|
||||
Koos du Toit Deur Koos du Toit, sosioloog en elektroniese meertaligheidsaktivis verbonde aan Tabema en die Taalsekretariaat Die koerant is “die rigsnoer van alle wysheid" en "die opgevoede persoon moet weet hoe om met sy koerante om te gaan." Só het Kasper von Stieler (1632 – 1707) in sy publikasie getitel Zeitung's Lust und Nutz gesê. (Hy was een van die pioniers op die studiegebied wat aanvanklik aan die Duitse universiteite as Zeitungs-Wissenschaft [Tydingswetenskap] – later Publizistik [Uitgewerswese] bekend sou staan). Meer as drie eeue later, in 1938, verskyn die eerste flikkerende beelde op ’n televisieskerm, wat binne enkele dekades vir miljoene kykers "die rigsnoer van alle wysheid" sou word. ’n Amerikaanse essayis, E.B. White, het egter toe reeds oor die potensiaal van hierdie kommunikasiemedium geen illusies gehad nie. Hy beskryf dit soos volg in Harper's Magazine: "I believe television is going to be the test of the modern world, and in this new opportunity to see beyond the range of our vision we shall discover either a new unbearable disturbance of the general peace, or a saving radiance in the sky." In die 1960’s het die destydse Minister van Pos- en Telegraafwese, dr. Albert Hertzog, televisie egter as "’n klein bioskopie" afgemaak. Maar volgens Wilson P. Dizard in Television: A World View (1966), was die volgende hiperboliese stelling van die Minister ook ’n "nie-bedoelde lofprysing" van die invloed van televisie: "The overseas money power has used television as such a deadly weapon to undermine the morale of the white man and even to destroy great empires…" Maar dis natuurlik ook ’n stuk van die waarheid dat televisie in die destydse Suid-Afrika soos die spreekwoordelike "warm patat" was - soos dit vandag nog is… Dizard begin sy publikasie met ’n hoofstuk onder die opskrif: "Small Screen,Big World" met die volgende stelling: "In George Orwell's vision of 1984 conformity and fear are symbolized by ever-present television screens controlled by Big Brother." In Alvin Toffler se Power Shift (1990) beskryf hy onder die opskrif The nasty little man on TV, hoe die "domino-golf van rewolusies" wat Oos-Europa ná die val van die Berlynse muur in 1989 getref het, onder meer toegeskryf kan word aan ’n "avalanche of information that poured into communist countries." Dit was veral die indringende oë en ore van televisie wat ’n byna dramatiese effek op mense se persepsies gehad het. Oor die meer subtiele en ook langtermyneffek van die media waarsku Toffler met reg soos volg: "Enthusiasm over the way the media were used to overthrow totalitarian regimes in Eastern Europe should not blind citizens to the more sophisticated mind manipulations that governments and politicians will attempt in the future." (370) In dié verband haal hy ook Lech Walesa, die destydse stigter van Solidariteit in Pole, tydens die politieke opstande in Oos-Europa, soos volg aan: "These reforms are a result of civilization - of computers, satellite TV (and other innovations) that present alternative solutions." (348) Tabema (die Taakgroep vir die Bemagtiging van Afrikaansgebruikers op Televisie) het, sedert sy totstandkoming in 1995 presies dít as basiese uitgangspunt gestel: die moderne kommunikasietegnologie begunstig taal- en kulturele diversiteit. Die tegnologie stel ons in staat om te differensieer sonder diskriminasie. En op die vlak van die uitsaaiwese is dit prakties haalbaar: Ons beskik oor die infrastrukture en die kundigheid. In enige polities-ideologiese stryd speel TV’n onvergelykbare rol. Die deursnee TV-kyker sê eenvoudig die kamera en mikrofoon kan nie lieg nie. Daarom is beheer oor die openbare diensuitsaaier vir elke politieke magshebber altyd ’n eerste prys. En dit het die ANC in 1994 op ’n skinkbord gekry – net soos Fidel Castro in 1959 toe hy die Amerikaanse TV-netwerk in Kuba oorgeneem het - veral beheer oor die nuus- en inligtingsverspreiding. En soos Die Burger met reg in redaksionele kommentaar onder die opskrif SAUK-nuushoof (20/4/2004) sê: "In die afwesigheid van ’n goedontwikkelde leeskultuur in die land wat meebring dat relatief min mense koerante lees, is die SAUK se invloed potensieel baie groter as in ander lande." Meer mense in Suid-Afrika as in hoogsontwikkelde lande glo in die waarheid soos in klank en beeld voorgestel. Want hulle kyk óf onkrities, óf het geen ander verwysingsraamwerk soos die gedrukte media nie. Trouens ’n groot deel van Suid-Afrika se bevolking leef by uitstek volgens ’n "TV-kultuur". En vir die meerderheid van die 39 miljoen+ TV-kykers van 16 jaar en ouer is dit die "TV- kultuur" van SABC 1, 2 en 3. ’n Groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking - wit, bruin en swart - is "televisie-ongeletterd" - hulle kyk onkrities. Die SAUK-TV is boonop vir die breë massa wat nie oor skottels en DSTV beskik nie daar vir ontspanning (sepies) en sport. In die woorde van Neil Postman se publikasie is TV ’n medium vir Amusing Ourselves to Death (1985). Hierdie feit het belangrike politieke implikasies, veral as ons daaraan dink dat die SAUK-TV ’n feitlike monopolie op televisienuus en -inligting het. Enkele statistieke sal die voorsprong wat die landswye netwerk van televisie bo dié van bv. ons koerante geniet, illustreer: Volgens AMPS-data (Jan - Junie 2004) het die onderskeie TV-kanale die volgende getal kykers (sg. "gister gekyk") - SABC 1 - 15,027 miljoen; SABC 2 – 8,400m; SABC 3 - 5,446m; e-TV - 11,461m; M-net (hoofdiens) - 1,556m; Kyknet - 0,168m. Totaal: 39,310m kykers (die AMPS gegewens het betrekking op alle landsburgers 16 jaar en ouer). Stel hierteenoor die gemiddelde daaglikse koerantverkoopsyfers (Jan - Junie 2004) van onder meer Die Burger - 109,513; Beeld - 105,681; Volksblad - 28,207; Rapport - 325,807; Sunday Times - 504,657; The Argus - 75,549; Cape Times - 51,285; The Star - 171,542; Sowetan - 118,261; The Mercury - 40,526; Pretoria News - 28,055. (Met die aanname dat ’n koerant deur meer as een persoon gelees/bekyk word, kan dié syfers waarskynlik met 3 of 4 vermenigvuldig word.) By enige sinvolle evaluering van dié soort statistiek moet egter die volgende in gedagte gehou word: Hoe lees mense koerante? Bloot banier-opskrifte op die voorblad, dikwels erg misleidend, en kyk prentjies/foto's, want hulle leef in ’n videokultuur. Of lees hulle ook die redaksionele kommentaar en die rubrieke? Bowendien, ’n groot deel van ons bevolking het nog nie eens behoorlik leer lees en skryf nie, en het as't ware, nog nie die grafosfeer deurleef nie. Daar word hoeka gesê ons jeug kan nie behoorlik lees of skryf nie, onder meer omdat hulle voor die televisie grootgeword het en tans ure voor hul rekenaars deurbring. Teen hierdie agtergrond moet ook gelet word op die grootte van die SAUK se daaglikse nuusgehore, wat in klank en beeld en dikwels op uiters dramatiese en skokkende wyse oor die werklikhede van ons reënboognasie ingelig word. Volgens geprojekteerde syfers vir die periode 22/11/04 - 28/11/04, soos gebaseer op die periode 19/07/04 - 21/07/04 sal die aandnuus in die vier grootste tale deur die volgende maksimum getalle kykers (in miljoene en 16 en ouer) gekyk word: Afrikaans - 1,881; Engels – 1,003; Zulu - 2,474; Xhosa - 2,947; Totaal – 8,305. Om die impak van die gedrukte media met dié van TV te vergelyk is waarskynlik soos om appels met pere te vergelyk. Daarom sê dié soort statistiese vergelyking nie juis meer as om aan te dui hoeveel mense daagliks blootstelling kry aan die SAUK (His Master's Voice?) se weergawe in klank, beeld en kleur oor die belangrikste gebeure en dringendste kwessies van ons reënboognasie nie. In die finale instansie is dit waarskynlik adverteerders wat bereid is om R50 000 of meer vir ’n 30-sekonde-advertensie in spitstyd op SAUK-TV te betaal, en die aspirerende politieke leiers en meningsvormers, wat ’n kategoriese antwoord sal kan gee op die vraag van ’n kommunikasiekundige in dié verband: "Who is shaping your picture of the world?" Intussen is by diegene in beheer van die openbare diensuitsaaier (ODU) in Suid-Afrika beslis geen twyfel oor presies wíé dit is nie… Tot vandag is die SAUK-kanale al drie oorheersend Engels: SABC 1 - 70%; SABC 2 - 72%; SABC 3 - 100%. SABC 2 is selfs gedurende spitstyd, wat aanvanklik in 1996 beplan was vir uitsluitlik Afrikaans en Sotho-tale op ’n 50/50 basis, tans 42% Engels, 34% Afrikaans en 21% Sotho. Voorts is Engels die kontinuïteitstaal, ook op SABC 2 in spitstyd, en word Afrikaanse programme in Engels aangekondig. Watter persepsies wil die SAUK hiermee skep? Met Tabema se eerste voorstelle op 16 Mei 1996 vir die herstel van Afrikaans se status en funksies as TV-taal, asook vir praktiese gelykberegtiging van al ons tale, was ons egter polities naïef. Dit was nié objektiewe feite oor die grootte van ons onderskeie moedertaalgroepe, of oor sinvolle massakommunikasie in mense se moedertaal wat as norme gedien het vir ’n getransformeerde SAUK/SABC nie. Dit was Jill Chisholm, die destydse groepuitvoerendehoof van TV se openingswoorde wat vir ons die destydse formule laat blyk het: “When I left this country in the beginning of the seventies, you did not have TV. When I came back you had what was generally perceived to be a white and a black channel (TV1 en TV2). And this cannot be…” Op die golf van transformasie en regstellende aksie was vanaf 1995 die taalbeleid van die ODU as prestigekommunikeerder - net soos die SAL getransformeer na SAA - as prestige- en nasionale vervoermiddel, gebaseer op die reaksie teen Afrikaans, die “wit” en “apartheidstaal”, asook op persepsies en mites: dat Engels die enigste lingua franca is; die taal van aspirasie vir alle Suid-Afrikaners is; dat alle Suid-Afrikaners Engels verstaan, en dat nasiebou in ’n geglobaliseerde wêreld verengelsing in die praktyk impliseer. En hierdie wanpersepsies duur voort, selfs onder Afrikaanssprekendes, en tot op die hoogste akademiese vlakke. Soos ’n selfvervullende profesie het al dié persepsies en mites bygedra tot die afskaling van Afrikaans op haas alle lewensterreine, en by baie Afrikaanssprekendes tot ’n apatiese houding teenoor hulle taal. Terwyl by diegene met ’n passie vir hulle taal die hantering van Afrikaans op SAUK-TV intussen geensins tot versoening in ’n diepverdeelde samelewing bygedra het nie. Inteendeel, dit het van sommige opperste rassiste gemaak. Volgens my betrokkenheid by Tabema, die Meertaligheidsaksiegroep (i-MAG) en die Taalsekretariaat wil dit egter voorkom of die pendule aan die terugswaai is. Op 28 November 2002 op die SAUK-Raad se eerste omvattende Taalwerkswinkel verneem ons dat die oorheersing van Engels moet end kry. Trouens die SAUK en die Departement van Kommunikasie sê in hulle voorleggings ook só. Die besprekingsgroepe rapporteer ook: "Taal en kultuur is identiteit." Bedoelende dis hierdie identiteite wat daagliks op ons TV-skerms moet verskyn. Na 10 jaar van demokrasie verbind die SAUK hom ook opnuut in ’n 52-bladsye dokument, wat in Februarie vanjaar verskyn het onder die titel SABC Editorial Policies, tot ’n praktiese beleid van die gelykberegtiging van al ons tale en kulture. Volgens die SAUK se mandaat in dié stuk is redaksionele kernwaardes die volgende: gelykheid, redaksionele onafhanklikheid, nasiebou, diversiteit, menslike waardigheid, toerekeningsvatbaarheid en deursigtigheid. Die beginsels en riglyne waarvolgens oor nuus en inligting, plaaslike inhoud, religie en onderwys in al ons land se tale uitgesaai sal word, word uitgespel - voorwaar ’n bloudruk vir doeltreffende en sinvolle openbare uitsaai in ’n multikulturele samelewing. Hierdie beleid sal volgens die voorwoord nie later nie as 1 April 2004 in werking gestel word… Maar tans is die klein jakkalsies wat die kultuurwingerd verwoes en die kykers irriteer steeds met ons. Nog steeds word Afrikaanse programme in Engels aangekondig, word klankinsette (sound bites) en onderskrifte slegs in Engels aangebied, en bly SABC 3 die Engelseentalige vlagskip van SAUK-TV. Dus: al die ander tale moet kanale deel, net Engels bly eksklusief en apart op SABC3. Presies wat sê die kykers en luisteraars, verteenwoordigend van al ons tale/taalgroepe ná tien jaar van demokrasie en transformasie van die ODU? Op ’n tweedaagse konferensie (“national summit”) soos georganiseer deur die Departement van Kommunikasie op 25 en 26 November verlede jaar te Benoni, antwoord ongeveer 150 afgevaardigdes van al 9 provinsies en verteenwoordigend van al ons tale, oorwegend swart mense, die oorkoepelende vraag: "Is broadcasting adequately serving South Africans' needs?" Daar was konsensus dat nóg in terme van tyd, nóg volgens inhoud, styl, sosio-kulturele waardes en norme, die SAUK reg laat geskied aan ons onderskeie taal- en kultuurgemeenskappe. Die SAUK is té oorheersend Engels, het té veel misdaad, té veel seks, té veel van Hollywood, is té kolonialisties, en het té veel blote verstrooiingsvermaak. En die naaste wat ons in ons besprekingsgroep oor die kwessie van nasiebou d.m.v. die ODU kon kom, was ook: “taal en kultuur is identiteit”. Daar was op dié konferensie feitlik deurgaans die tipe kritiek en voorstelle waarmee Tabema en die Afrikaanse kultuurorganisasies al sedert 1995 kom. In dié verslag wat uiteindelik aan die Minister van Kommunikasie, dr. Ivy Matsepe-Casaburri oorhandig sal word, sal die SAUK dus kritiek asook konstruktiewe voorstelle kry, afkomstig van al die verskillende taal- en kultuurgemeenskappe. (En nié slegs afkomstig van die “so-called Afrikaners” en Afrikaansmoedertaalsprekers nie!) Hierdie konferensie het ook bewys dat daar veel waarheid steek in die stelling: in ’n ware demokrasie het kykers, luisteraars en lesers die tipe media wat hulle verdien of kan bekostig. En gedagtig aan dié stelling, en Tabema se ervaring sedert 1995, het ons die volgende teenoor die konferensiegangers as die vernaamste strategieë gestel: “Ons moet meer gekoördineerd as ’n druk- of taakgroep oor taal-, kultuur- en rassegrense heen optree; ons moet knaend wees (en in nog kragtiger Afrikaans), ons moet ‘hardekoejawel’ wees; en ons moet onderhandel met die regte mense, die besluitnemers op die uitvoerende vlak by die SAUK.” Teen die agtergrond van die groot oorwinning van die ANC in die laaste verkiesing en die versplintering van die opposisie is al gesê dat die verdere demokratisering en die geestelik-kulturele selfverwesenliking van ons onderskeie taal- en kultuurgroepe deur aksies vanuit die burgerlike samelewing aangevoor moet word. Terugskouend: Tabema as nie-partypolitieke en veelrassige taakgroep het juis op 27 Maart 1995 op inisiatief van mnr. F.W. de Klerk, destyds Adjunk-President, in Pretoria ontstaan. Die stigting van i-MAG in Desember 2002 waarby Tabema sedertdien geaffilieer het, met gesamentlik verskeie voorleggings i.v.m. die uitsaaiwese en die taalkwessie, is ’n verdere stap in die rigting van mobilisering vanuit ons onderskeie taalgemeenskappe. So ook die verslag en aanbevelings van die Nasionale Spitsberaad (“National Summit”) wat die taakspan van 20 lede met insluiting van Tabema en i-MAG tans met verskeie rolspelers op die vlak van die uitsaaiwese en rolprentbedryf bespreek. Solank die SAUK egter die enigste nuusverskaffer op TV is, sal joernalistieke objektiwiteit altyd ’n uiters omstrede kwessie bly. Trouens soos die Taakgroep op die Uitsaaiwese in Suid- en Suider-Afrika onder voorsitterskap van prof. Christo Viljoen al in Augustus 1991 gesê het "die integriteit van ’n ODU-nuusdiens kan verbeter word deur mededingende nuusbulletins deur kommersiële uitsaaiers te hê". Die SAUK sal beslis meer van ’n ODU wees indien, na 10 jaar van demokrasie, die voortreflike beginsels en ideale rondom taal- en kulturele vryheid daadwerklik sigbaar, hoorbaar en deurlopend, toegepas word. Vir ons aan die ontvangkant lê die heil, soos in alle demokrasieë, in voortdurende terugvoer, wederkerigheid, en drukgroepe oor taal- en kulturele grense heen. Maar uiteindelik is die taal- en kultuurkwessies, ook op televisie, nie maar net ’n geval van “knoppies druk” nie soos ’n tegniese kenner van die BBC reeds in 1997 aan ons gesê het. Dis ’n kwessie van politieke wil. Dis ook ’n geval van groei na demokratiese volwassenheid en vryheid in eie tale en kulture. En soos oud-president Mandela, beskermheer van i-MAG, in sy boodskap by die stigting van dié aksiegroep laat weet het: “If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. If you talk to him in his language, that goes to his heart.” Naskrif: Dit is met agternawysheid wat ek gesê het ons by Tabema was in 1996 polities naïef toe ons gedink het sogenaamde objektiewe feite oor die funksies van mense se moedertaal sal die SAUK op die uitvoerende vlak beïndruk. Die persepsies oor Afrikaans as apartheidstaal was nog te sterk. Daar moes eers tyd verloop. Ons moes ook eers oor taal- en kleurgrense heen hande vat en koördineer. Teen die agtergrond van wat steeds met Afrikaans op die hoogste vlakke in ons samelewing gebeur, en omrede die groot gaping tussen teorie en praktyk, is ’n mens moontlik steeds polities naïef indien jy spoedige, sigbare veranderings verwag. Vanuit Nederland vra die skrywer Gerrit Komrij in ’n artikel in Die Burger van 24/12/2003, “Is Afrikaans dalk lewende dood?” Volgens hom soos “’n gesonde, spartelende liggaam waarvan mense besig is om ledemate af te sny.” Met reg sou gesê kon word dat die “afsny van ledemate” onder meer verwys na die funksieverlies van die taal op dié terreine wat vir die oorlewing van enige taal van kritieke belang is. Maar van eweveel belang is die persepsie wat deur sommige Afrikaanssprekende rubriekskrywers geskep word dat dit eintlik onbehoorlik en onvanpas is om in die nuwe Suid-Afrika vir taalregte te stry. In dié verband: Watter soort persepsies wil Die Burger op die US-kampus skep met plakkate en gedeeltelike inhoude in Engels? En hoe meen die koerant om op dié wyse sy mark vir Afrikaans te versterk? Daarom is Komrij volkome reg toe hy ’n jaar gelede laat weet het: “wat die toekoms van Afrikaans betref, is die Afrikaanssprekendes self die grootste bedreiging vir die taal.” En daarom is ek soos dikwels gesê word “versigtig-optimisties” oor Tabema en i-MAG se pogings saam met die Nasionale Taakspan en die ander inheemse tale vir die gelykberegtiging van ons tale en kulture op die vlak van die uitsaaiwese. Die politieke wil ontbreek nog, en té veel van ons Afrikaanssprekendes is nog totaal apaties. |