| ||||
Desmond Painter *Dosent in sosiale sielkunde, Universiteit Stellenbosch
Volgens Keyan Tomaselli, in sy The cinema of apartheid: Race and class in South African film, was Jans Rautenbach in daardie stadium, 1989, een van maar slegs drie filmregisseurs in die Suid-Afrikaanse rolprentgeskiedenis wat ’n eg persoonlike stempel op hulle werk kon afdruk, en wat die ideologiese perke wat hulle samelewing aan hulle gestel het artistiek kon oorskry (die ander twee wat Tomaselli noem, is Ross Devenish en David Bensusan). Amper twintig jaar na daardie oorsig word Rautenbach steeds met reëlmaat uitgesonder as een van die talentvolste regisseurs wat Suid-Afrika nog opgelewer het. In die Afrikaanse bedryf spesifiek was hy ongetwyfeld die dominante figuur gedurende die laat 1960’s en die 1970’s. As ’n mens ’n lys van die vyf belangrikste kunsflieks in Afrikaans sou opstel, sal dit heel waarskynlik, selfs vandag, twintig jaar sedert hy opgehou rolprente maak het, drie van Rautenbach se titels insluit – Die Kandidaat, Katrina, en beslis die briljante Jannie Totsiens. Rautenbach se belangrikheid as Afrikaanse rolprentmaker lê daarin dat sy rolprente nie net esteties kon meeding met wat op daardie tydstip in die buiteland vervaardig is nie, maar dat hulle soos sy literêre eweknieë, die Sestigers, ook krities-analities omgegaan het met die kultuur en politiek van die Afrikaners. Martin Botha, in die boek onder bespreking, sê die volgende oor Rautenbach: “Daar was feitlik niemand onder sy tydgenote wat bereid was om met die medium as ’n vorm van selfuitdrukking of as ’n vorm van sosiopolitieke kommentaar te eksperimenteer nie” (p. 79). Tog sou sy werk nie die impuls wees vir die ontwikkeling van ’n werklik dinamiese, artistiek bevredigende rolprentbedryf in Afrikaans nie; Afrikaanse rolprente sou oor die jare beperk bly tot ligte en kommersiële vermaak. Botha merk in dié verband op: “(T)e veel faktore het waarskynlik teen hierdie vernuwing getel: gebrekkige filmsubsidie, wat geen ontwikkelingsbefondsing ingesluit het nie, gebrekkige verspreiding van plaaslike films, streng sensuur, hoofsaaklik wit filmgehore wat meesal net na verstrooiing gaan kyk het, en die gefragmenteerde aard van die filmbedryf in seleksies vir wittes en swartes, met ander woorde: geen nasionale filmkultuur nie” (p. 77). Hoeveel jonger Suid-Afrikaners, en selfs net Afrikaanstaliges, dra kennis van Jans Rautenbach of enige van sy rolprente? Meer tragies nog is dat, selfs al sou ’n mens bewus wees van hierdie rolprentmaker se bestaan, sy werk grootliks ontoeganklik is. ’n Mens gaan verniet in jou plaaslike videowinkel of op Kalahari.net soek vir ’n DVD-kopie van Die Kandidaat. Ten spyte van KykNet, die Afrikaanse kunstefeeste en die opbloei van die plaaslike DVD-mark, is daar sover ek weet geen daadwerklike poging om werk soos dié van Rautenbach en ander ligpunte in die Suid-Afrikaanse rolprentkuns aan ’n nuwe gehoor bekend te stel nie. Indien Rautenbach ’n Italiaanse of Amerikaanse regiseur was, sou hierdie glansboek oor sy lewe en werk waarskynlik saamgeval het met ’n versamelde uitgawe van al sy rolprente op DVD. So is dit nou egter nie in Suid-Afrika nie. Intussen het Martin Botha en Deborah Steinmair, en Genugtig! uitgewers, darem ’n liefdeswerk verrig en hierdie pragtige boek gepubliseer. Dit is eintlik twee kort boeke in een. As ’n mens van die een kant begin, lees jy Martin Botha se Jans Rautenbach – Dromer, baanbreker en auteur. As ’n mens die boek soos ’n langspeelplaat omdraai, vind jy Deborah Steinmair se Jans, droomsaaier – sy memoirs. Martin Botha is ’n rolprentkenner met vele publikasies oor die Suid-Afrikaanse rolprentwese op sy kerfstok. Hy bied hier ’n oorsig van Rautenbach se ontwikkeling as regisseur, fokus ’n hoofstuk op elk van sy rolprente en bespreek die belangrikste veral sosiopolitieke temas in sy werk. Botha slaag daarin om Rautenbach se rolprente in konteks te plaas en toeganklike te bespreek, en in die proses ook belangrike dimensies van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf in die breë te behandel. Steinmair, wat ’n bekende naam vir veral lesers van Litnet en Die Burger is, lewer ’n kort, intieme lewenskets van Rautenbach. Die verhaal is grootliks in Rautenbach se eie woorde weergegee en fokus op sy loopbaan as regisseur en sy ervarings in die rolprentbedryf (soos om vir Jim Reeves ’n prostituut te moet reël!). Steinmair kry dit reg om haar lesers volledig onder die indruk te bring van hierdie regisseur se kreatiwiteit en menslikheid. Nie Steinmair of Rautenbach self skram weg van die teenstrydighede in sy loopbaan nie: hy het, naas die kritiese rolprente van die 1960’s, in die vroeë 1980’s byvoorbeeld propagandaprente vervaardig vir die Suid-Afrikaanse Weermag. Rautenbach staan verder groot dele van sy vertelling af aan diegene wat, anders as regisseurs en akteurs, gewoonlik nie genoem word in rolprentbesprekings nie: die tegniese en kamerapersoneel wat wesenlike bydraes gemaak het tot sy kuns word uitvoerig geloof. ’n Belangrike figuur in Rautenbach se lewe, en in beide Botha en Steinmair se dele van die boek, is Emil Norval. Rautenbach het onder Norval se leiding, veral gedurende die maak van Norval se Wild Season (1967), as regisseur ontwikkel. Later sou Norval vir enkele rolprente Rautenbach se vervaardiger wees, voor hulle paaie geskei het. Norval was ’n tragiese, fassinerende figuur, as Engelssprekende Libanees ’n ewige buitestaander van die Afrikaner-elites van die tyd, en belangrik vir ’n begrip van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf. Hierdie is ’n pragtige boek, uitgegee in die koffietafelstyl. Dit is ruimskoots geïllustreer met fotos. Benewens die interessante inhoud is dit veral ook ’n boek om deur te blaai. Hopelik sal dit lei tot meer as hierdie tydige huldeblyk, en sal ’n biograaf ’n meer volledige boek oor Rautenbach aanpak, of sal een van die kunstefeeste weer sy rolprente vertoon. |