blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n Onbekende volk: Wit Engelssprekende Suid-Afrikaners 2006-12-11
John Lambert

*Professor in Geskiedenis, Unisa. Hierdie artikel is ’n verkorte weergawe van Lambert se onlangse intreerede.

 

Hoe het ’n wit Engelssprekende Suid-Afrikaanse identiteit oor ’n tydperk van 200 jaar in Suid-Afrika ontvou? Deur na die Britse setlaars en hulle afstammelinge te kyk wil ek graag probeer verduidelik hoekom hulle ’n identiteit ontwikkel het wat sowel Britse as Suid-Afrikaanse kenmerke omvat en hoe hierdie tweeledige identiteit onder druk gekom en gedisintegreer het gedurende die tweede helfte van die 20ste eeu.

Die rekonstruksie van die wit Engelssprekende identiteit kom voor die probleem te staan dat dit ’n identiteit is wat ’n mens ontwyk, wat elke aspek van Suid-Afrika se geskiedenis raak maar wat tog, vreemd genoeg, uit sy geskiedskrywing afwesig is – dit ondanks die feit dat Britse setlaars die politieke lewe van die grootste deel van die 19de eeu in Suid-Afrika oorheers het, kultureel en ekonomies tot diep in die 20ste eeu dominant was en onder meer die Engelse taal aan Suid-Afrika gegee het.

Die wit Engelssprekende identiteit is tot vroeg in die 1990’s afgeskeep, maar sedertdien het ’n klein groepie geleerdes in Suid-Afrika en Brittanje aspekte van die Engelssprekende ervaring ondersoek. Tot op datum is my werk egter die enigste biografiese studie van dié groep.

Wit Engelssprekende Suid-Afrikaners is geneig om hulle identiteit eerder ietwat te onderspeel as om dit te hersien, en toon min belangstelling in hulle verlede. Dit is nie net dat hulle herinneringe aan hulle verlede gebrekkig en onvolledig is nie – dié eienskap deel hulle met baie ander volke in Suid-Afrika en in die buiteland – maar ook dat baie ly aan wat Benedict Anderson “kollektiewe geheueverlies” (1) noem, en dit het die ontwikkeling van hulle identiteit sedert 1961 erg belemmer. Ek bespreek dié kwessie later.

In my navorsing het ek nie net op skriftelike bronne soos Suid-Afrikaanse en Britse argiefrekords, boeke, romans, briewe, koerante, gedigte en die rekords van skole, kerke en verenigings staatgemaak nie, maar ook inligting verkry van Suid-Afrikaners van Britse afkoms wat ouer as 55 is. Hieruit het ek bewus geword van die groot ooreenkomste tussen die gesindhede van hierdie geslag en dié van hulle tydgenote in Brittanje, Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Tot diep in die 20ste eeu was die primêre identiteit van die inwoners van die Dominiums Brits, al het hulle hulle miskien plaaslik geïdentifiseer met die lande waarin hulle hulle gevestig het (2). In vele opsigte is die bestudering van die Engelssprekende identiteit in Suid-Afrika deel van die studie van ’n breër Britse diaspora of van Britse wêreldgeskiedskrywing, eerder as dié van slegs Suid-Afrika, en studies oor Britsheid in hierdie Britse wêreld werp lig op die Engelssprekende Suid-Afrikaanse verlede.

 

Wie is hulle?

 

Hier moet ons ons seker afvra van wie presies ons praat. Is hulle Afrikane? Suid-Afrikaners? Engelse Suid-Afrikaners? Britse Suid-Afrikaners? Anglo-Afrikane? Afrikanders? Of is hulle, om ’n akroniem te skep soos wat nou hoogmode is, WESSA’s (wit Engelssprekende Suid-Afrikaners)? Om hierop te kan antwoord moet ’n mens die manier ondersoek waarop die groep sy eie identiteit en sy posisie in Suid-Afrika voor 1961 sien, en moet jy die redes vir daardie siening of persepsies verstaan.

In die 19de eeu het feitlik almal hulself as Brits bestempel (of as Engels, Skots, Iers of Wallies); die beskrywing “Engelssprekende Suid-Afrikaners” het eers in die vroeë 20ste eeu algemeen in gebruik begin kom (3). Hierdie identifisering met Brittanje het gelei tot die Afrikaner-beskuldiging dat hulle “rooinekke” was, Suid-Afrikaners wie se trou aan die Empire hulle daarvan weerhou het om met Suid-Afrika te identifiseer. Afrikaners het oor die algemeen van hulle gepraat as “die Britte” of “die Engelse” eerder as van “Engelssprekende Suid-Afrikaners”.

Ondanks hulle gemeenskaplike Britse herkoms het daar nie ’n enkele Engelse identiteit in Suid-Afrika ontstaan nie, en behalwe in tye soos die twee wêreldoorloë of wanneer ’n instelling wat die hele groep gemeen gehad het, soos die Union Jack in die 1920’s of die monargie in 1960, onder skoot gekom het, het hulle selde onder mekaar saamgestem oor beleid of optrede. Daar steek heelwat waarheid in Andrew Duminy se stelling dat die “mees treffende kenmerk van die Suid-Afrikaanse Engelssprekende gemeenskap sy oneinigheid was” (4). Dit was deels die gevolg van hulle Britse herkoms. Hulle het gekom uit ’n lang tradisie van Protestantse en regsindividualisme, ’n tradisie waarin die individu bo die staat gestel is en wat geneig was om groepsidentiteit ’n bietjie te onderspeel.

En soos Alan Paton boonop gesê het, is die Engelse in Suid-Afrika nooit gekonfronteer met omstandighede wat vir hulle ’n gemeenskaplike doel gestel het nie: “[Ons] het nie die bande wat soveel Afrikaners saambind nie; ons het nooit ... getrek nie, ons het nooit ’n nuwe taal ontwikkel nie, ons is nooit in ’n oorlog verslaan nie, ons moes onsself nooit uit die stof optel nie” (5). In teenstelling met Afrikaners en Afrikane het hulle nooit ’n politieke identiteit gevestig waaragter hulle kon mobiliseer nie.

Ondanks hierdie verskille, asook dié meegebring deur onder meer geslag en klas, is dit tog moontlik om ’n hegemoniese Engelse identiteit in Suid-Afrika te onderskei en om eienskappe te ontrafel wat die meeste Engelssprekende Suid-Afrikaners gemeen gehad het.

 

Britsheid

 

Engelse Suid-Afrikaners het na Suid-Afrika gekom met persoonlike herinneringe aan Brittanje wat met verloop van tyd ’n kollektiewe herinnering geword het en versterk is deur ’n gemeenskaplike begeerte om hulle te omring met die argitektuur, meubels, prente, boeke en blomme van “home”. Hulle het met hulle saamgebring wat Etienne van Heerden goedig in sy roman Die Stoetmeester noem “’n genetiese verlange na groen heinings, affodilvelde en kronkelende lanings deur die landskap van Noord-Engeland. ’n Verlange na Big Ears en Noddy. Wordsworth. Na ’n Engelse nooi. Na marmelade.” (6).

Hulle het ’n vreemde omgewing omvorm en geangliseer en hulle lewenswyse, munisipale en parlementêre stelsel, sportsoorte en so meer op die land afgedruk. Hulle het biblioteke, museums, teaters en literêre en ander verenigings gestig, en daardeur ’n Britse, wesenlik middelklaskultuur bewaar wat, hoewel dit aanvanklik geneig was om dele van die Engelse werkersklas te marginaliseer, dié groep teen 1930 grotendeels geabsorbeer het.

Hierdie hegemoniese identiteit is gevestig in ’n tyd toe Brittanje die wêreld se oorheersende nywerheids-, vloot- en handelsmoondheid was. Talle Engelse Suid-Afrikaners, soos die inwoners van die ander Dominiums, was besonder trots daarop om Brits te wees en op die Britse prestasies (7).

Hierdie houdings is tot 1961 versterk deur die alomteenwoordige Britse invloed op Suid-Afrika. Baie van die aktiefste Engelse politieke en ekonomiese leiers tot omstreeks die middel van die 20ste eeu was gebore Britte. Voorts was hulle op Brittanje aangewese vir hulle kerk- en onderwysleiers, en daardeur het hulle Britse kulturele waardes gekoester in die kerke waartoe hulle behoort het en die skole waarheen hulle hul kinders gestuur het. Die media het ’n besonder belangrike rol gespeel. Koerante is geskoei op die lees van hulle Britse eweknieë en tot 1948 het die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie daaglikse BBC-nuusbulletins en Britse programme na Suid-Afrikaanse huise herlei.

Engelse Suid-Afrikaners se kulturele identifisering met Brittanje is weerspieël in hulle houding teenoor die monargie. Hulle lojaliteit was persoonlik teenoor hulle vors, en die meeste het hulle posisie in Suid-Afrika beskou as onlosmaaklik verbonde aan die soewereiniteit van die Kroon in Suid-Afrika, ’n soewereiniteit wat deur die Union Jack versimboliseer is (8).

Die Engelse taal het egter meer as enige ander faktor die Engelse identiteit bepaal. Hulle gereelde blootstelling aan ikoniese Engelse tekste soos die King James-Bybel en die werke van Shakespeare, en aan die klassieke werke en gewilde boeke vir kinders en volwassenes, het baie bygedra om hulle sin van wie hulle is, te versterk. Indien met kultuur ’n “stelsel van oortuigings, houdings en denkwyses” (9) geïmpliseer word, het die Engelse kultuur in Suid-Afrika ’n Britse kultuur gebly, wat dit moeilik gemaak het om as ’n lewenskragtige Suid-Afrikaanse kultuur te ontwikkel.

In teenstelling met Kanada en Australië het die Angel-Saksers destyds die Kelte in getalle ver oortref. Min Walliesers het na Suid-Afrika geëmigreer, en die Iere, ook maar net klein getalle, was geneig om Suid-Afrika se bande met die Empire te ondersteun. Die Britse geskiedkundige Linda Colley het aangetoon dat die Empire ’n belangrike rol daarin vervul het om die Engelse en die Skotte te dwing om te fokus op wat hulle gemeen gehad het (10) en Skotse Suid-Afrikaners, behalwe dié wat gedurende die 19de eeu Afrikaners geword het, was geneig om hulle Skotsheid stewig binne die breër Britse konteks te plaas, selfs al het hulle ’n duidelik onderskeibare kulturele identiteit behou.

      Ten slotte identifiseer Linda Colley ook Protestantisme as ’n kernwaarde van Britsheid. Die Britse geskiedkundige GR Searle voer aan dat “religie waarskynlik die belangrikste kulturele bepaler van sosiale identiteit gedurende hierdie periode gevorm het” (11). Engelssprekende Katolieke en Jode het ’n klein minderheid uitgemaak en die meeste Engelse was Anglikane, Presbiteriane of nonkonformiste en hulle kerke het die belangrikheid van diens aan die Kroon gepredik, en aan ’n Empire wat biskop Furse van Pretoria beskryf het as “hierdie groot konfederasie van vryevolke waarvan ons hier in Suid-Afrika, dank God, ’n integrale deel is” (12). Organisasies soos die Padvinders en Padvindsters, oorlogsgedenktekens en regimentskleure, en die noue bande tussen die kerke en die Britse burgerlike kultuur in Suid-Afrika het alles die godsdiens van Protestantse Engelse Suid-Afrikaners aan imperialisme verbind.

Hoewel Britsheid selde bevraagteken is, is dit ook selde bespreek of verwoord. Engelse Suid-Afrikaners, soos Britte elders, sou dit moeilik gevind het om presies te definieer wat dit beteken. Wesenlik was dit ’n politieke en imperiale ideologie wat gewentel het om lojaliteit teenoor die Kroon en die Empire, en die meeste Engelse manne en vroue het dit as sodanig aanvaar.

Tog was daar ook ’n anti-imperialistiese en humanitêre Britsheid wat aangehang is deur mense soos biskop Colenso, Olive Schreiner en John X. Merriman, wat die vernietiging wat Britse imperialisme in Suid-Afrika teweeggebring het, betreur het en wie se Britsheid berus het op wat hulle gemeen het die Britse tradisie van regverdigheid en geregtigheid is. Daar was ook die antikapitalistiese Britsheid van die werkersklasondersteuners van die Arbeidersparty, wat uitgesproke geraak het gedurende die twee wêreldoorloë en gedurende die vlagkrisis van die laat 1920’s, toe hulle hulle om die Union Jack geskaar het ondanks hulle verbondenheid aan die Rooi Vlag.

“Home”, soos “England” en uitdrukkings soos “King and Empire” of “King and country” is dikwels metafories gebruik om ’n sin van identiteit te omvat wat die onderskeid tussen Suid-Afrika en Brittanje laat vervaag het en die Engelse in staat gestel het om te wissel tussen skynbaar teenstrydige definisies van hulle nasionale identiteit. Dit was algemeen deur die hele Empire. Vir byvoorbeeld die 19de-eeuse Nieu-Seelandse eerste minister Alfred Domett wás Nieu-Seeland Engeland. En gedurende die Eerste Wêreldoorlog het sir Percy Fitzpatrick sy ongeduld laat blyk met wat hy beskou het as haarklowery oor die gebruik van “home” en “England”. Vir hom kon hulle volledig as sinonieme gebruik word en dit het hom nie gepla om die grafte van Suid-Afrikaanse soldate te beskryf, in Rupert Brooke se beroemde frase, as “forever England” nie. Deur daarop aan te dring dat ’n Engelse man of vrou slegs ’n ware Suid-Afrikaner kan wees deur ’n suiwer Suid-Afrikaanse nasionalisme aan te hang, het Afrikaners laat blyk dat hulle nie begryp het dat patriotisme vir die Engelse belangriker was as nasionalisme en dat dit ’n tweeledige lojaliteit teenoor sowel Brittanje as Suid-Afrika behels het nie.

Volgens Bill Nasson “was die ‘ras-’ en nasionale identiteit van Engelssprekende wittes grootliks opgesluit in ’n aflandige rassebunker” (15), ’n bunker waarvan mense wat nie die Britse waardes onderskryf het nie, uitgesluit was. Searle voer aan dat die lakmoestoets (vir Britsheid in die groter Britse wêreld) nóg etnisiteit, nóg godsdiens was, maar lojaliteit (16). Vir die meeste Engelse Suid-Afrikaners was Britsheid ’n eksklusiewe identiteit wat alle “lojale” geangliseerde Afrikaners en Jode kon insluit, maar alle "dislojale" Afrikaners en alle swartmense, hetsy lojaal of nie, uitgesluit het. Hoewel hierdie uitsluiting verseker het dat Britsheid op die duur geen toekoms in Suid-Afrika sou hê nie, kan dit toegeskryf word aan die Engelse wete dat, ondanks Suid-Afrika se posisie in die Empire, hulle ’n kwesbare minderheid was in ’n land wat in getalle deur Afrikane en, tussen 1910 en 1994, polities deur Afrikaners oorheers is.

Soos Britte elders in die Empire was Engelse Suid-Afrikaners ook besonder vatbaar vir Sosiaal-Darwinistiese idees van Britse rassesuperioriteit. Deur die hele Empire was Britsheid wesenlik ’n rassekategorie wat op blankheid gedui het. Hoewel Engelse Suid-Afrikaners uitnemende filantrope soos Merriman, die Schreiners, Alan Paton en die leiers van die Black Sash ingesluit het, het die meeste Engelse Suid-Afrikaners gemeen dat die wit ras oor die swarte moes regeer en was hulle bereid om Afrikane, indien nodig met geweld, van hulle grond te ontneem en hulle te dwing om arbeiders te word. ’n Mens hoef beswaarlik verder te soek as die wreedheid waarmee die koloniale regimente die Bambatha-rebellie van 1906 in Natal onderdruk het. In die proses het die Engelse ’n erfenis van woede en bitterheid nagelaat wat deur die 20ste eeu by hulle sou spook. In Natal was hulle houding teenoor die Indiërs skokkend rassisties. Daar was ook wydverspreide anti-Semitisme deur die hele land, veral nadat groot getalle Oos-Europese Jode in Suid-Afrika begin aankom het.

      Vervolgens kyk ons na hulle identifisering met Suid-Afrika.

 

Suid-Afrikanisme

 

Ondanks die eksklusiwiteit daarvan het Britsheid nie Engelssprekende Suid-Afrikaners daarvan weerhou om ’n sterk sin van verbondenheid met die deel van Suid-Afrika wat hulle tuiste was, te ontwikkel nie. Reeds in 1824 het John Fairbairn in die South African Commercial Advertiser geskryf “as ons Afrika ons tuiste gemaak het … is ons almal Afrikane” (17) en dit is in hierdie opsig opmerklik hoe dikwels die Engelse Afrika- en Afrikaanse plekname behou het. Bewys van hulle identifisering met Suid-Afrika kan in die geskrifte van talle 19de-eeuse setlaars aangetref word, insluitende Olive Schreiner, wat in 1899 geskryf het “baie kosbaarder as roem of sukses is een handjievol van ons eie rooi Suid-Afrikaanse grond vir ons” (18).

As ’n politieke ideologie het Suid-Afrikanisme sy wortels gehad in die sterk oortuiging van die Engelse aan die Kaap en in Natal dat geen Britse regering in hulle huishoudelike koloniale aangeleenthede moet inmeng nie. As sodanig was dit deel van die breër imperiale beweging wat al as koloniale nasionalisme beskryf is, ’n beweging wat sy oorsprong in Kanada en Australië gehad het, waar hulle Dominium-outonomie binne die Empire probeer verwerf het.

Soos Britsheid was Suid-Afrikanisme meer as ’n politieke ideologie – dit was net soveel deel van die lewens van talle Engelse Suid-Afrikaners as wat Britsheid was. Maar Engelse voorstanders van Suid-Afrikanisme was nie bereid om ’n onafhanklike Suid-Afrika buite die Empire te aanvaar nie, en die verweefdheid van hulle Britse en Suid-Afrikaanse identiteite was so sterk dat ek reeds in gepubliseerde werke verkies het om van Dominium-Suid-Afrikanisme te praat.

Suid-Afrikanisme is aangemoedig deur sosiale kontak tussen Engelse en Afrikaners, en veral in sport, wat baie gedoen het om wit Suid-Afrikaners in staat te stel om ’n nasionale identiteit te bou, ’n identiteit waarin hulle saam as Springbokke kon meeding teen ander lande. Suid-Afrika se heroïese weerstand by Delville-bos gedurende die Eerste Wêreldoorlog en veral die ervaring van sy aan sy veg met Afrikaners gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ook Suid-Afrikanistiese sentimente aangemoedig. En ironies genoeg het besoeke aan Brittanje – die geïdealiseerde “home” – talle dikwels meer bewus gemaak van hulle Suid-Afrikanisme. Teen die laat 1940’s het bitter min Engelse nog van Engeland as “home” gepraat.

Tot die 1940’s het min Engelse Suid-Afrikaners Britsheid beleef as onversoenbaar met Suid-Afrikanisme. Die Tweede Wêreldoorlog het Engelse Suid-Afrikaners in staat gestel om hulle op sowel hulle Britse as hulle Suid-Afrikanistiese sentimente te roem. Dit was in vele opsigte hulle grootste oomblik, en ná die euforie van die oorwinning in 1945 en die oorvloedige lojalistiese emosie van die koninklike besoek in 1947 was min sielkundig gereed om die Nasionaliste se oorwinning in die verkiesing van 1948 te hanteer. Die nederlaag van die Verenigde Party met sy verbintenis tot die Kroon, die Statebond en Suid-Afrikanisme het die wêreld van die Engelse Suid-Afrikaners ingrypend verander en meegebring dat hulle tweeledige identiteit aan groot spanninge onderwerp is.

Teen dié tyd het hulle reeds meer as ’n miljoen getel, en tog was hulle die enigste beduidende groep Engelssprekende mense wat nie hulself geregeer het nie. En net so belangrik was die feit dat hulle ná 1948 nie meer enige rol in die regering van Suid-Afrika vervul het nie. Hoewel talle Engelse manne en vroue in die akademie, kerke, die pers en vroue- en oudsoldate-organisasies die regering energiek geopponeer het, het baie Engelssprekendes in die 1950’s in hulleself begin keer en ’n fatalistiese apatie het ontstaan, wat slegs in 1960 in beroering gekom het toe daar ’n laaste, verbete veldtog ter wille van die monargie en die Statebond gevoer is voor die republikeinse referendum.

Die Nasionaliste se doelgerigte aanvalle sedert 1948 op alles wat Brits in Suid-Afrika was, hulle inperking van vryheid van spraak en die media, en hulle beheer oor Engelse kinders deur die aanstelling in Engelsmediumskole van Afrikaanssprekende en inskiklike Engelssprekende onderwysers het geslaag in die doel om Engelse vertroue in hulle Britse tradisies en waardes te ondergrawe.

 

Toenemende onsekerheid

 

In die nuwe bedeling in Suid-Afrika het baie Engelse Suid-Afrikaners onseker gevoel oor hoe om die toekoms te hanteer. Ná 1961 was nóg die Verenigde Party, nóg die nuwe Progressiewe Party skynbaar seker oor wat die rol van die Engelse Suid-Afrikaners moes wees, en dié onsekerheid is in die pers weerspieël. Dit hoef nie noodwendig so te gewees het nie, maar die koms van die Republiek het gepaardgegaan met ’n veranderde gesindheid teenoor Brittanje. Hierdie verandering het voortgespruit deels uit die snelle Amerikaanse kulturele kolonisering van die Engelssprekende wêreld van die 1950’s af, maar ook uit die probleme wat Engelse Suid-Afrikaners ondervind het om te identifiseer met die multi-etniese Brittanje van ná die Empire.

Teen die vroeë 1950’s het hulle onwillig aanvaar dat Brittanje se veranderde posisie in die wêreld meegebring het dat hulle nie meer na hom kon opsien vir leiding of ondersteuning nie. Dié siening dat opeenvolgende Britse regerings hulle koloniale vriende en familie in Afrika verloën het, is versterk deur Rhodesië se Eensydige Onafhanklikheidsverklaring onder leiding van Ian Smith in 1965.

Daar was gevolglik geen aansporing vir Engelse Suid-Afrikaners om steeds by Brittanje om leiding aan te klop nie. Terselfdertyd is hulle toenemend verbitter deur, en het hulle vervreem geraak van, ’n Statebond wat deur swart lede oorheers is en waarin selfs die regerings van Brittanje en die voormalige Dominiums Suid-Afrika verstoot het, Suid-Afrikaners van internasionale sport- en kultuurgebeurtenisse uitgesluit het en met kulverwery die land se bydrae tot byvoorbeeld die oorwinnings in twee wêreldoorloë uit die geskiedenis laat verdwyn het. Die gevolg was dat toe postapartheid-Suid-Afrika in 1994 weer tot die Statebond toegetree het, die meeste onverskillig daarteenoor gestaan het.

Die feit dat die Engelse hulle taalregte behou het en dat hulle lewenswyse nie verander het nie, was ’n sterk argument ten gunste van die aanvaarding van die republikeinse bestel ná 1961. Die grootste aansporing was egter dat, soos die Australiese geskiedkundige Keith Hancock in 1966 gesê het, vir die meeste van hulle kleur belangriker was as kultuur (19). Hulle het miskien gegrief gevoel oor die feit dat hulle van alle amptelike magsposisies uitgesluit was en oor die Afrikanerwaardes en norme wat op hulle afgedwing is, maar weens die opkoms van Afrika-nasionalisme sowel in Suid-Afrika as in die res van die vasteland het die meeste gekies wat hulle beskou het as sekuriteit en die behoud van hulle bevoorregte lewenswyse. Hulle was dus bereid om, indien nodig, die wapen op te neem om hulle lewenswyse te verdedig. As deel van ’n beleërde en verstote wit gemeenskap het die meeste Engelse Suid-Afrikaners ’n implisiet rassistiese konsensus met Afrikaner-nasionalisme bereik. Daardeur het hulle berus – wel onwillig en dikwels sinies – in die verlies van burgerlike vryhede en van Britse tradisies, soos vryheid van spraak, geregtigheid en demokrasie, wat hulle identiteit onderlê het.

 

Ná 1994

 

Om ’n minderheid te wees beteken dat, in teenstelling met die voormalige Dominiums, die Engelse nie in die posisie is om verandering teweeg te bring of om ’n nuwe identiteit vir die land te artikuleer nie. In die afgelope paar dekades het die bereidwilligheid van die Engelse om hulle plek in Suid-Afrika te aanvaar, soos blyk uit hulle aanvaarding van Suid-Afrikanisme, hulle skynbaar verlaat en daar is oënskynlik min Engelse wat hulle identiteit vir hulleself wil verwoord, wat hulle verlede wil onthou of wat ’n denkbeeld het van hulle eie óf Suid-Afrika se toekoms. Ondanks die algemene euforie wat met die geboorte van die nuwe Suid-Afrika in 1994 gepaardgegaan het en groter wedersydse begrip en vriendskap tussen wit en swart wat uit veral toenemende sosiale integrasie op skool en in die werkplek voortspruit, is sowel konserwatiewe as liberale Engelse Suid-Afrikaners skynbaar lugtig om die nuwe bedeling te aanvaar en word hulle deur Afrikane daarvan beskuldig dat hulle minder bereid is om aan te pas as Afrikaners, dat hulle on-Suid-Afrikaans is (20). Talle, vervreem deur misdaad, korrupsie en regstellende aksie, en deur wat met hulle vriende en familie in Zimbabwe gebeur het, het toegegee aan ’n siniese Afro-pessimisme. Weereens in die woorde van Etienne van Heerden het hulle geswig voor “’n vorm van eensaamheid, depressie; ’n onvermoë om ’n eie identiteit hier in Afrika te vind” (21).

Talle het in ’n soort kulturele limbo beland waaruit dit onmoontlik lyk om te ontsnap (22) en, soos Allister Sparks dit stel, hulle teruggetrek in ’n “privaat wêreld van besigheid en huis en songebaaide ontspanning” (23). ’n Groeiende aantal draai hulle rug op die tradisionele Protestantse kerke wat die hegemoniese Britse identiteit onderlê het, en selfs die Engelse taal kan nie meer beskou word as ’n definiërende element van hulle identiteit nie, want dit is tans die huistaal van groot getalle mense wat nie van Britse afkoms is nie. En tog, ofskoon hulle nie meer Brits is nie, bly hulle lede van die breër Engelssprekende gemeenskap waarheen hulle seuns en dogters in hulle duisende emigreer. Dit is dus beswaarlik verrassend dat min van hulle ’n visie van Suid-Afrika se toekoms of van hulle rol daarin het.

Indien hulle egter ’n bydrae tot die nuwe Suid-Afrika wil lewer, is dit noodsaaklik dat hulle, in plaas daarvan dat hulle ’n onbekende volk bly, hulle herkoms herontdek en hulle as ’n positiewe krag herposisioneer. Hopelik sal ’n biografiese studie soos dié ’n bietjie help om weer aan wit Engelssprekende Suid-Afrikaners ’n begrip terug te gee van wie hulle is en waar hulle vandaan kom, en hopelik sal dit andere in die land help om hulle beter te verstaan.

 

 

__________

(1) B Anderson, Imagined communities: reflections on the origin and spread of nationalism; 2nd ed. London, Verso, 1991, hoofstuk 11.

(2) Kyk S Ward, “The end of Empire and the fate of Britishness”, ongepubliseerde referaat, British World-konferensie, Universiteit van Calgary, 2003, p 6.

(3) Pretoria News, 17 Februarie 1904, 17 April 1905.

(4) AH Duminy, “The English-speaking dimension in South African politics”, referaat gelewer by die tweejaarlikse konferensie van die Suid-Afrikaanse Historiese Vereniging, Durban-Westville, 1981, p 3.

(5) Kyk A Paton, Save the beloved country, edited by H. Strydom and D. Jones. Melville, Hans Strydom Publishers, 1987, p 120.

(6) E van Heerden, Die Stoetmeester. Kaapstad, Tafelberg-Uitgewers, 1993, p. 45.

(7) Dit is deur talle van my informante genoem; kyk ook A Paton, Towards the mountain: an autobiography. Harmondsworth, Penguin, 1980, pp 56, 61.

(8) Kyk my “South African British? Or Dominion South Africans? The evolution of an identity in the 1910s and 1920s”, South African Historical Journal, 43, November 2000, 197-222.

(9) RF Foster, The Irish Story: Telling Tales and Making it up in Ireland. London, Penguin, 2001, p 38.

(10) L Colley, Britons forging the nation, 1707-1837. New Haven and London, Yale University Press, 1992.

(11) GR Searle, A new England? Peace and war, 1886-1918. Oxford, Clarendon Press, 2004, p 100.

(12) Pretoria News, 21 September 1914, “The Bishop’s sermon”.

(15) B Nasson, “A great divide: popular responses to the Great War in South Africa”, War and Society, 12(1), May 1994, p 48.

(16) GR Searle, A new England? Peace and war, 1886-1918. Oxford, Claredon Press, 2004, p 22.

(17) South African Commercial Advertiser, 17 March 1824.

(18) O Schreiner, An English South African’s view, pp 6, 7.

(19) K Hancock, Are there South Africans? Johannesburg, SAIRR, 1966, p.17.

(20) Kyk A Sparks, Beyond the miracle: inside the new South Africa. Johannesburg and Cape Town, 2003, pp 8-9.

(21) E van Heerden, op. cit., p 115.

(22) In die middel-1970’s het slegs 46% van die Engelssprekende respondente in ’n kulturele opname hulle kultuur en uitkyk as spesifiek Suid-Afrikaans bestempel (kyk L Schlemmer, “English-speaking South Africans today: identity and integration in the broader national community”, in De Villiers, ed., English-speaking South Africa today, p 111). Dit is sorgwekkend om te sien hoeveel van my informante, al sien hulle hulself nie as Brits nie, hulle ook nie as Suid-Afrikaans beskou nie.

(23) A Sparks, The mind of South Africa. London, Heinemann, 1990, pp 46-8.


The land-call

Deur Francis Walrond

 

In the country of my fathers

There are wonder-things to praise

And the soul of crowded history

Breathes a fulness through the days.

Yet I long for trackless spaces

Where the leaping springbok roam:

For the stillness and the vastness

And the distances of home

 

I am sick for kloof and kopje,

I am wan for spruit and vlei,

And the loveliest scenes of England

Cannot charm the ache away.

O the sweet mimosa blossom

And the long mimosa thorn!

O the sounds that fill the night-time

In the land where I was born.

 

- Uit The Canterbury Book of South African Verse (1820-1925) saamgestel deur FC Slater (London: Longmans, Green 1931), p 209.



 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=787
Artikel nagegaan:
    -