blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Dylan, Springsteen herverbeel Amerika 2006-12-11
Desmond Painter

*Dosent in sosiale sielkunde, Universiteit Stellenbosch

 

Bob Dylan het in Mei vanjaar die tradisionele aftree-ouderdom van 65 bereik. Maar in plaas van op sy louere te rus het hierdie onvermoeide strydros van rockmusiek doodluiters ’n nuwe album uitgereik en op sy soveelste konserttoer vertrek.

En dan is dit ook nie sommer so ’n album nie: Modern Times is alom geloof as ’n klassieke Dylan, ’n waardige sluitstuk vir die trilogie wat hy in 1997 met Time out of mind begin, en in 2001 opgevolg het met Love & Theft. Gesamentlik verteenwoordig hierdie drie werke Dylan se mees volgehoue kreatiewe periode sedert die middel 1970’s.

Modern Times se sjarme lê in ’n groot mate daarin dat Dylan nie probeer om homself voor te doen as ’n jonger man, of om sy ouderdom te neutraliseer in generiese lirieke en onderwerpe nie (groepe soos die Rolling Stones is nogal geneig om dit te doen). Dylan, eens dié simbool van jeugdige verset, is nie self ’n slaggoffer van die kultus van jeugdigheid nie. Inteendeel, dit laat hom koud. Een van die kenmerke van sy mees onlangse drie albums is, benewens dat hulle musikaal doelbewus ‘oudmodies’ klink, juis die volgehoue besinning op ouer word – die spyt en mislukkings, die oorblywende vreugdes en begeertes, en die aanvaarding wat die verloop van die tyd bring. Gaan luister maar na “Mississipi” op Love & Theft: ’n jonger Dylan sou hierdie elegiese terugblik op ’n leeftyd van suksesvolle en mislukte verhoudings, verspeelde kanse en die laaste glim van hoop nie kon skryf of sing nie. Terloops, Sheryl Crow het “Mississipi” enkele jare voor Dylan opgeneem, maar sy vang die emosionele tekstuur van die lirieke nie vas soos wat Dylan met sy meer huiwerende, deurleefde vertolking doen nie. Dit is maar net nog ’n bewys dat, in rock minstens, goeie sang nie gereduseer kan word tot ’n “mooi” stem nie. Ek sal die volledige oeuvres van Celine Dion en Josh Groban inruil vir die paar sekondes wat dit Dylan neem om die volgende reëls uit “Mississipi” te sing:

 

Walking through the leaves falling from the trees

Feeling like a stranger that nobody sees

So many things that we never will undo

I’m sorry baby, I know you’re sorry too

 

Modern Times se verkenning van die ouer man se begeertes, vriendskappe en liefdes gaan gepaard met ’n speelse erotiek wat vars is in Dylan se werk. Die musiek is deurgaans toeganklik, die uitvoering gemaklik, en Dylan se sang is uit die boonste rakke: hy kry dit reg om om die beurt moerig, weerloos, skalks en moeg te klink. Luister maar, elke kraak en kantel van daardie legendariese stem voeg lae van betekenis toe aan die lirieke, waarin hy dan ook moeiteloos beweeg tussen filosofies en speels, poëties en alledaags:

 

You think I’m over the hill

You think I’m past my prime

Let me see what you’ve got

We can have a whoppin’ good time

(“Spirit on the water”)

 

Ain’t talkin’, just walkin’

The world mysterious and vague

Heart burnin’, still yearnin’

Walking through the cities of the plague

(“Ain’t talkin”)

 

Modern Times is egter ook ’n verdere hoofstuk in Dylan se langdurige bestudering en toeëiening van uiteenlopende Amerikaanse musiektradisies. Hy het sy roem immers al in die 1960’s verdien, grootliks vir die verbluffende wyse waarop hy blues, folk en rock genres ontgin en gebruik het vir sy besondere mengsel van surrealistiese en simbolistiese poësie. Sommige kritici sien die onlangse trilogie gevolglik as ’n terugkeer na meer bekende terrein vir Dylan, naamlik ’n kreatiewe bemoeienis met en heraktivering van gevestigde musiekgenres. Hierdie soort interpretasie is deels korrek, maar onderskat die bydraes van sy Under the red sky (1990), Good as I been to you (1991) en World gone wrong (1993), die drie albums wat die huidige trilogie voorafgaan. Eersgenoemde word dikwels (en dit is vir my steeds onverklaarbaar waarom) beskou as een van Dylan se swakstes. Hy werk doelbewus, en op fassinerende wyse, met sprokies, kinderliedjies en aftelrympies iets wat later, veral op Love & Theft, voortgesit en uitgebrei word na raaisels, grappies en clichés. Op die volgende twee albums sing hy tradisionele blues en folkmusiek. Saam het hierdie drie albums hom klaarblyklik verlos van die oppervlakkige populêre verwagtings van die 1980’s en die weg berei vir die selfversekerde spel met musikale temas en woorde in die onlangse trilogie.

Nie een van Dylan se laaste werke is eksplisiet polities nie. Iets soos “Working man’s blues #2” op Modern Times is ’n uitsondering. Hy sing: “the buying power of the proletariat’s gone down/ money is getting shallow and weak” en “they say low wages are reality/ if we want to compete abroad”. Of hy hier reflekteer oor arbeidspolitiek vandag of verwys na ’n tyd lank gelede, is egter nie seker nie. Dit maak ook nie saak nie. Modern Times en die ander twee albums in hierdie grootse trilogie nooi ons uit na ’n ander wêreld, waarin die vraagstukke van ons moderne tye nie net gerelativeer is nie, maar eintlik reeds beantwoord is – of waar dit reeds duidelik is dat die antwoorde nie bestaan nie. Dylan se mitiese Amerika is egter nie noodwendig ‘die verlede’ nie – hy is immers te sinies om die verlede te verromantiseer. Dylan het ’n poëtiese ruimte geskep, ’n herverbeelde A

merika, deurspek met die woorde en beelde van die blues-manne, blinde sieners en profete wat hom voorafgegaan het. Dit is ’n merkwaardige prestasie.

      Modern Times is gewis een van die groot albums van die jaar, maar die grootste, wat my betref, is Bruce Springsteen se The Seeger Sessions: We Shall Overcome. Hierdie versameling liedjies, almal deur Pete Seeger bekend gemaak en nie een deur Springsteen self gekomponeer nie, is meer eksplisiet polities as Dylan se album. Dit is van meet af aan duidelik dat dit hier nie bloot om die maak van musiek gaan nie, maar dat dit ’n doelbewuste poging is om bestaande, dikwels vergete idiome van solidariteit, verset, hoop en vreugde op te grawe en in die aansig van politieke lamlegging te heraktiveer. Soos by Dylan is hierdie opgrawing van musiek uit die verlede, waarvan sommige 200 jaar oud is, nie ’n poging om die verlede te verromantiseer nie. Hierdie liedjies maak dit juis duidelik dat Amerika nog altyd ’n land van ongelykheid, uitbuiting, oorlog, onderdrukking en natuurrampe was – en dat ’n ryk, steeds relevante idioom van verset en oorlewing hieruit voortgevloei het.



 

Springsteen het hierdie uitsonderlike versameling liedjies doelbewus uitgesoek om kommentaar te lewer op hedendaagse gebeure soos die New Orleans-vloede, die oorlog in Irak en die uitbuiting van werkers. In sommige gevalle het hy die lirieke aangepas om meer relevant te wees. Dit is immers hoe hierdie musiek oor die dekades, en in sommige gevalle eeue heen, bly oorleef het: kunstenaars het hulle geneem en relevant gemaak vir ’n nuwe tyd, ’n nuwe stryd. Die eindresultaat is ’n triomf: ’n album vol hartseer en woede, maar ook onbeskaamd oor die moontlikheid van solidariteit en hoop in ons soms skynbaar hopelose tye.

Dit is natuurlik nie die eerste keer dat Springsteen ’n beduidende bydrae maak tot die politieke bewussyn van rockmusiek nie. Vir die afgelope ongeveer vyf-en-dertig jaar al artikuleer hy aan die verskillende dimensies van die eietydse Amerikaanse ervaringswêreld – meer nog as Bob Dylan, meen ek, is Springsteen die erfgenaam van Woodie Guthrie, ’n populistiese digter-sanger wat in sy uitbeelding van Amerika, net soos Guthrie, die politieke verbeelding van Amerikaansheid wil uitdaag en verruim. In ’n era van generiese popmusiek, wat enige plek ter wêreld geskryf kon gewees het, is ’n Springsteen-album altyd ’n gelokaliseerde dokument. Anders gestel, ’n Springsteen-album is altyd ’n plaaslike album.

Dink maar aan die romantiese, liriese dokumentering van die New Jersey-strandgebiede en voorstede, waar hy grootgeword en sy musikale tande geslyp het, op sy eerste drie albums – waarvan die eerste sy plaaslikheid al in die titel aankondig: Greetings from Asbury Park, New Jersey (1973). Of aan sy klassieke Nebraska (1982), waarop hy die romantiek van sy vroeë werk verruil het vir ’n harde maar nogtans beklemtoonde realisme, ten einde die menslike gevolge van die siniese neoliberalisme van Reagan se Amerika aan die kaak te stel. Vir baie lank was hy een van die weinige hoofstroom- rockmusikante wat iets te sê gehad het oor wat Richard Sennet die “hidden injuries of class” noem:

 

End of the day factory whistle cries

Men walk through these gates with death in their eyes

And you just better believe it, somebody’s gonna get hurt tonight

It’s the working, the working, just the working life

(“Factory”, 1978)

 

’n Mens kan verder ook die uitbeelding van die grensgebied tussen die VSA en Mexiko op The ghost of Tom Joad (1995) noem. Joad bly een van sy mees onderwaardeerde albums, ’n werk wat nie net op vertelvlak uitmunt nie, maar Guthrie se Tom Joad-karakter (wat oorspronklik natuurlik uit Steinbeck se Grapes of Wrath kom en deur Guthrie aangewend is as ’n soort stem vir Amerika se gemarginaliseerde klasse) herontplooi binne die politieke milieu van George Bush Snr se sogenaamde New World Order. Joad bevind hom nou nie meer tussen wit, Amerikaanse boere uit die Dust Bowl wat swig onder die depressie nie, maar tussen die mees gemarginaliseerde groepe in die hedendaagse Amerika: stedelike haweloses en hulle wat nie eers op Amerikaansheid aanspraak mag maak nie, migrante wat ‘onwettig’ uit Mexiko kom op soek na werk en hul eie Amerikaanse Droom. Dit is juis hierdie bereidwilligheid om Amerikaansheid in postnasionalistiese terme te konfronteer en te herdink wat The Ghost of Tom Joad so ’n besondere belangrike album in Springsteen se oeuvre maak, en in die musiek van die 1990’s as geheel.

Springsteen se Amerika is ’n ambivalente ruimte, ’n plek van beide hoop en wanhoop: “meet me in a land of hope and dreams”, kan hy sing, maar dan ook:

 

I ply my trade in the land of king dollar

Where you get paid and your silence passes as honor

And all the hatred and all the dirty little lies

Have been written off the books and into decent mens’ eyes

(“Souls of the departed”, 1992)

 

Sy Amerika is ’n uitdaging, ’n onvoltooide projek (nie in die imperiale sin nie) eerder as ’n chauvinistiese embleem. Met sy jongste album, The Seeger Sessions, span hy die kroon op hierdie projek, ironies genoeg met ’n album wat uit ‘covers’ bestaan. Dit is egter nie vergelykbaar met die soort ‘cover’-albums wat mense soos Rod Stewart uitryg nie. Springsteen is nie besig om hier kommersieel en artistiek futloos om te gaan met ander mense se liedjies nie. Hy kon om die waarheid te sê nie iets gemaak het wat meer getrou is aan sy eie projek en aan die politieke uitdagings van sy tyd as juis hierdie oorrompelende, by tye elegiese, by tye buitensporig uitbundige versameling musiek nie. Anders as Nebraska en The Ghost of Tom Joad, wat ingetoë is, is The Seeger Sessions deurdrenk met die energie, humor en vreugde van Born to Run en The River – net, elektriese kitaar en saksofoon het hier plek gemaak vir die banjo en ’n volledige horingseksie.

Bob Dylan se Modern Times en Bruce Springsteen se The Seeger Sessions kan nie hoog genoeg aangeskryf word nie.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=794
Artikel nagegaan:
    -