blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Hoe om ’n gemeenskap van die kaart af te skryf: Israel en Oos-Jerusalem 2007-02-15
Dominique Vidal en Philippe Rekacewicz

*Onderskeidelik assistentredakteur en Midde-Oosterse kenner van Le Monde diplomatique en kartograaf van Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]

 

Vanaf Tel-Aviv loop die hoofpad min of meer reguit, verby die Ben-Gurion-lughawe, voor dit kronkelend begin klim na Jerusalem, tussen die heuwels deur waar die Joodse magte se oorwinning in 1948 soveel bloed laat vloei het. Op ’n hoogte van 700 m gaan dit die heilige stad aan die westekant binne. Die Israeli’s, nes die buitelanders, het ’n menigte opsies: hulle kan die middestad vanuit die noorde of vanuit die suide met verskillende paaie bereik.

 

Vir die Palestyne van die Wesoewer is dit egter ’n ander storie. Om die driemaalheilige stad te bereik, nadat hulle by die kontrolepunte verby is, sal hulle hulself teen die hardste hindernis vasloop wat ooit bedink is om bewegings in besette gebiede te beheer en te beperk: ’n muur, ongeveer 10 m hoog, wat binnekort die oostelike gedeelte van die stad geheel en al sal omring, sodoende die landskap sal uitwis en tradisionele toegange verbied. Dit sny selfs die twee groot historiese vervoerroetes netjies af: Jerusalem-Amman (roete 417) en Jenien-Hebron (roete 60). Die kronkelende monstrositeit bied – vir die inwoners van die Wesoewer – slegs vier deurgange: Qalandiya in die noorde, Shuafat in die noordooste, Ras Aboe Sbeitan in die weste en Gilo in die suide. Om daar uit te kom, moet hulle egter talle ompaaie volg, hul voertuie agterlaat en te voet verder gaan, aangesien Palestynse motors (met groen nommerplate) in Jerusalem streng verbode is...

Kolonel Danny Tirza, wat die bynaam “Nakba die Tweede” (1) gegee is deur die Palestyne, is lankal deur die Israeliese departement van verdediging opdrag gegee om ’n “veiligheidsversperring” (volgens die amptelike terminologie) te bedink, te ontwerp en op te rig. Met die afloop van sy projek het hy aan Jerusalem elf kontrolepunte belowe wat vergelyk sou kon word met “lughaweterminale”. Dit is egter nie die indruk wat ’n mens kry tydens ’n besoek, selfs vlugtig, aan dié van Gilo nie. Oral word jy ingelig en gewaarsku: “Gaan een vir een binne”, “Wag geduldig jou beurt af”, “Laat die area skoon agter”, “Trek jou baadjie uit”, “Gehoorsaam instruksies”. Die gange, wat aan weerskante en aan die bokant met draad omhein is, lyk soos die tonnels wat wilde diere na die sirkusarena lei ...

Hier is daar egter geen Boswell of Wilkie nie: sodra die versperring oorgesteek is, waarby ’n klein liggie aandui of dit oop is of nie, dring ’n blikstem aan dat jy jou bagasie by ’n verklikker plaas. Agter die donker vensters is daar sekerlik iemand. Uiteindelik sien ons: ’n slordige soldaat, voete op die tafel en ’n Uzi-masjiengeweer om sy skouer geslinger, kontroleer die papiere, hy fluister of blaf om die beurt vir die gesigte voor hom. By die uitgang word die “gebruikers” in drie tale “Welkom in Jerusalem” geheet (die stad is nog vier kilometer verder). “En mag julle in vrede gaan”...

Die VN se plan vir verdeling in 1947 het aan die stad ’n “besondere internasionale status” toegeken wat vandag, in 2007, die enigste is wat regoor die wêreld erken word. Maar die oorlog van 1948 het uitgeloop op sy verdeling tussen Jordanië en Israel. Laasgenoemde het sy hoofstad gevestig in die westelike gedeelte van die stad, voor hy in 1967 die oostelike deel oorgeneem en geannekseer het. In 1980 benoem ’n grondwet Jerusalem tot “die ewige, volledige, verenigde hoofstad van Israel.” By gebrek aan ewigheid, het die politiek van elke Israeliese regering sedertdien daarop gefokus om die Joodse hegemonie oor die stad te behou en om sy verdeling te verhoed, so ook die moontlikheid van ’n Palestynse staat wat Oos-Jerusalem as hoofstad sou wil hê.

“Die sleutel is die demografie,” verduidelik Khalil Toefakji, hoof van die Afdeling van Kartografie aan die Vereniging van Arabiese Studies en raadgewer van die Palestynse afvaardiging by die Camp David-samesprekings. “Die Jode se hoogste prioriteit was nog altyd die vestiging van ’n breë Joodse meerderheid. Maar die Palestyne, wat in 1967 20% van die bevolking uitgemaak het, is vandag 35% sterk en kan teen 2030 in die meerderheid wees.” (2) Hierdie groei is die gevolg van hul geboortesyfer, maar ook die verhuising van Jode wat werkloos is, die verblyfkrisis en die klimaat van onverdraagsaamheid wat geskep is deur ultra-ortodokse druk.

So erg is dit dat ’n sestig jaar oue taboe pas geval het: terwyl die bestuurskema vir 2020 die 70%-30%-verhouding bevestig, “voorsien” dit ’n ander, meer pragmatiese verhouding van 60%-40% (3). “Asof die een verhouding beter is as die ander,” verklaar Meron Benvenisti, sonder twyfel die grootste Jerusalem-spesialis, vir wie dit “suiwer, onverbloemde rassisme is. Ons leef in die enigste stad op aarde waar die etniese persentasie die plek ingeneem het van ’n filosofie.” Minder driftig voeg Menahem Klein – ook ’n voormalige raadgewer by Camp David, maar aan Israel se kant – by: “Die pragmatiste maak uitsprake en die politici veg onder mekaar: wat ons het, is die Israeli’s se grootste poging sedert 1967 om Jerusalem te annekseer.”

Histories was die eerste instrument van hierdie poging die onwettige uitbreiding van munisipale grense. Amos Gil, voorsitter van die Ir Amin-vereniging (Die stad van volke) som dit só op: “Die ou stad was net een vierkante kilometer groot; tesaam met die Arabiese woongebied rondom het dit in die Jordaanse tyd 6 km 2 beslaan. Israel het in 1967 ’n gebied van 64 km 2 aan die Wesoewer geannekseer – waaronder 28 dorpe – om 70 km 2 te verkry. Wanneer die muur klaar is, sal dit in die ooste alleen ongeveer 164 km 2 inkamp.”

“Daar is een kleur wat hier alleen bestaan: politieke groen.” Meir Margalit, koördineerder van die Israelse komitee teen die Vernietiging van Wonings (ICAHD) herinner daaraan dat toe Oran Yekutieli, die hoof van die linkse party, Meretz, beswaar aangeteken het teen die oprig van die Har Homa-kolonie in die plek van ’n wonderlike Palestynse woud, die indertydse burgemeester, Teddy Kollek (onlangs oorlede), teruggekap het: “Dis net groen vir die Arabiere.” Ekologiese apartheid: hierdie sones, “wat hoofsaaklik bestaan uit gelerige stof en vol rommel is,” aldus die argitek Ayala Ronel, verbied die Arabiere om enigiets op te rig, terwyl die Jode toegelaat word om dit te koloniseer ...

Kolonisasie vorm die tweede instrument van die Israeliese strategie. Shmuel Groag, argitek en leier van die Bimkom-vereniging wat veg vir elkeen se reg om die stad te beplan, som dit só op: “Die eerste ring het bestaan uit sewe groot kolonies: Gilo, Armon Hanaziv-Talpiot Est, French Hill Ramat Eshkol, Ramot, Ramot Shlomo, Neve Yaacov en Har Homa. Twee kolonies het die tweede ring gevorm: Pisgat Zeev en Maale Adoumim. Die derde het nog nege bygevoeg: Givon, Adam, Kosjav Yaacov, Kfar Adoumim, Keidar, Efrat, Betar Illit en die kolonies van Goesj Etzion. In totaal het hulle die helfte van die 500 000 setlaars saamgegooi wat die Wesoewer uitmaak.”

Michel Warschawski, stigter van die Alternatiewe Sentrum vir Inligting en prominente figuur in die pasifistiese beweging, organiseer militante “toere”, om met duidelikheid “die beginsel uit te wys wat kolonisasie lei: die skepping van ’n Joodse territoriale kontinuïteit wat die Arabiese territoriale kontinuïteit breek.” En om ’n pamflet te swaai wat van herhaaldelike hantering byna uitmekaarval. Die vorige burgemeester van die Karrnei Shomron-kolonie het gesê daar moet verseker word dat “die Joodse bevolking van Yesha (4) nie agter doringdraad sal lewe nie, maar in voortgesette Joodse teenwoordigheid. As die streek tussen Jerusalem en Ofra geneem word, daar ’n industriële gebied by die ingang van die Adam-kolonie en ’n vulstasie by die ingang van Psagot opgerig word, dan sal ons byvoorbeeld ’n area van Israelitiese kontinuïteit hê.”

Die derde instrument is die totale beheer van kommunikasiemiddele om die Palestynse ruimte te verbrokkel, die beweeglikheid van die bevolking te belemmer en die kanse op ontwikkeling te vernietig. Israel het nie alleen die groot roetes gegryp wat reeds bestaan het, hulle vernuwe en vergroot nie, maar nuwes opgerig sodat die setlaars so vinnig as moontlik na Jerusalem kan kom – dit is terloops ook een van die doelstellings van die beoogde tremsisteem.

Die geheel vorm ’n indrukwekkende netwerk van roetes met vier bane, snags verlig, waarlangs die bome verwyder is, die sogenaamde “gevaarlike” huise gesloop is en beskermingsmure opgerig is in die naam, natuurlik, van “veiligheid”. Hierdie “verbypaaie”, wat die kolonies onderling verbind, is verbode vir Palestynse verkeer, wat oor die weg moet kom met ’n sekondêre netwerk van swak gehalte, met min of geen onderhoud nie, en wat deur talle vaste en mobiele kontrolepunte afgesluit word.

Die Container-padblokkade, aan die suide van Aboe Dis, beheer die laaste belangrike Palestynse roete wat die noorde en die suide van die Wesoewer verbind en dit dikwels afsluit. Sy naam, Wadi Nar (“Vallei van vuur”, oftewel “Vallei van die hel”) is uiters gepas: op plekke is die pad so smal dat twee vragmotors mekaar met moeite verbysteek – dis nou, as hulle dit regkry om die skrikwekkende hellings oor te steek. Nie ver hiervandaan nie, kan die setlaars op die breë hoofweg rondjaag wat Itzhak Rabin aan hulle geskenk het en direk die kolonies van die Goesj Etzion-blok of dié van Hebron bereik ... sonder om ’n enkele Arabier teë te kom.

Hierdie “onerkende apartheid” – formulering van die Palestyne se hoofonderhandelaar, Saeb Erekat (5) – word duideliker met Kolonel Tirza se projek van “vloeiende verkeer”: Dáár waar Jode en Arabiere geforseer word om by mekaar verby te gaan, sal hulle mekaar nie hoef te sien nie, danksy brûe en tonnels... “Om die Palestynse dorpe soos Bir Nabala en Al Jib oop te stel,” verduidelik die argitek Alon Cohen Lifschitz, van Bimkom, “bou die Israeli’s, oor ’n lengte van twee kilometer, op ’n diepte van vyftien meter onder grondoppervlak, ’n pad wat ingehok en omhein is, twee tonnels en ’n brug!” Wat die skeiding betref, is dit nie die eerste nie: vanaf 19 Januarie 2007 is daar ’n wet wat enige Israeliese of Palestynse “bewoner” verbied om ’n nie-Joodse inwoner van die Wesoewer in sy voertuig te vervoer ...

Vierde instrument: infiltrasie van die ou stad en van die “heilige vallei”. “Vir die setlaars is Jerusalem soos ’n ui: die hart is die beste,” grap Meir Margalit. Die terugvordering van ou Joodse goedere, die beslagleggings ooreenkomstig die wet ten opsigte van afwesiges en aankope deur middel van medewerkers vermeerder teen so ’n vinnige pas dat die joernalis Meron Rappoport kon praat van “Die Republiek van Elad” (6) – die naam van die setlaarsorganisasie waaraan die owerhede op uitsonderlike wyse die bestuur van die “Dawidstad” (7) oorgedra het.

In die lig van die historiese karakter van hierdie vestiging kan daar maklik gemeet word – aan die aantal Arabiese huise wat Israeliese vlae vertoon en die aantal gewapende wagte wat die strate patrolleer – hoeveel die geringste kolonisasie ontneem aan Silwan, afgaan in die rigting van Boestan (waar 88 geboue met vernietiging gedreig word), vandaar weer klim na Ras al-Amoed (Maale Zeitim) en Jabal Mukaber (Nof Zion). En die eerste twee huise van Kidmat Zion daag reeds, bo-oor die muur, die Palestynse Parlement van Aboe Dis uit, wat voltooid maar leeg staan. Die kaart bevestig dat al hierdie metastases ’n werklike etniese verdelingslyn skets.

“Moenie in syfers vaskyk nie,” dring Foead Hallak, raadgewer van die Onderhandelingspan van die Palestynse Bevrydingsorgansiasie (PBO) aan. “Die sewentien punte van kolonisasie in die ou stad en in sy onmiddellike omgewing tel skaars 2 600 inwoners uit 24 000, maar hulle is deel van ’n taai strategie van ‘depalestinisasie’.”

Hierdie Judaïsasie, die vyfde instrument van die Israelitiese strategie, begin by simbole. ’n Palestynse vriend wys hierdie tekens uit wat regoor die Arabiese gedeelte van Jerusalem opgeplak is om dit Joods te laat lyk. “Van die mees skouspelagtige – gedenktekens aan die helde van Israel se oorloë en openbare geboue wat in die ooste opgerig is – tot die mees diskrete: straatstene, straatligte en snippermandjies, sonder om straatname te vergeet.” Tsahal-plaza, Valskermspringerstraat, Hoofkwartierkruising: “Hierdie name is gegee ná die anneksasie van Oos-Jerusalem in 1967,” merk die joernalis Danny Rubinstein (8) op, “oënskynlik opdat die Arabiere nie sal vergeet wie gewen het nie.”



In Parys het vriende ons gewaarsku: “Die ou stad is besig om leeg te loop.” Helaas, nooit vantevore in die afgelope 30 jaar het dit vir ons so jammerlik voorgekom nie. “Die Israeli’s wil die belangrikstes koloniseer en die res verminder tot enkele volkstraatjies, soos in Jaffa,” sê die nuwe Palestynse Ambassadeur by UNESCO, Elias Sanbar. Hy het onlangs Israel se planne, skaars geloofbaar, gedwarsboom, wat die Arabiese ou stad in 2000 op die erfenislys – van die Joodse Staat! – wou plaas ...

Judaïsasie steek ook sy kop uit by die heilige plekke, waarvan die vrye toegang – ’n gemene beginsel in alle internasionale tekste sedert die Berlynverdrag (1885) – nou bevraagteken word. “Jare reeds het die Wesoewer se Moslems en Christene nie meer toegang tot die Al-Aqsa-moskee of die Heilige Grafkerk nie,” protesteer die hoof van die Waqf (9) Adnan Al-Hoesseini. “Wat Jerusalem se ‘bewoners’ aanbetref: hulle moet minstens 45 jaar oud wees om daarheen te mag gaan en te aanbid. Om nie eens te praat van die vernedering van ongeveer 4 000 soldate wat ontplooi word tydens feestye nie.” En die opgrawings onder die Esplanade? “Ek waag dit nie om my voor te stel wat sou gebeur as die mal spul wat daarvan droom om ‘die tempel weer op te bou’ ons moskees beskadig nie.”

Die patriarge en hoofde van Christelike kerke in Jerusalem, steeds bekommerd, het op 29 September 2006 ’n verklaring uitgereik wat die dringende noodsaaklikheid van ’n “spesiale status” benadruk wat onder meer ’n waarborg sal wees van “die mensereg van vryheid van aanbidding vir almal – individue en godsdienstige gemeenskappe; gelykheid van alle inwoners voor die reg in oorleg met internasionale resolusies; vrye toegang tot Jerusalem vir almal, burgers, bewoners of pelgrims.” Hulle het daarop aangedring dat “die regte van eiendom, bewaring en aanbidding wat die verskillende kerke deur die loop van die geskiedenis verkry het steeds deur dieselfde gemeenskappe behou sal word.” Daar is ook by die internasionale gemeenskap om hulp gevra, sodat die “status quo van heilige plekke” gerespekteer sal word (10).

Maak nie saak hoeveel potensiële geweld elke inwoner – Jood, Christen of Moslem – verteenwoordig nie, ’n stootskraper wat ’n huis platstoot ten aanskoue van sy bewoners, is ’n ondraaglike toneel (11). Operasies wat die munisipaliteit en die Departement van Binnelandse Sake sedert 2000 ’n volle 529 maal geloods het – om nie eens te praat van die boetes wat die eienaars opgelê is nie: 22,5 miljoen Euro (12). ’n Erg onreëlmatige onderdrukking: Volgens Betselem het die 5 653 oortredings in die weste aanleiding gegee tot 26 gedeeltelike of volledige slopings, terwyl die ooste se 1 529 ’n volle 76 slopings tot gevolg gehad het! (13)

Die munisipaliteit, volgens Meir Margalit, “leef in vrees dat die Israelitiese soewereiniteit oor Jerusalem in gevaar is. In hierdie paranoïese mentaliteit het elke huis, boom en potplant deel aan ’n wêreldwye politieke sameswering.” Yigal Amedi is egter nie van dieselfde mening nie: vir hierdie adjunk-burgemeester is sulke “buitengewone” slopings geregverdig omdat dit geboue teiken wat “onwettig opgerig” is. Snaaks genoeg, hoewel hy lid is van die Komitee van Beplanning en Konstruksie is hy dikwels nie daarvan bewus dat die inspekteurs van sy munisipaliteit voortgaan met slopings onderwyl ’n regsbesluit nog hangende is nie. “Die munisipaliteit,” smeek hy, “probeer net ’n bietjie orde in die chaos herstel!”

Watter stelling! Die sogenaamde “onwettigheid” van 40% van die wonings in Oos-Jerusalem – 15 000 uit 40 600 – is die gevolg van die munisipaliteit se laksheid met die toekenning van permitte aan Palestyne: tussen 2000 en 2004 is 481 toegeken aan die 5 300 wat gebou is. En aansoeke kos duur: meer as R160 000 en maande se administrasie vir ’n gebou van ongeveer 200 m 2. Veral die area waarop gebou mag word, het weggekrimp. Na 1967 het Wes-Jerusalem 54 km 2 beslaan en Oos-Jerusalem 70 km 2, waarvan 24 onteien en aan die kolonies gegee is. Uit die oorblywende 46 km 2 was 21 nie beskikbaar vir verstedeliking nie. Onder die 25 wat wel bruikbaar was, is 16 teruggehou vir groen areas, openbare geboue, padbane ensovoorts. Die beboubare 9 km 2 vir die Palestyne verteenwoordig dus 7,25% van die algehele oppervlakte van die stad!

Effrat Cohen-Bar, argitek en militant van Bimkom, vaar uit teen die nuwe “master plan”. “Ten spyte van beperkte vooruitgang is daar steeds ongelykheid van behandeling. Van nou tot 2020 word 3 km 2 beboubare gebied aan ’n verdere 158 000 Palestyne toegeken, en 9,5 km 2 aan 110 000 Jode.” Die geograaf Irene Salenson verwys na die “horisontale en vertikale inperking van Palestynse stedelike ontwikkeling”: Die ooste sal gemiddeld vier verdiepings hoog mag bou (in plaas van die huidige twee), maar in die weste is dit tussen ses en agt verdiepings! (14)

Hierdie ongelykheid is slegs een van die fasette van ’n omvattende politiek van diskriminasie, wat die sesde en laaste instrument van die Israelitiese hegemonie is. Slegs die Jode is burgers. As eienaars van ’n groen identiteitskaart het die Palestyne van die Wesoewer geen regte nie, nie eens om die stad te betree sonder toestemming nie, wat al hoe seldsamer toegestaan word. Die “permanente bewoners”, met hul blou identiteitskaarte, ontvang wel maatskaplike voordele en stemreg in streeksverkiesings, maar dié regte is nie outomaties oordraagbaar aan hulle gades of kinders nie.

’n Bekende Europese verslag, waarvan die sensuur deur die Raad van Ministers aan die einde van 2005 ’n skandaal veroorsaak het, onthul verdere buitensporighede: “Tussen 1996 en 1999 het Israel ’n prosedure van stapel gestuur getiteld ‘leefsentrum’, waarvolgens diegene wat ’n blou identiteitskaart besit, maar buite Oos-Jerusalem, byvoorbeeld in Ramallah, woon of werk, hierdie kaart sal verbeur. Om dié rede het ’n vloedgolf van mense met die kaart op Oos-Jerusalem toegesak.” (15)

Die begroting van die stad is ewe diskriminerend: Oos-Jerusalem, met 33% van die bevolking, ontvang slegs 8,48%; elke Jood kry gemiddeld 5 968 sikkels, elke Arabier, 1 311. Dis niks vreemds, verduidelik Betselem, dat 67% van Palestynse families onder die broodlyn lewe nie, teenoor 29% van Israeliese families (16). Self die produk van ’n arm woongebied, ontken mnr. Amedi nie die “oponthoude, in terme van infrastruktuur en dienslewering waaronder Arabiese en ultra-ortodokse gebiede ly nie.” Hy verseker egter dat die stad, in die tyd toe Ehud Olmert as burgermeester gedien het, “meer as ooit vantevore belê het in ’n poging om die balans te herstel,” en hy lys die projekte waaraan tans gewerk word. “Druppels in die emmer,” erken hy, “maar ’n mens moet iewers begin.”

Op die oomblik begin en eindig alles by die oprigting van die muur, wat die indrukwekkendste middele mobiliseer: 6,5 miljoen rand per kilometer, en daar sal 180 km wees waarvan slegs vyf oor die groen lyn sal beweeg. Dit wil sê dat die argumente oor veiligheid nie steek hou nie. Die selfmoordaanvalle – 171 slagoffers in ses jaar – het die stad getraumatiseer. Maar hier skei die muur, oor die grootste deel van sy lengte, nie Israeli’s en Palestyne nie: dit sny Palestyne van hul skole, hul velde, hul olyfboorde, hul hospitale en begraafplase af ...

“Die muur is ’n middel wat die regering gebruik om Jerusalem te beheer en nie om die veiligheid van Israeli’s te verseker nie,” voeg Menahem Klein by. Inderwaarheid verteenwoordig dit die hart van al die middele van dominansie wat tot hiertoe genoem is. Die muur vergroot die oppervlakte van Oos-Jerusalem 2,3 keer deur ’n soort klawer te skets wat die nuwe kolonies met hul ontwikkelings insluit: Bet Horon, Givat Zeev, Givon Hadasha en die toekomstige “metropolitaanse park” van Nabi Samuel in die noorde; Har Gilo, Betar Ilit, asook die hele Goesj Etzion aan die suidekant, en Maale Adoemim in die ooste.

Van die dodelike bedreiging wat die konstruksieprojek vir ’n toekomstige Palestynse staat verteenwoordig, kry ’n mens ’n beter prentjie vanaf die uitkykpunt van die Augusta Victoria-hospitaal. Die kolonie self beslaan 7 km 2, maar die munisipale plan van die Maale Adoemim-blok dek ’n totale oppervlakte, op hede nog grotendeels verlate, van 55 km 2 (meer as Tel-Aviv: 51 km 2). Dié strook strek byna tot by die Dooie See en sny dus die Wesoewer in twee. In die noorde verteenwoordig die bekende Sone E1 met sy 12 km 2 (12 keer die grootte van die ou stad!) die laaste moontlike groeigebied vir Oos-Jerusalem. Maar selfs die (formele) opposisie van Washington het nie die oprigting van die polisie se nuwe hoofkwartier vir die Wesoewer gekeer nie, terwyl huise, winkelsentrums, hotelle en so meer moet wag. Wat die Jahalin Bedoeïene betref, kyk hul arme gehuggies vanaf ’n heuwel – waarheen hulle “verskuif” is – uit oor ... die vullishoop.

Soveel as moontlik Palestynse grond met so min as moontlik Palestyne: dié ou beginsel het die roete van die muur gelei wat, terwyl dit Joodse kolonies insluit, ook Arabiese gebiede uitsluit. Sodoende verdryf dit in die Wesoewer, van noord tot suid, die dorp van Qafr Aqab langs die vlugtelingkamp Qalandiya, die helfte van Beit Hanina, en ’n gros ander: A-Ram, Dahiyat al-Bared, Hizma, die Shuafat-kamp, Dahiyat Al-Salam, Anata, Ram Khamzi en, heel in die suide, Walaja. ’n Eerste: 60 000 van die 240 000 Palestyne is uit Jerusalem geskop ... sonder dat hulle eens beweeg het! Dit het ’n string verliese tot gevolg.

Verlies van tyd: “Voorheen het ek te voet universiteit toe gegaan,” getuig Mohammad, ’n student uit Ramallah wat vir mediese studie geregistreer is aan die Al Qods-universiteit. “Nou moet ek 90 minute in ’n motor ry.” Verlies van inkomste: die handelaars van die “slegte” gedeelte van A-Ram betreur die daling van tussen 30% en 50% in hul handelsyfers; ’n tandarts hier moet eenvoudig sy praktyk sluit, terwyl ’n eienaar van ’n kompleks wat ’n onbelemmerde uitsig op die muur bied, nou sonder enige huurders sit. Verlies van personeel: tussen ’n derde en die helfte van dokters en verpleegsters, so ook onderwysers wat nie meer kan inkom om in Jerusalem te werk nie. Waarskynlike verlies van “inwoning”: wie ook al nie kan bewys dat hy beide in Jerusalem bly en werk nie, sal tydens die hernuwingsproses sy blou identiteitskaart verloor. Verlies, bowenal, van Oos-Jerusalem se status as Palestynse metropool.

“Almal weet dat die komende onderhandelings met ‘Clinton se parameters’ sal begin, spesifiek die verdeling van die stad om plek te maak vir twee hoofstede,” som Menahem Klein die situasie op. “Dis presies wat die muur probeer vermy, deur Al Qods te verdeel soos ’n metropolitaanse sentrum en dit te ontkoppel van sy Palestynse ekonomiese, maatskaplike en kulturele agterland. Maar as ons leiers hoop om voordeel te trek uit die swakheid van die Palestyne, dan is hul berekeninge uiters kortsigtig: die jong generasie sal sy kop uitsteek. Wat sal daar dan oorbly van Sharon en Olmert se ambisies ‘om Jerusalem te bevry’?”

Ander verbind die Israeliese opkoms met die vredesproses. Aldus Ambassadeur Sanbar, volgens wie dinge spoed opgetel het “vanaf die oomblik dat Jerusalem amptelik ingeskryf is op die onderhandelingsagenda. Sodoende, hoe meer daar daadwerklik gedoen word, hoe minder sal daar wees om oor te onderhandel.” Vir Wassim H. Khazmo, raadgewer van die Palestynse onderhandelingspan, “het Sharon voordeel getrek uit die swakheid van die internasionale gemeenskap deur te neem wat George W. Bush hom in sy brief van 14 April 2004 belowe het – die kolonieblokke.”

Ons is verras om te hoor dat mnr. Toefakji, in die naam van realisme, nie meer agter hierdie “blokke” staan nie. “Selfs Maale Adoemim?” “Ja.” “Selfs Sone E1?” “Ja.” Asof in antwoord op hierdie opgawe, roep Hasib Nashashibi, van die Koalisie vir Jerusalem, die “leierskapskrisis” in die Palestynse Bevrydingsorganisasie op: “Die Israeli’s buit duidelik ons verdeeldheid en ons foute uit.” En Amos Gil wys na die “hoofargument dat selfmoordaanvalle die oprig van die muur regverdig.”

Daar is ’n ontdekking wat die name van Kafka en Koning Oeboe by ’n mens oproep: die Palestyne van die enklawes van Biddu (35 500 siele), Bir Nabala (20 000) en Walaja (2 000) is vasgevang deur die muur en die versperrings wat hulle geheel en al omring. Die Gharib-gesin dien hier oënskynlik as reinigingsoffering: Een vir een het die setlaars van Givon Hadasha, op private Palestynse grondgebied, huise rondom hulle s’n opgerig; die Gharib-gesin se huis is omskep in ’n mini-enklawe, deur ’n pad met sy oorspronklike dorp verbind, die geheel toegespan met ’n draad wat binnekort elektries sal wees en met ’n kamera dopgehou word ... Met vriendelike bure: toe hulle ons sien, skreeu een: “Ek het ’n geweer – ek gaan jou platskiet!” Leë dreigemente? Hulle het reeds een van sy seuns doodgeskiet. Die Gharib-gesin byt nogtans vas, in weerwil van die vervolging, soos hulle al die afgelope twintig jaar maak ...

Hoe kan ’n mens dit verhelp om te dink aan Meron Benvenisti se kleurvolle woorde die vorige aand: “Die muur? Dis ’n monument van totale wanwoop! Kyk na Bethlehem: aan die een kant, die Geboortekerk, en aan die ander kant, die bunker opgerig rondom Ragel se graf. Dis die arrogansie van die besetter wat hom gemeenskappe laat definieer en herdefinieer soos hy lus kry: asof die afbakening die ‘goeie’ Arabiere (aanvaarbaar in Jerusalem) skei van die ‘slegtes’ (wat daarvan uitgesluit word). Hulle wat hierdie gruwel bedink het, redeneer met dieselfde negentiende-eeuse koloniale logika as julle, die Franse, toe julle so aan Indo-China en Noord-Afrika vasgeklou het. Maar dit sal ewe sleg uitdraai! Die muur van Jerusalem gaan eindig soos dié van Berlyn.”

 

 

(1) Nakba verwys na die verdwyning van Palestina en die geforseerde uittog van die 800 000 inwoners in 1948. Kolonel Tirza is van sy pligte onthef nadat hy voor die Hooggeregshof vals getuienis gelewer het om die roete van sy muur te regverdig.

(2) Aan die einde van 2006 is die aantal inwoners van Jerusalem beraam op ongeveer 700 000: 470 000 Jode en 230 000 Palestyne.

(3) In Bulletin du Centre de recherche français de Jérusalem, nr 16, 2005, pp.212-213

(4) Haaretz, Tel-Aviv, 17 Julie 1996. “Yesha” is die samevoeging van Yehuda ve Shomron (Judea en Samaria), ’n naam gegee deur die setlaars in die Wesoewer.

(5) In René Blackmann se uitstekende Mur en Palestine, Parys: Fayard, 2006.

(6) Haaretz, 26 April 2006.

(7) Volgens oorlewering het Koning Dawid sy hoofstad hier gestig teen 1000 v.C.

(8) Haaretz, Tel-Aviv, 26 November 2006.

(9) In beheer van die bestuur van heilige Moslembesittings.

(10) http://paxchristi.cef.fr/docs/jerusalem.rtf

(11) Vgl. http://blog.mondediplo.net/2006-12-06-Les-bulldozers-en-action

(12) Discriminations in the Heart of the Holy City, Jerusalem: IPCC, 2006. Die syfers wat volg is, behalwe waar dit anders aangedui word, hieruit geneem.

(13) A Wall in Jerusalem, Jerusalem, 2006.

(14) Bulletin…, op. cit., p.216

(15) Kyk www.france-palestine.org. Terwyl die Sosiale Sekerheid graag om grotendeels finansiële redes die identiteitskaarte wil terugneem van diegene wat hulself buite die stad bevind, verkies die Departement van Binnelandse Sake en veral die munisipaliteit – wat die aantal Palestyne woonagtig in Jerusalem tot die minimum probeer beperk – dat hulle hul identiteitskaarte buite die munisipale grense behou.

(16) A Wall…, op. cit.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=817
Artikel nagegaan:
    -