|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique
Reeds in Afganistan en Irak betrokke by ’n “globale oorlog teen terreur” open die Verenigde State nou ’n derde front (1) in Somalië. Hulle onlangse lugaanvalle en die stuur van oorlogskepe bewys dat die Horing van Afrika in die oë van Washington – wat reeds aan die einde van 2001 ’n anti-terroristiese koalisie in die Golf van Aden saamgestel het – nou deel van die teater van operasies teen Al-Kaïda uitmaak. Gefinansier deur Mogadisjoe se handelaars wat moeg was vir die vergrype van die krygshere, het die Unie van Islamitiese Howe dié verjaag en die hoofstad in Junie 2006 oorgeneem. Die Islamiste het daarin geslaag om ’n mate van orde te herstel in ’n land wat al meer as vyftien jaar lank aan chaos uitgelewer is. Nadat hulle blyke gegee het van ’n eng siening van die “stryd teen terreur” en op die krygshere gesteun het, het die Verenigde State nie hierdie nuwe orde in Mogadisjoe aanvaar nie, des te meer omdat die Howe verdink is daarvan dat hulle Iranese finansiering ontvang het. Dus het die Pentagon Christelike Ethiopië, wat sedert 2002 voordeel trek uit ’n program van Amerikaanse militêre bystand, gedruk om ’n offensief te loods, terwyl die VSA middele van lugverkenning en satellietmeeluistering beskikbaar gestel het. Die Ethiopiese veldtog was skouspelagtig. Binne agt dae is die gebiede onder beheer van die Islamitiese Howe beset en Mogadisjoe is op 28 Desember 2006 ingeneem. Nagenoeg 20 000 Ethiopiese soldate is tans in die land ontplooi. Onder inisiatief van die VSA vanaf Junie 2006 het die Internasionale Kontakgroep vir Somalië aan die begin van Januarie vergader in Nairobi, Kenia en ’n beroep gedoen vir die “dringende” finansiering van ’n vredesmag soos voorsien deur die Verenigde Nasies (VN). Op die oomblik het buiten Ethiopië slegs Uganda besliste toestemming vir die stuur van sy troepe gegee. Washington het bystand van sowat R110 miljoen aan die Somaliese oorgangspresident, mnr. Abdoellahi Joessoef, aangekondig, asook humanitêre hulp en ’n tweede bedrag van sowat R160 miljoen, waarvan sowat R90 miljoen vir die vredesmag sal wees. Die Bush-administrasie beskuldig die Somaliese Islamiste dat hulle skuiling bied aan twee terroriste – mnre. Fazoel Abdoella Mohammed en Ali Saleh Nabhane – wat geïmpliseer word in die 1998-aanvalle teen die ambassades van die Verenigde State in Kenia en Tanzanië waarin 224 mense omgekom het. In die aangesig van hierdie konfrontasie het Al-Kaïda se nommer twee, mnr. Aiman Al-Zawahiri, die Islamistiese vegters tot weerstand opgeroep: “Ek vra alle Moslems om gehoor te gee aan die oproep om djihad in Somalië … Die eintlike oorlog sal begin met aanvalle teen die Ethiopiese aggressormagte … Ek beveel hinderlae, landmyne en selfmoordaanvalle aan (2)”. Hy het hulle ook aangeraai om inspirasie te put uit die guerillas van Afganistan en Irak. Op sy beurt het mnr. Abdoelrahim Ali Modei, woordvoerder van die Islamistiese Howe, verklaar dat sy beweging nie “oorwin is nie (3)”. Sy manskappe het suid van die Juba-rivier hergroepeer, aan die grens met Kenia, ’n streek waarin die Ethiopiërs asook Amerikaanse spesmagte met ondersteunng van AC-130-aanvalsvliegtuie gebaseer in Djiboeti die Islamiste jag. Ewe min as wat die oorname van Kaboel in 2002 die Taliban-probleem opgelos het, of dié van Bagdad in 2003 die Irakese probleem, is dié van Mogadisjoe ver daarvan om die Somaliese probleem op te los. Dit het maar skaars begin. _________
(1) Of ’n vierde omdat president Bush gedurende Augustus 2006 te midde van die Israeliese offensief teen Hisbollahh verklaar het: “Libanon is die derde front van die wêreldoorlog teen terrorisme.” (2) AFP, 6 Januarie 2007. (3) International Herald Tribune, Neuilly-sur-Seine, 4 Januarie 2007. |