|
||||
Carol Paton
* Joernalis, Financial Mail. Die skrywer is vir die duur van die navorsingstydperk vir hierdie artikel geborg deur ’n genootskap van die Open Society Foundation. Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in die Financial Mail van 19 Januarie 2007. Die Vrye Afrikaan bedank die Financial Mail vir toestemming om die artikel in Afrikaans te publiseer. Uit die Engels vertaal deur Susan Roets.
Die African National Congress het ideale vir invloed verruil onderwyl die party deur sy lede se finansiële grypsug gekorrupteer word. Carol Paton speur die verrotting na tot in die kern van SA se magtigste organisasie.
Dit was ’n koel lenteaand toe ’n ambulans met skreeuende remme buite die ANC se provinsiale kantoor in Dutoitspan-hoofweg, Kimberley, tot stilstand kom. Paramedici het die stad se eerste burger, burgemeester Patrick Lenyibi, wat tydens ’n skermutseling in die ANC-kantore deur ’n reën van vlieënde teekoppies getref is, te hulp gesnel. Die eerste koppie het hom op die kop getref. Die oor van ’n tweede het sy kop diep agter die oor binnegedring nadat ’n senior ANC-lid dit met nog groter geweld teen sy kop verpletter het.
Wat dit beteken
Verdraaiing van die reëls het ’n kultuur geword. Die politiek van die ANC het verwring geraak. Volgens etlike verslae het die geveg, wat laat in 2005 plaasgevind het, uitgebreek oor ’n tenderkontrak om koepons vir vooruitbetaalde elektrisiteitsmeters te verskaf. Die burgemeester het na bewering by implikasie gesê dat dit uitbestee gaan word aan ’n groep ANC-vroue, insluitende die lid se moeder, wat alreeds reëlings getref het om opgelei te word om die onderneming te bedryf. In plaas daarvan is die tender toe wel geadverteer, soos dit hoort, maar met voorwaardes wat sy moeder uit die wedloop geskakel het. Die houe het geval in die kantoor van die provinsiale sekretaris Neville Mompati, wat heftig ontken dat die argument oor ’n tender gegaan het. Besluite oor tenders mag nóg deur die burgemeester, nóg deur die ANC geneem word, en toekenning berus kragtens die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur by amptenare in die stad se tenderkomitee. Teorie en praktyk lê egter ver uitmekaar. Gevegte oor wie wattter kontrak behoort te kry, kom landwyd met al hoe korter tussenposes voor. Dit is ’n bron van verleentheid vir die ANC, ’n party waarvan baie lede met trots sy struggle-nalatenskap koester. Hierdie nalatenskap word nou ernstig ondermyn, en dit wil voorkom of die party verlam is. Die ANC is as regerende party sentraal gemoeid met die uitreik van tenders en kontrakte. Die insluiting van handelsbelange is een faktor wat sy trotse politieke basis verweer. ’n Ander is die ontplooiing van ANC-kamerade in besigheid. Hierdie kommersialisering het ’n diepgaande verandering in die aard van die ANC teweeg gebring. Daar was ’n tyd toe plaaslike ANC-vergaderings uitsluitlik op beleide en strategieë ingestem was op die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing volgens die ideale waarvoor die party vir dekades die kampvegter was. Nou word hierdie byeenkomste dikwels in beslag geneem deur besigheidsgeleenthede en wie toegang daartoe moet hê. Dis ’n transformasie wat nie verwag is nie. Eerder as om “die staat te transformeer”, soos die party sy doelwitte in amptelike retoriek beskryf, het die ekonomie die ANC getransformeer. Hoe dit begin het? Die moeilikheid het vir die ANC begin byna die oomblik toe dit die mag oorgeneem het, met rusies oor die beheer van provinsiale strukture. Maar dit was eers toe politici tot die besigheidswêreld toegetree het dat die wedywering om handelsgeleenthede die ANC-dinamiek begin oorheers het. Nasionale ANC-leiers met hulle klaarblyklike vaardighede en talente het ’n gerieflike werwingsterrein vir wit ondernemings verskaf wat die rassekonnotasie van hulle leierskap en, in mindere mate, van hul eiernaarskap wou afskud. In baie gevalle het senior ANC-lede nie die ANC se beeld aangetas deur sulke geleenthede tot hul voordeel te gebruik nie. Maar vandag is die groot meerderheid van die ANC se senior leierskap by die ANC se Luthuli House hoofkwartier betrokke by besigheid (een van die uitsonderings is die sekretaris-generaal van die ANC, Kgalema Motlanthe). Gevolglik is min van hulle ooit beskikbaar om partywerk te doen. In die parlement is 40% van die ANC-parlementslede direkteure van maatskappye, en talle is prontuit die eienaars daarvan. Hierdie belange is dikwels in die konstruksiebedryf en mynwese gesetel. Die ANC se nasionale uitvoerende gesag het etlike ultra-ryk lede wat by sakeondernemings betrokke is of, in die geval van etlike kabinetministers, wie se eggenote prominent in die grootsakewêreld figureer. Tydens die ANC se jongste nasionale konferensie vyf jaar gelede het swart ekonomiese bemagtiging (SEB) ANC-beleid geword om die ekonomie te transformeer en het dit amptelike erkenning verkry as aanvaarbare rewolusionêre praktyk. Spoedig het ANC-aktiviste op provinsiale en plaaslike vlak die voorbeeld van hul nasionale leiers gevolg en die besigheidswêreld betree. Op makrovlak, te oordeel na die herverdeling van rykdom en geleenthede en die opkoms van swart besigheid en eienaarskap, was die vordering stadig, maar positief. Maar op voetsoolvlak is die prentjie nie mooi nie Kimberley is byvoorbeeld ’n klein stad waarin naas die mynbedryf staatsbesigheid die gesogste wild is. Die teekoppievergadering was nie buitengewoon nie: sedert 1999, toe ANC-kamerade die eerste keer in besigheid ontplooi is, is die toekenning van tenders ’n twispunt. Talle gewone lede in die ANC verklaar dat hulle van die begin af die indruk gekry het dat die kwessie van wie watter tender kry skaamteloos deur hul politieke seniors geveins word. Minstens twee senior staatsamptenare het hul poste verlaat en in die bestek van weke winsgewende uitbestedingtenders losgeslaan nadat hulle deur die party se topstrukture in besighede “ontplooi” is, volgens aktiviste se mededelings aan die Financial Mail (FM). Weldra het ’n hand vol ANC-verbonde sakemanne die een kontrak na die ander ingepalm hetsy in sekuriteit, vervoer of konstruksie. ’n Geringe opstand in die party het op ’n neerlaag uitgeloop toe ’n groep rebelle uit die Kimberley-gebied by die party se 2001-konferensie ’n resolusie ter tafel gelê het wat daarop aandring dat SEB oor ’n breë basis moet plaasvind en nie slegs ’n paar uitverkorenes moet begunstig nie. In die Kimberley-voorbeeld staan drie sakelui uit vanweë hulle besondere welslae met die wen van kontrakte: Motsamai Rantho, Tshego Motaung en Tyron Ruiters. Rantho en Motaung is voormalige staatsamptenare. Aldrie was op die een of ander tydstip besigheidsvennote van die ANC-voorsitter, John Block. Beide Motaung en Rantho het hulle eerste kontrakte gekry van Block se departement, terwyl hy in vervoer, paaie en openbare werke die lid van die uitvoerende raad (LUR) was. Motaung, wat in ’n stadium vir Block gewerk het, het ’n deel van ’n kontrak vir die bestuur van die staatsgarage gewen – ’n onderneming waarvoor Mataung self die spesifikasies opgestel het voor hy die departement verlaat het om die tendertoekenning in te palm. Soos feitlik alle “opkomende” sakemanne het kontrakteurs in Kimberley ruim donasies aan die ANC geskenk, soms veel ruimer as wat hulle graag sou wou. Een kontrakteur wat om ’n vrywillige skenking van R20 000 gevra is, het dit gewillig betaal, het hy die FM meegedeel, maar kon nie ’n tweede versoek vir meer as 10 maal die bedrag bekostig nie. Donasies van hierdie aard is volop.
John Block Goeie kontak om te hê
Soos alom bekend geraak het, is Block in 2003 verplig om as LUR uit te tree weens wanbesteding van openbare fondse aan hotelle en vermaak vir homself, sy vrou en sy vriende, waaronder ’n uitstappie na Kaapstad se jazz-fees. In ’n kriminele verhoor is hy vrygespreek in weerwil van die feit dat hy op televisie erken het dat hy dit gedoen het omdat hy ’n “jazz-maniak” is en dat hy hoop die nasie sal hom vergewe. Maar die dae toe die Noord-Kaap se ANC-leierskap in liefde en vrede die plasing van kamerade in besigheid kon bespreek het, is verby. Sowel die voorsitter, Block, as die sekretaris, Mompati, is in besigheid vir eie gewin, bondgenootskappe wissel voortdurend na gelang besigheidsooreenkomste slaag of misluk, en hoewel Mompati heftig ontken dat daar spanning bestaan, is daar ’n gebrek aan vertroue in die ANC. “In die Noord-Kaap,” sê ’n ANC-lid wat sat is vir korrupsie en die stoeiery oor kontrakte, “het ons nie meer iets soos ’n ANC-leierskap (leadership) nie, ons het ’n ANC-handelaarskap (dealership). Gedrag soos dié in Kimberley is vir die party ’n ware probleem. Motlanthe, as nasionale sekretaris-generaal, is toegegooi met klagtes van oraloor, veral oor onregverdige monopolisering van besigheidsgeleenthede. ’n Eindelose stroom mense het sy drumpel deurgetrap met klagtes. Party sê dat hulle deur die ANC verraai is, uit tenders gekul is of aangesê is om die vriende van sekere politici by hulle transaksies te betrek. Soms verklik sekere ANC-kollegas mekaar wanneer hulle uitval soos toe premier Edna Molewa van die Noordwesprovinsie die destydse sekretaris van die Vroueliga, Yvonne Makume, by die ANC-hoofkantoor gerapporteer het. ’n ANC-woordvoerder sê dat Makume aan munisipale bestuurders geskryf en hulle aangesê het om sommige tenderregulasies te verontagsaam wanneer dit by die evaluering van haar maatskappy se bod kom. Daar is geen wetenskaplike maatstaf vir hoe erg korrupsie in SA werklik is nie. Organisasies soos Transparency International meet korrupsie op grond van persepsies deur onderhoude. SA vertoon redelik goed met sy plasing as op een na die mins korrupte land in Afrika. Dit mag die makrobeeld van SA se groot korporatiewe en staatsdepartemente weergee. Maar dit is beslis ’n hopelose onderskatting van wat op mikrovlak in provinsies en munisipaliteite aan die gang is. Motlanthe, in voeling met die ANC se bykans 200 takke, het ’n beter uitsig as die meeste mense. Hy glo dat korrupsie veel erger is as wat enigiemand hom kan voorstel. “Hierdie verrotting is deur die bank. Dit is nie beperk tot enige vlak of gebied in die land nie. Feitlik elke projek is gekonsipieer omdat dit vir sekere mense geleenthede skep om geld te maak. ’n Groot persentasie van die ANC se probleme word hierdeur veroorsaak. Daar is mense wat dit wil oorneem sodat hulle reëlings kan tref vir die aanstelling van diegene wat weer vir hulle die moontlikhede sal laat toekom vir toekomstige opgaring,” sê hy. In onderhoude het lede aan die FM by implikasie laat blyk dat die toekenning van kontrakte na die kant van ’n ANC-verbonde sakeman dikwels gelegitimiseer word deur die siening dat hulle die ANC hiermee ’n guns doen. Dikwels, so word beweer, gaan die wins na die ANC self ’n stelling wat volgens Motlanthe dikwels veel eerder onwaar as waar is. Volgens bronne word daar dikwels aangedring op regstreekse skenkings aan die ANC. Daar is ook kontrakteurs wat daarvoor bekend is dat hulle nie slegs aan die party in die algemeen skenkings doen nie, maar ook spesifieke faksies of individue wat goed geplaas is om groot kontrakte toe te ken, op hul betaalstate het. Verdraaiing van die reëls, sê Motlanthe, raak ’n kultuur wanneer mense op laer vlak die hooggeplaastes dit sien doen. Die ANC en sy strukture is die eerste wegspringplek vir enigiemand wat die hoop koester om geld uit regeringskontrakte te maak. En die party is erg blootgestel aan manipulasie deur diegene wat begeer om hulle invloed uit te brei. Om die ANC te korrupteer, is nie ’n duur besigheid nie. Ledegeld kos R12 per jaar, en die praktyk om lede te koop om ’n individu in ’n streeks- of provinsiale konferensieverkiesing te ondersteun, is aan die orde van die dag. Die ANC se ledetal styg, en soms verdubbel dit selfs in die aanloop tot ’n provinsiale konferensie. Prosedures wat in werking gestel is om spooklede te fnuik, is omvergewerp, en Motlanthe verklaar in Julie 2005 in ’n amptelike verslag dat mense in staat is om takke te “kaap” en selfgerigte agendas te bevorder. Een plaaslike raadslid - ’n uiters hoog aangeskrewe gemeenskapswerker wat sy setel in die Emfuleni-stadsraad (Vereeniging) verloor het toe sy tak in gebreke gebly het om hom in 2005 te benoem - het die FM meegedeel dat die taknominasieproses “mal” is. “Feitlik al wat leef was aan die stoei om in te kom [as raadslid]. Ek het ’n klomp mense daar gesien wat ek nie geken het nie. Hierdie mense het pas lidmaatskap verkry; hulle was op geen tydstip vantevore lede van die organisasie nie.” Die impak op die party is duidelik. Sakeman Saki Macozoma sê hy is diep verontrus oor hoe die verwagting om geld uit die regering te maak, die politiek van die ANC verwring. “Mense wat geen belang daarby het om die politiek van die ANC te bevorder nie, het ingestorm en oorgeneem. Sodra hulle binne is, verdring hulle ander en gaan bevoegdheid by die agterdeur uit”, het hy gesê. Toegang tot provinsiale kabinetsposisies het nou ’n nuwe betekenis gekry. Die hoogste prys is dié met kaptaalbegrotings om te bestee: behuising, openbare werke, paaie en vervoer. Nog ’n voorbeeld van hoe toegang tot hierdie soort mag die behoorlike werking van die party belemmer, is die volgende.
Mcebisi Skwatsha – Ontplooi
Mcebisi Skwatsha is die gewilde sekretaris van die ANC in die Wes-Kaap, ’n posisie wat hy vir twee termyne beklee het. Hoewel dinge nou verander het, was Skwatsha een van slegs ’n paar swart lede van die ANC in die provinsiale uitvoerende gesag. Maar hoewel Skwatsha voorheen na aan Ebrahim Rasool, die ANC-leier voor 2003 en die premier sedert 2004 was, is hy nie outomaties deur Rasool vir aanstelling in sy kabinet oorweeg nie.
Ebrahim Rasool – Faksiegevegte in die Wes-Kaap
Toe Rasool in April 2004 sy kabinet saamgestel het, is daar in die wandelgange druk op hom uitgeoefen om Skwatsha by die ANC se nasionale strukture in te sluit. Die gesogte portefeulje van vervoer en openbare werke is aan hom toegeken, wat hom in staat stel om na die waardevolle eiendomsbelange van die provinsie om te sien, met ’n stewige kapitaalbegroting op die koop toe. Die party was besig om ’n ander probleem te probeer oplos. Dit het bekommerd begin raak oor klagtes oor die alleenreg op ekonomiese geleenthede van ’n klein groepie sakemanne in die Wes-Kaap. Maar kort voor lank in sy termyn is Skwatsha se verantwoordelikhede summier gereorganiseer deur Rasool, wat die bestuur van die staat se eiendomsbates van Skwatsha weggeneem en dit na sy eie kantoor herlei het. Die FM is meegedeel dat Skwatsha met die sakeman Brett Kebble aan die onderhandel was oor die vervreemding van die provinsiale regering se kosbaarste juweel, die terrein van die Somerset Hospitaal, naby die Waterfrontkompleks geleë en ryp vir ’n multimiljoen-rand-ontwikkeling. Die onderhandelingsproses is deur ’n deelgenoot van Skwatsha bevestig. Die gevolg van die reorganisasie was woede en pandemonium in die ANC. Skwatsha en Rasool se paaie het geskei, en eersgenoemde het saamgespan met die “Afrikanistefaksie” wat hulle voorheen albei met minagting bejeën het. Volgens ’n goed ingeligte bron het die Skwatsha-faksie sy koukusvergadering voor die provinsiale konferensie in ’n Seepuntse hotel gehou wat deur Kebble gefinansier is. Tydens die provinsiale konferensie self is Rasool van baie van sy mag gestroop. Hy het sy amp as voorsitter verloor en ternouernood ’n gewone setel in die provinsiale uitvoerende gesag behou.. Volgens bronne uit die Skwatsha-kamp het Rasool ’n laaste hou ingekry teen Skwatsha voor hy sy posisie verloor het. Twee weke voor die provinsiale konferensie is Skwatsha deur bewerings van korrupsie getref en daarvan beskuldig dat hy sy politieke invloed misbruik het in ’n poging om vir sy broer se maatskappy ’n sekuriteitstender van die stadsraad te verkry. ’n Lid van die ANC- provinsiale uitvoerende gesag beweer Rasool het agterna erken dat hy die ondersoekbeampte twee maal ontmoet het - wat moontlik verklaar waarom die polisie wat ’n klopjag op die stad se tenderkantore uitgevoer het, in ’n beëdigde verklaring gesê het hulle het dit in opdrag van die premier gedoen. Toe hy meer as ’n jaar later deur die elite-eenheid van die Skerpioene vrygespreek is van enige wangedrag, het die euforiese Skwatsha ten aanskoue van ’n perskonferensie laat verlede jaar ’n bottel sjampanje oopgebreek. “Die sjampanje was nie net oor daar geen saak teen hom was nie, maar omdat Rasool regeringsbronne teen hom gebruik en misluk het”, vertel ’n vriend. Die broedertwis in die ANC van die Wes-Kaap illustreer hoe die verskyning van besigheidsgeleenthede die politieke toneel verander het. Jeremy Cronin, intellektueel en leier van die SA Kommunisteparty, verklaar dat die ideologie van die ANC verskuif het. Terwyl die algemene siening voorheen ’n organisatoriese en kollektiewe benadering tot verandering weerspieël het, is die klem deesdae indiwidualisties met ’n heersende opvatting dat “jy enigiets kan kry wat jy wil hê as jy dit graag genoeg wil hê”.
Saki Macozoma - Die ANC word skeefgetrek om geld te maak
Beide Motlanthe en Macozoma praat oor die opkoms van die “Lotto-mentaliteit” en hoe die persepsie dat dit moontlik is om ’n kitsmiljoenêr te word, posgevat het. Om te werk vir lae lone of lae winsgrense uit ’n kleinskaalse onderneming word met minagting bejeën. “Mense sien dat andere beweerde miljoene maak selfs al is dit in der waarheid alles skuld. Gewone ANC-lede vra hulle self af: [hoekom nie ek nie]?” sê Macozoma. Dus, kan die ANC sy huis aan die kant kry? Vir meer as 18 maande is die party verlam deur opeenvolging van leiers. Min ander dinge is deur die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK), die mees senior komitee van die party bespreek, ondanks die algemene besef deur die bank dat die ANC van binne af aan die verrot is. ’n Subkomitee van die NUK, bestaande uit Macozoma, finansiesminister Trevor Manuel en andere, is onlangs versoek om riglyne op te stel oor hoe die ANC die probleme moet hanteer wat uit sy lede se betrokkenheid by besigheid voortspruit. Dit was nadat Motlanthe alarm gemaak het by geleentheid van die ANC se nasionale algemene raadsvergadering, waar hy gewaarsku het dat lede se betrokkenheid by besigheid besig is om die siel van die party te vernietig.
Opportunistiese lidmaatskap van die ANC
Van die groep se voorstelle was onder meer: verklarings van belange vir ANC-beamptes, riglyne oor watter soort skenkings die ANC behoort te aanvaar, en die voorstel dat ’n spesiale komitee wat by geleentheid van die party se vyfjaarlikse nasionale konferensie verkies word, geskille tussen lede moet besleg. Oplossings word egter deur twee dinge ernstig gekortwiek: Die geskiedenis van politieke en ekonomiese onteiening maak dit onwaarskynlik dat enigiemand, hetsy politikus of vooraanstaande staatsamptenaar, uitgesluit sal word van die uitsonderlike geleenthede wat SEB vir die opgaar van rykdom bied. “’n Mens moet redelik en pragmaties hieroor wees. Afkoelperiodes [waartydens voormalige staatsamptenare weerhou word van deelname in die sektore wat hulle gereguleer het] sal vir ons generasie nie werk nie. Vir iemand wat vaardighede ontwikkel en kennis opgedoen het op ’n bepaalde terrein kan jy nie sê hy mag nie deelneem nie”, sê Macozoma. Om dienende politici te verbied om aan besigheid deel te neem, is ’n ewe onrealistiese opsie, verklaar hy. “SEB skep ’n besondere geleentheid met ’n beperkte rakleeftyd - jy kan mense nie daarvan uitsluit nie.” Maar teenswoordig word die ANC in sy soeke na oplossings die swaarste gestrem deur sy eie organisatoriese verlamming. Die party se obsessie met sy leierskapstryd het dit vir hom onmoontlik gemaak om eerlike selfondersoek te doen op ’n tydstip dat hy te staan kom voor uitdagings wat sy eie vernietiging kan meebring. Dit is van kritieke belang vir die party om oor sy eie stelsels en prosesse te besin. Die ANC se nasionale konferensie, teen die einde van hierdie jaar, moet die toekomstige leier vir die party kies. Maar dit mag belangriker wees om die toekoms van die party self te bepaal. Motlanthe se woorde met betrekking tot die Wes-Kaap kan op die party in die geheel toegepas word: “Ek het vir hulle gesê dat hulle geen ideologiese verskille en ook nie rasseverskille het nie. Hulle veg oor die beheer en monopolie oor tenderprosesse”. |