blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Musiekrubriek 2006-12-11
Herman van Niekerk

Die hoofdoel van hierdie musiekrubriek is om musiekinligting te kommunikeer wat nie noodwendig algemeen en gereeld ons (oor-)drempels bereik nie – of waaraan ’n mens nie aldag blootgestel word nie. Die doel van die inhoud is hoofsaaklik inligtinggewend, soms aanbevelend en partykeer vertolkend. Ons wil veral fokus op nuwe en moontlik minder toeganklike musiekinligting.

      U word genooi om inligting oor musiek aan ons te stuur (of sommer bloot te laat weet van musikale aksies waarvan ons kan kennis neem), en ons sal poog om blootstelling daaraan te verleen met inagneming van ons rubriekdoel en die beskikbaarheid van bladruimte vir ’n spesifieke uitgawe. Stuur mediaverklaring en inligting aan: Die Vrye Afrikaan: Musiek, Posbus 1010, Auckland Park 2006, of stuur ’n vonkpos aan [email protected]. Positiewe en opbouende kommunikasie is enige tyd welkom, maar indien dit vir publikasie oorweeg moet word, moet inligting ons asseblief minstens ses (6) weke voor die publikasiedatum van ’n spesifieke uitgawe bereik – byvoorbeeld: indien inligting vir die April 2007-uitgawe oorweeg moet word, moet dit ons asseblief teen 15 Februarie 2007 bereik.

Ons hoor graag van u!

 

Toegevoegde Kerswaarde met…

Die Musikale Kous

 

Musiek bly gelukkig ’n onmisbare en omvattende komponent wanneer aan Kersfees gedink en dit gevier word.

 

In hierdie laaste Musiekrubriek vir 2006 lys ons ’n paar (hoofsaaklik Kers-) musiekopnames op CD wat ’n mens vir hierdie tyd van die jaar kan aanskaf – en steeds die res van die nuwe jaar kan herluister en oordink ...

 

Christmas With Mimi Coertse

Begeleiding deur die Simfonie-orkes van die SAUK onder leiding van Edgar Cree, die Johannesburgse Bach-koor en die Kinderkoor van Pretoria.

Gallo CD HOY 011

 

In hierdie opname van 10 snitte tree Mimi Coertse op saam met die destydse Simfonie-orkes van die SAUK onder leiding van Edgar Cree, asook die Pretoriase Kinderkoor en die Johannesburgse Bach-koor. Mimi sing onder andere Stille Nag in Duits, Engels en Afrikaans; dan is daar ook snitte soos O Jesulein süss (soos verwerk deur Peter Klatzow – wat verskeie van die bekende Kersliedere verwerk het), Panis Angelicus, Adeste Fidelis, O Holy Night en Joy To The World.

 

Christmas with Hanneli Rupert

Met die Kaapstadse Sinfonietta, Barry Smith, Peter Louis van Dijk, Die St. George Sangers, Die Stellenbosse Camerata onder leiding van Acáma Fick, Zorada Temmingh en Grant Brasler.

Claremont Records CD GSE 1558.

 

Hanneli Rupert het gedurende Augustus en September 1998 die Kersopnames gemaak in die Endlersaal op Stellenbosch en in die Kaapstadse Stadsaal. Van die musiekverwerkings is onder andere gedoen deur Peter Klatzow, Louis Heyneman, Zorada Temmingh en Peter Louis van Dijk. Die CD bevat 16 snitte waaronder Herders op die ope Velde, Ring the Bells, Kom alle getroues en Waar die nag in ademlose stilte – ’n komposisie van Dirkie de Villiers met woorde deur sy vrou, Doll.

 

Home for Christmas - Anne Sofie von Otter

Kalle Moraeus (viool en ghitaar); Bengan Jansson (trekklavier en orrel) en Svante Henryson (tjello en kontrabas).

Deutsche Grammophon 459 685-2.

 

“I prefer to stay in the lower registers for these songs. My goal is not to sound like an opera singer,” sê Anne Sofie von Otter oor haar Kersfeesalbum. Sy sing heel bekende en minder bekende Kersliedere, maar wat veral uitstaan, is dat almal ongewone verwerkings is met uitsonderlike instrumentbegeleiding-kombinasies. Van die 21 snitte sluit onder meer in Koppàngen (gesing in Sweeds en Engels), The Christmas Song, Tomorrow shall be my dancing day, Cantique de Noël, Corpus Christi Carol, Sweet was the Song, ensovoorts.

 

Christmas with Chanticleer

Met spesiale gas, Dawn Upshaw (sopraan).

TeldecClassics 8573-85555-2.

 

Die Chanticleer Sangers van San Francisco bestaan al meer as 25 jaar en dit is by hulle ’n jaarlikse instelling om rondom Kerstyd ’n reeks uitvoerings te gee onder die titel, A Chanticleer Christmas.

 

In hierdie CD-versameling van Kersliedere tree hulle op saam met die sopraan, Dawn Upshaw. Die Chanticleer Sangers staan natuurlik vir geen musiekstyl en -verwerking terug nie, en dit kan ’n mens hoor in hierdie verskeidenheid van 23 Kersliedaanbiedings. Die versameling sluit onder meer die volgende in: This is the truth sent from above (soos verwerk deur Vaughan Williams), A Christmas Round (John Tavener), Die Stimme des Kindes, Spanish Carol, Huron Carol (van 1593) ensovoorts.

 

The Naxos Book of Carols

Met die vokale ensemble Tonus Peregrinus van New College in Oxford, en Antony Pitts.

Naxos 8.557330

 

The Naxos Book of Carols is ’n versameling van beide ou en nuwe Kersliedere. Dit is ’n kombinasie van ‘geliefde’ en ‘nuutgevonde’ liedere. Die verwerkings is almal nuut en spesiaal vir hierdie opname gedoen in opdrag van Naxos. Die Kersliedere ontvou in 4 dele wat elk fokus op die Kersverhaal. Eerstens Die Hoop (of dan Advent), dan Die Boodskap (of dan die vreugde van die geboorte), daarop volg ’n fokus op Die Baba en dan Die Feesvierings vir die koms van die Koning van alle Konings. Daar is 24 kersliedere op die CD – een vir elke dag van die Adventsperiode. Die opnames is in Julie 2003 gemaak. Van die snitte sluit in O come, o come, Emmanuel, Of the Father’s heart begotten, Verbum Patris umanatur, o, o; Alleluja (‘n nuwe werk), Jesus, the very thought is sweet, In dulci jubilo ensovoorts.

 

A Little Christmas MusicThe King’s Singers

met spesiale gas: Kiri Te Kanawa, en begelei deur die Stad van Londen se Sinfonia onder leiding van Richard Hickox.

EMI CDKINGS (7 49909 2)

 

Abbey Road Ateljees is veral deur die ontstaan en bestaan van die Beatles bekend gemaak. Maar dit is ook daar waar die King’s Singers hulle bevind het in die somer van 1989 vir die opnames van hierdie Kers-CD. Hulle het uit hul pad gegaan om gevestigde Kersliedere weer nuut te laat klink. Die CD bestaan uit 21 Kersliedere en sluit in It came upon the midnight clear; The Little Drummer boy, A Little Christmas Music (Medley à la Mozart), Gaudete, Drie Spaanse Kersliedere, The Wexford Carol, ensovoorts.

 

 
In Hemelse Taal – Linguis Angelorum – Zorada Temmingh speel improvisasies op Kerkliedere

Zorada Temmingh – orrel.

Beskikbaar vanaf telefoon 082 5607553.

 

Die eerste orrel van die NG-Moedergemeente op Stellenbosch (die gemeente is gestig in 1686) is in 1801 voltooi, en in 1832 en 1858 is verdere orrels in gebruik geneem. In 1953 word ’n nuwe orrel gebou, maar die historiese front (sierlike mahonie-pypkas en frontpype), die speeltafel en windlaaie van 1858 is behou. Die huidige orrel, met 2957 orrelpype, is in 1981 herbou. En dis op hiérdie orrel dat Zorada Temmingh improvisasies doen op bekende Kersliedere. Van die 17 liedere waarop geïmproviseer word, is onder meer Gesange 103 (O die goeie tyding), 96 (Stille Nag), 78 (U het gekom, Immanuel), 122 (O Heer, uit bloed en wonde), 147 (Ons hoor die Paasfeesklokke), Liedere 27 (Jesus, ons eer U, opgestane Heer), 35 (O Heer my God, as ek in eerbied wonder) en Psalm 42 (Soos ’n hert in dorre streke)

 

Christmas with Roger Wagner

Die Roger Wagner Chorale onder leiding van Roger Wagner

CD Delios D/CD 3072

 

Tydens die opnames van hierdie Kersalbum deur die Roger Wagner Chorale het Roger Wagner die tradisionele Franse Kerslied, He is Born as sy gunsteling uitgesonder – omdat sy moeder dit dikwels vir hom gesing het waar hy as kind in Frankryk grootgeword het. Roger Wagner het sy Chorale in 1947 gestig, en in 1988 het sy dogter, Jeannine, die leisels by hom oorgeneem en voortgebou op wat haar Pa begin het. Roger Wagner is in 1992 oorlede.

Hierdie CD bevat 23 snitte en sluit in bekende en minder bekende tradisionele Kersliedere, waaronder: Noel, Noel, Bells are ringing, Sweet little Jesus Boy, Sing We Now of Christmas, El Rorro, The Gift Carol, ensovoorts.

 

 

The Carols of ChristmasA Windham Hill Collection

Verskeie kunstenaars van die Windham Hill-etiket.

Windham Hill 01934 11193 2

 

The Carols of Christmas is reeds 10 jaar gelede uitgereik en bestaan uit verwerkings en interpretasies van bekende Kersliedere deur verskeie kunstenaars wat onder die Windham Hill-etiket opneem. Daar is name soos Jim Brickman (klavier), Marion Meadows (sopraan saxofoon), George Winston (klavier), Will Ackerman (akoestiese ghitaar), Richard Stoltzman (clarinet), David Darling (tjello en sintetiseerders) en Liz Story (klavier) – om ’n paar van die kunstenaars te noem. Die tradisionele Kersmusiek is verwerk en van die volgende opnames kan gehoor word: Have yourself a merry little Christmas, Simple Gifts, What Child is this?, Do you hear what I hear?, We Three Kings en God rest ye merry gentlemen.

 

Indien u die bogenoemde (of soortgelyke) CD’s op die internet soek en bestel, kan u die volgende webwerwe oorweeg: www.amazon.com/ www.cdconnection.com/ www.kalahari.net.

Indien u sukkel om die opnames op te spoor, kan ons moontlik van hulp wees. Kontak ons gerus by die onderstaande adres in Auckland Park.

 

*LUISTER: Op Dinsdagaand, 19 Desember 2006 na RSG (100-104FM) se program, Musiek Sonder Grense. Dit is ’n spesiale Kersmusiekprogram waarin van die opnames soos hierbo gemeld, gehoor kan word.

 

’n Sinvolle Christusfees u toegewens!

 

Inligting vir hierdie rubriek word voorsien deur MCCOSA (Die Musiekkommunikasie-sentrum van Suid-Afrika) – [email protected] en Posbus 1010, Auckland Park, 2006 Suid-Afrika. Die samesteller is Herman van Niekerk

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=798
Artikel nagegaan:
    -