|
||||
In die agste jaar van mnr. Thabo Mbeki se presidensie is krisis aan die orde van die dag. Oor Mbeki se nalatenskap kan daar nie nou al gepraat word nie – hef aan lê op vele terreine van sy oorblywende termyn voor – maar sy bydraes tot die bevordering van demokrasie in Afrika, asook die skepping van ’n swart middelklas in Suid-Afrika word dikwels as sy vernaamste suksesse uitgesonder. Hierdie suksesse kan geensins as ondubbelsinnig beskou word nie. Wat Afrika betref, het Mbeki in Zimbabwe en die Ivoorkus misluk, en sy regering se strategie om elitebelange via spoedige verkiesings, soos in die Demokratiese Republiek van die Kongo onlangs, te legitimeer, verdun sy buitelandse sukses. Wat die skepping van ’n swart middelklas in Suid-Afrika betref, het dit teen ’n baie hoë prys gekom. Eerstens het hy in sy neoliberale, grootsake vriendelike ekonomiese beleid so hardhandig met sy party en sy vennote in die Drieparty-alliansie omgegaan, dat hy vandag met sy rug teen die muur is – en die onsmaaklike populisme van Zuma en sy ondersteuners as reaksie hierop moet verteer. Tweedens het sy droom van ’n swart middelklas in so ’n vorm gestalte gekry, dat dit, enersyds, bittermin beheer aan swartmense oor produksie in Suid-Afrika verleen het en, andersyds, ’n orgie van onbeheerste verbruik en ’n gepaardgaande ontploffing in huishoudelike krediet gevoed het. Op die koop toe het dit gepaardgegaan met die dramatiese vergroting van die gaping tussen arm en ryk - ’n tydbom wat die swart middelklas ewe veel as enigiemand anders in die land bedreig. Sy vernaamste strategie vir die skepping van hierdie swart middelklas was die bykans meedoënlose indiensneming van “voorheen benadeeldes” met al hoe minder oorweging aan kundigheid geskenk, sodat staats- en navorsingskapasiteit in die land begin daal, honderde duisende kundiges die land verlaat het, en veral Afrikaners vervreem word, omdat hulle toenemend die geleentheid ontsê word om aan die ekonomie deel te neem. Ironies genoeg tref hierdie ontsegging hulle veral in die staatsdiens en die onderwys, oftewel daardie sektore waar kundige Afrikaners ’n wesenlike verskil aan die lot van Afrikane kan maak. Terwyl sommiges eens Mbeki se hantering van Vigs en Zimbabwe as sy grootste mislukkings beskou het, dreig sy hantering van Suid-Afrika se krisis van geweldsmisdaad om hom en die land in sy grootste krisis sedert 1994 te dompel. Nie eens lompe beeldpoetsery vir potensiële buitelandse beleggers kan Mbeki se onlangse uitspraak dat dit ’n “persepsie” is dat misdaad buite beheer is, verskoon nie. Sedertdien is die punt uit alle oorde gemaak dat gewone landsburgers voel asof hulle in ’n staat van beleg verkeer – met ’n staat wat buite beheer is. Ongemaklike vrae oor die betroubaarheid van openbare misdaadstatistieke word gevra. Die Kommissaris van Polisie se vriendskapsbande met twyfelagtige figure boesem nie vertroue by die publiek in nie. Regeringsverteenwoordigers – met die lofwaardige uitsondering van die direkteur van die Nasionale Vervolgingsgesag, mnr. Vusi Pikoli – se koppe is so diep moontlik oor misdaad in die sand gesteek. Die een gemeenskap na die ander staan by oop grafte. Onvervangbare geeste word gewelddadig in spoke verander. Maar buiten die nou bykans voorspelbare rampspoedige hantering van openbare persepsies deur Mbeki en sy beeldpoetsers, verteenwoordig die fiasko rondom Eerste Nasionale Bank (ENB) se geaborteerde misdaadveldtog ongetwyfeld ’n nagmerrie vir Mbeki. Waarom? In die eerste plek het Mbeki sy populêre magsbasis in politieke steun oor die afgelope jare vervreem en vervang met ’n magsbasis van magtige sakelui (kleinsakeondernemings het nie juis veel gekry om oor te jubel nie). En nou, nes die Drieparty-alliansie onder Mbeki uitmekaar geval het, gebeur dieselfde in sy magsbasis van magtige sakelui. In die tweede plek – het iemand dit raakgesien? – is daardie sakelui wat hom in die ENB-fiasko gesteun het oorwegend wit en Engels, terwyl hulle opponente oorwegend Afrikaners was. Mnre. Johann Rupert en Jannie Mouton verdien hier in die besonder eervolle vermelding. Een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde ekonome beskryf die Engelse sakelui se optrede aan Die Vrye Afrikaan as “ou koloniale kruiperigheid”. Die enigste onmiddellike ligpunt in hierdie toedrag van sake, is die hopelik konstruktiewe herskommeling van magsverhoudinge ter wille van demokrasie en die waarborg op lewe wat nog hieruit kan kom. Daar is egter ’n ander diepliggende kwessie wat uit die ENB-fiasko na vore tree, naamlik die implikasie wat dit het vir die verhouding tussen daardie krities belangrike verhouding vir die toekoms van Suid-Afrika, naamlik dié tussen Afrikaners en Afrikane. Vanweë hulle unieke historiese band met die land en met mekaar, bly hierdie twee groeperinge in hulle tweedepaspoortlose verbondenheid tot die land wesenlik vir die toekoms. Die Mbeki-era met sy hopelose onbegrip vir diversiteit, asook vir minderhede en die rol wat hulle in die vooruitgang van die land te spele het, sal nie vir ewig duur nie. Teen Desember vanjaar sal heel moontlik ’n nuwe ANC-president met veel meer gevoeligheid vir die verhouding tussen Afrikaners en Afrikane na vore tree, wat op sy beurt ’n totaal ander dinamika in die land kan vestig. Hoe moeilik dit ook nou al is om te midde van die enorme misdaadgolf kop te hou – en ook die kop omhoog te hou – behoort Afrikaners en Afrikane verby die huidige president en sy verbete ideoloë te kyk, en so energiek as moontlik aan hierdie verhouding te bou. Want as hierdie verhouding nie versterk word nie, sal dit dalk oplaas vir altyd verlore wees. En dít is nie een van die twee partye se belang nie. |