm0Cawlt4YhbJE5w0N/eeb.pdf |