blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Hoe Israeli’s van kleinsaf leer vrees 2006-12-11
Akiva Eldar

* Joernalis by die dagblad Ha’aretz (Tel-Aviv). Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]


Wat het met die Israelitiese gemeenskap gebeur dat dit rassistiese leiers soos Avigdor Lieberman oplewer – die man aan die stuur van die verregse Israel Beitenou-party (Ons Huis Israel) wat as adjunk- eerste minister terug is in die regering? Hierdie is nie die vraag wat ons behoort te vra nie. Dit sou meer gepas wees om onsself af te vra waarom hierdie fenomeen nóú eers voorkom, byna 60 jaar na die stigting van die Staat van Israel.

Dit sou ewe onnodig wees om te soek na die redes vir die Israeli’s se aanvaarding van sulke gruweldade soos die vernietiging van ’n hele Palestynse gesin in die Gaza-strook. Aan die ander kant is dit verbasend dat, na 40 jaar van besetting, ’n groot aantal Israeli’s die strate invaar om die ongeregtigheid van die Beit Hanoen-bombardement te veroordeel.

Sedert sy stigting het die Staat van Israel gedurig en luidkeels verkondig dat dit die enigste demokrasie in die Midde-Ooste is. Vergeleke met Sirië, Iran, of – in ’n mindere mate – Egipte en Jordanië, kan Israel sekerlik daarmee spog dat hy sommige demokratiese waardes verdedig, soos vryheid van spraak, die oppergesag van die reg en vrye verkiesings. Op strukturele en formele vlak is Israel ’n hoogs ontwikkelde demokrasie; gemeet aan morele waardes bly hierdie demokrasie egter broos en kwesbaar; ’n mens sou kon sê dat dit nie laer kan daal nie. Anders as in Wes-Europese lande of die VSA is daar geen wigte en teenwigte wat die demokratiese magsewewig handhaaf nie; en die burgerlike gemeenskap bevat steeds bevolkingsgroepe wat van welsyn afhanklik is.

Die waardes van demokrasie was glad nie veranker in die politieke kultuur wat die stigters van die Staat, onder wie David Ben-Gurion tel, saam met hulle uit Oos-Europa gebring het nie. Hierdie volksvaders het eers ’n eksistensiële konflik tussen Israel en die Arabiere probeer ontlont en die uitdaging aanvaar om ’n nuwe nasie te bou. Hulle het ideale verdedig soos getrouheid aan die Staat, vereniging en die homogenisering van die bevolking. Vir hulle het die Staat ’n groot smeltkroes verteenwoordig waarin erg heterogene bevolkings – onder andere diegene wat die Groot Slagting (Holocaust) oorleef het, die “mensestof” (1) – rondom gemeenskaplike waardes kon verenig.

Dit is waarom hulle vasgeklou het aan uiterlike tekens van demokrasie, soos die hou van gereelde verkiesings, terwyl persvryheid beperk is in die naam van veiligheid, veral deur middel van militêre sensuur. Dit is in die naam van veiligheid dat hulle op die Arabiese burgers van Israel, tussen 1948 en 1966, agtien jaar van militêre regering afgedwing het, wat gepaard gegaan het met beperkings op hul vryheid. Dáár is dan juis ’n verdere bewys van die gebrek aan toepassing van demokratiese waardes: die verpletterende meerderheid van die Joodse bevolking, met inbegrip van die meeste van die elite, het die politiek van verdeeldheid teenoor die Arabiese minderheid sonder enige teenstand aanvaar.

Op sy beurt het die opvoedingstelsel gefokus op getrouheid aan die Staat, die Israelies-Arabiese konflik, antisemitisme en militêre diens. Onder die dun voorblad van burgerlike onderrighandboeke, veronderstel om die waardes van gelykheid en demokrasie aan die nuwe generasie te leer, skuil bladsye vol stereotipes. Tot in die 80’s het kinderliteratuur die Arabiere beskryf as minderwaardige wesens sonder nasionale identiteit, met ’n dors na Joodse bloed. Dieselfde het skoolhandboeke gegeld.

Sulke uitbeeldings van die Arabiere, soos die negatiewe siening van die goyim – die Nie-Jode – of die uitdrukking van ’n sterk etnosentrisme was belangrike stappe in die opbou van die sterk gevoel van ’n “staat van beleg” wat deur die Israeli’s ervaar word: die Israeli’s het nog altyd die Joodse volk gesien as die teiken/slagoffer van ander nasies. Hierdie persepsie is so sterk dat die Jode hul geskiedenis, die 2000 jaar van diaspora, lees as ’n string vervolgings deur die mense waartussen hulle lewe.

In hierdie prentjie verteenwoordig die Holocaust natuurlik die toppunt. ’n Aantal skole nooi jaarliks hul leerders, seuns en dogters, om deel te neem aan ’n pelgrimstog na die uitwissingskampe in Pole. Hierdie reise skep by die leerders ’n sterk gevoel van verontrusting en dra by tot die versterking van hul persepsie van die Jode as slagoffers. Hul gebrek aan volwassenheid verhinder hulle egter om meer ingewikkelde lesse uit die volksmoord te leer, wat hul lewens sou kan rig, veral hul gesindheid teenoor besetting, wat hulle hulself voorberei om tydens hul militêre diensplig te verdedig. Hulle keer gewoonlik terug met simplistiese boodskappe in die trant van “Nooit weer só iets nie,” of “Om nóg ’n ramp te verhoed, moet ons sterk wees.” En vir baie van hulle sal hul besoek aan Auschwitz slegs beteken dat die volksmoord gepleeg deur die Nazi’s en, meer algemeen, die geskiedenis van antisemitisme, vir die Israeli’s sekere regte gee, soos om inbreuk te maak op die fundamentele regte van hul bure terwyl hulle totale immuniteit teen enige kritiek geniet.

Dit is nie toevallig nie dat Lieberman deel uitmaak van die Jode wat grootgeword het in die Sowjet-unie voor hulle na Israel immigreer het, en dat hy aansienlike steun onder hierdie immigrante geniet nie. Meer as een miljoen Russe het sedert die 1970’s en veral sedert 1990 na “die beloofde land” geïmmigreer: die meeste van hulle het geen ondervinding van Westerse demokrasie nie en ken glad nie die Israelies-Arabiese konflik nie. Hulle was dus besonder vatbaar vir die aggressiewe boodskap uit die regse geledere, in so ’n mate dat hulle droom van ’n sterk man wat “orde sal terugbring” na Israel. Die Russiese pers, wat nimmereindigende propaganda teen die Arabiere en die linkerkant voer, dra by tot die versterking van hierdie soort opinie. Maar die waardes van demokrasie is vir Ortodokse Jode ewe vreemd, soos vir die gelowige nasionalistiese regterkant, wat ongeveer ’n kwart van die Israeliese bevolking uitmaak – ’n gedeelte wat sekerlik sal groei, as hul geboortesyfer in berekening gebring word: drie keer die nasionale gemiddelde.

Die verontagsaming van demokratiese waardes en die onverskilligheid in hierdie verband beïnvloed nie slegs die verhoudings met die Arabiese minderheid en die konflik met die Palestyne nie. Die invloed hiervan is ewe aanwesig in die debatte tussen links en regs en tussen die gelowiges en die sekulêres. Die sluipmoord op Eerste Minister Itzhak Rabin het die omvang getoon van die Israeli’s se onverdraagsaamheid – hulle dink dat grond ’n opperwaarde is, selfs belangriker as die soeke na vrede.

My elektroniese posbus word gedurig oorlaai met boodskappe waarin ek uitgevloek en met die dood gedreig word, meestal deur Joodse lesers wat nie met die argumente saamstem wat ek in my artikels voer nie. Hoewel my idees nie verskil van dié wat in die middel en aan die linkerkant in demokratiese lande geformuleer word nie, word dit in Israel beskou as ekstremisties. Verlede jaar het ’n Ortodokse Jood ’n jong man gesteek wat aan ’n homoseksuele optog in Jerusalem deelgeneem het. Vanjaar, na talle pleidooie en dreigemente vanuit die Joodse Ortodokse gemeenskap, het die polisie die optog afgestel, onder voorwendsel dat hy weens die toestand in Beit Hanoen nie die veiligheid van die deelnemers kan waarborg nie.

Byna 60 jaar na sy stigting is Israel nóg ’n sterk burgerlike gemeenskap wat weerstand kan bied teen ekonomiese en politieke owerhede, nóg het hy doeltreffende agente van sosialisasie. En gevolglik, wanneer die Arbeidersparty – teoreties gesproke die enigste alternatief tot die regtervleuel – deelneem aan ’n regering wat die Palestynse owerheid probeer elimineer, hoe moet die mense onderskeid tref tussen dit wat eties en dit wat oneties is, tussen dit wat demokraties en dit wat ondemokraties is? Wanneer die ontvanger van die Nobelprys vir Vrede, Shimon Peres, ’n Eerste Minister sekondeer wat residensiële areas in Beiroet en Gasa laat bombardeer, raak dit moeilik vir die man op straat om te onderskei tussen goed en kwaad.

Ehud Barak, die verkose Eerste Minister sedert 1999 danksy die stemme van die linkervleuel en Israelitiese Arabiere, herhaal aanhoudend, sedert die mislukking van die Camp David-beraad in 2000, dat hy “die ware gesig van Arafat ontbloot het” en dat hy “ontdek” het dat die Palestynse verteenwoordigers nie “ware vennote” in die vestiging van hul staat aan die kant van Israel is nie. Hierdie weergawe van die mislukking van Oslo het vele Israeli’s tot ekstreme reaksies gedryf, soos die muur van “penetrasie” wat op die Wesoewer gebou word, Ariel Sharon se eensydige verdeling of die “oorplasingsprojek” wat uit Lieberman se rassistiese repertorium spruit.

By hierdie historiese, sielkundige en politieke gegewens is oor die jongste aantal jare belangriker bedreigings gevoeg: die selfmoordaanvalle van Hamas en die Islamitiese Djihad, die lansering van Hisbollah-vuurpyle en die Iranse kernprogram. Nie ’n dag gaan verby sonder dat die regering hierdie gevare oproep nie. Die vrees vir die volgende aanval is meer konkreet as die strewe na vrede. Dit is kenmerkend van die Joods-Israelse samelewing dat die kollektiewe angs bydra tot die bestendige geloof in militêre mag as enigste waarborg vir die oorlewing van die Staat en dus as middel om die Israels-Arabiese konflik op te los. Die Israeliese samelewing het sekerlik groot vooruitgang gemaak, en beweeg van ’n standpunt af weg waar die Palestynse volk negeer word tot ’n punt waar ’n Staat aanvaarbaar is vir hulle om vreedsaam te lewe. Maar die Israeli’s is nie heeltemal oortuig nie en wil nog nie heeltemal afstand doen van die Wesoewer nie. Vandaar die gebrek aan behoorlike vordering met die oplossing van hierdie konflik.

Hisbollah se bombardemente gedurende die somer in die Noorde van die land het die atmosfeer van ’n noodtoestand geskep. Die regering se tekortkominge en dié van die leër op die voor- en agtergrond het die Israeli’s se vertroue in hul instellings beskadig. Dít het Lieberman gehelp om weer op regeringsvlak te verskyn; en dis geen toeval dat hy aansoek gedoen het vir die pos van Minister van Strategiese Sake nie – ’n pos wat ook aan hom toegeken is. Weens ’n gebrek aan duidelike Israelitiese bereidheid om die bloedige konflik met die Arabiere te beëindig, het die Arbeidersparty besluit om die vredesbaniere weer op te vou. En hoewel hul Amerikaanse ouboet sy doel verklaar as “om die Midde-Ooste te demokratiseer”, is die implementering van ware demokrasie en gelykheid net halfhartig.

Politieke persoonlikhede, wat nogtans ’n reputasie as ingelig en liberaal het, soos Professor Joeli Tamir, Minister van Onderwys, en Ami Ajalon, wat saam met Professor Sari Noesseibeh ’n ambisieuse vredesprojek onderteken het, wou nie golwe maak nie: hulle het ook ten gunste van Lieberman se bevordering in die regering gestem. Verder, tussen die “sentriste” in sowel die politiek as die media, het allerlei invloedryke persoonlikhede ten gunste van sy program gepleit. En Lieberman se plan, waarvolgens ’n beduidende gedeelte van Israelse Arabiere na die Palestynse gebiede oorgeplaas sal word? Die gematigdes verseker ons dat die hoof van Israel Beteinou slegs wil hê dat “die Israelse Arabiere hul Israelse burgerskap vir Palestynse burgerskap” inruil ...

Die geskiedenis van die mensdom het geen tekort aan voorbeelde van situasies waarin uitgerekte dreigemente en ekonomiese resessies as vrugbare kompos dien vir fascistiese bedelings wat hul stem met mag, of selfs demokraties, wil dik maak nie. Dit is wat in die vorige eeu gebeur het in die mees verligte lande van die Europese vasteland. Die situasie van die Israelse samelewing aan die begin van die 21ste eeu is selfs meer onrusbarend as dié in Pole en Tsjeggoslowakye in die 1960’s: die Pole en die Tsjegge het minstens geweet dat hulle met kommunisme onder die vaandel van ’n ondemokratiese bedeling lewe. Hulle het hulle na ander modelle gewend, in die geheim na Westerse radiostasies geluister en die waardes van vryheid en geregtigheid aan hul kinders oorgedra.

Die Israeliete wil nie van hulle kant af verander nie. Hulle is vas oortuig dat hul demokrasie ’n model is wat hul bure behoort na te streef, en dat Tsahal die mees morele weermag op aarde is. Hulle gaan te kere met luide slagkrete, maar vergeet die fundamentele beginsels van ’n demokrasie, soos die regte van minderhede. Wat die linkerkant betref, wat in die openbaar die gevare veroordeel wat oor die gemeenskap hang, hulle is vasgevang deur hul eie marginalisasie: nie alleen is hulle invloed op die regering bitter skraal nie, maar hul optrede bring die verregse ekstremiste al hoe nader aan die regering.

’n Volk wat sy verlede vergeet het, sukkel om ’n identiteit in die hede te bou. Maar dieselfde geld vir ’n volk wat hoofsaaklik steun op ’n idee van die verlede: hy sal met moeite ’n ander toekoms kan bou in ’n nuwe werklikheid. Die slagspreuke en die selfbevrediging van die linkerkant sal nie ’n demokratiese samelewing, gegrond op morele waardes, kan bou nie. Só iets vereis ’n ware politieke en maatskaplike opvoeding op die lang termyn.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=785
Artikel nagegaan:
    -