blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


‘n Taalplan vir tersiêre inrigtings 2004-11-05
Theuns Erasmus

Deur Theuns Erasmus, Voorsitter, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se doelstelling is die bevordering van die wetenskappe en kunste asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans. Gevolglik raak die riglyne van die Departement van Onderwys oor die taal van onderrig aan tersi ê re inrigtings asook die praktiese implementering daarvan deur die onderskeie inrigtings, ons lede regstreeks. Die Akademie het gevolglik besluit om sy standpunte oor die aangeleentheid te formuleer. Die volgende waarnemings/inligting het as agtergrond gedien by die ontwikkeling van hierdie standpunte.

  • Die Grondwet gee gelyke status aan al elf landstale.
  • By gebrek aan 'n oorkoepelende plan wat die ontwikkeling en gebruik van die inheemse tale kan reël, is Engels besig om die enigste taal te word wat aan tersiêre inrigtings gebruik gaan word. 'n Plan wat sal kan verseker dat die inheemse tale in Suid-Afrika tot hul reg kom, is dus nodig. Dit is dringend dat daar nou gefokusde aandag gegee word aan die taal van onderrig aan Universiteite en Universiteite van Tegnologie. (Die werkgroepe wat volgens die Minister van Onderwys se Taalbeleid (Nov. 2002) aangestel sou word om die saak verder te ondersoek, het nie gerealiseer nie.)
  • Die Departement van Onderwys behoort deur die toepassing van sy taalbeleid vir tersi ê re onderrig in Suid Afrika, die ruimte te skep dat ten minste die hooftaalgroeperings (vier) op universiteitsvlak erken kan word en so kan groei en ontwikkel.
  • Moedertaalonderrig is een van die hoekstene van gehalteonderrig, ook op tersiêre vlak.
  • Die besluit oor watter tale as onderrigmedium deur 'n spesifieke inrigting gebruik moet word, behoort aan die bestuurstrukture en ondersteuningsgemeenskappe van daardie inrigting oorgelaat te word.
  • Die mate waartoe die verskillende inheemse tale in Suid Afrika gebruik word, verskil van streek tot streek en aangesien die meeste van die residensi ë le universiteite se studente uit die onmiddellike omgewing van so 'n inrigting kom, beteken dit dat as verskillende inrigtings die verantwoordelikheid aanvaar om naas Engels ook in ten minste een of dalk twee inheemse tale onderrig aan te bied, 'n betekenisvolle deel van 'n betrokke streek se studente in beginsel toegang sal kan verkry tot moedertaalonderrig.
  • Toegang tot tersiêre onderrig kan nie alleen die deurslaggewende beginsel wees as daar bepaal moet word in welke taal/tale 'n betrokke program by 'n spesifieke inrigting aangebied gaan word nie, net solank daar by een of meer van die ander inrigtings die geleentheid is om daardie program in die taal van 'n student se keuse te kan volg. Dit is slegs logies dat daar vir “skaars” of hoogsgespesialiseerde programme 'n beperkte aantal tale sal wees waaruit 'n voornemende student 'n keuse sal moet maak.
  • Die ontwikkeling van die ander inheemse tale as Afrikaans tot volwaardige wetenskapstale is 'n lang proses wat slegs moontlik is as daar oor 'n lang tydperk die politieke wil bestaan om dit te laat slaag en die nodige fondse daarvoor beskikbaar gestel word. Dit moet dus aan die begin slegs op beperkte skaal vir 'n paar uitgesoekte programme in spesifieke tale geloods word en dan stelselmatig uitgebrei word.
  • Die taalbeleid wat op die tersiêre sektor van toepassing is, is nou geweef met wat op sekondêre skoolvlak gebeur. Die twee sektore se taalbeleide moet dus versoenbaar wees.

In die lig van die voorgaande opmerkings asook literatuur en kommentaar wat oor die onderwerp beskikbaar is, is die Akademie van mening dat die tyd nou ryp is dat 'n beleid van veeltaligheid vir tersi ê re onderrig deur die Departement van Onderwys soos aangedui word in die beleidstuk wat die Departement in November 2002 gepubliseer het, verder verfyn en implementeer word. Die beleid behoort die volgende elemente te bevat:

*Moedertaalonderrig moet bevorder word.

* Universiteite moet die geleentheid kry om te besluit in watter twee of meer tale hulle onderrig wil gee. Die streeksverspreiding van tale kan hier sterk aanduidings gee.

*Inrigtings moet die keuse h ê om in beginsel volledig twee- of drietalig te wees waar die tale sover moontlik in parallel naas mekaar staan of inrigtings moet kan kies om een van die tale as die primêre onderrigtaal te gebruik en die ander taal/tale in parallel vir sekere gespesialiseerde programme te gebruik. Sekere programme sal uit praktiese oorwegings slegs in een taal aangebied kan word en dit sal dan nie noodwendig in Engels moet wees nie.

* Spesifieke taalkeuses deur 'n spesifieke inrigting het langtermynimplikasies en so 'n langtermynverbintenis moet deur die betrokke inrigting en die staat erken en finansieel in stand gehou word.

* Daar moet addisionele finansiële aansporing wees vir die aanbied van onderrigprogramme en die publisering van navorsingsresultate in meer as een taal, veral wat die inheemse tale betref, en nie penalisering soos dit tans toegepas word nie.

*Navorsingsuitsette in een of meer van die inheemse tale moet die nodige gewig dra by die evaluering van 'n navorser/dosent se navorsingsprestasies.

*Studente sal moet aanvaar dat dit onmoontlik is om al die studieprogramme in al elf tale aan elke inrigting aan te bied. Studente sal dus keuses moet maak oor wat hulle waar kan studeer.

*Van inrigtings word verwag om die taal waarin 'n betrokke program/vak/kursus aangebied word in die Jaarboek te spesifiseer en dat dosente en studente hul daarby moet hou. Dit moet nie aanvaarde praktyk wees dat studente op grond van hul eie spesifieke taalvoorkeure kan eis dat 'n betrokke kursus in die taal van hul keuse aangebied moet word nie.

*Elke inrigting moet jaarliks 'n openbare verslag publiseer oor die stand van die gebruik van die tale wat die inrigting gekies het.

*Die administratiewe tale van 'n inrigting moet sy keuse van onderrigtale sover as wat dit prakties moontlik is ondersteun.

Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad moet so gou as moontlik met die betrokke Minister ooreenkom om taakspanne saam te stel wat op 'n dringende basis aandag sal gee aan die verfyning én implementering van 'n taalbeleid vir tersiêre inrigtings. Die finansiële implikasies van so 'n beleid moet deel wees van die ondersoek.

*Hierdie artikel is oorspronklike gelewer as voordrag by die Nasionale Taalberaad van 25 tot 27 Augustus 2004 op Stellenbosch


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=64
Artikel nagegaan:
    -