blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Redakteursbrief 2007-02-15

Geagte leser,

2007 het vir niemand gewag nie: skielik word die ANC-opvolgdebat koudgelei deur sprake van ’n “kompromiskandidaat” … eensklaps eenkant toe geskuif deur die misdaadkrisis, “persepsies” en al. Die President bevind hom skielik sonder ’n verenigde sakesteunkorps, en ons is skaars in die middel van Februarie.

      Vanselfsprekend sal Die Vrye Afrikaan vanjaar voortgaan om die brandpunte van die land en die internasionale toneel met durf en insig onder die loep te neem.

      Lesersterugvoer is een van ons waardevolste riglyne, en die afgelope maande het ons heelwat daarvan ontvang – ons lesers blyk, soos met alle nispublikasies, besonder lojaal en meelewend te wees. En ons verwag niks minder van julle nie.

      Een kwessie wat deur talle lesers geopper is, is dat hulle telkens nie ’n uitgawe van Die Vrye Afrikaan deur die loop van die maand gelees kry nie. Dan word ook gevra na groter lesersvriendelikheid – sonder die verlaging van ons vlak van artikels.

      So gesê, so gemaak. Die volgende stappe word in die volgende maande geneem om aan u behoeftes te voldoen. Eerstens verskyn Die Vrye Afrikaan vanaf April slegs elke tweede maand. Dit sal ons as redaksie ook in staat stel om nog meer diepte aan ons bydraes te gee.

      Tweedens is daar groot planne in die vooruitsig met die integrasie van die webwerwe van die FAK, uitgewer van Die Vrye Afrikaan, en Die Vrye Afrikaan se eie webwerf. Een van die oogmerke hiermee is om met baie groter spoed te kan reageer op aktuele kwessies, want as daar een ding is wat ons lesers vandag na soek, is dit vinnige vertolkings van die sake van die dag soos deur ons gesien.

      Derdens is ons besig met ’n herontwerp van Die Vrye Afrikaan asook fyner afwerking van ons taal – leesbaarder en tegelyk indringend.

      Wat behels dit vir ons intekenaars? As u ’n gewone intekenaar van die papieruitgawe wil bly, sal dit u voortaan slegs R30 per uitgawe kos. Bestaande intekenaars se rekening sal dienooreenkomstig gekrediteer word. So nie, kan u teen R30 per maand aansluit by die FAK, wat aan u nie net toegang tot Die Vrye Afrikaan en groter aktualiteit gee nie, maar ook spesiale voorkeur by openbare geleenthede wat ons vanaf April in die vooruitsig stel. Die FAK is besig om hom as ’n leidende ideëforum vir Afrikaners te vestig, en ons het u steun daarvoor nodig – sonder idees kan geen gemeenskap selfstandig of demokraties wees nie.

      Wat van elektroniese intekenare? Dikwels word gevra waarom u R20 per maand moet betaal as die webwerf oop is vir almal? Die antwoord is eenvoudig: om ons te help om Die Vrye Afrikaan so wyd as moontlik te versprei. U maandelikse bydrae maak dit inderdaad vir ons moontlik om mense die wêreldoor te bereik, en ons reken op u volgehoue ondersteuning.

      Intussen hoor ons steeds graag van u voorstelle en kritiek.

Met vriendelike groete,

Johann Rossouw

Redakteur

[email protected]

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=804
Artikel nagegaan:
    -