blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Skadukante van vandag se kapitalisme: “Geen mobiliteit sonder stabiliteit” 2006-12-11
Carel Boshoff

*Gemeenskapsaktivis, Orania

 

Om ’n kritiek op die nuwe kapitalisme met ’n aweregse fisioterapeut se ontleding van my seuntjie se spiertoestand in te lei, sal met die eerste oogopslag sekerlik ’n bietjie vreemd voorkom. As egter in aanmerking geneem word dat my kritiek aan die hand van ’n sosioloog se empiriese ondersoeke na en sy gevolglike oordele oor die nuwe kapitalisme in werking geformuleer word, sal dit hopelik minder egosentries lyk - en minder esoteries as waarvan ons denkers so dikwels beskuldig word.

Die rede vir my aanknopingspunt is dat die Vlaamse terapeut heel onverwags, selfs onbedoeld, ’n diep filosofiese waarheid aan die hand van ’n volledig konkrete aangeleentheid uitgespreek het. Sy het Hendrik se uitgestrekte arm van sy heup tot bo sy kop gelig en ons na sy rug en skouer laat kyk. Dit was duidelik dat die hele skouergewrig, vlerkie en al, saambeweeg, en haar verklaring was dat hy nie self die beweging sou kon uitvoer nie, want “sonder stabiliteit, geen mobiliteit”. Haar behandeling het dan ook gefokus op die spiere wat die struktuur stabiliseer, en nie soos voorheen op die spiere wat die beweging moet bewerkstellig nie.

Haar eenvoudige, onomstootlike uitgangspunt het my sedertdien geboei, veral as ek die huishoudelike implikasies van ’n hipermobiele lewenspatroon probeer verwerk: sonder stabiliteit, geen mobiliteit. Seker daarom dat my gedagtes weer dié koers ingeslaan het toe ek myself afvra waaroor Richard Sennett se The Culture of the New Capitalism ten diepste handel. Wat hy as die nuwe kapitalisme beskryf, word naamlik deur nuwe verdelingslyne en verskuiwende verspreiding van middele gekenmerk en staan, of ’n mens daaraan deel het of dit juis ontsê word, bo alles in die teken van ’n potensieel ontwrigtende of ontwrigte mobiliteit.

 

Kapitalisme se lewensverhaal

 

Sennett se beskrywing van die “nuwe kapitalisme” is gebaseer op ’n drieledige verdeling tussen ’n vroeë, primitiewe kapitalisme, ’n era van sosiale kapitalisme en dan die nuwe kapitalisme wat tans sy stempel op die wêreld afdruk. Die nuwe kapitalisme moet naamlik aan die hand van die voorafgaande ordes verstaan word, en in sy nuwe nostalgie vir ’n era wat deur burokratiese hierargieë oorheers is, kom Sennett met ’n (minstens vir my) baie verrassende herinterpretasie van gegewens vorendag.

Sy vertolking kan kortliks beskryf word aan die hand van die rol wat die mark in elke fase gespeel het. Die primitiewe kapitalisme word gekenmerk deur ’n gebrekkige begrip van die markmeganisme wat tegelyk ongekende ontwikkeling én ongekende chaos vir sowel werkers as ondernemers meegebring het. Dit is die toestande wat byvoorbeeld Karel Marx se ontleding en kritiek opgeroep en ’n nuwe ewewig genoodsaak het, al was die rewolusie wat hy in die vooruitsig gestel het, by verre nie die suksesvolste antwoord daarop nie.

Wat vir my nuut was, is die gedagte, grootliks aan Max Weber ontleen, dat Westerse kapitalisme se kontrareformasie die vorm van ’n omvattende burokratisering van die samelewing aan die hand van veral die Pruisiese militêre model aangeneem het. Terwyl hier sekerlik van ’n growwe veralgemening sprake is, moes die modelle vir ’n opset wat op meriete eerder as afkoms en op doelmatigheid eerder as akkomodering van ou belange gebou is, tog êrens vandaan gekom het. Wat Sennett nie so uitdruklik uitspel nie, is dat die rol wat die mark in hierdie era gespeel het, meer gerelativeer was as wat algemeen aanvaar word. Nasionale state het die heil en welvaart van hulle bevolkings op die hart gedra en die mark as meganisme benut terwyl tallose bedryfsbesluite in die openbare én private sektore deur burokratiese oorwegings bepaal is. En hierdie oorwegings, toon hy aan, was nie net sleg nie.

As antropoloog/sosioloog het Sennett gedurende die 1960’s onder die Amerikaanse industriële werkersklas gewerk, maar teen die einde van die eeu dieselfde soort navorsing onder die inligtingstegnologie-middelklas gedoen. Dit vorm dan die agtergrond vir sy teenstelling tussen die sosiale en nuwe kapitalisme. Laasgenoemde word nie net gekenmerk deur die verbrokkeling van dikwels lompe burokrasieë nie, maar in dieselfde mate deur ’n ongekende gravitasie van rykdom na die bestuurs-elite en ’n dramatiese verlies aan sosiale bewussyn.

Hoewel die nuwe ekonomiese patrone nog lank nie die hele ekonomie omvat nie, is dit as nastrewenswaardige model deeglik gevestig en deur deelnemers aan die ekonomie hul eie gemaak. Daar is egter terreine waarop die toepassing van hierdie model vernietigend op die deelnemers inwerk en kritiese herbesinning regverdig. Dit raak iets wat ’n mens iemand se ‘plek in die wêreld’ kan noem en wat nie net met werksonsekerheid en ekonomiese stagnering van die middelklas te make het nie, maar op ’n dieper vlak met die tydsbegrip wat die nuwe kapitalisme onderlê.

Die beeldendste beskrywings van die verlies aan lang genoeg tydgleuwe om ’n betekenisvolle storielyn moontlik te maak, is met betrekking tot die mobiliteit van personeel en die mobiliteit van kapitaal aangeteken. Instellings se korporatiewe geheue is byvoorbeeld in talle opsigte eerder in laer personeelvlakke opgesluit as wat dit op bestuursvlak lê. Dit lê uiteraard aan skerwe as die mobiele bestuurslui, wie se loopbane uit rasionalisering en samesmeltings bestaan, hierdie kennisbronne laag aanslaan en dit dikwels by “vaartbelyning” in die slag bly. Selfs as ’n mens daardie verlies as sulke bestuurders se verdiende loon sou beskou, laat dit die kundige grond- en middelvlakwerker sonder ’n gesaghebbende gehoor aan die hand van wie se erkenning hulle loopbaan of lewensverhaal betekenis kan kry.

Die mobiliteit van kapitaal blyk uit die eenvoudige en algemene verskuiwing ingevolge waarvan beleggers in aandele, toekomstige opbrengste en ander “afgeleide instrumente”, minder op die opbrengs van produksie en handel, en gevolglik dividendgerig is as op spekulatiewe winsneming deur prysskommelinge en -groei te benut. Dit is dan ook nie verbasend nie dat die produserende en handelende middelklas agterbly terwyl die finansiële sektor en diegene wat inligtingsvloei en beeldvorming beheer daardeur bevoordeel word.

As Sennett breedweg korrek is, het die inkomste van die boonste 20% verdieners in die Amerikaanse ekonomie sedert die 1970’s gegroei, die boonste 5% daarvan het baie gegroei en die boonste 1% eksponensiëel gegroei, terwyl die die middelste 60% van verdieners in dieselfde tyd gestagneer het. Dit vestig ’n mens se aandag opnuut op die gedagte dat die prysetiket op gesamentlike rykdom in syfers mag groei, maar dat dit nog steeds een koek is wat gedeel word, en dat een party se aandeel nie kan vergroot sonder om ’n ander s’n te verklein nie.

Ter illustrasie van die illusionêre wen-wen-oplossing kan die korttermyn versekeringsbedryf onder oë geneem word. Maatskappye wat hulle produkte op vernuwende wyses regstreeks bemark en administreer, gee nie net ’n deel van hul premie-inkomste aan polishouers terug nie, maar toon ook ’n beter verdienste vir hulle aandeelhouers. Op die oog af het hulle die heilige graal van ’n wen-wen-situasie gevind, maar nie sonder dat ’n hele troep makelaars deur telefoonoperateurs vervang is en makelaars oor die algemeen verdag gemaak word nie. Ironies genoeg is dit dikwels mense wat in ander bedrywe middelposisies en tussengangersrolle vervul wie se gestandaardiseerde behoeftes dit vir hulle moontlik maak om hulle (in breë sin) kollegas en (dikwels) bure, vriende of familie vir ’n paar sikkels silwer te verraai. As Sennett se waarneming reg is, weet hulle dit nie, maar voel tog aan dat dieselfde lot na hulle kant toe kom, en lewe hulle in die vrees van algemene oorbodigheid.

Die nuwe kapitalisme berus dus deels op ’n herwaardering van die mark - nie meer as meganisme in diens van ’n maatskaplike projek nie, maar as ’n prinsiep en wet waaraan individuele en maatskaplike belange onderwerp moet word. Die nuwe elite beskik wel oor aansienlik meer verfynde metodes om die gevolglike chaos te verdoesel en te verskuif, maar die wanbalanse wat intree, sal nie vir altyd gelate aanvaar word nie. Die nuwe kapitalisme is op die illusie gebou dat niemand op die duur die stabiliteit hoef te voorsien waarop die ongekende globale mobiliteit gebou is nie en dat die huidige rolverdeling toevallig is en kortstondig sal wees, maar namate sommige permanent vasval in die noodsaak om sonder vaste dienskontrakte of voordele die stabiliteit te verseker wat die bestuurslui se mobiliteit vereis, word dié illusie ook deurbreek.

Die model van mobiliteit sonder stabiliteit, asof elke klein ondernemer en elke opkomende bestuurder hom/haar op die globale ekonomie en sy tydverduisterende mobiliteit moet toelê, berus kennelik op die versluiering van sy eie skadukant. Dit is soos die sakeman wat ek geken het, wat wyd en syd gespog het oor sy gedurige besoeke oorsee, maar eers ná sy aftrede (en toe ook deels op iemand anders se koste) vir die eerste keer sy vrou saamgeneem het. Iemand betaal die prys vir grootskaalse ongelykheid, en hulle word óf wysgemaak dat dit so hoort, óf dat dit sal verander. Dit is egter nie volhoubaar nie.

Wat nou van kritici en aktiviste verlang word, is om die onwaarheid van mobiliteit sonder stabiliteit onder oë te sien en ’n nuwe, volhoubare en billike balans tussen die kragte van mobiliteit en stabiliteit te probeer vind.

 

Verbruikerspolitiek

 

Terwyl ek nie in staat is om op omvattende wyse aan Sennett se hele argument reg te laat geskied nie, verwys ek ten slotte na sy voorstelle om betekenis in gewone mense se lewens te herstel. Hy sluit af met ’n pleidooi dat instellings en geleenthede geskep moet word wat dit vir mense moontlik sal maak om weer ’n samehangende lewensverhaal te konstrueer. Hy gebruik voorbeelde soos parallelle instellings, werksdeling en ’n basiese inkomstetoekenning; dat mense se gevoel van nuttigheid vanuit die burgerlike samelewing en met behulp van die staat se rol in werkskepping en dienslewering herstel en verseker moet word; en dat die herontdekking van vaardighede en die kultuur van vaardighede, met die toewyding wat eie daaraan is, die aanleiding tot ’n noodsaaklike kulturele rewolusie kan gee.

Daarvan kan ’n mens kwalik verskil, maar die onderliggende verwagting wat in die voorlaaste hoofstuk oor Verbruikerspolitiek behandel word, het my skepties gestem. Dit kom kortweg daarop neer dat hy nie net die slegte wil sien in die ontwikkelinge van ons tyd nie, maar ook die demokratiese potensiaal van instellings wat ingevolge die nuwe kapitalisme funksioneer, wil herken en ontgin. Hoewel plaaslike politiek deur globale standaardisering, bemarking en handelsmerk-herkenning oorheers word, voer hy aan dat die netwerk-samelewing wat dit onderlê, die kreatiewe energie om verandering te bedink, kan voed.

Ek is van mening dat hierdie samelewing die ruimte vir sulke skeppende energie kan bied, maar dit nie sal skep waar dit nie reeds aanwesig is nie. En waar is dit aanwesig? Alleen daar waar ’n demokratiese etos van selfstandigheid en deelname reeds vaardig is. Dit is in gemeenskapsverband waar ’n sin vir die politiek nog nie deur burokratiese swaarwigtigheid geknak is of soos vlugtige verbruikerspolitiek verdamp het nie, maar met inagneming van die nuwe konteks en op eie stoom na skuiwergate en ontsnappingslusse in die maatskaplike prosesse wat die nuwe kapitalisme daarstel, soek en dit gebruik.

Daarvoor is nie net die empiriese gegewe van vervreemding of selfbehoud binne ’n koue en onvriendelike maatskaplike orde nodig nie, maar ook ’n stuk warm idealisme. Dit is dalk nie die werk van antropoloë en sosioloë nie, maar van politieke aktiviste en gemeenskapsleiers. Waar Sennett se boeiende en bruikbare ondersoek en oordeel ophou, daar begin ons belangrikste verantwoordelikheid.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=790
Artikel nagegaan:
    -