blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Die VSA se gevaarlike spel met die Moslemwêreld: Van die Midde-Ooste tot Indië 2007-02-15
Hisjam Ben Abdallah el Allawi

*Stigter van die Instituut vir Eietydse navorsing oor Noord-Afrika, die Midde-Ooste en Sentraal-Asië aan die Universiteit van Princeton (VSA), en internasionale waarnemer tydens die twee Palestynse verkiesings in 1996 en 2006. As “regent lecturer” aan die Universiteit van Californië gee hy op 29 Januarie daar ’n lesing waarop hierdie artikel gebaseer is. Die skrywer is ook ’n neef van die koning van Marokko, Mohammed VI. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Ná die Iranse revolusie in 1979 is sommige Amerikaanse politieke leiers aangetrek deur die gedagte dat Islamitiese magte teen die Sowjet-Unie ingespan sou kon word. Volgens hierdie teorie, uitgedink deur Zbigniew Brzezinski, nasionale veiligheidsraadgewer vir president Jimmy Carter, bestaan daar ’n “krisisboog” wat van Marokko tot Pakistan strek, en sou hierdie “boog van Islam” dan in die streek gemobiliseer kon word om die Sowjet-invloed aan bande te lê (1).

 

Op stuk van sake is konserwatiewe Moslemmagte reeds in die 1960’s en 1970’s ingespan om linksgesinde en nie-godsdienstige nasionalistiese partye in dié geweste te marginaliseer en te kniehalter, soos vroeër ook in Iran in 1953. Sou Irannese fundamentalisme dus nie ’n katalisator kon wees vir ’n Moslem-opstand in die “sagte maag” van die Sowjet-Unie nie?

Later het die VSA tussen verskeie beleidsrigtings in die Midde-Ooste en Sentraal-Asië geskommel, deurgaans met een dubbele oogmerk: oorwinning in die Koue Oorlog en steun aan Israel. Maar die middele wat gebruik is en die lande wat hulle steun geniet het, het gewissel, en soms op teenstrydige wyse. Amptelik steun die VSA vir Irak in die oorlog teen Iran (1980-1988), op dieselfde tydstip dat hy die lewering van Israeliese wapens aan Iran goedkeur. Destyds was dit die konserwatiewe bondgenote van Tel-Aviv wat hulle aktief beywer het vir ’n ommeswaai in Teheran se guns, aangesien Israel toe nog nie-godsdienstige Arabiese nasionalisme as sy grootste vyand gesien het, en die Moslembroeders in die besette Palestynse gebiede gesteun het as teenvoeter vir die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO). Die bloeityd van hierdie strategie was Washington se bondgenootskap met Saoedi-Arabië en Pakistan, wat onder meer in die 1980’s gelei het tot die opbou van ’n internasionale Djihad-leër om die Sowjet-Unie in Afganistan te beveg (2).

In 1990, met die Sowjet-Unie aan die kwyn, bring die VSA ’n internasionale koalisie tot stand om die Irakse weermag in Koeweit te verslaan. Arabiese lande, van Sirië tot Marokko, antwoord op ’n oproep wat gebaseer is op internasionale reg en VN-resolusies. Hulle kry die versekering dat dit nie net daarom gaan om ’n vriendskaplike, olieproduserende monargie te red nie, maar om ’n nuwe orde te skep wat op internasionale geregtigheid gebou sal wees. Met Koeweit se soewereiniteit in ere herstel, sou al die VN-resolusies in werking kon tree, insluitend dié wat eis dat Israel uit die besette Palestynse gebiede onttrek.

In weerwil van druk besluit die Amerikaanse regering om nie president Saddam Hoessein se regime omver te werp nie. “Om Saddam omver te werp ... sou ons militêre mag moes gebruik. En nadat ons van Saddam Hoessein en sy regering ontslae geraak het, sou ons ’n nuwe regering moes saamstel. Maar watter soort regering? ’n Soennitiese regering of ’n Sjiïtiese een, ’n Koerdiese regering of ’n Baasistiese regime? Of dalk sou ons sekere Islamitiese fundamentaliste wou laat deelneem? Hoe lank sou ons in Bagdad moes bly om so ’n regering in die kussings te hou? Hoeveel verliese sou die VSA kon aanvaar om stabiliteit te probeer herstel? Ek is van mening dat ... ons ’n fout sou begaan deur in die Irakse moeras vas te val. En die vraag kom by my op: hoeveel Amerikaanse verliese is Saddam nóg werd? Die antwoord is: bitter min” (3). Hierdie besadigde mening is dié van die destydse minister van verdediging, Richard Cheney, tans visepresident van die VSA ...

Diegene wat toe reikhalsend ’n “regimeverandering” in Bagdad gesoek het, kon gerus voel vanweë die sanksies wat meer as ’n dekade lank teen Irak gehandhaaf is. Hulle vorm drukgroepe, onder meer die Project for the New American Century, en bou stelselmatig aan ’n politieke ondersteuningsraamwerk vir ’n toekomstige aanval op Irak, sodra die omstandighede hulle daartoe sou leen. Die Israeli’s was intussen gerusgestel deur die feit dat die Amerikaanse minister van buitelandse sake, James Baker, se kortstondige poging sedert die Israelies-Arabiese konferensie in Madrid in Oktober 1991 om die VSA se amptelike beleid in Palestina toe te pas, mettertyd vergeet is. Die “vredesproses” word vanaf 1996 slegs ’n dekmantel vir die verdubbeling van setlaars op die Wesoewer.

Meer oos van die krisisboog lê die ontknoping van die oorlog in Afganistan in die hande van die Noordelike Alliansie se krygshere en die Taliban. Met die einde van die Koue Oorlog steun die VSA totaal op Pakistan, wat hom op sy beurt verbind tot ’n militêre Islamitiese regime, vir wie ’n Islamitiese Afganistan ’n strategiese rugsteun teen Indië bied. Die oorwinning van die Taliban, wat in ’n groot mate deur die Pakistani-weermag se inligtingsdiens aangehelp is, stel Islamabad in staat om sy bande met die nuwe regime te versterk.

So versuim die VSA deur dekades heen om die aspirasies van Arabiese en Moslem-volke in ag te neem. Beleidsrigtings is gevoer, weermagte gemobiliseer, alliansies gesluit en ontbind, oorloë gevoer teen die grondgebied en persoon van Arabiere en Moslems, maar altyd om redes wat aan ander belange gekoppel is. Die gebrek aan samehang en beleidsafwykings ten opsigte van Irak, Iran, Sjiïtiese en Soennitiese fundamentaliste, die Djihad-ideologie, diktatuur, demokrasie, absolute monargie, Jasser Arafat en die PBO, Israelse setlaars en die “vredesproses”, ens., is tekenend hiervan. Die VSA het vir eie gewin opgetree – hetsy om olietoevoer te verseker, die Koue Oorlog te wen, sy oorwig te demonstreer of Israel te steun – en sodra een oogmerk bereik is, “vergeet” hy al die kwellings van die Arabiere en Moslems wat bygerakel is om hulle steun te bekom.

Geen belediging kon vir die Arabiese en Moslem-wêreld groter wees as mnr. Brzenzinski se beroemde uitlating drie jaar voor 11 September 2001 nie. Op ’n vraag of daar moontlik spyt kon wees dat ’n Djihadistiese beweging met Amerikaanse hulp toegelaat is om te vorm ten einde ’n Sowjet-inval in Afganistan uit te lok, antwoord hy: “Spyt waaroor? ... Wat is belangriker uit die oogpunt van die wêreldgeskiedenis? Die Taliban of die val van die Sowjet-ryk? ’n Paar opgewerkte Moslems of die bevryding van Sentraal-Europa en die einde van die Koue Oorlog?” (4).

Dit is die soort veld waarop die gebeure wat die afgelope vyf jaar “die wêreld verander het”, hulle afgespeel het – van die aanvalle op 11 September tot die inval en besetting van Irak. In 2003 sou die enigste moontlike “oorwinning” vir die VSA ’n vinnige oorgang na ’n stabiele, verenigde, demokratiese, nieteokratiese en veral onbesette staat gewees het. Dit was ’n groot waagstuk, en dit het misluk. Volgens ’n afgetrede Amerikaanse generaal was dit selfs “die grootste strategiese flater in die geskiedenis van die VSA” (5). Die neerlaag was onomkeerbaar.

Die oorwinnaar is na alle klaarblyklikheid Iran. Danksy die VSA se strategie om Irak se weermag en Baasiste-strukture te ontbind, is Teheran se tradisionele vyand uitgeskakel, terwyl die Amerikaanse vertroue in Sjiïtiese godsdienstiges Iran se bondgenote binne Irak gehelp het. So het Washington die staat versterk teen wie hy juis voorgee om te veg.

Die reperkussies is aansienlik, beide vir die VSA en vir die Arabies-Moslemwêreld in geheel. Nie-godsdienstige, linksgesinde Arabiese nasionalisme, wat die ideologiese raamwerk vir die weerstand teen Westerse oorheersing omskryf het, het gewyk voor Islamitiese strominge wat hierdie weerstand in diep konserwatiewe ideologieë verstrengel het. Politieke konflikte rondom nasionale onafhanklikheid en moontlikhede vir ontwikkeling word vermeng met godsdienstige, kulturele en gemeenskapsbotsings. Hierdie paradigmaskuif is soms in die verlede deur die Weste aangemoedig. Vandag bied die Amerikaanse debakel in Irak vir Teheran nuwe geleenthede om die fakkel van Arabiese nasionalisme onder die Islamitiese vaandel op te neem.

Die Islamitiese republiek is blykbaar die voorvegter vir ’n nuwe strydfront wat Arabiese nasionalisme met die stygende vlaag van Islamitiese weerstand verbind. Hiervoor beskik hy oor etlike groot bates: hy kan die situasie vir Amerikaanse troepe vergemaklik of bemoeilik; hy kan bydra tot die Israeli’s se neerlaag in Libanon danksy sy bondgenote in Hisbollah; hy kan selfs ’n reddende hand na die Palestyne uitsteek deur sy steun aan Hamas. Sy invloed strek tot in die oliestreke van die Persiese Golf en Saoedi-Arabië met sy Sjiïtiese meerderheid. Bowendien is hy goed geplaas om die ontsaglike leemte te vul wat die verwoesting van die Irakse staat in streeksmagsverhoudinge gelaat het, die Israelies-Palestynse konflik te stuur en die wesenlike aard van sekulêre betrekkinge tussen Sjiïete en Soenniete te omvorm.

Die VSA en Israel se (veral militêre) dreigemente versterk bloot Iran se strategiese belang en beklemtoon sy status as voorhoede in die Arabies-Moslemwêreld se weerstand. Des te meer aangesien Washington en Tel Aviv in ’n innerlike konflik gewikkel is: enersyds is hulle oortuig van die noodsaaklikheid van gewapende optrede, wat nietemin tot lugbombardemente en spesialemagoperasies beperk is. Maar so ’n aanval kan nie die regime vernietig nie, inteendeel. Is dit om hierdie rede dat die Amerikaanse president en vise-president die gebruik van kernwapens oorweeg (6)? Die gevolge van so ’n onderneming op streeks- en internasionale vlak sal onberekenbaar wees. Maar desnietemin moet die VSA immers sy geloofwaardigheid herwin en opnuut die soort vrees inboesem waarop wêreldryke gebou word.

Nog ’n strategie wat in Washington bespreek word, sou wees om die kwessie van geloofsoortuiging met die hulp van Saoedi-Arabië in te span. Twee teenstrydige tendense is hier werksaam. Die eerste is die toenadering tussen Soenniete en Sjiïete, veral sedert die oorlog in Libanon in die somer van 2006, wat die duidelike verwantskappe tussen Teheran en Hisbollah uitgewys het, wat van sjeik Hassan Nasrallah ’n held in die Arabiese wêreld gemaak het en, in ’n mindere mate, Hamas. Vir die eerste keer in menseheugenis verklaar gerespekteerde Soennitiese godsdiensleiers nou dat die verskille met die Sjiïete oor onbenullige religieuse kwessies gaan – foru’ eerder as osul.

Die tweede tendens is die spanninge wat die besetting opnuut tussen die twee Islamitiese families laat opvlam het, veral in Irak. Des te meer omdat die Sjiïtiese bevolkings, wat in strategiese gebiede gekonsentreer is, dikwels met minagting deur die Soennitiese owerhede behandel is: vandaar die teelaarde vir hulle misnoeë en woede. Aan die ander kant maak die eise van die Sjiïtiese burgermagte en die eerlose teregstelling van Saddam Hoessein weer haatgevoelens by die Soenniete wakker.

Sommige Amerikaanse amptenare meen dat Riaad die finansier van ’n Soennitiese weerstandsbeweging teen afvallige Sjiïete sou kon word. Die Saoedi-regime is inderwaarheid sterk gekant teen die vooruitsig dat die invloed van die Sjiïtiese teologie en die Islamitiese Republiek in die streek mag uitbrei. Hulle het reeds belowe dat hulle, indien nodig, die Irakkese Soenniete sal beskerm. Sal Saoedi-Arabië en die monargieë van die Persiese Golf, Egipte, Jordanië, die Koerde, die Irakkese en Libanese Soenniete en Fatah die invloed van ’n Sjiïtiese Iran, ’n Alouïtiese Sirië en sy bondgenote, die Libanese Hisbollah en die Palestynse Hamas kan teëwerk? Om geloofwaardigheid te behou, moet die Arabiese “gematigdes” ’n regverdige en vinnige oplossing vir die Palestynse probleem kan bied. Maar as die VSA en Israel hulle in hierdie stryd begewe, doen hulle afstand van enige hoop op ’n ernstige kompromis.

So ’n strategie van geloofspanning sou tot ’n burgeroorlog tussen Moslems kon lei. Dié wat daaraan deelneem, sal beskou word as agente wat die streek verskeur ter wille van Israel en die VSA. En watter van hierdie Moslem, Soennitiese, anti-Sjiïtiese groepe sou gehelp moes word? Westerse en selfs Amerikaanse menings mag met ’n skok ontdek dat hulle regering opnuut besig is om “Wahabitiese weermagte van die Djihad” te help bou – Al-Kaïda met ’n ander naam. So ’n scenario sal nie tot ’n “oorwinning” lei nie, maar tot ’n nuwe reeks krisisse.

Die neokonserwatiewes beskryf hierdie strategie as konstruktiewe onstabiliteit (of kreatiewe verwoesting), maar ’n intelligente waarnemer sal dit eerder raak beskryf as “staatsmoord” (“staticide” (6)). Die VSA het oplaas so ’n rigting in Libanon en Palestina ingeslaan. Kyk ’n mens na die resultate eerder as die voornemens, verstaan jy waarom die Arabiere en Moslems die gevolgtrekking maak dat Washington se beleid in die Midde-Ooste nie gaan om die redding van “bankrot state” nie, maar om die skepping daarvan.

Die aanval teen Libanon, wat groot verwoesting gesaai het, het op ’n mislukking uitgeloop: Israel het homself nog ’n entjie verder geïsoleer in die streek en in die wêreld; militêr gesproke het Hisbollah deurgaans die vermoë behou om met sy stryders te kommunikeer, oor die radio en op televisie sy boodskappe aan die bevolking uit te saai, verliese by die invallers te veroorsaak en vuurpyle op Israel af te skiet (7). Die Israeli’s het nie een van hulle verklaarde doelwitte bereik nie: nóg die ontwapening van Hisbollah, nóg die terugkeer van hulle gevange soldate.



Die vraag wat Israel se bedrywighede in Libanon laat ontstaan, soos dié van die VSA in Irak, is of hulle hierdie terugslae sal kan aanvaar, en of hulle in die versoeking sal wees om die “weddenskap te verdubbel”. Is hierdie neerlae die voorteken van ’n nuwegenerasie- oorlogvoering? Of is hulle net tydelik? Een ding is duidelik: die “nulsterftes”- oorwinningsmodel wat voorgehou is tydens die Golfoorloog (1990-1991) of dié in die Balkan, deur middel van massa-bombardemente en die gebruik van ultramoderne wapens, is iets van verlede. Wat nou op die spel is, is om langtermyn beheer en die trou van die bevolkings te wen, iets wat nie deur lugmagte gewaarborg kan word nie, en wat ’n hoë prys in politieke en menslike terme sal verg.

Washington het reeds ’n hoë tol betaal vir sy rol in hierdie klein oorlog van hom. Die beeld van die Libanese premier, Foead Siniora, wat met trane in die oë die VSA smeek om die verwoesting van sy land te voorkom, kan as ’n draaipunt beskou word. Die beweging van 14 Maart het die mag oorgeneem met ’n “Sederrewolusie” wat deur die Wit Huis gesteun, en as die soort demokratiese hervorming geloof is wat president Bush juis in die Arabiese wêreld wil aanmoedig. Maar in die aangesig van Israel wat aan Libanon ’n les wou leer, het Siniora vergete geraak. Nie alleen het Washington vir ’n maand lank enige wapenstilstand verhoed nie, hy het Israel boonop van verwoestingswapens voorsien.

Die gevolg is wat Siniora beskryf as die “onvoorstelbare” verwoesting van Libanon se burgerlike infrastruktuur (8), asook ’n verswakking van die regering self. Hisbollah dring vandag daarop aan om ’n groter rol te speel, en in ’n omgekeerde “Sederrewolusie”, organiseer hy sy eie massastraatoptogte, vreedsaam en gedissiplineerd, in navolging van die taktiek wat deur die VSA en die Weste aangemoedig word. Die VSA “skroom nie om kant te kies” in hierdie interne stryd nie, en verdubbel nou hulle hulp aan die Libanese weermag en die interne veiligheidsmagte, wat hulle werwing onder die Soenniete en die Droesse verskerp (9). Hierdie soort politiek, waaroor die VSA min kommentaar lewer, word in die Arabiese, Israeliese en wêreldpers veroordeel. Ná hierdie oorlog sal die Arabies-Moslemwêreld uiters moeilik oortuig kan word dat die VSA nie bereid is om enige bondgenoot of beginsel van regverdigheid prys te gee met die uitsluitlike doel om Israel te ondersteun nie.

Vernietiging van die burgerlike infrastruktuur, verswakking van sy maatskaplike en politieke samehang, die skep van ’n denkpatroon wat lei tot botsings tussen geloofsoortuigings en ’n burgeroorlog: toe hierdie dinamika in Irak spoed gekry het, het dit gelyk na ’n ontsettende gevolg waarop Washington nie gereken het nie. Toe dieselfde elemente in Libanon herhaal word, kon ’n mens nog in ’n ongelukkige toeval glo. Maar wanneer ’n soortgelyke dinamika in Palestina gestalte kry, huiwer talle waarnemers nie meer om van ’n Amerikaanse strategiese “model” te praat nie.

Die Palestynse gebiede beleef ’n grootskaalse humanitêre krisis. Sedert Hamas se oorwinning in die verkiesing van Januarie 2006 het die VSA en die Europese Unie hulle by Israel geskaar om die Palestyne uit te honger en te dwing om hulle demokraties verkose regering te verwerp. Die voorspelbare gevolge van hierdie aanvalle is ’n maatskaplike orde wat in duie stort en ’n burgerlike konflik wat al groter opdoem.

’n Heldersiende Amerikaanse waarnemer beskryf die gefolterde landskap só: “Die Palestyne in Gasa leef ingehok in ’n gure, oorbevolkte ghetto, omring deur die Israelse weermag en ’n enorme elektriese grensdraad; dit is vir hulle onmoontlik om die Gasastrook binne te kom of te verlaat en hulle word daagliks deur aanvalle geteister (...) Israeliese pogings om ’n ineenstorting van wet en orde te bewerkstellig, chaos te skep en allerlei tekorte te veroorsaak, is sigbaar tot in die strate van Gaza City, waar Palestyne verbystap by die ruïnes van die Palestynse ministeries van binnelandse sake, buitelandse sake en binnelandse ekonomie, die kantore van die Palestynse eerste minister en verskeie onderwysinstansies wat deur die Israeliese lugmag gebombardeer is. (...) En die Wesoewer versink vinnig in ’n krisis soortgelyk aan dié in Gasa. (...) Wat hoop die VSA en Israel om te bereik deur Gasa en die Wesoewer in ’n miniatuurweergawe van Irak te omskep? (...) Glo hulle dat hulle só terrorisme kan hokslaan, selfmoordaanvalle kan keer en vrede kan bewerkstellig?” (10)

’n Nuwe fase is betree met die VSA se lewering van wapens, met behulp van Israel, “aan kampvegters van Force 17 in Gasa wat verbonde is aan die Fatah-leier Mohammed Dahlan; volgens amptelike verteenwoordigers van die Israelse en Palestynse veiligheidsdienste het hierdie Amerikaanse wapenlewering ’n bewapeningswedloop met Hamas op tou gesit” (11).

Wat die bedoelinge ook mag wees, die denkrigting van maatskaplike disintegrasie en burgeroorlog is via die Amerikaanse politiek aan die ontplooi in drie lande wat deur Israel geïdentifiseer is as plekke waar weerstand gebied word teen sy streeksambisies. Daar bestaan ’n verstokte kern van regsgesinde Sioniste wat die Palestyne op hul knieë wil dwing of hulle wil verwyder uit al die gebiede waarin Israel sinnigheid het. Om dit reg te kry, wil hulle enige weerspannige bure verswak. Dit is skrikwekkend, maar nie juis verbasend nie, om sulke fanatici in magsposisies in die Israelse regering te sien. Dit is skokkend om te dink dat Washington so ’n verwoestende en selfvernietigende strategie kan navolg en selfs skep, ter wille van ’n valse persepsie van vriendskap teenoor Israel.

Indien die VSA werklik Israel se vriend was, sou hy nie net geweier het om hierdie weg te volg nie, maar sou hy dit eens gewees het met ’n Israelse waarnemer wat opgemerk het: “Israel se beleid bedreig nie alleen die Palestyne nie, maar ook die Israeli’s ... ’n Klein Joodse staat met 7 miljoen inwoners (waarvan 5,5 miljoen Joods is), omring deur 200 miljoen Arabiere, is besig om van die ganse Moslemwêreld vyande te maak. Daar is geen waarborg dat so ’n staat kan oorleef nie. Om die Palestyne te red, sou wees om ook Israel te red” (12).

Dit is nie net in die Midde-Ooste dat ’n Amerikaanse neerlaag moontlik lyk nie. Verder oos, in Afganistan, word die VSA ook swaar beproef. Na 11 September het niemand getwyfel aan Washington se reg om Osama ben-Laden en Al-Kaïda met mag te vervolg nie. Die besluit om ’n kolossale militêre operasie van stapel te stuur en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) te betrek om die land se politieke infrastruktuur te omvorm, was egter riskant. Om te slaag, sou ’n beslissende militêre oorwinning verg, gevolg deur ’n stewige ekonomiese en politieke betrokkenheid oor die lang termyn om die gemeenskap te hervorm, met die hulp van betroubare, gerespekteerde plaaslike bondgenote wat ook ’n verbintenis tot hervorming het.

Op dié terrein maak die VSA staat op krygshere van die Noordelike Alliansie om vinnige resultate te kry en gebruik ’n ingevoerde president om die skyn van ’n sentrale regering in Kaboel te handhaaf. Hy was nie in staat om die leiers van Al-Kaïda en die Taliban uit te skakel nie, en het hom gou uit Afgaanse gebied onttrek om hom op Irak toe te spits. Die here Ben-Laden en Aiman Zawahari gaan voort om kassette uit te saai, terwyl die Taliban, wat noue bande met Pasjtoen-stamme aan beide kante van die grens tussen Pakistan en Afganistan handhaaf, verenig en ’n werklike bedreiging vorm vir NAVO-troepe wat in kampe afgesonder sit, en net verskyn om strooptogte en bombardemente vanuit die lug te loods (13). Die Pakistanse minister van buitelandse sake het selfs sover gegaan om te sê NAVO “moet die neerlaag aanvaar” en sy troepe onttrek.

Washington se lomp poging om ’n duidelike, edele stryd teen Al-Kaïda te voer, het nie alleen in die verwikkeldheid van Afgaanse stamme en krygshere verstrengel geraak nie, maar ook in die gevaarlike, gekompliseerde spel wat Pakistan voer: laasgenoemde moet in sy lewenstryd om Kasjmir staatmaak op sy eie Islamitiese groepe. Islamabad doen dus ’n beroep op NAVO en die Afgaanse regering om die onvermydelike teenwoordigheid van “gematigde Talibans” in Afganistan te aanvaar; gee trouens aan hulle beheer oor een van sy provinsies – die Noordelike Waziristan. So word ’n basis gevestig vanwaar “minder-gematigde Talibans” NAVO se soldate aanval en nou selfs hulle toevlug neem tot die tegniek van “selfmoordaanvalle” – iets wat nog nooit voorheen in hierdie land gesien is nie: het die verbintenis met Irak dan ’n werklikheid geword? So het die “oorlog teen terrorisme” die VSA inderwaarheid afhanklik gemaak van Pakistan, wat hom op sy beurt in ’n strukturele alliansie met radikale Islamisme bevind. En gestel die “verpakistaniëring” van Al-Kaïda verander in ’n “Al-Kaïdanisering” van Pakistan? Die Amerikaanse pers ignoreer hierdie sorgwekkende neiging ...

So strek die krisisboog dan van die Levantynse land tot aan die Indiese subkontinent. In die komende maande gaan daar veral in Washington besluite geneem word wat die krisisse óf sal vererger, óf op nuwe weë sal plaas wat meer bevorderlik vir redelike oplossings sal wees. Om hierdie draaipunt te bewerkstellig, sal Westerse leiers moet besef dat Al-Kaïda, die Baasiste, Hisbollah, Hamas, Sirië asook Iran nie almal onder dieselfde abstrakte ideologiese etiket van “bose spil” saamgegooi kan word nie. Daar bestaan wel raakpunte tussen hierdie krisisse, maar ’n mens moet ook probeer om hulle uitmekaar te maak en hulle verskillende komponente te ontlont.

Dit geld Sirië, ’n land wat nie die VSA bedreig nie, hom reeds by verskeie geleenthede gehelp het en ook sy eie legitieme nasionale belange op die spel het: ’n ooreenkoms sal met dié land gesluit moet word vir die ontruiming van die Golanhoogland, waarvan die Israeliese besetting geen belang vir die VSA inhou nie. Dieselfde geld ook Hisbollah in Libanon en Hamas in Palestina, wat veral in hulle eie nasionale belang optree. Die VSA kan van ’n aantal probleme ontslae raak en so sy eie belange bevorder, soos om ware fanatiese “terrorisme” te verslaan. Om dít te doen, moet hy insien dat hierdie groepe nie almal takke of klone van Al-Kaïda is nie, en dat hulle dit ook nie sal word nie, ewe min as wat Viëtnam die werktuig van ’n “ryk van die bose” geword het. Deur onderhandeling kan elkeen van hierdie state of bewegings ’n hanteerbare teenstander word.

Invloedryke stemme in die binnekringe van die Amerikaanse politiek dring aan op ’n koersverandering: die Baker-Hamilton-verslag is hiervan die duidelikste voorbeeld. Van sy kant af het oud-president Jimmy Carter gevra dat ’n eerlike debat oor die VSA se beleid in Palestina begin word. Om die skade te herstel wat reeds veroorsaak is, moet daar erken word dat verkeerde besluite geneem is, en moet in die rigting van ’n ernstige politieke ommeswaai beweeg word. Dit beteken dat die gedagte laat vaar moet word dat eensydige militêre optrede alleen genoeg is om ingewikkelde politieke en maatskaplike probleme op te los. Dit beteken ook dat daar van onvoorwaardelike steun aan Israel afgesien moet word. En bowenal moet daar van die gedagte afgestap word dat die verskillende nasies en volke in die Arabies-Moslemwêreld almal omruilbare elemente van dieselfde ideologiese skema is, wat na willekeur rondgeskommel kan word tot voordeel van die grootste magte, die territoriale ambisies van Israeli-setlaars of die droom van ’n denkbeeldige oemma van Al-Kaïda.

 

 

(1)  Robert Dreyfuss, Devil’s Game: How the United States Helped Unleash Fundamentalist Islam, New York: Metropolitan Books, 2005, p. 240.

(2)  Kyk Pierre Abramovici, “L’histoire secrète des négociations entre Washington et les talibans”, Le Monde diplomatique, Januarie 2002.

(3)  Sorel Symposium, 29 April 1991. (http://web.archive.org/web/20041130090045/http://www.washingtoninstitute.org/pubs/soref/cheney.htm )

(4)  Le Nouvel Observateur, 15-21 Januarie 1998.

(5)  (Afg.) genl. William E. Odom, “What’s Wrong with Cutting and Running?”, The Lowell Sun, Lowell, Massachusetts: 30 September 2005.

(6)  Sarah Shields, “Staticide, Not Civil War in Iraq”, Common Dreams.org, 6 Desember 2006.

(7)  Alastair Crooke en Mark Perry, “How Hezbollah Defeated Israel, Parts 1 and 2”, Counterpunch.org, 12 en 13 Oktober 2006.

(8)  “Siniora criticises West for failing model democracy”, Gulfnews.com (in Los Angeles Times-Washington Post), 21 Julie 2006.

(9)  “U.S. Considers New Aid to Lebanese Armed Forces”, The Chosun Ilbo (Voice of America), 12 Desember 2006 (http://english.chosun.com/w21data/html/news/200612/200612160010.html). Kyk ook Megan K. Stack, “Lebanon builds up security forces”, Los Angeles Times, 1 Desember 2006.

(10)         Chris Hedges, “Worse than Apartheid”, Truthdig.com (http://www.truthdig.com/report/item/20061218_worse_than_apartheid/)

(11)         Aaron Klein, “US Weapons Prompt Hamas Arms Race?” (www.wnd.com/news/article.asp?ARTICLE_ID=53411)

(12)         Tanya Reinhardt, “Introduction”, The Road Map to Nowhere – Israel/Palestine since 2003 (www.zmag.org/content/showarticle.cfm?ItemID=11140).

(13)         Kyk Syed Saleem Shahzad, “Comment les talibans ont repris l’offensive”, Le Monde diplomatique, September 2006.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=816
Artikel nagegaan:
    -