|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique. Hierdie artikel het pas verskyn in Manière de voir 90, Desember – Januarie 2007, Parys. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]
Latyns-Amerika beleef ’n soort goue politieke era. Tydens sy tragiese geskiedenis vanaf die begin van die 19de eeu het hy nog nie so ’n lang en uitgebreide tyd van vrede (slegs een konflik draal nog, in Colombia), voorspoed en bowenal demokratiese konsolidering beleef nie. Sedert mnr. Hugo Chávez se presidentsverkiesing in 1998 het die verkiesings in etlike lande die verkiesing (of herkiesing) van etlike linkse of sentrum-linkse kandidate gebring: mnr. Nestor Kirchner in Argentinië, mnr. Luis Inácio Lula da Silva in Brasilië, mnr. Tabaré Vázques in Uruguay, mnr. Martin Torrijos in Panama, mnr. Evo Morales in Bolivia, me. Micelle Bachelet in Chili en selfs mnr. Alan Garcia in Peru, wie se party, die Amerikaanse Populêre Rewolusionêre Alliansie (APRA), ’n lid van die Sosialistiese Internasionaal is … In ander lande soos Mexiko, waar die verteenwoordiger van die linkses, mnr. Andrés Manuel López Obrador, nie gewen het nie (weens 0,56% van die stemme!) hang beskuldigings van bedrog oor die verkiesing. En selfs in state waar die regse kandidaat gewen het – in Colombia is mnr. Alvaro Uribe in Mei 2006 herkies – was die uitslae wat deur die linkses behaal is, merkwaardig hoog (1). So ’n situasie is ongekend. Nie so lank gelede nie sou, onder uiteenlopende voorwendsels, ’n militêre staatsgreep (die jongste poging was in April 2002 teen president Chávez) of regstreekse toetrede deur die Verenigde State (die laaste was in Desember 1989 teen president Manuel Noriega in Panama) gou-gou ’n einde aan enige poging van sosio-ekonomiese hervorming bring, selfs al het dit die steun van die meeste kiesers geniet. Nadat hulle demokraties verkies is, is, om slegs enkele name te noem, Jacobo Arbenz in Guatemala in 1954, João Goulart in Brasilië in 1964, Juán Bosch in die Dominikaanse Republiek in 1965 en Salvador Allende in Chili in 1973 ontset met militêre staatsgrepe, ondersteun deur Washington om strukturele hervorming in ongelyke samelewings te verhoed. Hervormings wat die belange van die Verenigde State nadelig sou raak en wat – te midde van die Koue Oorlog (1947-1989) – sou kon lei tot ’n verandering in bondgenootskappe wat Washington nie sou goedkeur nie. In hierdie konteks het slegs een linkse eksperiment daarin geslaag om te oorleef: dié van Kuba. Maar teen watter prys! Havana moes onder meer ’n aanslag van huursoldate deur die Verenigde State gesteun (Bay of Pigs, 1961); ’n verwoestende handelsboikot reeds 45 jaar eensydig deur Washington gehandhaaf; ’n diplomatieke en militêre ysterhand (1962 se missielkrisis) wat die wêreld op die drumpel van ’n kernoorlog gebring het; en konstante terreuraanvalle (wat tot 3 000 sterftes en skade geraam op miljarde dollar gelei het) te bowe kom (2). Beproewinge wat die regime nie verhinder het om aansienlike vordering te maak nie (by name met onderwys, openbare gesondheid en internasionale solidariteit), maar hom genoop het om hom meer as nodig te verhard en vir meer as twintig jaar ’n ietwat onnatuurlike bondgenootskap met die verafgeleë Sowjet-unie te handhaaf, waarvan die ineenstorting in 1991 nuwe probleme meegebring het – dit alles om die politieke isolasie en ekonomiese versmoring gestook deur die Verenigde State te oorkom. Buiten hierdie Kubaanse uitsondering is alle ander demokratiese pogings om strukture van eiendomsbesit te verander of om die rykdomme van die vasteland meer regverdig te verdeel, brutaal onderbreek. Waarom word dit wat vir dekades nie toegelaat is nie vandag aanvaar? Waarom kan ’n pienk-en-rooi golf oor soveel state spoel sonder om soos voorheen gestuit te word? Wat het dus verander? Eerstens ’n vername gegewe: die mislukking in die ganse Latyns-Amerika van die soms baie radikale neoliberale eksperimente van die 1990’s. In talle lande het hierdie eksperimente uitgeloop op ’n skandalige plundery, die massiewe verarming van die middel- en lae klasse, die vernietiging van hele sektore van die brose nasionale nywerhede, en laastens deur die opstand van die burgers. In Bolivia, Ekwator, Peru en Argentinië het volskaalse burgerlike opstande gelei tot die omverwerping van demokraties verkose presidente wat gedink het dat ’n verkiesingsoorwinning ’n blanko tjek vir willekeurige optrede is en, oplaas, die verraaiing van die program waarmee hulle verkies is. Teen dié agtergrond was die populêre opstand in Argentinië op 21 Desember 2001 wat tot die vertrek gelei het van president Fernando de la Rúa en bowenal die ineenstorting van die neoliberale beleid vanaf 1989 tot 1999 deur mnr. Carlos Menem toegepas, vir dié vasteland min of meer gelykstaande aan wat die Val van die Berlynse Muur op 9 November 1989 vir Europa was – die besliste weiering van ’n dogmatiese, arrogante en antipopulêre model.# Nog ’n grondige gegewe: as “borge” van hierdie streek wat hulle as hul “agterplaas” beskou het, het die Verenigde State sedert 1991 se Golfoorlog en nog meer sedert 11 September 2001 die kern van hulle geopolitiese fokus verskuif na die Nabye en Midde-Ooste, waar olie en hulle hoofvyande voorkom. Hierdie “afleiding” het in Latyns-Amerika die opbloei van soveel linkse eksperimente begunstig en ongetwyfeld verhoed dat hulle gou in die kiem gesmoor is. ’n Geleentheid wat die leiers van hierdie wêrelddeel behoort aan te gryp om die hervormings waarop die bevolking al so lank wag, te versnel.
___________ (1) Lees die dossier “Amérique latine, le tournant à gauche?” in Mouvements no. 47-48, November 2006, Parys: La Découverte. (2) Twee van die mees berugte anti-Kubaanse terroriste, mnre. Luis Posada Carriles en Orlando Bosch wat ter wille van die CIA opgetree het en onder meer verantwoordelik was vir ’n aanval in vlug op ’n Kubaanse vliegtuig wat op 6 Oktober 1976 tot 73 sterftes lei, geniet steeds in Florida, waar hulle woon, die beskerming van die Amerikaanse owerheid, wat weier om hulle te laat verhoor of aan Kuba te oorhandig. |