blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Wanneer Afrikanermans tot kindermoord gedryf word … 2006-12-11
Marlene Malan

*Senior verslaggewer, Rapport

 

Dis moord van ’n absurde aard. Bisar, noem sielkundiges en psigiaters dit selfs. Dit is om die naaste aan jou, wat jou beskerming en sorg die nodigste het, daardie mense in jou kringetjie wat die weerloosste is, seer of dood te maak. Net omdat jy kán en omdat jou woede, magteloosheid en spanning nié meer binnegehou kon word nie.       

Drie gevalle waarin vaders die afgelope jaar hul kinders afgemaai het, het Suid-Afrikaners aan die hart geruk.              

In Mei vanjaar het sersant Flippie Venter van Hoedspruit sy kinders, Milleze (5) en Janco (4), met ’n R4-aanvalsgeweer doodgeskiet tydens ’n argument met sy vrou, Millie. Vir dié afgryslike daad is hy elf jaar tronk toe gestuur.

In Junie het superintendent Marius van der Westhuizen van Brackenfell, die bevelvoerder van ’n polisiekantoor, sy drie kinders, Bianca (16), Marius (5) en Antoinette (21 maande), in hul beddens voor sy vrou, Charlotte, doodgeskiet. Gerugte van onmin in die huis doen die rondte. Tog praat kollegas van Van der Westhuizen met lof van hom, vertel van sy innemende persoonlikheid en goeie leierskap in die werksopset.

In Oktober het mnr. Ashley Gouws (36), ’n skrynwerker van Kokstad, sy twee kinders, Stephen (2) en Faith (5), eers met ’n tuinvurk aangerand, hulle daarna aan die enkels gegryp en hul koppe teen ’n muur verbrysel.

Om dié dade breedweg te takseer, kan bloot gesê word dat Suid-Afrikaners se geestesgesondheid nié op ’n goeie peil is nie.

Want, meen dr. Frans Korb, ’n psigiater van Johannesburg en dr. ST Potgieter, ’n sielkundige van Bellville, Suid-Afrika het ’n samelewing sonder reëls geword waarin elkeen vir homself sorg. ’n Samelewing waarin sekuriteit weggeval het sonder dat genoegsame ondersteuningstelsels gebied word.

Albei kenners sê ons leef in ’n samelewing van geweld en misdaad wat deel van die alledaagse lewe geword het. Ons word daagliks blootgestel aan moord, roof, transito-rooftogte, ’n gevoel van bedreiging en onveiligheid. Misdaad het ’n algemene gesprekstema geword. Mense leef in spanning, met die wete dat hulle op hul eie is, sonder beskerming van die staat. Hulle raak só desperaat wanneer hulle probleme in hul lewens ervaar, dat hulle op dié uiters absurde, bisarre manier dalk om hulp roep. “Dis nou ’n geval van elkeen vir homself; die ondersteuningstelsels het grootliks weggeval, en mense voel gouer wanhopig.”



Dr. Gys du Plessis, ’n sielkundige van Johannesburg, sê hy beleef in sy praktyk dat selfs doodgewone mense se onrus en laegraadse angsvlakke aan die toeneem is. ”Die mees basiese persoonlikheidsbehoefte van enige mens is sekuriteit en veiligheid. Dit word in ons land tans só bedreig dat daar amper krampagtig gesoek en gegryp word na maatreëls wat in elk geval, eweneens, ’n baie beperkte veiligheid en rustigheid skep. Dit word dan ’n heksesirkel waarin die onderliggende angs verhoog omdat mense intuïtief besef dat fisieke én emosionele of morele maatreëls geen waarborg is nie.”

Tog is dit nie net fisieke geweld wat mense so laat optree nie – toenemend groei daar by sekere groepe in ons samelewing ’n algehele gevoel van verwerping uit dié samelewing waarvan hulle vroeër ’n aktiewe deel was en wat hulle help opbou het.

Dis veral ook dan dat mense hulle opgebondelde woede en magteloosheid begin uithaal op dié wat die naaste is aan hulle, sê Du Plessis. Konflik word meer fisiek gewelddadig in die huwelik en tussen pare wat ’n intieme verhouding het.

“Dis asof daar kollektief ’n desperate gevoel van onmag groei wat na vore kom in ontoepaslik gewelddadige gedrag op alle vlakke. Die nasionale verandering in mense se konteks rondom hul eie veiligheid en sekuriteit laat hulle soos vasgekeerde diere voel en dan, nodeloos om te sê, soos vasgekeerde diere optree. Dis veral duidelik as daar ná die tyd besin word oor die individu wat wreed en onvanpas teenoor sy familie en vriendekring opgetree het. Dan hoor ’n mens feitlik sonder uitsondering watter aangename en goeie mens dit altyd was, en dat almal totaal verbyster is deur die daad.



“As jy mense in ’n rotgat vaskeer, tree hulle soos rotte op. As mense se konteks skuif, skuif alles binne-in hulle. Selfs waardes en beginsels tel nie meer so swaar as wat dit graag deur ons almal getakseer word nie.”

Korb sê kindermoord moet van gesinsmoord onderskei word.

“Wanneer kinders vernietig word, wil die moordenaar heel waarskynlik sy eggenoot op die ergste manier denkbaar seermaak, wil hy sy frustrasie op die sigbaarste manier moontlik laat blyk. Dis ’n oomblik waarop uithouvermoë en geduld breekpunt bereik het. Wanneer spanning alle redelikheid vernietig.

“Dis nie net mense met ’n geestessiekte soos skisofrenie wat sulke dade pleeg, of antisosiale persoonlikhede, sosiopate psigopate sonder gewete, sonder skuldgevoelens nie. Skynbaar normale mense by breekpunt doen dit ook.”

In die Suid-Afrikaans konteks is daar ’n ander fokuspunt op die verskynsel van geweld, gesins- en kindermoord, sê Potgieter: Fokus ’n mens op die drie voorbeelde hierbo en op gevoelens van magteloosheid en moedeloosheid, is daar ’n bisarre ooreenkoms tussen dié drie kindermoordenaars: Al drie is wit Afrikaanse mans. Twee van hulle kom uit ’n werksomgewing van streng dissipline én regstellende aksie – die Weermag en polisie.

“Dat daar bepaalde faktore is wat veroorsaak dat wit Afrikaanse mans tot dié soort daad van moord op hulle kinders oorgaan, is bepaald ’n verskynsel wat ons aandag verdien. Ek dink dat mans in die algemeen – maar die wit man in die besonder – in Suid-Afrika ontmagtig en bedreig voel. Dit is veral die wit man wat tot redelik kort gelede in beheer van baie dinge was, en die beheer is hom ontneem.



 

“Sy politieke mag is hom ontneem. Selfs in sy gunstelingsport, rugby, word die bestuur en besluite aan mans – wat nie wit is nie – oorgedra. Baie wit mans voel dat daar sterk teen hulle gediskrimineer word op vele samelewingsterreine, waarin die beroepswêreld sterk figureer. Die skuld van die verlede word op hulle afgeforseer, en wit mans voel dikwels hulle word voorgehou as die sondaar, gestroop van hul magte en regte.

“Dit alles plaas hulle onder geweldige stres, en hiermee saam ook ander spanningsfaktore in werksverband. Dinge soos sero bevordering, of dat hulle gedwing word om skeidingspakkette te aanvaar. Hulle loop hulle oral vas teen kwotastelsels. Daar word teen hulle gediskrimineer by aanstellings, en hulle weet meriete beteken niks.

“Dit alles dra daartoe by dat sulke mans deur geweldige emosionele trauma gaan. Hulle moet verwerk wat besig is om met hulle in dié land te gebeur. En dis nie so maklik nie. Wanneer hulle dan hierdie spanning opbou en hul post-traumatiese stres so intens raak, móét dit eenvoudig op ’n bepaalde punt oorkook. Dis dan wanneer sulke mense die verkeerde verligting van dié post-traumatiese stres soek – en dít aanleiding kan gee tot iets soos gesinsmoord of moord op jou kinders.”



Potgieter sê mans – veral Afrikaanse mans - is boonop ook nie so gewillig soos vroue om hulp vir hul probleme te soek nie – en dit is deels aan hulle opvoeding te wyte. “Hulle praat nie so graag en gemaklik oor hul emosies soos vroue nie. Hulle probeer dit op eie houtjie verwerk, slaag nie daarin nie en bou in die proses emosionele spanning op.”

Werksomstandighede en vrees vir die toekoms – finansiële onsekerheid – is beslis ’n bydraende faktor tot hierdie soort geweldsoptrede. “Dat dit alleen genoeg rede is, glo ek nie. Ek dink wel waar hoop verdwyn en mense in ’n paniekfase ten opsigte van hulle finansies beland, mag dit die sneller wees vir patologiese gedrag. Ja, geldprobleme ís ’n faktor, maar ons moet dit sien in die konteks van die totale prentjie van wanhoop en magteloosheid wat meehelp om post-traumatiese stres by ’n ouer op te bou.

“Ons leef in ’n wêreld van outomatiese, vinnige dienste en kitsoplossings. Vir sommige is moord op ’n kind ’n kitsoplossing.”

Dis ’n geval van veg, vlug of vries vir sulke mans, sê Potgieter.

“Vir vroue wat dié soort spanning beleef, is daar ook dié drie moontlikhede. Maar hulle het ’n vierde opsie – dié van tropvorming. Met ander woorde, ’n vrou sal haar stres en spanning met ’n ander groepie vroue deel waar hulle bymekaar kom, met mekaar gesels. Ons mans deel gewoonlik nie hulle emosies met ander mans nie, en daarom bou spanning in hulle op wanneer die noodsaaklike emosionele ontlading ontbreek. Dan ontlaai hulle deur die meganisme van veg – soos byvoorbeeld deur ’n kind te vermoor.

Volgens Potgieter kan ’n oormaat van onmag, moedeloosheid en woede waaraan mense – en in Suid-Afrika veral die wit, Afrikaanse man – blootgestel word, hulle só beïnvloed dat hulle buite hul normale persoonlikheid optree. “Dis ’n algemene verskynsel – baie mense sal kan sê ‘ek was nie myself toe dit gebeur het nie’. Toe hulle in ’n krisis gedompel is of onder erge spanning was. Mense reageer dikwels onder erge spanning anders as wanneer dinge rustig en gemaklik verloop.”



Dis in die stadium voordat hulle oorkook dat hulle ’n fase van “vlug na binne” bereik, sê Du Plessis.

En dís ’n bedreiging sonder gesig “Dis ’n bedreiging wat nie deur Jan en Alleman aangevat en uitgewerk kan word nie, wanneer mense voel hulle enigste opsie van uitlewing is om na binne te vlug, amper tot ’n vlak van onderdanigheid. Ongelukkig bly dié na-binne-migrerendes magteloos en kwaad, en sal iemand of iets dit beslis ontgeld. Dan is ons maar net weer terug by ’n optrede van gewelddadigheid teenoor dié wat die naaste is aan so ’n mens wat hom na binne gekeer het.”

In ’n bepaalde groep in Suid-Afrika het dié “vlug na binne” ’n kollektiewe vrees geword: Dis ’n konteks wat by uitstek die werklikheid van wit Afrikaanse mans geword het.

 

Wat kan ons doen om mense met dié soort spanning te help?

·   ’n Baie goeie alternatief vir dié onmag is om betrokke te raak op die een of ander vlak van voorkoming of hantering van geweld in ons land: “Ons het ’n verantwoordelikheid om ons arms uit te steek en ons hande vuil te maak,” sê Du Plessis. Enersyds wat gewone misdaad en geweld betref. “Dit kan op ’n klein skaal wees – soos om iets verdags dadelik te rapporteer, jou bure te leer ken rondom hul lewenspatrone, telefoonnommers. Met ander woorde, maak mekaar se rug toe rondom die voorkoming van misdaad en geweld – op mikrovlak.” Maar ook op ’n morele en emosionele vlak kan ons “mekaar se rug toemaak” rondom gevoelens van uitlewering en magteloosheid, verlies en geldelike krisisse.

·   Ons moet ’n skeppende, positiewe houding teenoor ons kinders en ander bly handhaaf om ’n verslane, moedelose, onderdanige houding totaal te vermy: “Wat binne ons leef, word mettertyd die tydgees en bepaal dan die algemene houding. Wat ons toelaat om te heers binne en buite onsself, sal groei en toeneem in statuur,” sê Du Plessis.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=792
Artikel nagegaan:
    -