blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Van Generaals en Kapteins 2006-12-11
Amanda du Preez

*Senior lektor in visuele kultuur, Universiteit van Pretoria en mederedakteur van South African Visual Culture (Pretoria: Van Schaik, 2004)

 

Oor die begrip identiteit is die laaste jare baie geredeneer. Aan die een kant word identiteit voorgehou as ’n problematiese essensialisme wat sigself as “natuurlik” en “vanselfsprekend” aanbied. Met ander woorde, hiervolgens is identiteit ’n ingebore gegewe wat vas staan – byna onwrikbaar in sy voltrekking. Aan die ander kant ondermyn die postmoderne kritiek die essensialistiese geloof in identiteit deur identiteit af te maak as blote konstruksie of versinsel, eintlik maar ’n arbitrêre samevloeiing van magsverhoudings en taalnetwerke.

Maar hoe stuur ’n mens die identiteitsvraag verby hierdie impasse om nader aan die alledaagse ervaring van identiteit te kom? Identiteit is gewis nie ’n noodlottige gegewe waarin ons vasgevang sit nie. Boonop is identiteit ook nie altyd nét ’n negatiewe belewenis, soos baie postmoderne teoretici ons wil oortuig nie. Daarbenewens is identiteit ook nie ’n arbitrêre konstruk wat soos ’n dobbelsteen een dag so en op ’n ander dag anders val nie. Identiteit, wil dit my voorkom, is iets tussen kompromislose essensialisme en die siniese postmoderne arbitrêre val van ’n dobbelsteen.

Daarom dat Hames-García en Moya (2000) in Reclaiming Identity: Realist Theory and the Predicament of the Postmodern aandui dat identiteit en identiteitsvrae “kennisgevolge” het. Dit beteken dat: “Ons opvattings van wie ons as sosiale wesens is (ons identiteite) beïnvloed ‘en word op hul beurt beïnvloed’ deur ons verstaan van hoe ons samelewing gestruktureer is en wat ons besondere ervarings in daardie samelewing mag wees” (my vertaling). Dit impliseer natuurlik dat identiteite plooibaar is en kan verander oor en in tyd, maar ook dat daar ’n grens aan die plooibaarheid van identiteit is. Dit beteken op sigself dat identiteite beide werklik (waar) en gekonstrueer (fiktief) is. Aan die een kant word identiteite met politieke en kennisbetekenis belaai, en aan die ander kant word dit as veranderend, nie-substansieel en radikaal histories van aard voorgestel. Dit is tussen hierdie twee merkers wat die diskoers rondom identiteit weer ’n geloofwaardigheid vir sigself sal moet uitkap, en in die Suid-Afrikaanse konteks is die vraag moontlik nog dringender as in die meeste ander maatskaplike kontekste.

Wat ek hier geskryf het, wil ek graag op twee gewilde liedjies toepas, naamlik die “Kaptein” (2005) van Radio Kalahari Orkes en Bok van Blerk se “De La Rey”(2006).

 

Kaptein, kaptein waarheen ry die trein?

 

“Kaptein”geskryf deur Ian Roberts en Rooi Jan (alias Rian Malan) stel ons bekend aan ’n treinreis in die donker nag op pad na ’n onbekende bestemming. Gelees vanuit die identiteitsvraag kan die teks op verskeie wyses vertolk word. Die onbekende “Donker maak my bang/ Ek wil liewer huis toe gaan”, kan moontlik verstaan word as ’n sinspeling op die sogenaamde “swart gevaar” en die duisternis wat dit mag suggereer. Die trein spoed iewers heen in die nag, “Trein donder innie donker oor die ou Karoo” en die eindbestemming is onbekend, maar vreesaanjaend. Sodanig dat die verteller uitroep “Mamma, Mamma, wanneer sien ek jou weer”. Dit terwyl ons vermoed dat die “huis” en “Mamma” ook nie meer ongeskonde is nie, of dalk selfs net bestaan as ’n verlore utopie iewers buite bereik. Dalk was die “huis” wat identiteit bied vanuit die staanspoor ’n onbereikbare ideaal geen tuiste teen die aanslae van die duisternis en afgronde in elk geval nie? Maar soos ’n ongeleide missiel snel die trein voort na nêrens heen, “Hierie donker trein donder nêrens toe”.

Die verteller roep by herhaling, “Kaptein, Kaptein/ Waarheen ry die trein, duiwel fluister in my oor / ek gaan die plot verloor”. Iemand moet tog die leiding kan neem, iemand moet ten minste weet waarheen hierdie donker reis lei, of in die woorde van die lied – iemand moet “die plot” verstaan en ken? Daarom die oproep na die Kaptein, hy behoort tog immers te weet. Elsa Joubert het al vroeg die plek van die kaptein bevestig in haar boek Ons wag op die kaptein. So wag elke identiteit op die Kaptein, die een wat ons kan uitlei uit die duisternis, maar nou is die trein steeds op dolle vaart en die eindbestemming steeds ’n misterie. Daar is min dinge so onherbergsaam en onrusbarend as ’n trein wat roekeloos op sy spoor na nêrens voortstu in ’n donker landskap. Dink maar aan die film Runaway Train (Regisseur Andrei Konchalovsky, 1985) waarin die trein sonder ’n kaptein bruut en stom voortvaar die sublieme onbekende nag in. Of die trein as modernistiese instrument wat die uitgestrekte Russies landskap oorweldig in Doctor Zhivago. Daar is nie tyd vir afklim nie. Om af te spring gedurende die reis mag noodlottig wees, maar so is die reis ook beslis na nêrens.

Radio Kalahari Orkes se “Kaptein” spreek van ’n eksistensiële identiteitskrisis. Geen bepaalde koers word ingeslaan nie. Al wat duidelik word, is die sinneloosheid van die reis in die duisternis. Die onherbergsaamheid van die menslike bestaan en in besonder van die bepaalde identiteit word aangekondig. Geen Kaptein, geen bepaalde koers, oorgelewer aan die siniese en kille besluit van die noodlot. Tog bly die versugting en ’n intense soeke na die rigtingaanduider staan, ten spyte van die feit dat hier geen beskutting of veilige hawe is nie, geen skuiling teen die “oormag” nie, bloot maar ’n uitgelewerdheid, ’n broosheid. Die pad na veilige identiteit is nie gekaart nie. Niemand ken die pad nie, nie eens die Kaptein nie. Identiteit in “Kaptein” is meer ’n proses, ’n reis waarvan die finale aankoms nooit seker is nie.

 

Generaal, generaal sal jy die Boere kom haal?

 

Indien Radio Kalahari orkes se “Kaptein” klem lê op die reisende aard van identiteit, konsentreer Bok van Blerk se “De la Rey” moontlik op ’n meer nostalgiese oproep van die heldhaftige identiteit. Van Blerk lê die moed aan die dag om ’n persoon uit die verlede, en spesifiek uit die Afrikaner se verlede, te identifiseer en op te roep as leier. Die hoop word uitgespreek dat daar iemand is (’n generaal?) wat die pad ken en weet hoe om hier uit te kom. Iemand wie se voorbeeld navolgenswaardig is. Iemand wat sal opstaan al is die oormag hoe oorweldigend – ’n held, met ander woorde. Generaal De la Rey, ook bekend as “Die leeu van die Wes-Transvaal” word aan ’n nuwe generasie voorgestel as ’n onverskrokke held. Die versinnebeelding van dapperheid. Daar is dus ’n voorstelling van ’n individu wat opgestaan het teenoor die sinnelose noodlot. Die eksistensiële krisis is vir eens opsygeskuif ter wille van ’n heroïese dog nostalgiese opstelling van identiteit.

Van Blerk se “De la Rey” roep beelde op van ’n identiteit wat gegrond en geaard is, “Maar die hart van ’n boer/ Lê dieper en wyer hulle gaan dit nog sien”. Identiteit is hier verbonde tot ’n plek, “my huis en my plaas/ Tot kole verbrand”. Ook in die musiekvideo word dit bevestig deur die toneel van ’n “boer” (Van Blerk self) wat sy lande ploeg en in ’n gebaar van gebondenheid hurkend ’n handvol grond opskep – bevestigend van die verbintenis wat daar hier bestaan tussen identiteit en plek. Die verbintenis tussen plek en identiteit is trouens so sterk dat dit “vlamme en vuur diep binne” die verteller oproep. Hier is identiteit nie ’n donker reis in ’n onbekende donkerte in nie, maar iets waarop gestaan kan word, iets waarvoor opgestaan kan word.

In watter mate hierdie oproep bloot ’n hersenskim en ’n nostalgiese versugting, of aan die ander kant ’n kragdadige herinnering is wat tot nuwe praktyke mag lei, sal net die toekoms nog leer. Die mate waarin die “kaptein” en/of die “generaal” waar en/of fiktief is, kan ons alledaagse belewenis van identiteit moontlik mettertyd duidelik maak.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=799
Artikel nagegaan:
    -