|
||||
Flip Buys
*Uitvoerende hoof, Solidariteit
Daar is die afgelope dekade al baie gepraat en geskryf oor die kwessie van Afrikaanse onderwys en hoër onderwys. Min of niks is egter gesê of gedoen oor die kwessie van Afrikaanse beroepsopleiding nie. Dit is eintlik vreemd, omdat tussen 69% en 75% van alle jong skoolverlaters nie universiteit toe gaan nie, en omdat verdere beroepsopleiding vir alle mense wat reeds werk ook van groot belang is. Dit is veral jammer dat die kwessie nie aandag kry nie, omdat Afrikaanse beroepsopleiding feitlik verdwyn het. Die rede hiervoor is dat staatsinstellings én private instansies wat beroepsopleiding aanbied feitlik deur die bank verengels het. Dit het nie net Afrikaans as ’n beroepstaal ernstig benadeel nie, maar ook daartoe gelei dat baie Afrikaanssprekende skoolverlaters glad nie meer enige verdere opleiding na skool gaan doen het nie. Dit het vanselfsprekende gevolge vir hulle indiensneembaarheid, en veral vir hul beroeps- en vorderingsmoontlikhede. Dit is daarom uiters belangrik vir Afrikaans én vir die beroepsbelange van Afrikaanssprekendes dat daar steeds Afrikaanse instellings moet wees wat op verdere onderwys en opleiding (VOO) fokus.
Die SA vaardigheidstekort
Suid-Afrika het miljoene werkloses, behoefte aan miljoene opgeleide mense, miljarde beskikbaar vir opleiding, puik opleidingsgeriewe, maar ’n skandalige gebrek aan gehalte-opleiding! Daar word reeds algemeen aanvaar dat die vaardigheidstekort die belangrikste struikelblok vir die land se ekonomiese groei en ontwikkeling is. Daar is verskeie redes hiervoor, waarvan die verengelsing van beroepsopleiding een is wat die toegang vir Afrikaanse jongmense belemmer het. Ander redes was die verskuiwing in fokus vanaf beroeps- na universiteitsopleiding sedert 1994. Suksesvolle lande se opleidingstelsel is normaalweg in die vorm van ’n driehoek, waarvan die breë basis beroepsopleiding is en die punt universiteitsopleiding. Die Suid-Afrikaanse driehoek is egter omgedraai, met hopeloos te min klem op beroepsopleiding in verhouding met universiteitsopleiding. Die krisis het nou so groot geword dat die regering se versnelde inisiatief vir opleiding in prioriteitsvaardighede, Jipsa, gelukkig weer groot klem op VOO-instellings se rol lê. Byna R2 miljard gaan in die volgende jare in dié instellings gepomp word, omdat die vaardigheidstekort in die verdere onderwys en opleidingsbande in baie gevalle krisisafmetings aangeneem het. Sakereuse wat groot herstelwerk moet doen, het byvoorbeeld nie ’n ander keuse as om algemene ambagslui soos sweisers van Thailand af in te voer om te kom help nie. Die groot rede vir die vaardigheidstekort moet voor die deur van die regering gelê word, met die sakesektor as belangrike medepligtige. Die nuwe opleidingsbedeling het ’n vaardigheidsheffing van 1% van die salarisrekening op alle maatskappye gelê om opleiding deur die sektorale opleidingsrade (Seta’s) te befonds. Dit het die verantwoordelikheid vir opleiding grootliks van die privaatsektor na die staat verskuif, wat nie oor die vermoë beskik het om dit te doen nie. Die doeltreffendheid van die Seta’s het veral in die beginjare veel te wense oorgelaat, om dit sag te stel, terwyl baie van hulle steeds sukkel. Feitlik alle groot maatskappye het hulle opleidingsgeriewe drasties afgeskaal of gesluit, omdat hul opleidingsbegrotings grootliks aan die staat oorbetaal is. Baie maatskappye se fokus op korttermynwinste het daartoe gelei dat opleiding as onnodige onkoste gesien word waarop daar besnoei kan word. Ander redes vir die vaardigheidstekort is dat die nuwe opleidingsbedeling se geweldige fokus op regstelling en transformasie derduisende wit en bruin jongmense hulle opleidingsgeleenthede ontsê het. Daar moet onthou word dat beroepsopleiding in baie rigtings geweldig duur is. Dit kos normaalweg byna dubbeld soveel om ’n ambagsman op te lei as wat dit kos om ’n ingenieur op te lei. Daar is sekere ambagte waarvan die opleiding tot R100 000 per jaar kos vanweë die duur toerusting en ander opleidingsuitgawes. Voorts is daar normaalweg bitter min beurse vir beroepsopleiding beskikbaar, en hierdie sektor ken nie die beursbedeling wat op universiteite betrekking het nie. Vanweë maatskappye se strategie om hul arbeidsmagte se rasseteikens grootliks deur middel van opleiding te bereik, is ’n wit skoolverlater se kans op ’n beurs vir beroepsopleiding feitlik nul. Die status van beroepsopleiding het baie jongmense in die verlede ontmoedig, veral na die afskaffing van die bietjie beroepsvoorligting wat daar nog by skole was. Die gebrek aan ’n positiewe toekomsbeeld onder veral baie wit jonges het hulle ook ontmoedig om opleiding te ondergaan. Die houding was “ek gaan tog nie werk kry nie, waarom moet ek gaan studeer en nog boonop self daarvoor betaal?” Die neiging by jongmense om ’n jaar of drie oorsee te gaan werk, het opleiding ook benadeel. Hierdie jonges wil in baie gevalle nie meer studeer as hul terugkom nie, omdat hulle nou al onafhanklik is en aan ’n salaris gewoond geraak het.
Noodsaak van opleiding
Opleiding bly egter die beste belegging wat ’n jongmens in sy of haar toekoms kan maak. Professor Hermann Giliomee het al gesê dat moedertaalonderwys en opleiding ’n baie groter rol in die oplossing van die armblankevraagstuk gespeel het as werkreservering of ander apartheidsmaatreëls. Moedertaalopleiding en top-vaardighede was die onsigbare enjin van die huidige geslag se ekonomiese sukses. Mense aanvaar dit as só vanselfsprekend dat hulle hulle nie kan voorstel dat die huidige geslag jongmense wat nie universiteit toe gaan nie begin sukkel nie. Die probleem is dat die huidige golf van voorspoed die opkomende probleem verberg van ’n toenemende gebrek aan naskoolse opleiding onder die 75% Afrikaanse jongmense wat nie universiteit toe gaan nie. As moedertaalopleiding al voorheen die oplossing was, is dit seker logies dat dit steeds belangrik is om te keer dat daar weer ’n armoedeprobleem ontstaan. Wat is die toekoms van jongmense sonder naskoolse opleiding in ’n werksomgewing waar daar op rassegronde teen hulle gediskrimineer word? Die huidige strukturele krisis in vaardighede bied egter ’n unieke geleentheid aan jongmense om vir hulleself ’n toekoms te skep deur te sorg dat hulle behoorlike opleiding kry. Opleiding kan dié mededingende voordeel vir jongmense met dryfkrag en inisiatief word, en kan help om geleenthede vir hulle baie meer toeganklik te maak in ’n ekonomie waarin daar selfs ’n tekort aan basiese vaardighede is. Daar is egter drie vereistes vir sukses: dit moet opleiding van hoë gehalte wees, dit moet in die regte rigtings wees, dit moet ook op ondernemerskap fokus. Maar hierdie jongmense het hulp nodig om dieselfde geleenthede te bekom as wat die huidige geslag Afrikaners gehad het. Daarom moet die Afrikaanse wêreld weer oorspronklik dink en doen om beroepsopleiding in Afrikaans vir ons jongmense toeganklik te maak.
Voorbereiding
Solidariteit het in 2004 navorsers en ’n projekspan, onder leiding van Piet du Plooy, Solidariteit se adjunkhoof (bedryf), aangestel om voorstelle te maak oor stappe wat die vakbond kan doen om opleiding te bevorder. Dit het duidelik geword dat vakbonde in baie lande opleiding as deel van hul kernbedrywigheid beskou, maar dat befondsing en uitvoerende vermoë die grootste struikelblokke sou wees. ’n Afvaardiging van die vakbond het in Europa en die VSA gaan kyk hoe vakbonde opleiding doen, en was veral beïndruk met die Skrynwerkersvakbond in die VSA. Hierdie vakbond lei jaarliks meer as 30 000 ambagslui by 250 landwye opleidingsentrums op. Sowat 15 000 van sy lede ontvang ook jaarliks verdere opleiding. Die vakbond beskou opleiding as een van sy kerndienste, wat ’n onvergelykbare mededingende voordeel aan sy lede en hulle gemeenskap bied. Solidariteit het ’n Waardeketting ontwikkel wat die vakbond se strategie om waarde aan die belangrikste lewensfases van sy lede toe te voeg uitspel (kyk illustrasie). Die eerste skakel is hulp met noodvoeding by Afrikaanse laerskole om te help verseker dat kinders die onderwys kan benut. Steun word tans by 42 skole verleen. Die tweede skakel is hulp in die vorm van studiebeurse. Solidariteit is ’n vennoot van die Rapport Onderwysfonds en het ook sy eie Helpende Hand Fonds, wat studiebeurse toeken, op die been gebring. Die derde skakel is beroepsopleiding. Solidariteit het vroeër vanjaar daarmee begin deur die stigting van ’n kollege, Sol-Tech, terwyl die vakbond sy sitting by Seta’s en onderhandelingsregte by sowat 3 000 maatskappye gebruik om opleiding te bevorder. Die vierde skakel is werkverskaffing. Solidariteit het pas 4 personeelagentskap-konsessies bekom met die doel om opgeleide mense in werk te kan plaas. Navorsing wat deur Solidariteit se AfriForum “Kom-Huis-Toe-veldtog” onderneem is, het getoon dat byna die helfte van Suid-Afrikaners in die buiteland dit sterk sal oorweeg om terug te kom as hulle hier werk kan kry. Die vyfde en sesde skakels is die kernbesigheid van die vakbond self, terwyl die sewende skakel na die doelwit van finansieel selfstandige aftrede verwys. Om hierdie waardeketting in werklikheid te kon omskep, was daar geld nodig. Daarom het Solidariteit ’n paar jaar gelede eers ’n sakebeen gevestig om die nodige kapitaal te ontwikkel om die vakbond se strategie uit te voer. Solidariteit het onder meer ’n konsessie van Auto & General bekom en ’n groep- korttermynskema op die been gebring sodat lede groepsafslag kon kry en daar terselfdertyd ’n inkomste vir ons sakebeen geskep is. Verskeie ander besighede is gevestig, waarvan die jongste ’n vakansieklub is wat in samewerking met Steve Hofmeyr ontwikkel word. Solidariteit het ook twee jaar gelede die Helpende Hand as maatskaplike fonds gestig, as deel van die waardeketting en strategie om jongmense deur middel van opleidingsbeurse te bemagtig. Dit word deur vrywillige ledebydraes befonds. Die inkomstes hieruit is vir ’n lang tydperk herbelê om die besighede vinniger te laat groei, maar teen 2006 was Solidariteit in staat om ’n gebou langs die vakbond se hoofkantoor in Centurion te koop om Sol-Tech te huisves. Die eerste 42 elektrotegniese leerders het so pas hulle teoretiese studies voltooi, en die vakbond het met verskeie maatskappye onderhandel waar hulle nou praktiese ervaring kan opdoen.
Sol-Tech netwerkmodel
Sol-Tech se opleidingsmodel is met die hulp van top kundiges uitgewerk. ’n Ervare kernbestuurspan is einde 2004 aangestel en het onder leiding van Theuns Steenkamp aan die opleidingsplan begin werk. Daar is besluit om op ’n netwerkbeginsel te werk en om Sol-Tech nie self as ’n kollege te registreer nie. Die meeste opleiding word wel by Sol-Tech se opleidingsgeriewe en in Afrikaans gedoen. Dit beteken dat Sol-Tech met die beste diensverskaffer op elke gebied ’n vennootskap aangaan, eerder as om alles self te doen. Benewens kosteoorwegings is die voordeel daarvan dat studente dan amptelike kwalifikasies by bekende en ervare opleidingsinstellings verwerf. Solidariteit is goed geplaas om opleiding te bevorder, omdat die vakbond sitting in die direksies van 7 Seta’s het, omdat die vakbond onderhandelingsregte by baie maatskappye het, en ook grondvlakkontak met jong werkloses en werknemers het om vaardighede te verbeter. Sol-Tech se doel is om in 2007 724 studente op te lei, waarvan 80% in tegniese en 20% in ander rigtings soos sake-administrasie en ondernemerskap. Sol-Tech se huidige program van kort vaardigheidskursusse word ook uitgebrei. Daar word tans ’n uitvoerbaarheidstudie gedoen na die aankoop van ’n afstand-onderrigkollege om die volle spektrum van beroepsopleiding landwyd in Afrikaans beskikbaar te kan stel. Koste is tans die grootste beperkende faktor, en daar word beplan om die Helpende Hand en die vakbond se sakebeen verder uit te brei om die opleiding te befonds. Solidariteit kan dit egter nie alleen doen nie die hele Afrikaanse wêreld sal moet bydra om opleiding te help befonds. Afrikaanse onderwys- en universiteitsopleiding bly noodsaaklik, maar die Afrikaanse wêreld mag nie die groot persentasie van sy jongmense wat nie universiteit toe gaan en diegene wat reeds in beroepe staan in die steek laat nie. Afrikaanse beroepsopleiding is van deurslaggewende belang vir hulle toekoms. Ons moet vir hulle geleenthede skep om voluit Afrikaans te kan wees, anders gaan hulle verarm of groener weivelde in die buiteland soek. |