blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Skadukante van vandag se kapitalisme: Casino-kapitalisme en ons toekoms 2006-12-11
Danie Goosen

*Filosoof, voorsitter van die FAK

 

Die omvangryke beriggewing in die media oor die talle gruwelmoorde wat daagliks gepleeg word, verteenwoordig maar net ’n klein fraksie van die bykans 20 000 moorde wat jaarliks in Suid-Afrika gepleeg word. As die media volledig daaroor sou moes berig, sou hulle ensiklopediese afmetings aangeneem het.

Maar watter gevolge het die oorweldigende hoeveelheid geweldsmisdade op ons? In watter gemoedstemming laat dit ons?

Uiteraard gesels ons baie oor die gevolge daarvan. Bykans elkeen van ons het dit immers al óf eerstehands ervaar, óf ken mense in eie familie- of vriendekringe wat vermoor, vermink en verflenter is. (Ek moes al by meer as een geleentheid myself soos ’n wilde wragtig met ’n vuurwapen teen boewe verdedig, terwyl bykans elke buurman in ons onmiddellike omgewing reeds deurgeloop het. So bevestig ons eie ervaring die skokkende hoeveelheid beriggewing in die media).

Alhoewel talle gevolge uitgewys kan word, wil ek net een noem, naamlik die “katastrofale stemming” wat onder ons mense posgevat het. Dit verwys na dié houding wat sê dat die Suid-Afrikaanse werklikheid, soos van Afrika suid van die Sahara, onvermydelik op ’n ramp afstuur.

Watter kragte moedig die katastrofale stemming onder ons aan? Hoewel die geweld ’n belangrike rol speel, is dit gewis nie die enigste krag wat die indruk by ons skep dat die teenswoordige werklikheid as ’n katastrofe ervaar moet word nie.

Katastrofale stemminge is natuurlik nie vreemd aan die geskiedenis nie. Tye van redelose geweld gaan dikwels daarmee gepaard, soos tydens en na die twee Wêreldoorloë van die vorige eeu. Die trauma wat dit tot gevolg gehad het, het ’n onuitwisbare letsel op die Europese gemoed gelaat. Daarom ook nie vreemd nie dat so baie Europeërs die werklikheid as ’n toevallige, gewelddadige en redelose tuimeling van magte ervaar – kortom, as ’n katastrofe.

Maar daarom ook dat die taal van sommige van die belangrikste figure uit die Europese intellektuele lewe steeds oorheers word deur beelde uit die biblioteek van die katastrofale, dit is woorde soos ‘trauma’, ‘breuk’, ‘chaos’, ‘toeval’, ‘onvoorsiene gebeurtenis’, ‘afgrond’, ‘sublieme’, ‘onmoontlike’, die ‘ander’, ensovoorts.

Dit sou egter ’n fout wees om slegs iets soos geweld as die bron van die katastrofale stemming voor te hou. Talle ander dinge kan dit ook uitlok.

Soos die kwessie van korrupsie. Suid-Afrika word tans deur ’n vlaag van beriggewing oor korrupsie in veral die openbare sektor oorweldig. Die suggestie loop wyd dat die korrupsie hier dieselfde onafwendbare patroon as elders in Afrika volg: Elites wat hulleself verryk en die res in die grond trap. Soos wat dit Afrika in ’n katastrofale landskap omskep het, word gesê, so gaan dit ook hier gebeur. En, tipies van die katastrofale stemming: “niks kan daaraan gedoen word nie.”

’n Bydraende krag in hierdie verband is swart ekonomiese bemagtiging. Meningsvormers vra nou openlik: Word die gees van korrupsie wat deur die staatsdepartemente waai nie ook deur swart ekonomiese bemagtiging bemiddel nie? Laasgenoemde skep immers by ’n kleiner elite die gevoel dat hulle méér uit die orde kan kry as waartoe hulle vaardigheid en werkywer hulle in staat stel. So word swart ekonomiese bemagtiging ’n “legitieme” kontinuering van die katastrofale beleid wat elites elders in Afrika gevolg het.

Die feit dat die regering homself vir ’n onbeperkte tyd nog tot swart ekonomiese bemagtiging verbind het, skep ’n horison van moedeloosheid by talle en moedig so die gevoel aan dat die toekoms self noodwendig in iets soos ’n katastrofe sal eindig.

Die katastrofale stemming is egter nie net die gevolg van die “tipiese” Suid-Afrikaanse en Afrika-kragte soos misdaad en korrupsie nie. Dit hou ook verband met belangrike internasionale tendense wat hulle stempel op ons laat. Om maar net een so ’n saak te noem: die nuwe definisie van werknemerskap wat die afgelope dekade onder die vaandel van die globale hiper-kapitalisme gevestig geraak het. Ook dit wakker die katastrofale stemming aan. Waarom?

Richard Sennett staan in sy uitsonderlike, The New Culture of Capitalism (2006), heelwat ruimte af aan die wyse waarop die “werknemer” in die era vóór en tydens die opkoms van die nuwe globale kapitalisme verstaan is. Alhoewel hy nie dié woorde gebruik nie, word die idee van wat dit tans beteken om ’n werknemer te wees, toenemend deur die “casino-mentaliteit” van die huidige kapitalistiese orde bepaal. En dit is juis hier waar die verband tussen die nuwe kapitalisme en die katastrofale stemming lê.

Volgens Sennett is die korporatiewe wêreld vóór die opkoms van die nuwe globale kapitalisme deur “militêre” strakheid gekenmerk. Terwyl die groot korporasies elkeen deur ’n sterk hiërargiese orde gekenmerk is, het elke werknemer daarin presies geweet waar hy of sy in dié hiërargie pas.

Sennett skenk in sy werk heelwat aandag aan die gevolge wat dié starre korporatiewe strukture vir werknemers gehad het. Wat hom egter die meeste interesseer, is die kwessie van “lojaliteit”.

Alhoewel die ou militêre en stabiele strukture heelwat beperkinge op onder meer die bewegingsruimte van werknemers gelê het, het dit nogtans ruimtes geskep waarbinne ’n stabiele en langtermyn-verbintenis met die korporasies aangeknoop kon word.

Volgens Sennett het dié verbintenisse werknemers in staat gestel om hulleself oor die spanwydte van ’n groter tydperk in dié deugde te skool wat nodig was om op ’n voortreflike wyse jou beroep te beoefen.

Met die opkoms van die casino-kapitalisme verander die korporatiewe lewe egter drasties. Verbintenisse oor ’n lang termyn word nou met presies die teenoorgestelde benadering vervang, naamlik die idee dat ’n mens eerder ’n veelheid van beroepe as slegs een moet beoefen. Met dramatiese gevolge vir die werknemers se lojaliteit jeens die korporatiewe gemeenskap.

Wanneer werknemers ’n veelheid van beroepe beoefen (en in die proses slegs ’n korttermyn- verbintenis met bepaalde korporasies handhaaf), word die eie self van die werknemer die uitgangspunt, en nie sy of haar lojaliteit teenoor die korporasie of die gemeenskap nie. So moedig die nuwe kapitalistiese kultuur ’n hiper-individualistiese houding aan waarin nie die ‘ons’ nie, maar die ‘ek’ die uitgangspunt word.

As die destydse verbintenisse oor ’n lang termyn die ruimte geskep het waarbinne vaardighede of deugde gekultiveer kon word, word dit nou toenemend met dinge soos instrumentele manipulering en ’n uitermatig hoë vertroue op toeval en geluk vervang. Met dramatiese gevolge. Dit hou verband met die katastrofale stemming ten grondslag van die nuwe kapitalisme.

In die ou korporatiewe ordes het daar nog ’n verband bestaan tussen die deugde waaroor jy beskik het en die beloning wat jy daarvoor ontvang het: Hoe voortrefliker jy oor deugde en vaardighede beskik het, des te sterker het jy ’n kans gestaan om deur die korporatiewe wêreld beloon te word.

In die kultuur van die neokapitalisme word die band tussen deug en beloning egter deurgesny. Alhoewel Sennett ook nie die gevolge daarvan so formuleer nie, kan ons sê dat dit tot ’n wyd verspreide gevoel aanleiding gee dat jou “sukses” nou die gevolg van iets soos die werknemer se vermoë tot instrumentele manipulering en uiteindelik blote toeval is.

En juis hier lê die verband tussen die nuwe kapitalisme en die katastrofale stemming. As die werknemer met die oorweldigende indruk gelaat word dat sy of haar sukses veral (of slegs) aan iets soos manipulering en toeval toe te skryf is, word hulle met die indruk gelaat dat die werklikheid self irrasioneel, chaoties en uiteindelik katastrofies van aard is.

(Terloops, daarom ook die kultuur-kritiese betekenis van pous Benediktus XVI se onlangse Regensburg-lesing, waarin hy ’n apologie vir die redelike aard van die werklikheid aangeteken het. Daarmee het hy gepoog om walle teen die kontemporêre katastrofe-denke op te werp).

Dit is nie moeilik om die raakvlakke tussen die Suid-Afrikaanse geweld, misdaad en korrupsie en die neoliberale casino-kapitalisme raak te sien nie. En tot die gevolgtrekking te kom dat hulle beide tot ’n verhewiging van die katastrofale stemming onder ons mense aanleiding (kan) gee nie.

Gaan die misdadiger nie by uitstek van die beginsel uit dat die deugdelike maar moeisame handeling gesystap kan word nie? En word dié houding nie ondersteun deur die vertroue wat die casino-kapitalisme op suiwer tegniese manipulasie en toeval stel nie? Rus ons wêreld met ander woorde nie op ’n onuitgesproke akkoord tussen dié twee kragte nie? Dit is beide kragte wat die katastrofale stemming onder ons aanwakker.

Dit bring ons by die laaste vraag. Hoe kan op die katastrofale stemming geantwoord word? Die antwoord draai rondom ’n weerstand teen die ‘verleiding’ om die ganse werklikheid as ’n katastrofe te ervaar.

Die moderne wêreld het ’n onvergelykbare sin vir die katastrofale aard van die werklikheid gehad. Thomas Hobbes, die 17de-eeuse politieke denker, is ’n tipiese voorbeeld hiervan. Sy beroemde uitspraak, naamlik dat die mens se lewe niks anders as “solitary, poore, nasty, brutish, and short” is nie, sê presies dit: die werklikheid is nie goed nie, maar ’n katastrofe.

Onnodig om te sê, daarmee verteenwoordig Hobbes en die modernisme die radikale teenpool van wat die Westerse tradisie en, in aansluiting daarby, Benediktus XVI, in sy Regensburg-lesing gesê het, naamlik dat die werklikheid redelik en goed is.

Talle hedendaagse figure doen iets soortgelyk as die moderne Hobbes. So beskryf ’n Duitse skilder in ’n woeste kwashaal die ganse geskiedenis as ’n katastrofe: “Tans en so ver terug as wat ons in die verlede in kan sien, neem [die werklikheid] die vorm aan van ’n ononderbroke string wreedhede.”

En in aansluiting hierby skryf Heiner Müller ná die Tweede Wêreldoorlog dat alles vernietig is en dat niks werk nie. Juis in dié katastrofe vind hy dan ook ’n sekere vreugde: “Die ware genot van skryf bestaan per slot van rekening in die genieting van die katastrofe.”

In antwoord op die vraag wat ons in die aangesig van die katastrofale te doen staan, kan ons minstens dit sê: Juis dié soort uitsprake met hul onderliggende obsessie oor die katastrofale aard van die werklikheid moet in Suid-Afrika weerstaan word. Nie om die katastrofale te ontken nie, maar om skeppend daarop te antwoord.

Die moderne verwelkoming van die katastrofale gaan dikwels met twee destruktiewe wyses van antwoord daarop gepaard, naamlik ’n soort roekelose optimisme wat sê dat alles deur die katastrofale moontlik geword het, en ’n soort roekelose pessimisme, wat sê dat alles nou onmoontlik geword het.

Eersgenoemde vind onder meer uitdrukking in die poging om by wyse van sentralistiese of selfs totalitêre state op die katastrofiese toestand in te gryp. Laasgenoemde vind uitdrukking in ’n passiewe onttrekking van die werklikheid by wyse van dinge soos emigrasie en privatisering. Albei antwoorde is egter destruktiewe spieëlbeelde van mekaar.

 ’n Skeppender antwoord lê in politieke deelname opgesluit. Dit word deur ’n eenvoudige oproep gekenmerk: Neem aktief en op ’n demokratiese grondslag deel aan die openbare lewe. Skep so die ruimtes waarbinne ’n egte lewe moontlik is.

Terwyl dit die 100ste geboortejaar van Hannah Arendt is: Arendt is vir ons in hierdie verband ’n reuse voorbeeld. As Jodin het sy alle rede gehad om die 20ste eeu as ’n katastrofe te ervaar. Nogtans het sy dit weerstaan.

Haar oproep sluit aan by bogenoemde opmerkings: Eerstens, moenie voor die versoeking swig om alles as ’n katastrofe te beskou nie. Bied weerstand teen die katastrofale blik op die geskiedenis.

Tweedens, kyk die katastrofes reguit in die oë en antwoord daarop met skeppende politieke denke en deelname. Anders gestel, eis, in weerwil van die katastrofiese, die vryheid op om polities te handel – en so opnuut ’n gemeenskaplike toekoms te skep.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=789
Artikel nagegaan:
    -