blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Hoe Afrika haar medici probeer behou 2006-12-11
Karl Blanchet en Regina Keith

* Onderskeidelik openbare gesondheidskonsultant en beleidsbestuurder van die vereniging Save the Children (Verenigde Koninkryk-afdeling). Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Elke jaar emigreer 20 000 gesondheidswerkers (dokters, verpleegsters en verpleërs, vroedvroue, ens.) van die Afrikavasteland na Europa of Noord-Amerika. Meer Beniniese dokters werk in Frankryk as in Benin. Tog, as ’n mens na die rampspoedige gesondheidsituasie op die kontinent kyk, word daar gereken dat daar teen 2015 ’n miljoen mediese werkers opgelei sal moet word om die Millennium-doelwitte vir ontwikkeling (MDO) te bereik (1).

Teenstrydig genoeg het gesondheidspersoneel uit Afrika ’n steunpilaar vir mediese stelsels in Noordelike lande geword. Europa, die VSA en Kanada het doodeenvoudig versuim om genoeg dokters, verpleërs en vroedvroue op te lei om aan die groeiende behoeftes van hulle ouer-wordende bevolking te voldoen. Hulle word dus genoodsaak om personeel uit die buiteland aan te stel. Daar word geraam dat die Verenigde Koninkryk teen 2008 ’n bykomende 25 000 dokters en 35 000 verpleërs sal nodig hê (2). Die VSA sal op sy beurt ’n miljoen verpleërs voor 2010 moet werf (3).

Buitelandse werwing lyk na ’n goedkoop, eenvoudige manier om in hierdie tekort te voorsien. Deur personeel in Afrika te gaan haal, bespaar ryk lande op opleidingskoste wat by hulle tien keer hoër as op dié vasteland is. Nog ’n voordeel is hulle buigsaamheid: hierdie professionele lui aanvaar geredeliker om snags of oortyd te werk. Maar die keersy is dat die uitvloei van kundigheid ’n verlies aan inkomste in die lande van oorsprong skep, om nie te praat van die negatiewe impak op hulle ekonomie en samelewing nie. So het Ghana byvoorbeeld sedert 1999 ’n verlies van 50 miljoen euro gely weens die opleiding van gesondheidspersoneel wat kort na hulle studies geëmigreer het.

Hierdie werkers is ’n maklike prooi vir Noordelike ekonomieë. Gesondheidstelsels in Afrika het die afgelope 25 jaar ernstig agteruitgegaan: lae salarisse – die koopkrag van ’n Nigeriese dokter is byvoorbeeld 25% minder as dié van sy eweknie in Wes-Europa (4) –, ’n gebrek aan loopbaanvooruitsigte, ontoereikende werkstoestande (geboue wat verval, ’n tekort aan medisyne en toerusting), voortdurende onveiligheid weens politieke onstabiliteit, ’n toenemende werklas weens die gebrek aan personeel en die verwoesting wat vigs saai (daar word gereken dat in Afrika, na gelang van die land, tussen 19 en 35% van sterftes onder mediese personeel aan dié pandemie toegeskryf kan word) (5).

Werwingsagentskappe, maar ook diaspora-netwerke, lok dus maklik professionele mense op die vasteland na die nuwe “werkersparadyse”. Van landelike tot stedelike gebiede en van die openbare tot in die privaatsektor, is gesondheidswerkers op soek na beter lewenstoestande vir hulle en hulle gesinne, en na beter geleenthede.

Vir Afrika is die gevolge van hierdie breinerosie rampspoedig: twee uit elke drie kinders sterf hier aan siektes wat maklik behandel of voorkom kon gewees het. In Zimbabwe bly slegs 360 dokters oor uit die 1 200 wat in die 1990’s opgelei is. Tussen 1993 en 2002 het Ghana 600 uit die 800 verloor. Tweederde van hulle het in Europa of die VSA gaan werk. Terselfdertyd is hulle kindersterftesyfer 1 uit 10 teenoor 1 uit 200 in Frankryk, en beskik Ghana oor slegs 9 dokters vir elke 100 000 inwoners, teenoor 335 vir elke 100 000 in Frankryk. “In sekere velde het Niger al sy spesialiste verloor,” verduidelik dr. Abdoulaye Bagnou, koördineerder van die premier se kantoor in Niger. “Ons weet nie meer hoe om toerusting te kies nie. Ons sukkel met beplanning en kan nie enige raad van tegnici in Niger kry nie. En ons kan nie nuwe personeel aanstel nie. Die Wêreldbank en die IMF [Internasionale Monetêre Fonds] beheer ons uitgawes.”

Verskeie Afrikalande het besluit om op te tree. Hulle inisiatiewe wys dat die uitvloei van kundigheid omgekeer kan word en dat gesondheidstelsels verbeter kan word deur in menslike hulpbronne te belê.

In Uganda het die ministerie van gesondheid byvoorbeeld in 1996 vir dokters ’n maaltydtoelae geskep, gevolg deur ’n 60% salarisverhoging in 2001. Malawi slaag weer daarin om in 2005 die Britse Samewerkingsprogram en die Wêreldbank te oorreed van die belang om die salarisvlak van mediese personeel te verhoog, en om meer van hulle aan te stel en op te lei (6). Lilongwe probeer eerstens om dokters se uittog van landelike gebiede na die stede teë te werk. Hulle word finansiële bonusse ter waarde van 40 tot 50% van hulle salarisse aangebied. Terselfdertyd vergroot Malawi sy opleidingskapasiteit in terme van strukture en onderrigpersoneel, en kry dit reg om die aantal studente wat hulle mediese of verpleegkundige opleiding voltooi, met ses te vermenigvuldig (7).

Nog ’n hoogs dinamiese en innoverende land is Ghana. Met die hulp van die Internasionale Organisasie vir Volksverhuisings (IOV) stuur Accra ’n program van stapel vir die tydelike aanstelling van gesondheidspersoneel wat in die buiteland werk, deur hulle bonusse aan te bied by hulle terugkeer. Werwingskantore word in die belangrikste Ghanese ambassades oopgemaak ten einde kontak te bevorder met opgeleide personeel in die diaspora wat graag na hulle land toe wil terugkeer.

Gekonfronteer met van die hoogste kinder- en kraamsterftes ter wêreld en ’n skreiende tekort aan dokters en verpleërs, probeer Etiopië in hulle eie tekort voorsien. Twintigduisend vroue – wat nie verpleegkundediplomas het nie maar spesifiek opgelei is in voorkomende sorg en eerstehulp vir moeders en kinders – gaan in landelike gebiede ontplooi word. Wat Zambië betref, word sy mediese personeel bonusse, huislenings en die betaling van hulle kinders se skoolgelde aangebied (8) ten einde ’n binnelandse verskuiwing na veraf gebiede aan te moedig. Danksy hierdie program het 66 Zambiese dokters in 2005 ingestem om in landelike streke te gaan werk.

Hierdie beleid van aansporing is aanvaar ná die mislukking van die dwingende maatreëls wat aan die begin van die 1990’s ingestel is. Destyds is emigrante belas, hulle grade en diplomas teruggehou tot met hulle terugkeer, of hulle staatsdiensgradering weggeneem. Sulke maatreëls het hulle eerder ontmoedig om weer in hulle land te kom werk, en maatskaplike konflikte (stakings, wegblyery) tussen gesondheidspersoneel en die regering vererger.

Aan hulle kant het ryk lande gedragskodes aanvaar wat tot nog toe ’n taamlik beperkte impak gehad het. Hierdie kodes verbied werwing in sekere lande, gelys in ’n anneks tot die kode, en die... beskerming van gesondheidspersoneel se regte in die gasheerland. Afrikalande verskyn almal op hierdie lys. Maar die gedragskodes, soos dié wat deur die Verenigde Koninkryk of sekere Gemenebeslande aanvaar is (9) – Frankryk het nie so iets opgestel nie – het geen bindende krag nie. Hulle toepassing word aan die welwillendheid van die betrokke regerings oorgelaat. In die praktyk weerhou hulle nie ontwikkelde lande daarvan om steeds mediese personeel uit Afrika deur middel van private agentskappe aan te stel nie.

“Dit is noodsaaklik om in opleiding te belê, hulp te bied en toe te sien dat genoeg werkers bly waar hulle is om in die behoeftes te voorsien,” reken die Europese kommissaris vir ontwikkeling en menslike hulp, Louis Michel, tydens ’n perskonferensie op 7 April 2006. Hy beklemtoon egter die teenstrydigheid daarvan dat lidlande voorgee om hulle ontwikkelingsbegrotings te verhoog terwyl hulle kundigheid vir hulle eie behoeftes melk.

Indien daar nie van nou af grootskaalse maatreëls getref word om die aantal mediese personeel in Afrika suid van die Sahara te verhoog nie, sal toekomstige gesondheidsbeleggings van die “internasionale gemeenskap” maar ’n uiters beperkte effek op die gesondheidstoestand van die bevolking in die betrokke lande hê. Volgens die Kommissie vir Afrika sal daar 1 tot 6 miljard dollar per jaar vanaf 2006, en 7,7 miljard dollar per jaar vanaf 2010 nodig wees om die gebrek aan gesondheidswerkers op die vasteland die hoof te bied (10).

Die opleiding van bykomende personeel is broodnodig, maar dit sal eers oor ses tot agt jaar vrugte dra. Dringende, korttermyn-optrede word dus geverg: salarisverhogings, finansiële bonusse om in veraf gebiede te gaan werk. Maar dit is ook noodsaaklik dat die IMF, die Europese Unie en ander internasionale finansiële instansies oorreed word om ekonomiese reëls buigsamer te maak sodat Afrikalande hulle uitgawes in die mediese sektor kan verhoog.

 

__________

(1)  “Our common interest”, Verslag van die Kommissie vir Afrika, Londen, 2005 (http://www.commissionforafrica.org/english/report/introduction.html), van stapel gestuur deur die Britse premier Tony Blair op 26 Februarie 2004. Die mikpunt is om “aksies te genereer om Afrika kragtig en welvarend te maak”.

(2)  Mensah Kwadwo, Mackintosh Maureen, Henry Leroi, The “skills drain” of health professionals from the developing world: a framework for policy formulation, Londen: Medact, 2005.

(3)  Blanchet, Karl, Keith, Regina, Shackleton, Peter, “One Million More: Mobilising the African diaspora healthcare professionals for capacity building in Africa”, Save the Children, Londen, 2006.

(4)  Stillwell et al., “Managing brain drain and brain waste of health workers in Nigeria”, Bulletin of WHO, 2004, 82: 595-600.

(5)  Tawfik, Linda en Kinoti, Stephen. The Impact of HIV/AIDS on the Health Sector in Sub-Saharan Africa: The Issue of Human Resources. Washington: Academy for Educational Development, 2001.

(6)  High-Level Forum on Health MDGs. Working together to tackle the Crisis in Human Resources for Health. 2005. A Report of the Transitional HRH Working Group to the High-Level Forum. Parys, 14-15 November 2005.

(7)  Sagoe Ken, “Stopping migration of Ghana’s health workers”, Id21 Insight Health, Brighton: Julie 2005.

(8)  Miti Simon (Zambiese minister van gesondheid), “Presentation to the Consultation on human resources for health”, Oslo: Februarie 2005.

(9)  Department of Health, “Code of Practice for NHS employers involved in the recruitment of health care professionals”, Londen: 2001. Commonwealth Secretariat, Commonwealth Code of Practice for the International Recruitment of Health Workers, Londen: 2003.

(10)         “Our common interest”, Verslag van die Kommissie vir Afrika, op. cit. Kyk ook: www.nepad.org.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=784
Artikel nagegaan:
    -