|
||||
Sampie Terreblanche
*Buitengewone professor in ekonomie, Universiteit van Stellenbosch en skrywer van A History of Inequality in South Africa 1652 – 2002, Pietermaritzburg: University of Natal Press, 2003.
Ofskoon Afrikaners onder groeiende simboliese druk verkeer, het ’n groot groep Afrikaners sedert 1994 ryker as ooit tevore geword. Hierdie teenstrydigheid spruit uit ’n dekadelange band tussen mag en onverdiende rykdom in SA – wat na 1994 voortduur.
Sedert die goudrevolusie het Suid-Afrika groot ekonomiese vooruitgang ondergaan. Hierdie vooruitgang het sommige bevolkingsgroepe ryk en selfs baie ryk gemaak, terwyl ander arm en selfs baie arm geword het. Om ’n verklaring vir voortgroeiende ongelykhede te vind, moet ’n ontleding gemaak word van die drie magskonstellasies wat mekaar gedurende die afgelope eeu afgewissel het. In die drie opeenvolgende magskonstellasies het die Engelse, die Afrikaners en die Afrikane opeenvolgend ’n toonaangewende politieke rol gespeel. Die heersende groep het telkens elite-elemente van die ander gekoöpteer om ’n bepaalde magstruktuur met ’n eiesoortige karakter tot stand te bring. In elkeen van hierdie drie magskonstellasies was daar growwe magsmisbruike wat daartoe gelei het dat die groepe wat in die magselite verteenwoordig was, onverdiend bevoordeel en verryk is, terwyl die groepe wat van die magstrukture uitgesluit was, geplunder, uitgebuit en/of verwaarloos is.
1 Die Engelsgeoriënteerde magskonstellasie (±1910-1948)
Toe goud in 1886 in Suid-Afrika ontdek is, het Brittanje ’n chroniese handelstekort teenoor Duitsland en die VSA gehad wat haar goudvoorraad gedreineer het. Dit was dus vir Brittanje nodig om goud winsgewend en in groot hoeveelhede te produseer. Die resultaat hiervan was dat hoofsaaklik Britse goudmynmaatskappye ’n nuwe en gedugte “magsblok” in Suid-Afrika geword het en tot vandag toe een van die invloedrykste “spelers” in die Suid-Afrikaanse magspel gebly het. Die eerste magskonstellasie het uit verskeie vennote bestaan: die imperiale Britse regering en sy magtige weermag, die Britse mynmaatskappye, die plaaslike Engelse establishment (insluitende die “mining press”) en ’n gedeelte van die Afrikaners, naamlik die ryk boere of die “Notables”, wat na die Anglo-Boereoorlog (ABO) gekoöpteer is. Die ideologiese sement wat hierdie eerste konstellasie saamgebind het, was die Sosiale Darwinisme. Hiervolgens is aanvaar dat in die wêreldwye oorlewingstryd die Engelssprekende blankes (vanweë hulle vermeende aangebore meerderwaardigheid) deur die Voorsienigheid bestem is om te wen en dat die inheemse volke (en die armblankes) bestem is om te verloor en uiteindelik uit te sterf. Die ekonomiese stelsel wat in SA in swang was, is as laissez-faire (of vryemark-) kapitalisme beskryf. In werklikheid was SA ’n belangrike imperiale buitepos waar koloniale en onafhanklike regerings tot 1948 baie aggressief met die ekonomie ingemeng het om diegene wat oor korporatiewe mag, politieke verbintenisse en eiendom beskik het, te verryk ten koste van die res. In die Wet op Grondbesit (1913) is die Afrikane berekend van hulle lewensonderhoud ontneem en tot ’n grondlose en uitbuitbare proletariaat gereduseer. In 1924 het Genl. Smuts ook swart mans die reg ontneem om lede van vakbonde te wees en om aan stakings deel te neem. Aanvanklik het Britse aandeelhouers van mynaandele die meeste gebaat by die imperiale plundery. Mettertyd is die blanke Engelssprekendes, en sê die boonste 40% van die Afrikaners (gesamentlik sowat 13% van die totale bevolking), ook onverdiend deur die uitbuitende strukture verryk. Die posisie van die onderste 60% van die Afrikaners was baie kompleks. Hulle het die armblankedom uitgemaak. Vóór die goudrevolusie was die meeste Afrikaners bestaansboere wat te midde van ’n proses van modernisering (in die tydperk van 1880 tot 1930) bankrot gegaan en verstedelik het. Die ABO het ’n betekenisvolle bydrae tot hulle proletarisering en die vernietiging van hul ekonomiese selfstandigheid gemaak. Om die armblankes teen mededinging van swartes te beskerm, het die destydse magskonstellasie – veral tydens die Pakt-regering van Genl. Hertzog – verskeie diskriminerende maatreëls op die wetboek geplaas. Blanke belange het te alle tye voorrang bo swart belange geniet, danksy die feit dat die blankes parlementêre stemreg gehad het en die swartes (met ’n geringe uitsondering in die Kaapprovinsie) nie. Die onderwys en ander maatskaplike dienste tot die beskikking van die blankes was tot 1994 baie beter as dié tot die beskikking van die swartes. Uitbuitende (of onderdrukkende) wette het die Afrikane verarm en diskriminerende wette het die arm Afrikaners teen verdere verarming beskerm en selfs ryker gemaak. Gedurende die ekonomiese opswaai van 1934 tot 1974 was die belange van die blankes (óók die armblankes) sodanig verskans en het hulle oor so ’n graad van geskooldheid beskik dat hulle baie meer voordele uit hierdie opswaai kon trek as die swartes. Van 1900 tot 1970 was die blankes altyd minder as 20% van die bevolking en het hulle deurgaans meer as 70% van die totale inkomste ontvang, terwyl die Afrikane ongeveer 70% van die bevolking uitgemaak, maar konstant minder as 20% van die totale inkomste ontvang het!
2 Die Afrikaner-georiënteerde magskonstellasie (1948-1994)
Die Nasionale Party (NP) het die verkiesing in 1948 met 42% van die stemme gewen en daarna sy eie mag en dié van die Afrikaner-establishment met ongrondwetlike maatreëls gevestig en voortgeplant. Die politiek-ekonomiese pakt tussen die twee blanke establishments – wat die nuwe magskonstellasie gevorm het – was dikwels gespanne vanweë die NP se grondwetlike vergrype en vanweë die magdom bykomende diskriminerende maatreëls. Oor die handhawing van uitbuitende maatreëls jeens Afrikane was daar egter eensgesindheid – óók oor dr. Verwoerd se verskerpte instromingsbeheer en “dompas”-stelsel (1952). Om aan die versmorende uitwerking van hierdie stelsel te ontkom, het baie Afrikane die streng bepalings daarvan mettertyd berekend verontagsaam, wat tot kriminalisering en selfs brutalisering in hulle kringe gelei het. Hierdie magskonstellasie kon nie vir 46 jaar staande gebly het as dit nie was vir die beleggings wat Brittanje, Duitsland en die VSA in SA gemaak het om voordeel uit die goedkoop en gedweë swart arbeid te trek nie. Hierdie lande was dus ook deel van die (wit) magskonstellasie. Die NP het op groot skaal in die ekonomie – wat hoofsaaklik deur die Engelse establishment beheer is – ingemeng om die belange van die betreklik arm Afrikaners te bevorder. In 1948 was die per-capita-inkomste van die Afrikaners nog minder as 50% van dié van die blanke Engelssprekende. In 1975 was dit 75% van die toe heelwat hoër per-capita-inkomste van die Engelse. Die Afrikaners het hulle embourgeoisement of toetrede tot die ekonomiese burgery in die derde kwart van die eeu beleef toe hulle te maklik, te vinnig, te ryk geword het, danksy die beskerming en bevoorregting wat die NP-regering onverdiend en ruimskoots aan hulle verskaf het. Die ideologiese sement wat hierdie magskonstellasie aanmekaar gehou het, was ’n verlengstuk van die Britse Sosiale Darwinisme. Apartheid het egter ’n onbeskaamde rassekarakter daaraan gegee. Boonop het die NP die “sindroom van Afrikanerviktimisering” ontwikkel waarvolgens die Afrikaners deur Britse kapitalisme van “bo” en deur die “swart gevaar” van “onder” bedreig sou wees en dus op spesiale beskerming geregtig was. Die Soweto-onluste en die uitwerking van die “Struggle” het sowel die politieke (Afrikaner) as die ekonomiese (hoofsaaklik Engelse) elemente van die wit magskonstellasie in ’n krisis gedompel. Gedurende die lae-intensiteitsoorlog, en te midde van ’n kwynende ekonomie, het ’n geleidelike mags- en ekonomiese verskuiwing van blank na swart plaasgevind. Tydens die Struggle het die Afrikaner-georiënteerde magskonstellasie sy hegemonie begin verloor, en het die bevrydingsorganisasie ’n invloedryke magsfaktor geword. Die kruipende armoede wat ervaar is, het die verskillende bevolkingsgroepe verskillend geraak. Vanweë die magsverskuiwing het die inkomste van die boonste kwart van die swart bevolking met ±40% gestyg en is ’n swart middelklas-in-wording geskep. Die inkomste van die onderste 60% van die swartes en van die onderste 40% van die blankes (hoofsaaklik Afrikaners) het met sowat 40% gedaal. Die meerderheid van die swartes, wat in 1976 reeds die verarmde slagoffers van segregasie en apartheid was, het nog verder verarm, terwyl die meeste Afrikaners ’n deel van die rykdom verloor het wat hulle in die derde kwart van die eeu bekom het.
3 Die Afrikaan-georiënteerde magskonstellasie sedert 1994
Die magsverkuiwing wat in die laaste kwart van die 20ste eeu plaasgevind het, was diepsnydend en omvangryk. Afgesien van die politieke en ideologiese verskuiwing van die Afrikaner- na die Afrikaan-establishment het nuwe “magsblokke” hulle ook in SA laat geld, naamlik neoliberale globale kapitalisme, die VSA se imperialistiese strewe en die ideologie van markfundamentalisme. Terwyl die amptelike onderhandelinge in 1992-1993 oor die nuwe politieke bestel by Kempton Park plaasgevind het, het geheime onderhandelinge oor die toekomstige ekonomiese stelsel by die Ontwikkelingsbank plaasgevind. Verskeie groeperinge was regstreeks en onregstreeks by hierdie onderhandelinge betrokke: ’n leierskorps van die ANC, die Engelse en Afrikaner-sakesektore (wat in die 1980’s ideologies versoen geraak het oor die wenslikheid van die vryemark-ideologie), die globale transnasionale korporasies, die supranasionale organisasies soos die Wêreldbank (WB) en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), en die regerings van veral die VSA en Brittanje. Hierdie onderhandelinge het plaasgevind onmiddellik na die val van die Berlynse Muur en die ineenstorting van die Sowjet-unie. By al die VSA-georiënteerde deelnemers het ’n gees van uitbundige triomfantalisme geheers oor die beweerde verdienstes (en die beweerde onvermydelikheid) van neoliberale kapitalisme, VSA-beheerde globalisme en die ideologie van markfundamentalisme. Kortom, die meesleurende denkklimaat was dat die VSA-instellings en ingesteldhede ’n finale oorwinning behaal het, en dat die res van die wêreld hulle instellings en ingesteldhede so vinnig en so volledig moontlik by die VSA se “model” moet aanpas, of so nie die gevaar loop om onder te gaan. Tydens die geheime onderhandelinge is die leierskorps van die ANC “oorrompel” deur die ekonomiese en ideologiese aanslag van die “Amerikaanse koalisie” en het ’n nuwe Suid-Afrikaanse magskonstellasie tot stand gekom. Toe hierdie bedeling sy beslag gekry het, het SA ’n imperiale buitepos van die VSA geword. Die nuwe magskonstellasie is ’n samestelling van (of vennootskap tussen) vier magsentra. Elkeen van hierdie magsentra word deur ’n belangrike stad verteenwoordig: · Johannesburg verteenwoordig die plaaslike korporatiewe sektor (waarby die bevoordeeldes van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) gekoöpteer word) en ook die blankes se ekonomiese mag en eiendom wat deels onverdiend gedurende vorige magskonstellasies versamel is. · New York verteenwoordig die meer as 50 000 transnasionale korporasies (waarvan ±40 000 in die VSA gedomisilieer is) en ook die VSA-beheerde neoliberale globale kapitalisme. · Pretoria verteenwoordig die (nuutverworwe) politieke mag van die ANC-regering wat – binne die stelsel van proporsionele verteenwoordiging – in die hande van die Nasionale Uitvoerende Komitee en (in selfs groter mate) dié van die presidensie saamgetrek is. · Washington verteenwoordig die ideologieë van markfundamentalisme en groeideelname (of die “deursyferingsmite”, waarvolgens rykdom kastig na die armes “deursyfer”), en die Washington-konsensus – terwyl dit ook die setel van die supranasionale organisasies en van die militêre en imperiale mag is van die VSA wat ná 9/11 ’n volwaardige empire geword het. Hierdie nuwe magskonstellasie (of “magsketting”) van Johannesburg-New York-Pretoria-Washington (J-NY-P-W) het sy voordele. Dit het omstandighede geskep wat bevorderlik was vir die bereiking van ’n jaarlikse groeikoers van ±3,5% oor die afgelope 13 jaar. Dit het aan dié Suid-Afrikaners (hoofsaaklik blankes) wat in 1994 oor ekonomiese mag en eiendom beskik het, die geleentheid gebied om nog méér ekonomiese mag en eiendom vir hulself te in te samel. Huispryse het sedert 1994 in reële terme op ’n indeks van 100 na 252 gestyg, en aandele van 100 na 177. Die nuwe magskonstellasie blyk egter baie onvriendelik teenoor die armer helfte van die bevolking te wees. Hulle sosiaal-ekonomiese posisie het oor die afgelope 13 jaar aansienlik agteruitgegaan, terwyl inkomsteverdeling baie ongelyker geraak het. Pretoria is ongetwyfeld die swakste “skakel” in die nuwe “magsketting”. Dit het binne die huidige magskonstellasie nie die soewereiniteit nie en ook nie die mag, gesag of vermoë om die maatskaplike beleidsmaatreëls te implementeer wat noodsaaklik is om die aaklige sosiaal-ekonomiese nalatenskap van die twee blanke magskonstellasies op te ruim nie.
Die ANC is ’n swak regering. Om vir sy betreklike “magteloosheid” te vergoed, word al hoe meer mag in die hande van Pretoria saamgetrek. Hierdie sametrekking van mag het egter geen uitwerking op die betreklike magteloosheid van Pretoria vis-à-vis die J-NY-W-magsketting nie. Toe die ANC eenmaal ingestem het tot korporatiewe dominansie en Amerikanisme, was die beweegruimte wat aan Pretoria toegestaan is, so beperk dat die ANC nie sy dekadelange “sosiale kontrak” met die swart burgerlike organisasies kon handhaaf nie. Burgerlike organisasies in swart geledere is na 1990 doelbewus gedemobiliseer of gekoöpteer. Dit laat die armste helfte sonder bedingingsmag. SA se menslike ontwikkelingsindeks (soos bereken deur die VN se ontwikkelingsprogram) het sedert 1990 skerp gedaal. In sy sistemiese magteloosheid probeer Pretoria om die armoede-werkloosheid-ongelykheidsprobleemkompleks “retories” op te los. Hy maak voortdurend hiperboliese beloftes omtrent dit wat die volgende jaar of tien gedoen gaan word vir die armes én maak aanspraak op vordering met die maatskaplike probleem wat nie deur die werklike verloop van sake gestaaf word nie. Om Pretoria se betreklike magteloosheid te verklaar, moet die gesamentlike mag van die ander drie “stede” in die “magsketting” begryp word. Dié drie stede is ideologies so kop-in-een-mus oor die vermeende verdienste van korporatiewe mag, eiendom en globalisme en markfundamentalisme dat hulle meestal as ’n enkele magsblok optree. Die ideologie van markfundamentalisme is ’n moderne en gesofistikeerde weergawe van Sosiale Darwinisme. Volgens markfundamentalisme is dit belangrik dat die sterkes – dit wil sê diegene wat oor ekonomiese mag en eiendom beskik – moet wen, maar met die gepaardgaande (verwaande) aanspraak dat die gegoedes (rykes) binne die VSA-beheerde globale kapitalisme nie ten koste van die swakkes (armes) wen nie, maar juis ter wille van hulle! Op grond van hierdie mite word beweer dat die voordele van globale kapitalisme mettertyd tot in elke uithoek van die wêreld sal deurdring. Dit is ’n volkome vals aanspraak, want die totaal ongelyke verdeling van mag – ekonomiese, politieke en ideologiese mag – en die ongelyke verdeling van eiendom word hoegenaamd nie in die propaganda vir markfundamentalisme verantwoord nie. Volgens die markfundamentalisme word die waarde van die eienaars van produksiefaktore en eindprodukte bepaal deur die markpryse wat hulle in ongebreidelde markte kan behaal of betaal. Aangesien 3 miljard mense wêreldwyd nie ’n markprys kan behaal of kan betaal nie, word hulle deur globale kapitalisme as waardeloos verklaar. Hulle sal waardeloos bly solank die huidige globale orde heers. Statistiese gegewens dui daarop dat die globale ongelykhede tussen individue (anders as die internasionale ongelykheid tussen lande) oor die afgelope 30 jaar wesenlik groter geword het. Die rede waarom globale ongelykhede toegeneem het, kan gewyt word aan die wyse waarop die Amerikaanse empire die res van die wêreld uitbuit. Hierdie uitbuiting vind via “geslote grense en oop markte” plaas. Anders as die 19de-eeuse Britse empire is die Amerikaanse empire volledig in pas met die postkoloniale wêreld. Die VSA erken die (politieke) onafhanklikheid van alle lande – met uitsondering van dié van ’n paar skobbejaklande. Hoewel die legitimiteit van ±180 lande erken word en hulle grense dus “gesluit” is, neem Washington voortdurend stappe om te sorg dat al hierdie lande hul markte “oop hou” sodat die transnasionale korporasies kan infiltreer en sodat die magtige 200 internasionale finansiële instellings vryelik kan spekuleer. Die reëls waarvolgens die “globale spel” in “geslote grense en oop markte” gespeel word, word voortdurend deur Washington herskryf om New York nog beter te pas. Hierdie globale reëls berus op ’n omvangryke stelsel van beloning en straf. Die transnasionale korporasies en internasionale finansiële instellings koöpteer die eienaarsklasse en die geskoolde en produktiewe arbeiders in alle lande. Húlle word ruimskoots beloon vir hulle samewerking (produktiwiteit), terwyl diegene wat nie oor fisiese en/of persoonlike eiendom (markwaarde) beskik nie, geïgnoreer en/of bestraf word. In die Ryk Noorde word ±75% van die bevolking gekoöpteer en beloon, terwyl die res uitgesluit word. In die Arm Suide word hoogstens 30% gekoöpteer en ruimskoots beloon, terwyl minstens 50% sistemies uitgesluit en verwaarloos word. Die meeste lande se bruto nasionale produk styg, maar die inkomste-gaping word al hoe wyer. Die implikasies wat die J-NY-P-W-magsketting vir die hedendaagse SA inhou, lê voor die hand. Die blankes wat in 1994 oor ekonomiese mag en eiendom (sowel fisiese as persoonlike eiendom) beskik het, trek ruim voordeel uit die nuwe magskonstellasie. Net so verkeer die swartes aan wie kunsmatig ekonomiese mag en eiendom deur SEB verleen is, ook in ’n baie bevoordeelde posisie. Maar diegene wat aan die ander kant nie oor die ekonomiese bedingingsmag of oor die nodige geskooldheid en vaardighede beskik nie, en wat nie deur die kapitaalintensiewe globale ondernemings in diens geneem word nie, verkeer daarenteen in ’n uiters benadeelde posisie. Die saak is egter nog ingewikkelder. Die blankes het in 1994 die voorreg ontvang om die ekonomiese mag en eiendom – ook dié wat hulle onverdiend met behulp van die uitbuitende strukture opgegaar het – bykans ongeskonde na die nuwe politiek-ekonomiese stelsel oor te dra. (Dit is wel waar dat die ondernemersklas “verontrief” word deur hulle verantwoordelikhede ten opsigte van SEB, maar dit bring weer vir hulle voordele mee vanweë die noue verstrengeling wat SEB tussen die private en openbare sektore bewerkstellig het). Indien die voorreg aan blankes toegestaan was om hul ekonomiese mag en eiendom byna ongeskonde na ’n nuwe politiek-ekonomiese stelsel oor te dra wat spontaan tot voordeel van die armes gefunksioneer het, sou dit waarskynlik in orde gewees het. Dan sou daar “sin in die waansin” geskuil het. Ongelukkig het Johannesburg – beide die blanke en die swart deel van Johannesburg – die voorreg ontvang om hulle ekonomiese mag en eiendom (óók die deel daarvan wat onverdiend versamel is) oor te dra na ’n nuwe politiek-ekonomiese stelsel wat sterk tot voordeel van die rykes en sterk tot nadeel van die armes funksioneer. Gevolglik was die voorwaardes waarvolgens die onderhandelde oorgang na die J-NY-P-W-magsketting plaasgevind het, ’n “dubbele vergryp”. Dit het meegebring dat “apartheid nie dood is nie” en dat die “armoede van apartheid” voortgeplant en verskans word in ’n formidabele magskonstellasie wat wêreldwyd gelegitimeer word deur die (uiters twyfelagtige) ideologie van markfundamentalisme. Die “dubbele vergryp” is verantwoordelik vir die wrede teenstrydigheid daarvan dat die groot meerderheid van die blankes wat danksy apartheid in 1994 al ryk was, nou baie ryker is, terwyl die meerderheid van die swartes wat weens apartheid – in 1994 reeds arm was, nou baie armer is! Dit is seker nie onmoontlik nie dat die reële inkomste van die onderste 50% as die maatskaplike loon bygereken word – groter is as wat dit in 1994 was. Die armes se sosiaal-ekonomiese posisie is egter aansienlik slegter vanweë die Vigs-pandemie, vanweë die voortplanting van die armoedekultuur en werkloosheid, en vanweë die maniere waarop geweld en misdaad toegeneem het. Die geneigdheid tot geweld en misdaad word ongelukkig aangewakker deur die skrille teenstelling tussen rykdom en weelde enersyds en armoede en agteruitgang andersyds, wat groot druk plaas op die gemeenskapsinstellings wat mense moreel vorm. Sowat 6 miljoen swartes het sedert 1976 betreklik ryker geword, en sedert 1994 teen ’n nog vinniger pas. Hulle kan nou ’n middelklasleefstyl handhaaf. Dit is inderdaad verblydend. Die wenslikheid van SEB en regstellende optrede kan nie bevraagteken word nie. Wat egter betreur moet word, is dat hierdie maatreëls met soveel onbeholpenheid toegepas word en dat SEB in elitisme en soms skaamtelose korrupsie ontspoor het. Die meeste blankes het ryker geword. Sowat 500 000 van die 4,5 miljoen blankes kan seker volgens “blanke standaarde” as arm beskryf word, maar van die ander 4 miljoen is sommige welvarend, sommige ryk en sommige skatryk. Minstens 2 miljoen kan Kaliforniese leefstyle handhaaf, met al die prag en praal wat daaraan verbonde is. Die skatrykes – sowel blank as swart – maak hulle aan ’n soort pronkerige verbruikerisme skuldig waarteen die armes se minderwaardigheid skril afsteek en wat hulle opstandig maak. Uit ’n eng ekonomiese oogpunt geoordeel, pas die nuwe magskonstellasie die meeste blankes soos ’n handskoen. Dit is wel waar dat baie blankes – en veral baie Afrikaners – die nuwe bedeling as traumaties ervaar en dat hulle verskeie simboliese terugslae moes verwerk. Dit was sekerlik nie maklik vir hulle om politieke mag prys te gee nie. Vir die Afrikaners is die veel kleiner rol wat aan Afrikaans toegedeel word, ’n ernstige simboliese verlies. So ook is die onnodige en ongevoelige verandering van plekname ’n bevreemdende ervaring. Maar uit ’n eng ekonomiese oogpunt gesien, het die blankes – en beslis die Afrikaners – nie rede om te kla nie. Inteendeel, hulle het waarskynlik die grootste ekonomiese vooruitgang behaal wat hulle nog oor ’n tydperk van 13 jaar behaal het. Die groter ekonomiese mag en eiendom wat blankes (én die nuwe swart elite) met behulp van die J-NY-P-W-magsketting akkumuleer, skep ernstige probleme. Die arrogansie en selfvoldaanheid waaraan baie rykes (en veral baie Afrikaners en nuwe ryk swartes) hulle skuldig maak, is te betreur. Hierdie mense is onbeskaamd van mening dat hulle rykdom en status slegs aan hul eie verdienstelikheid te danke is. Hulle openbaar ’n verstommende gebrek aan enige bewussyn en/of gewete dat “skewe” magskonstellasies hulle onverdiend bevoordeel het en hulle nog steeds onverdiend bly bevoordeel, terwyl die armes steeds onverdiend verarm word.
4 Wat kan ons doen?
Die vraag ontstaan onwillekeurig of die geheime onderhandelinge wat konsensus oor die J-NY-P-W-magskonstellasie bereik het, nie heronderhandel kan word nie. Met die wysheid van nawete is soiets dringend noodsaaklik. Dit is waarskynlik totaal onrealisties om te dink dat New York en Washington na die onderhandelingstafel sal terugkeer. Maar kan ons nie met ’n mini-onderhandling tussen SA stede begin om die beperkte beweegruimte wat wel vir die ANC beskikbaar is om ’n gepaste maatskaplike beleid toe te pas, te verruim en beter te benut nie? So ’n mini-beraad behoort tussen Johannesburg, Pretoria en (‘n bemagtigde) Crossroads plaas te vind – waarin Crossroads die armste 50% verteenwoordig. Alle Suid-Afrikaners wat werklik besorg is oor die bose kringloop van armoede-ongelykhede-geweld-en-misdaad behoort hulle heelhartige samewerking te gee vir so ’n miniberaad in ’n poging om die kringloop te verbreek. ’n Mini-beraad van hierdie aard kan net slaag as daar aan die volgende voorwaardes voldoen kan word: · Al drie stede J-P-C – moet eenstemmig daaroor wees dat die huidige maatskaplike krisis nie ’n beleidsaangeleentheid is nie, maar ’n sistemiese oorsprong het. · Johannesburg moet erken – sowel die wit as die swart deel – dat ’n substansiële deel van hulle ekonomiese mag en eiendom onverdiend geakkumuleer is in onregverdige magstrukture en dat hulle kunsmatig verryk is deur allerhande vorme van owerheidsintervensies. · Johannesburg – albei dele daarvan – moet hulle arrogansie erken en hulle daartoe verbind om dit af te sweer, hulle moet ’n bewussyn en ’n gewete oor maatskaplike onreg ontwikkel, hulle moet bereid wees om wesenlike opofferings – van ’n materiële, psigologiese en ideologiese aard – te maak ter wille van ’n bemagtigde Pretoria en ter wille van ’n minder arm Crossroads. · Pretoria sal moet erken dat hy die inwoners van die Crossroads sistemies verwaarloos het, dat hy hardnekkig volhard om die maatskaplike probleem “retories” te probeer oplos, dat die sosiaal-ekonomiese posisie van die armes sedert 1994 versleg het, dat sy prioriteite te elite-georiënteer is, en dat hy sy ore te veel aan die ideologiese propaganda van Washington uitgeleen het. · Crossroads sal moet leer dat hy hom nie langer deur die ydel propaganda en beloftes van Johannesburg en Pretoria om die bos kan laat lei nie en dat hy vir homself die menslike leeftog moet opeis wat hom in alle billikheid toekom.
|