blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Moeilike terugkeer van Oekraïne se Tartaarse minderheid 2006-12-11
Alexandre Billette

* Joernalis, Kiev. Uit die Frans vertaal deur Martine Steyn, [email protected]

 

“Ons wil nie gesien word as ’n minderheidsgroep op ons eie grond nie, maar as die inheemse volk van die Krim-Republiek.” Met sy feitlik onhoorbare rasperstem en permanente sigaret, herhaal Mnr. Mustafa Djemilev, die President van die Mejlis – die Tartaarse “regering” van die Krim – onvermoeid die aansprake van ’n volk wat in 1944 deur Stalin na verafgeleë Sentraal-Asië verban is.

Danksy die ontbinding van die USSR het 250 000 Tartare na die Krim teruggekeer (1). Sedertdien verteenwoordig hulle meer as 12% van die bevolking van hierdie skiereiland in die suide van die Oekraïne, waarom die Swart See kronkel. Die Krim is hoofsaaklik Russiessprekend (2), maar word in 1954 aan die Oekraïnse Sowjet Sosialistiese Republiek “geskenk” deur Nikita Khroesjtsjev, om die 300ste herdenking van die Unie van Rusland en die Oekraïne te vier. Byna 20 jaar na die terugkeer van die eerste ballinge is die situasie van die Krim-Tartare, ’n Turkssprekende en Soennitiese volk, steeds uiters onseker, terwyl die herinnering aan die verbanning soos ’n oop wond binne die bevolking agterbly.

In die Mejlis (die uitvoerende gesag) se klein blou gebou in Simferopol, die hoofstad van die Outonome Krim-Republiek (3), staan ’n groep vyftigjarige mans tou vir ’n onderhoud met die “President”, om hulle besware teenoor hom te lug. Die Krim-Tartare beskou mnr. Djemilev as ’n lewende ikoon. Hy was aanvanklik ’n medestigter van die Tartaarse Jeugunie in 1961 en is in 1991 verkies tot die bestuur van die Mejlis, nadat hy van 1970 tot 1980 die leier van die beweging ter rehabilitasie van die Tartaarse volk was en verskeie kere in die tronk en Sowjet- arbeidskampe beland het.

“Die huidige moeilikheid van die Krim-Tartare is sowel kultureel as polities,” verduidelik mnr. Djemilev. “Enersyds het ons ’n tekort aan skole. Die jonger generasies het te doen met ’n hoë vlak van identifisering met die Russe, en die Staat doen niks om die kulturele herlewing van ons volk te stimuleer nie. Andersyds is ons polities onderverteenwoordig in die amptelike owerhede en moet die Tartare uiteenlopende vorms van diskriminasie verduur, veral aangaande die grond-vraagstuk wat die hele terugkeerproses bedreig.”

Die “grondvraagstuk” is beslis ’n sensitiewe onderwerp. Met die deportasie van 1944 is meer as 80 000 wonings “herwin” en toegewys aan die Slawiese volke – Russies en Oekraïnies – van die skiereiland. Sedertdien lê daardie huise en eiendom ten grondslag van die omstrede konflik tussen die afstammelinge van die voormalige Tartaarse eienaars en die huidige eienaars.

Die maatreëls wat deur die staat geïmplementeer is, help nie om die situasie te kalmeer nie. Met die verbrokkeling van die USSR het die Oekraïne met sy nuutgevonde onafhanklikheid ’n stelsel van grondprivatisering gevestig waarvolgens die gewese kolgoswerkers een van die erwe van hierdie voormalige staatsplase kon herwin. Die Tartare was egter tydens hierdie tydperk in ballingskap en derhalwe uitgesluit van so ’n hertoewysing. In die klein ateljee van Tartaar TV word die nuusprogramme dikwels met die grondvraagstuk ingelei. Die ateljee van die kanaal – die enigste televisuele media in Tartaars – is verskuif na die agterkant van ’n binneplaas, bo in ’n verouderde gebou in ’n naamlose straat in Simferopol.

Teenswoordig handel die voorbladnuus oor ’n erf wat amptelik deur Tartare herwin is na lang regsprosedures, om maar net weer herower te word deur ’n Russiese ondernemer wat die nodige papiere het om hom te steun. “Dis altyd dieselfde ou storie,” sug Ibrahim, die tegnikus van die ateljee. “Wanneer dit gaan oor goeie, vrugbare grond of gebiede wat spekulasiemoontlikhede het, verskyn die ondernemers van nêrens met vooruitgedateerde dokumente wat hul bewering bevestig dat hulle eerste op die Tartaarse grond gevestig was.” “Ons doen gereeld verslag oor sulke onderwerpe,” voeg Vinera Abdoelajewa by, ’n jong 23-jarige joernalis. “Ons is feitlik die enigstes wat Tartaarse aangeleenthede bespreek – die ‘Slawiese’ media steur hulle nie daaraan nie. Omgekeerd, wanneer ons ander onderwerpe aanroer, voel ons ’n sekere vyandigheid aan die kant van ander joernaliste en beamptes aan, asof ons nie met enigiets buiten die Tartaarse kwessie gemoeid behoort te wees nie en veral nie aan die politieke en sosiale lewe in die Krim mag deelneem nie...”

Die middele ter beskikking van die Tartaarse televisiekanaal, wat maar ’n paar uur per week uitgesaai word, is belaglik beperk. Daarenbowe moet die Tartaarse taal bemeester word ten einde voordeel uit hierdie middele te trek, terwyl dit glad nie die geval is by die jonger generasies nie ... Om Tartaars te verstaan, moet dit aangeleer word. In die aangrensende gebied Swobada (Vryheid) buite Simferopol, is Hoërskool 82 een van die seldsame skole in die Krim waarin klasse – gedeeltelik – in hierdie taal aangebied word. Die skoolhoof, mnr. Nariman Akhmedov, wys met trots die geboue van ’n voormalige mediese veeartsenyskool wat deur die Tartaarse gemeenskap herstel is om ’n hoërskool te skep. “Daar is 628 geregistreerde leerlinge hierdie jaar; minder as ’n honderd van hulle en slegs vier van die 56 onderwysers is nie van Tartaarse oorsprong nie. Nogtans moet die klasse steeds in Russies en Oekraïnies aangebied word...”

Die onderwysers, verplig om die amptelike skoolkurrikulum te volg, maak beurte om na afloop van die gewone klasure ook klasse in die Tartaarse taal, kultuur en geskiedenis aan te bied. “Die gebreke van die amptelike skoolkurrikulum is skrikwekkend, veral in Geskiedenis: daar word geen melding gemaak van die verbanning van die Tartare nie!” verklaar die skoolhoof.

Mnr. Akhmedov, gebore in ballingskap te Samarkand, Oesbekistan, het in 1990 in die Krim aangekom met die terugkeer van die eerste groot golf ballinge. Die kwaliteit van die onderrig in Hoërskool 82 is in ’n groot mate te danke aan die moeite en energie van hierdie 41-jarige fisikus, wat die inrigting sedert Julie 2005 bestuur. Die skoolmure is versier met aanhalings van die nasionale held, Ismaïl Gasprinski, terwyl die kinders die Tartaarse volkslied (Vatan, die vaderland) in die biblioteek, waar die meeste boeke in Russies en Oekraïens is, aanhef.

Hierdie “voorbeeldige” skool is nietemin die uitsondering wat die reël bevestig: die algemene toestand van die onderrigstelsel is betreurenswaardig. Daar is net vyftien Tartaarse skole in die Krim, wat beteken dat slegs 10% van die Tartaarse kinders by een van hierdie inrigtings kan skoolgaan. Met gebrekkige middele, verouderde geboue en ’n tekort aan handboeke en personeel word hierdie skole (asook die media en menige kulturele of sosiale vereniging) almal deur die Mejlis, die Tartaarse “regering” in die Krim, onderhou. Laasgenoemde beskik nie oor die nodige middele om al hulle aktiwiteite te steun nie.

Die Mejlis is in der waarheid die uitvoerende orgaan van die Kurultaï, die Tartaarse Raadsvergadering. Die “tweede Kurultaï” (4) gestig in 1991, bestaan uit 264 afgevaardigdes wat vir vyf jaar deur die hele Tartaarse volk in die Krim verkies word en verder in meer as 300 klein streeks- en plaaslike Mejlis verdeel word. Die Kurultaï kies dan die 33 verteenwoordigers wat die Mejlis sal daarstel, wat sedert sy stigting deur mnr. Djemilev bestuur word.

Die invloed van die Kurultaï is gesaghebbend onder die volk, met die gevolg dat dié uitvoerende orgaan die enigste liggaam is wat met die Krimse en Oekraïniese owerhede onderhandel, alhoewel sy gesag nie deur Simferopol of Kiev erken word nie. “Die Mejlis is die enigste amptelike orgaan wat die Krim-Tartare verteenwoordig,” sê mnr. Djemilev. “Hierdie samehorigheid stel ons in staat om ons eenstemmig voor die Oekraïniese regering en die internasionale gemeenskap uit te druk.”

Sedert 1998 is mnre. Djemilev en Refat Tsjoebarov, die onderleier van die Mejlis, ook afgevaardig na die Oekraïniese Parlement as verteenwoordigers van die Nasionalistiese Party, Rukh, wat ’n lidvereniging is van President Viktor Joegtshenko se Oekraïniese koalisie. Dit behels hier ’n noodsaaklike eerder as ’n ideologiese verbintenis. Die Krim-Tartare het dus oorweldigende steun gebied aan die “Oranje Rewolusie” van 2004 wat Mnr. Joegtshenko aan die bewind sou bring. Hierdie weerstand het die Krimse politieke debat effens meer veretnies, aangesien die meerderheid van die skiereiland se Russe sterk teen die “Oranje” faksie gekant was.

In ’n Russiesgesinde Krim wat gewoonlik bestand is teen die gesag van Kiev (5), is dit in die beste belang van die skiereiland se Tartaarse en Oekraïniese minderhede om eensgesind te wees, selfs al het hierdie verbintenis nog nie vaste oplossings vir die probleme van die Krim-Tartare opgelewer nie. Die ondersteuning, ofskoon teoreties, wat die Sentraal-Oekraïniese regering aan die Tartare bied, stel Kiev ook in staat om vastrapplek te kry in die gebied waar sy gesag gereeld deur die plaaslike leiers ondermyn word (6).

Verder word die Tartaarse vraagstuk behandel soos “’n mindere probleem vir die Oekraïniese regering, kla ’n Tartaarse beampte van Simferopol. Die nasionale politieke aktiwiteite van die twee Mejlis-leiers help egter nie om die swak verteenwoordiging van die Tartare in die plaaslike politieke sfeer te verbeter nie: volgens die Mejlis se syfers verteenwoordig die Tartare 12% van die Krim-bevolking, terwyl hulle maar 4% van die politieke poste vul.

Die Tartare word nie net op staatkundige gebied gemarginaliseer nie, maar ook op werksgebied. Dit verklaar, minstens gedeeltelik, hulle endemiese werkloosheidsyfer: meer as 60% van die volwassenes is werkloos (7), terwyl diegene wat werk het dikwels ondergeskikte poste vul of lae salarisse verdien.

Dit is die geval met die 35-jarige Guirey, ’n smid van beroep. Toe hy aan die begin van 1990 in Oesbekistan aankom, het hy in “distrik nommer 6” in Bakhchisaraï gebly, ’n klein landelike stad in die suide van die Krim wat tussen 1532 en 1783 die hoofstad van die “khanat tatar” was. Dit lyk of hierdie groepering van huise en hutte, wat op die grens van die dorpie gelëe is, ewigdurend in aanbou is: nie een gebou is afgerond nie, nie een besigheid is behoorlik opgerig nie, maar die onophoudelike kom en gaan van ou Sowjet-motors bevestig dat die distrik inderdaad bewoon word.

“In hierdie distrik is daar feitlik net Tartare”, bevestig Guirey, wat die afgelope drie jaar met sy gesin in die huis woon wat hy self gebou het, nadat hy etlike jare by sy ouers en vriende gebly het. Sy storie stem ooreen met dié van verskeie ander teruggekeerde Tartare: aanvanklik vertrek sy pa na die Krim in 1987, later ontmoet die kinders hom daar, in 1991. “Met ons aankoms was dit onmoontlik om werk te kry sonder ’n propiska (8), maar om dít te verkry, moes jy eers ’n werk hê!”, spot Guirey. Na baie jare se inspanning het hy uiteindelik toestemming verkry om sy huis te vestig op die grond waarop hy vantevore sonder amptelike dokumente geplak het.

’n Sukkelwedloop is aan almal opgelê wat na die land teruggekeer het. As die val van die Sowjet-ryk die formele verbod op vestiging van die Tartare beëindig het, is die daaglikse probleme in die praktyk nog steeds oorvloedig, en die vinger word gereeld gewys na die plaaslike bestuur van die selfstandige Krim-regering oor hulle hardnekkige onverskilligheid.

Die teruggekeerde Tartare moet eers die administratiewe proses deurgaan. Dié wat voor 14 November 1991 in die Krim geregistreer is, het outomaties Oekraïniese nasionaliteit verkry. Die volgendes moet begin met hul administratiewe aansoeke vir die verkryging van nasionaliteit – ’n lang, ingewikkelde en duur proses (9), maar ’n dak moet gevind word. Aangesien die eiendomme van voor 1944 deur Slawiese families herwin is, moet die nuwe aankomelinge hulle elders huisves. Hulle kan natuurlik met regsprosedures begin wat klaarblyklik niks sal oplewer nie.

Dit is hoe die Tartarekampe ontstaan het: dikwels in die grensgebiede van die stad, of selfs in afgeleë uithoeke van die skiereiland, veral in die noordelike vlaktes wat onvrugbaar en ver van enige stadsgebied is. Party van hulle gaan sover as om die samo-zakhvat te beoefen: die verkryging van bouterrein sonder toestemming. Vandag is 40% van hulle nog haweloos of word hulle deur familie en hotelle geherberg (10).

Sake verloop nie sonder om vonke te laat spat tussen die Tartaarse en Slawiese volke nie: plaaslike skermutselinge vind gereeld plaas, somtyds met geweld, soos in Junie 1995, toe ’n vaste veldslag vier sterftes veroorsaak het en die ingryping van tenks in die strate van Simferopol genoodsaak het. In Augustus 2006 het ’n struweling in Bakhchisaraï uitgebreek toe die Tartare aangedring het op die sloping van ’n mark wat op die grond van een van hulle ou begraafplase geleë was (11).

Hierdie verhewigende konflikte, waaraan die publiek deur die Mejlis blootgestel is, word verder aangevuur deur radikale nasionalistiese bewegings, wat veral binne die Russiessprekende gemeenskap bestaan. Dit is die geval met die politieke party van die Russiese Blok, asook die Russiese Gemeenskapsraad, wat etlike duisende lede verteenwoordig (12). Volgens laasgenoemde organisasie se leiers verteenwoordig die “kriminele” Mejlis die belange van die fundamentalistiese Moslemgemeenskap in die Krim, en is dit verantwoordlik vir die insidente van afpersing en geweld teen die Russiese bevolking sedert die aankoms van die Tartare aan die begin van die 1990’s.

Min vooruitsigte, algemene diskriminasie, burokratiese sorge, gebrek aan toegang tot eiendom ... Die normalisering van die status van die Krim-Tartare skyn nog ver van verwesenlik te wees, maar die 200 000 Tartare wat steeds teenwoordig is in Sentraal-Asië (13) skep nietemin die indruk dat hulle die vooruitsig van terugkeer aanloklik vind, selfs al sou dit net wees om van die moeilike finansiële omstandighede en die outoritêre politieke regeringstelsel van die Sentraal-Asiatiese Republieke te ontsnap.

’n Opname wat in 2004 by die Universiteit van Simferopol gedoen is – en uitvoerig deur die Tartaarse gemeenskap gemediatiseer is – omskryf die omvang van hulle onkunde. Die dag voor die gedenkdag van die verbanning reken 70% van die studente van Slawiese oorsprong dat die verbanning van die Krim-Tartare “geregverdig” was ...

 

__________

 

(1)  Die laaste offisiële Oekraïniese volkstelling (2001) beraam die getal Tartare in die Krim op 243 400; die Tartaarse verteenwoordigers skat dat daar 260 000 mense in hulle gemeenskap is.

(2)  58,4 % Russe, 24,4% Oekraïniërs, 12,1% Krim-Tartare, volgens die volkstelling van 2001 (http://www.ukrcensus.gov.ua). Daar is meer as 125 verskillende nasionaliteite in die Krim.

(3)  Die Krim geniet ’n wye outonimiteit: alhoewel dit ’n “integrale en onafskeidbare” entiteit van die Oekraïne is, het dit sedert 1998 sy eie Grondwet

(4)  So genoem omdat die eerste Kurultaï in 1917 geskep is.

(5)  Tydens die referendum oor onafhanklikheid het die Krim opspraak gemaak deur “slegs” met 54% “ja” te stem, teenoor 90,5% van die hele land.

(6)  Lees Aurélie Campana, “L’éthnicisation du champ politique en Crimée”, Cahiers d’études sur la Méditerranée orientale et le monde turco-iranien, nº 37, Januarie-Junie 2004.

(7)  Volgens die Azatliq veldtog ter verdediging van Menseregte (www.azatliq.net)

(8)  Binnelandse visa aangebring tydens die Sowjet-tydperk, waarsonder dit onmoontlik is om jouself in ’n gegewe streek te vestig en te werk.

(9)  CF. Aurélie Campana, op. cit.

(10)         www.azatliq.net

(11)         www.regnum.ru/news/687941.html

(12)         Kyk www.ruscrimea.ru

(13)         Greta Lynn Uehling, Beyond Memory, The Crimean Tatar’s Deportation and Return, New York: Palgrave MacMillan, 2004.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=786
Artikel nagegaan:
    -