blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Strome van die Bosforus … 2007-02-15
Kofi Annan

*Voormalige Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]

 

Die Bosforus se strome is bekend vir hulle krag en die teenoorgestelde rigtings waarin hulle vloei – bo en onder die oppervlak. Maar deur die eeue het die Turkse volk die kuns bemeester om tussen hierdie strome te navigeer, hier op die grens tussen Europa en Asië, en tussen die Islamitiese wêreld en die Weste. Dit het bygedra tot hulle welvaart (1). Die verslag oor die Bondgenootskap van beskawings (2) illustreer op akkurate wyse dat die samevloeiing van verskille, hetsy van opinie, kultuur, geloof of lewenswyse, nog altyd die dryfkrag vir menslike vooruitgang was.

 

Op hierdie manier het die Iberiese skiereiland sy vooruitgang gebou op die wisselwerking tussen Moslem-, Christen- en Joodse tradisies gedurende die donker Middeleeue in Europa. Later het die Ottomaanse Ryk ’n bloeityd beleef danksy sy weermag, maar ook omdat Moslem-idees, -kuns en -tegniek verryk is deur die bydraes van Jode en Christene.

Etlike eeue later is dit ongelukkig die opkoms van onverdraagsaamheid, ekstremisme en geweld wat ons era van globalisering kenmerk. In plaas daarvan om begrip en wedersydse vriendskap te laat opbloei, het die verkorting van afstande en die verbetering in kommunikasie dikwels spanning en wantroue voortgebring. ’n Groot aantal mense, in besonder diegene in ontwikkelende lande, het begin om die wêrelddorp te vrees, wat vir hulle sinoniem is met kulturele aanranding en ekonomiese bloedlating. Globalisering bedreig hulle waardes ewe ernstig as hul beursies.

Die terroriste-aanvalle van 11 September, die oorlog en spanning in die Nabye Ooste, swakgekose woorde en tekeninge het bloot hierdie gevoel versterk en spanning tussen volke en kulture verskerp. Betrekkinge tussen gelowiges van die drie groot monoteïstiese gelowe word intens daardeur beproef.

In ’n era waarin internasionale migrasie ’n ongekende aantal mense van verskillende gelowe en kulture noop om naas mekaar te leef, is vooropgestelde idees en stereotipes, wat die idee van ’n “kultuurskok” impliseer, toenemend wydverspreid. Sommige groepe lyk haastig om ’n nuwe geloofstryd, hierdie keer op ’n wêreldskaal, aan te blaas. Die traakloosheid of selfs algehele onverskilligheid wat ander teenoor hulle geloof of simbole openbaar, kan nie anders as om eersgenoemde se taak te vergemaklik nie.

Kortom, die idee van ’n bondgenootskap van beskawings kan nie op ’n beter oomblik na vore kom nie, soveel te meer omdat ons nie soos ons voorgeslagte in verskillende beskawings woon nie. Migrasie, integrasie en tegniek het verskillende rasse, kulture en rasse nader aan mekaar gedryf en daardeur ou struikelblokke afgebreek en nuwe realiteite op die voorgrond geskuif. Soos nog nooit vantevore nie, leef ons langs mekaar, blootgestel aan vele verskillende invloede en idees.

Die diabolisering van die “ander” het die maklike uitweg geblyk. In hierdie 21ste eeu bly ons steeds die gyselaars van ons eie persepsie van ongeregtigheid en regte. Ons redenasie het ons eie tronk geword. So is die Weste wêreldwyd vir baie mense, vir Moslems in die besonder, ’n bedreiging vir hulle geloof en waardes, hulle ekonomiese belange en hul politieke aspirasies. Enige bewys van die teenoorgestelde word tegemoet gegaan met miskenning en ongeloof. Op soortgelyke wyse is daar baie Westerlinge wat Islam as ’n geloof van ekstremisme en geweld beskou, selfs al onderhou hierdie twee wêrelde reeds baie lank ’n verhouding waarin handel, samewerking en kulturele omgang ’n plek ingeneem het wat minstens net so groot is as dié van die konflikte.

Dit is absoluut noodsaaklik dat ons hierdie wedersydse wrewel te bowe kom. Eerstens moet ons dit herbevestig en uitwys dat die probleem nie die Koran, die Tora of die Bybel is nie, maar die gelowiges self en die wyse waarop hulle teenoor ander optree. Ons moet die gemeenskaplike waardes van alle gelowe op die voorgrond plaas, met ander woorde: meelewendheid, solidariteit, respek, die goue reël van “moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie”. Terselfdertyd moet ons onsself daarvan weerhou om ’n algemene beeld te vorm van ’n volk, ’n streek of ’n geloof as die oorsaak van misdade wat deur individue of klein groepies gepleeg is.

Ons weet watter voordele migrante vir hulle nuwe vaderland kan inhou, nie net as werkers nie, maar ook as verbruikers en ondernemers, en dat hulle bydra tot ’n ryker en ’n meer diverse kultuur. Maar hierdie voordele is nie eweredig versprei nie. Ook word dit dikwels nie na waarde geskat deur die bevolking wat hulle ontvang nie, en waarvan ’n groot aantal neig om immigrante as ’n nuwe bedreiging te beskou vir hulle materiële belange, hulle sekuriteit en hul oorgeërfde lewenswyse.

Veral in Europa het dit regerings lank geneem om te besef dat dit nodig is om strategieë uit te werk om nuwe aankomelinge en hul kinders in die gemeenskap waarin hulle ontvang word, te integreer. Hierdie regerings het van die nuwe gemeenskappe verwag om te konformeer aan ’n statiese visie van die nasionale identiteit van die land, in plaas daarvan om te aanvaar dat hulle moet heroorweeg hoe verskillende gemeenskappe wat saam in ’n demokratiese staat woon, waardes en kultuur met mekaar behoort te deel. So het Turkye gevind dat sy pad na lidwording van die Europese Unie besaai is met struikelblokke waaragter ’n mens dikwels ’n opvatting van Europese identiteit kan bespeur wat Moslems implisiet of eksplisiet uitsluit.

Vele immigrante van die tweede of derde geslag het in ghettos grootgeword en beleef dikwels ’n hoë werkloosheidsyfer, betreklike armoede en kriminaliteit, en hulle word dikwels met ’n mengsel van vrees en minagting bejeën deur hul sogenaamde bure van herkoms.

Om onverdraagsaamheid af te leer, is deels ’n kwessie van beskerming van regte. Die reg op geloofsvryheid en die reg om nie vanweë geloofsoortuiging aan diskriminasie onderwerp te word nie, word reeds geruime tyd deur die internasionale reg erken en is in die binnelandse reg opgeneem. Enige strategie met die doel om brûe te bou, moet sterk op opvoeding steun – nie net op Islam of die Christendom nie, maar op alle gelowe, tradisies en kulture, sodat mites en verdraaiings as sodanig geëien kan word.

Ons moet ook geleenthede skep vir jongmense en ’n geloofwaardige alternatief bied teenoor die lokstemme wat oproep tot haat en ekstremisme. Ons moet jongmense waarlik die geleentheid gee om by te dra tot die verbetering van die wêreldorde, sodat hulle nie meer die behoefte het om dit af te takel nie. Ons moet vryheid van spraak behou, terwyl ons onsself daarvoor beywer om te verhoed dat dit misbruik word om haat aan te blaas of vernedering te veroorsaak. Ons moet hulle oortuig dat regte gepaard gaan met verantwoordelikheid, en dat die uitlewing van regte taktvol gedoen moet word, veral teenoor simbole en tradisies wat vir ander mense heilig is.

Politieke instellings behoort ’n leiersposisie in te neem om onverdraagsaamheid en ekstremisme te veroordeel. Daar word van hulle verwag om te verseker dat verbintenis tot nie-diskriminasie in wetgewing opgeneem word en dat die wet wel toegepas word. Maar hulle verantwoordelikheid onthef ons nie van ons eie nie. Elkeen van ons, op individuele vlak, dra daartoe by om die politieke en kulturele klimaat in sy gemeenskap te skep. Ons moet deurentyd bereid wees om stereotipes en verdraaide beelde te korrigeer en standpunt in te neem ter verdediging van die slagoffers van diskriminasie.

Al hierdie dinge sal kwalik ’n uitwerking hê as die huidige klimaat van vrees en wantroue voortgaan om gevoed te word deur politieke gebeure, in besonder dié waarin Moslem-volke – Irakiërs, Afghane, Tsjetsjene, en dalk veral Palestyne – beskou word as die slagoffers van militêre aksies wat deur nie-Moslemse moondhede uitgevoer word. Geen ander konflik as die een tussen Israeli’s en Palestyne het so ’n simboliese en emosionele lading vir mense wat ver van die oorlogsfront is nie. Solank as wat die Palestyne onder besetting leef, uitgelewer aan die frustrasies en daaglikse vernedering daaraan verbonde, solank as wat Israeli’s in busse en danssale opgeblaas word, sal drifte oral vurig bly.

Dit wil verkeerdelik voorkom of die vooruitgang wat in die verhoudings tussen burgers van dieselfde Europese land gemaak word, afhang van die oplossing van een van sy mees onoorkomelike politieke probleme. Nogtans is hierdie verband ’n werklikheid en is dit noodsaaklik om terselfdertyd op twee fronte te werk – om te poog om die maatskaplike en kulturele verstandhouding tussen volke te verbeter, en om politieke konflikte op te los, in die Nabye Ooste en elders.

Laat ons geïnspireer word deur ’n inskripsie wat gesien kan word by die argeologiese museum van Istanboel. Dit bevat die vredesooreenkoms wat tussen die Hittietiese en Egiptiese ryke bereik is na afloop van die bloedige Slag van Kadesh in 1279 v.C. Terwyl dit ’n einde gebring het aan dekadelange wantroue en oorlog was hierdie ooreenkoms ’n historiese stap vir sy era: beide kante het onderneem om wedersydse hulp te verleen en om saam te werk. In werklikheid het dit letterlik ’n bondgenootskap tussen twee groot beskawings vergestalt.

 

_________

(1) Hierdie teks is aangepas van ’n toespraak wat deur Kofi Annan in Istanboel gehou is by geleentheid van die bekendstelling van die Verslag oor die Alliansie van beskawings.

(2) Die verslag is beskikbaar by http://www.unaoc.org

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=813
Artikel nagegaan:
    -