blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


“Dalk moet Suid-Afrika Afrika se hulp inroep”: ‘n Verslag van die kongres van die Association for the Development of African Languages in Education, Science and Technology (ADALEST) 2004-11-05
Vic Webb

Deur Vic Webb, Direkteur, Sentrum vir Navorsing in Taalpolitiek, Universiteit van Pretoria

Die stemming by die derde ADALEST-kongres (Association for the development of African languages in education, science and technology) wat van 30 Augustus tot 3 September vanjaar in Malawi gehou is, blyk uit opmerkings en standpunte soos die volgende:

The mother-tongue constitutes the roots of a child, multilingualism the wings with which a child can explore the world. (Onbekende deelnemer.)

Of all the crimes of colonialism there is none bigger than the attempt to make us believe that (the) forms of culture that we had were primitive things about which we should be ashamed ... (Aangehaal deur Francis Moto van Malawi uit ‘n toespraak van Julius Nyerere.)

In 1917 a ‘secret’ me morandum was circulated to colonial government officials in East Africa from a Lt. Col. French, urging the governors to consciously encourage ‘tribal feelings’ in the various colonies to further the colonial policy of ‘divide and rule’ (en dus te keer dat die inheemse stamme verenig teen die koloniale regering). (Francis Moto, Malawi.)

Die instandhouding van meertaligheid in die Europese Unie kos die gewone burger 2 euro (of ‘n koppie koffie) per dag. (Herbert Gassner, ‘n regter uit Oostenryk.)

An inferior qualification for African teachers, known as ‘Vernacular Teachers’ Certificate’ ... (does not) confer upon its holders the same professional standing as those African teachers who have had some instruction in the English language ... (Aangehaal deur Francis Moto uit ‘n toespraak van president Hastings Banda.)

When the word ‘Africa’ is mentioned, there is an inherent association that also tugs behind it: conflict and underdevelopment. (Bob Mbori, Kenia.)

Die tema van die kongres was Meertalige onderwys: Die praktiese implementering. Dit is bygewoon deur sowat ‘n 100 deelnemers uit Etiopië, Kenia, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Nigerië, Suid-Afrika, Tanzanië, Uganda, Zambië, Duitsland, Swede en die Verenigde Koninkryk.

Kongresse oor taalbeleid in Afrika – soos ook maar elders - is dikwels sterk ideologies gerig, met die fokus op byvoorbeeld die intellektuele bevryding van Afrika, die bevordering van pan-Afrikanisme en die noodsaak van Afrosentrisme. ADALEST III was egter uitgesproke praktykgerig. Die sentrale vraag was waarom onderrig in die meeste Afrikastate nie in die moedertale aangebied word nie, en hoe hierdie toedrag van sake omgekeer kan word. (Die term moedertaal is buite Suid-Afrika natuurlik nie so polities gelaai soos hier nie.) Ten spyte daarvan dat daar duidelike bewyse is van die negatiewe konsekwensies van opleiding deur medium van Engels, Frans en Portugees as tweede tale in Afrika, het die gebruik van moedertaalonderrig afgeneem in die De mokratiese Republiek van die Kongo, Ghana, Suid-Afrika en Zambië. In Burkina Faso en Guinee fluktueer die gebruik daarvan terwyl die enigste lande waarin dit toegeneem het Malawi en Eritrea is, volgens Ayo Bamgbose van Nigerië.

Waarom is dit só, is gevra, en as redes is aangevoer: dat die nuwe elites van Afrika dikwels slegs eie (ekonomiese, politieke en maatskaplike) belange dien en nie dié van die gemeenskappe wat hul veronderstel is om te dien nie (d.w.s. dat ‘n vorm van elitesluiting in werking is); dat gemeenskappe in Afrika ‘n lae sin van eie-waarde het en, omgekeerd, Engels, Frans en Portugees, die ETWK (Europese Tale van Wyer Kommunikasie) oormatig hoog ag; dat ouers in die algemeen oningelig is omtrent die rol van die onderrigmedium in die opvoedkundige ontwikkeling van hul kinders; dat gevrees word dat die gebruik van moedertale verdeeldheid en etniese konflik kan aanwakker; dat die mense van Afrika té geneig is om besluitneming en leiding oor te laat aan hul politieke leiers en nie self effektief deelneem aan besluitnemingsprosesse nie (bv. as lede van beheerrade van skole); dat die gehalte van opleiding in skole waar moedertale wel gebruik word, laag is; dat onderwysers swak opgelei en onge motiveerd is; dat daar in die algemeen gemeen word dat die onderwys net gerig moet wees op die voorbereiding van leerders vir werksverkryging; en dat daar in die algemeen ‘n vrees is vir die onbekende gevolge wat veranderinge mag hê. (Hoewel nie bespreek by die kongres nie, sou mens as ‘n verdere moontlike rede vir die nie-gebruik van moedertale as onderrigmedia kon dink aan die afwesigheid van ‘n politiek- of ‘n godsdiensgedrewe, taalgerigte beweging in Afrikagemeenskappe, soos wat die geval was met Afrikaans.)

Op die vraag wat gedoen moet word om die situasie om te keer, het die kongres gesê:

  • Daar moet grootskaalse veldtogte op die been gebring word om al die betrokke belangegroepe (beleidmakers, gemeenskapsleiers, onderwysowerhede, onderwysers, ouergemeenskappe, werkgewers) in te lig oor die nadele van opleiding in ‘n taal wat leerders nie goed genoeg ken nie, asook oor die voordele van moedertaalonderrig.
  • Navorsingsbevindinge (soos in Madagaskar, Malawi/Zambië, Niger, Nigerië, Peru en die VSA) oor die verband tussen onderrigmedium en leerders se opvoedkundige ontwikkeling moet bekend gemaak word. (‘n Duitse groep het byvoorbeeld die impak van moedertaal, maatskaplike agtergrond en geslag op lees- en wiskundige vaardighede ontleed en bevind dat slegs die moedertaal statisties positief korreleer met die ontwikkeling van lees- en wiskundige vaardighede.)
  • Negatiewe houdings teenoor die Afrikatale moet teengewerk word, die verbintenis van hierdie tale met ‘n agterstandsideologie moet verbreek word, en die koppeling van Engels, Frans en Portugees met intelligensie en sukses moet verbreek word. Daar moet ook aangetoon word dat die Afrikatale, soos alle tale, gepaste instrumente kan wees vir opleiding op alle vlakke en dat hulle ook doeltreffend gebruik kan word in ‘n vertegnologiseerde wêreld.
  • Die vrees vir verdeeldheid en etnolinguistiese konflik moet besweer word, en daar moet duidelik en oortuigend aangetoon word dat nasionale integrasie kan plaasvind binne die konteks van meertaligheid.
  • ‘n Taak van onmiddellike belang is dat opvoedkundiges en opvoedkundige linguiste dadelik moet begin met die ontwikkeling van aksieplanne vir die praktiese implementering van meertalige onderwys, ook in kontekste waar die meertalige karakter van gemeenskappe kompleks is (soos in Gautengse skole), en daar moet duidelik aangetoon word hoe meertalige onderwys in die praktyk geïmplementeer kan word en dat dit bekostigbaar is. Saam hiermee moet opleidingsmateriale ontwikkel word en onderwysers opgelei word om meertalige situasies te hanteer en onderrig in die Afrikatale te gee.

‘n Algemene frustrasie onder sosiolinguiste en opvoedkundige linguiste by kongresse oor taalonderrigkwessies is dat alle deelnemers hartlik met mekaar saamstem oor die noodsaaklikheid van meertalige onderwys, maar dat niemand anders hoor wat hulle sê nie. ‘n Belangrike kwessie vir die ADALEST-kongres was dus die saak van bemarking. Ekkehard Wolff van Leipzig het in hierdie verband gewys op die plek van “maatskaplike bemarking”: die beplanning, organisering, implementering en kontrole van bemarkingstrategieë en -aktiwiteite wat regstreeks gerig is op die oplos van maatskaplike probleme. Om meertalige onderwys professioneel te bemark, moet gebruik gemaak word van doeltreffende strategieë en aktiwiteite en moet daar presiese duidelikheid bestaan oor: die “produk” wat bemark moet word (meertalige onderwys, maar presies wat moet daaronder verstaan word?), die presiese behoeftes van die “mark” van meertalige onderwys (leerders, werkgewers, die breë gemeenskap), die aard van die gemeenskap waarbinne die bemarkingsproses gehanteer moet word (kennis, houdings, ekonomiese en politieke kragte wat werksaam is), die boodskap wat jy wil oordra (die doel van meertalige onderwys: ar moedeverligting, gelykwaardigheid, die erkenning van menseregte, persoonlike en maatskaplike ontwikkeling; die voordele daarvan en die nadele van opleiding in ‘n ETWK; die wyse waarop dit bestuur moet word; die kostes daaraan verbonde; ensovoorts), die presiese doelgroep van die bemarkingstrategie: beleidmakers en –implementeerders, gemeenskapsleiers, onderwysowerhede, onderwysers, ouergemeenskappe, en die beste kommunikasiekanaal en kommunikasiewyse waardeur die boodskap oorgedra moet word (deur raadpleging en onderlinge deelname, eerder as ‘n bo-na-onder-proses).

In die lig daarvan dat ervarings daarop dui dat staatsdepartemente dikwels nie aan voorstelle aandag gee wat verskil van besluite wat hulle reeds geneem het nie of wat vir hulle administratief moeilik lyk, het die kongres ook die moontlike rol van aktivistiese drukgroepe, soos in die geval van MIV/VIGS in Suid-Afrika, bespreek, asook pogings om die samewerking van vakbonde te verkry.

Die ADALEST-byeenkoms is natuurlik nie die eerste kongres waarop moedertaalonderrig en meertalige onderwys in Afrika gedebatteer is nie. Afgesien van die Britse regering se “Education Policy in British Tropical Africa” van 1925, wat die Afrikatale beskryf het as van primêre belang in die onderwys van die kolonies, ‘n konferensie in 1927 oor die “Place of the vernacular in Native education”, en ‘n verklaring van die uitvoerende komitee van die “International African Institute” in Rome in 1930 ter ondersteuning van die gebruik van Afrikatale in die onderwys, was daar onlangs ook nog die “P an-African Seminar on the Problems and Prospects of the Use of African National Languages in Education” in Accra, Ghana in 1996, die “Intergovernmental Conference on Language Policies in Africa” in Harare in 1997, die “Programme of Action of the Decade of Education”, Harare, 1999, die “Asmara Declaration on African Languages and Literatures”, 2000, en die twee kongresse wat ADALEST III voorafgegaan het – die eerste in Kisumu , Kenia, 2000 en die tweede op Hammanskraal buite Pretoria, in 2002.

Sterk standpunte is tydens al hierdie byeenkomste gestel, soos dié in Accra, Ghana, 1996, wat klem gelê het op “the universal principle that the learner learns best in his mother tongue or most familiar language, the dignity and worth of each and every one of our mother tongue languages, and their complete inevitability as instruments of African education, culture and personality development, and that full literacy in these national languages is a human right to be attained within a multilingual educational system appropriate to the socio-economic and socio-linguistic situation of a country”. ‘n Jaar later verklaar ‘n interregeringskonferensie van ministers oor taalbeleid in Afrika, wat georganiseer is deur UNESCO met die samewerking van die Organisasie van Afrika-Eenheid, dat hulle Afrika se etnolinguistiese pluralisme erken en wil bydra tot die opbou van ‘n de mokratiese Afrika wat vreedsame naasbestaan wil bevorder in ‘n gemeenskap waarin pluralisme nie die vervanging van een taal of identiteit deur ‘n ander beteken nie, maar eerder gerig is op samewerking en ‘n sin vir ‘n gesamentlike lotsbestemming. En die Asmara-kongres van 2000 verklaar dat “All African children have the unalienable (sic) right to attend school and learn in their mother tongues. Every effort should be made to develop African languages at all levels of education. The effective and rapid development of science and technology in Africa depends on the use of African languages, and modern technology must be used for the development of African languages.”

Al hierdie oortuigdheid en vasberadenheid het tot dusver egter geen enkele verskil gemaak nie – veral nie in Suid-Afrika nie.

In die lig van Suid-Afrika se toenemende wegbeweeg van die plaaslike Afrikatale, mag nouer skakeling en meer regstreekse samewerking met verenigings soos ADALEST en Afrikalande soos Malawi (met hul Primary Curriculum and Assessment Reform-beleid), wat nie so totaal onder die ban van Engels verkeer nie en wat sterk gerig is op die verwerkliking van moedertaalonderrig, dalk voordelig wees. Dalk moet Suid-Afrika Afrika se hulp inroep.

Of die pogings van ADALEST òf die wat ons in hierdie land self bedink, uiteindelik enige waarde vir die mense van Suid-Afrika sal hê, sal, uiteraard, net van ons afhang.

Naskrif: Meer inligting oor ADALEST (grondwet, lidmaatskapvorm, kongresverklaring, konferensievoordragte) kan verkry word van sy tuisblad: www.adalest.com


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=62
Artikel nagegaan:
    -