blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Misdaadpersepsies: “Dit hang af hoe jy daarna kyk” 2007-02-15
Kleinjan Schietekat

Terwyl die persepsie al hoe sterker posvat dat president Thabo Mbeki die persepsie-oorlog verloor, kan Die Vrypostige Afrikaan vandag onthul dat die beleërde leier nou uit onverwagse oorde steun begin kry.

      Die eerste oord van steun is so ongelooflik dat dit van die meeste mense, soos in die letterkunde, ’n opskorting van ongeloof verg om te dit kan glo. ’n Lid van die presidensiële binnekring het naamlik die sluier gelig oor die merkwaardige afloop van ’n hoogs verbeeldingryke wending in die misdaadpersepsie-oorlog.

      Volgens die ingeligte – wat om rasionele redes nie sy naam genoem wil hê nie – is die Presidensie onlangs genader deur ’n desperate gesin van wie ’n lid onlangs in ’n voorval van geweldsmisdaad gesterf het. Die gesin, van wie die moeder ook met Die Vrypostige Afrikaan gepraat het, het ’n unieke plan gemaak nadat die persepsie ontstaan het dat die President nog nooit iemand ontmoet het wat in ’n misdaadvoorval gesterf het nie. Die moeder vertel: “Ons het besluit om die President na ’n séance te nooi sodat hy met die gees van ons geliefde kan praat, nadat dié onlangs deur misdadigers in ons huis doodgeskiet is vir sy selfoon.”

      Die ingeligte in die Presidensie vertel verder: “Ja, ek kan bevestig dat die gees van die oorledene ’n jong man van sowat 25 – na ’n rukkie te voorskyn gekom het en aan die President sy verhaal vertel het. Ons was almal nogal bewerig, maar die President, wat natuurlik ’n intellektueel en ’n Shakespeare-liefhebber is – ‘Horatio, thou art a scholar, speak to it!’ – het die gees baie ontspanne aangehoor. Hy het sy simpatie met die gees uitgespreek, asook sy verligting dat die gees ook in ’n sekere sin natuurlik net ’n persepsie is. Met dié versekering het die gees verdwyn. Tegnies gesproke beteken dit natuurlik nie dat die President wél iemand ontmoet het wat in ’n geweldsmisdaad dood is nie, want die gees is nie meer ’n mens nie. ’n Persepsie hang tog maar af van hoe jy daarna kyk, nie waar nie?”

      In aansluiting hierby het ’n groep besorgde eiendomsagente wat veral in die ryk, noordelike dele van Johannesburg sake doen, Die Vrypostige Afrikaan genooi om self te kom kyk na misdaadtendense. Me. Tania Cohen, wat al vir meer as twintig jaar spesialiseer in die verkoop van wooneenhede in sekuriteitskomplekse in die gebied, sê, “Misdaad hier in ons area is beslis nie veel meer as ’n persepsie nie. Ons kopers is hardwerkende mense wat nie tyd het om koerante te lees nie. Hulle het alles wat hulle nodig het, en word goed versorg. Misdaad is maar slegs 3% in ons area.”

      Die Vrypostige Afrikaan het Cohen se uitsprake getoets aan besoekers aan ’n bekende casinokompleks in die area wat gebou is naby die plaas waar Nelson Mandela en Bram Fischer in die 1960’s gearresteer is op klagte van hoogverraad. Om toegang tot die kompleks te kry, moet jy jouself identifiseer. By sommige toegangspunte gaan mans en vroue apart in, maar kinders kan enige kant ingaan.

      Me. Liezl Penzhorn, ’n huisvrou en gereelde besoeker aan die kompleks, het gelag toe ons haar oor misdaad uitvra. “Wat? Dis ’n persepsie. Ons beweeg gemaklik van vesting tot vesting. Ons kan enige tyd Kentucky Fried Chicken besoek. Ek sê, ‘One chicken, one nation!’”

      Ook mnr. Rajun Shaik, ’n mikrolener wat in die omgewing woon, sê hy woon die afgelope vyf jaar heerlik in die area. “Ek kan nie verstaan waarom almal so oor misdaad kla nie. Die ergste wat my nog oorgekom het, is dat my buurman my grassnyer met sy gholfkarretjie verwar het. Ons het lekker gelag daaroor.”

                Prof. James Dearlove, ’n kenner van sosiale gedrag, sê hy is nie verbaas oor ons bevindinge nie. Volgens hom veroorsaak misdaad gewoonlik dat intelligente, hardwerkende mense hulleself aan die samelewing onttrek, na misdaadvrye gebiede skuif, voorbeeldige verbruikers word en hulle deel vir ekonomiese groei doen. “Wie wil nou in sulke omstandighede nog aanhou sanik oor misdaadpersepsies as die land van krag tot krag gaan? Ons het sulke wonderlike sonskyn. Ons het meer bankoutomate per capita as enige ander land ter wêreld. En ons het nie suur mense nodig wat aanmekaar oor die land kla nie. Mens kan nie help om te dink dat hulle na apartheid terugverlang nie.” 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=803
Artikel nagegaan:
    -